Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eintlik is daar net twee soorte mense: diegene wat waarde tot jou lewe toevoeg; en dan dié wat jou dit ontneem. Leer om die verskil te ken sodat jóu lewe waardevol kan wees tot eer van Christus se Naam.
DEFINISIE VAN VERRAAD
Johannes Joubert
Reeds tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), ongeag die kortstondigheid daarvan, was verraad aan die orde van die dag. ‘n Sekere J van der Linden het tydens daardie oorlog ‘n beloning van 30 sjielings per dag van die Britse militêre owerheid ontvang in Potchefstroom. Hy het hom as korporaal by die Boeremag aangesluit deur trou aan die nuwe Transvaalse regering te sweer. By ‘n byeenkoms van die Boeremagte te Paardekraal, nl die welbekende volksvergadering, het genl Piet Joubert uitdruklik die geleentheid aan diegene gebied wat die vryheidssaak nie goedgesind was nie om die terrein ongehinderd te verlaat. Van der Linden het nie daarop gereageer nie maar die Boere se geheime beplanning aan die Britte oorgedra. Nadat hy in ‘n skermutseling met die Britte gevange geneem is het die krygsraad op 31 Desember 1880 ‘n verhoor gehou, hom aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Op dieselfde dag is hy deur ‘n vuurpeloton terreggestel. Alhoewel die Britte later die teregstellings van beide Van der Linden en ‘n sekere Woite skerp veroordeel het, het die hoofregter van die Kaapkolonie, sir Henry de Villiers die argument verwerp wat deur die Britte aangevoer is.
‘n Sekere JD Weilbach het na die eerste fase van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) as ‘n kommandant blatant afvallig geword en het genl De la Rey hom weens verraad laat arresteer omdat hy allerlei ontmoedigende praatjies onder die burgers versprei het om nie met die stryd voort te gaan nie. Dus, slegs sy optrede om mense te laat afsien van die oorlog is as verraad beskou.
Tussen Maart en Julie 1900 het sowat 14 000 burgers hulle wapens neergelê en ‘n neutraliteits-eed teenoor die Britte afgelê waarin hulle onderneem het om nie weer die wapen op te neem nie. Hierdie persone is as “hensoppers” beskou wat, indien die Republikeinse magte hulle gevang het, gestraf is met onder meer lyfstraf, boetes, tronkstraf en beslaglegging op hulle eiendom. Ander weer het as Scouts of National Scouts bekend gestaan en ook as “joiners” omdat hulle aktiewe diens vir die Britte teen die Boere verrig het. Luidens amptelike Britse verslae was daar 5 464 voormalige burgers die dag na Vredesluiting op 1 Junie 1902 in Britse millitêre diens. As in ag geneem word dat daar maar sowat 17 000 Bittereinders was, lyk dit asof die getal Bittereinders in getalle oortref was deur die joiners en hensoppers.
Vir die Boere van destyds was verraad teen die Afrikanervolk ‘n Judassonde omdat die Bybel hulle geleer het verraad is verwerplik. Johanna Brandt het na die verraaiers as “Judasboeren” verwys. ‘n Sekere genl. Ben Bouwer het soos volg na hulle verwys:
“Zij schandvlekten met hun laagheid die eervolle naam van die Afrikaner of Boer, (die eigenlijk slechts synoniem zijn). Zie, daar keeren wij ons in afgrijzen van, daarvan walgt het gemoed van ieder eerlijk mensch, van elken Afrikaner die voor de eer van zijnen naam waakte als voor iets heiligs.”
Eugene Marais, die bekende volksdigter. het as volg na hulle verwys:
“ Wie zal het een dapper volk kwalijk nemen dat hy der verrader haat gelijk ieder eerlyk mensch den duivel, de zonde, en alles wat vuil en afschuwelijk is, haat?”.
Roland Schikkerling het na hulle verwys as ‘n eerlose gespuis wat vir ewig gebrandmerk is en ook as ‘n veragtelike gespuis. President Steyn het self nog gedurende die oorlog gesê:
“Veragting vir die National Scouts sal voortduur tot ons kinders se kinders tot in verre geslagte. Geen eerlike man sal sy hand na hulle uitsteek nie en geen Afrikaners sal hulle ken nie”.
Verrader monster, vloek der aarde,
Vernederd schepsel der natuur;
Gods wraak die uw tot heden spaarde
Verdelg uw eens deur de helse vuur
Neen, Hy doet uw slechts bezeffen,
Hoe verachtelik u daden zyn.
Geen bliksemstraal kan sneller treffen,
Geen donder meer verschriklik zijn.
Dan zal uw ziel zich krimpend wringen,
Gevoelen wat haar waarde was,
Op de jongste dag die eens sal dagen
Zal mens lezen op uw graf:
“Hier legt de vloek van vriend en maagd
Wat Vaderland de doodsteek gaf”.
‘n Sekere JPD Theunissen het tydens die Anglo-Boereoorlog die burgers met verskeie argumente tot oorgawe probeer beweeg. Hy’t die gees van die défaitisme wat geheers het doelbewus misbruik en is nie net van verraad nie, maar ook van lafhartigheid beskuldig. Hy beweeg ‘n klomp van sy makkers tot oorgawe waarna ‘n eed van neutraliteit afgelê word en Theunissen voortgaan met sy boerderybelange. Hy is later deur die Boere gevang en van hoogverraad aangekla, skuldig bevind en is die doodsvonnis oor hom uitgespreek. Beide De la Ray en Smuts het die doodsvonnis bekragtig.
Meyer de Kock het nie net die wapen neergelê nie, maar vir Kitchener probeer oorreed om met ‘n kampstelsel te begin waar wapenneerlêers op voordelige wyse aangehou kon word. Hy bied hom boonop as ‘n vredesgesant aan by Kitchener om persoonlik na die Boerelinies te gaan, word egter deur die Boere gevang en op ‘n aanklag van hoogverraad verhoor en skuldig bevind. Ook oor hom is die doodsvonnis uitgespreek, maar ironies genoeg het die voorsittende beampte, ‘n sekere landdros Joubert net meer as drie maande na die terregstelling van De Kock homself aan die Britte oorgegee. Joubert het boonop ook sy dienste onvoorwaardelik vir die Britte aangebied.
Die bekendste twee voorbeelde van verraad was natuurlik dié van genl Piet de Wet en genl Andries Cronjé wat aktief saam met die Britte teen die Boere geveg het. Genl Christiaan de Wet het by geleentheid opgemerk dat indien hy sy broer sou raakloop hy hom “soos ‘n hond sou vrek skiet”.
Lambert Colyn het hom in die Kaap voorgedoen as ‘n persoon wat die Boeresaak goedgesind was en hom by die Boeremagte aangesluit terwyl hy in daardie hoedanigheid die Britte van inligting voorsien het. Dit het daartoe gelei dat die Boere in die daaropvolgende slag ernstige verliese gely het aangesien die Britte bekend was met die Boere se ligging en aanvalsplanne. Colyn is later gevang, van spioenasie aangekla, skuldig bevind en terreggestel. Jare later sou ‘n sekere kommandant Nigrini op ‘n politieke vergadering te Beaufort-Wes vir genl Smuts met die gebeure rondom Colyn konfronteer en het hy glo aan Smuts gestel dat Smuts vir Colyn ‘n vrot Afrikaner genoem het wat toegelaat het dat die Britte gebruik om die Britte se vuilwerk te doen en dat Smuts dieselfde gedoen het na die oorlog.
A nation can survive it fools, and even the ambitious. But it cannot survive treason from within. An enemy at the gates is less formidable, for he is known and carries his banner openly. But the traitor moves amongst those within the gates freely, his sly whispers rusting through all the alleys, heard in the very halls of government itself. For the traitor appears not a traitor, he speaks in accent familiar to his victims, and he wears their face and their arguments, he appeals to the baseness that lies deep in the hearts of all men. He rots the soul of the nation, he works secretly and unknown in the night to undermine the pillars of the city, he infects the body politic so that it can no longer resist. A murderer is less to fear. The traitor is the plague.
Cicero
Vandag is ons situasie nog meer beroerd as destyds. Ons is uitgelewer aan ‘n vyand wat alle middele tot sy beskikking gebruik om ons te vernietig – ook Afrikaners. Wat die vyand vandag doen is niks anders nie as ‘n oorlog – dit word net met ander middele teen ons gevoer. Maar wanneer jy jou ten doel stel om ‘n volk te vernietig soos wat die ANC/SAKP-regime as handlangers van die geldmagte wel doen – dan voer jy ‘n oorlog teen daardie volk. Dit is wat tot Afrikaners se besef gebring moet word – hierdie toestand is nie een van vrede nie, maar een van ‘n voortgesette oorlog in die naam van vrede. En dit is wat ons situasie so gevaarlik maak – die gebrek aan besef dat ons met ‘n vyand te doen het wat ‘n oorlog teen ons voer.
In hierdie omstandighede is daar talle organisasies wat hulle voordoen as bewakers van die Afrikaner-erfenis. Hulle is egter niks anders nie as hedendaagse hensoppers nie, want van verset wil hulle niks weet nie. Hulle probeer gedurig met die vyand onderhandel en gemeensaak maak. Hulle sien die ANC/SAKP-regime trouens nie as ‘n vyand nie. Ander weer is reeds binne die laer van die vyand – die hedendaagse joiners. Hulle beywer hulle om Afrikaners te vervolg en aan die vyand uit te lewer. Hulle het hulle rug reeds volkome op ons volk gedraai en beskou hulleself eerder as “Suid-Afrikaners”.
Daar is maar enkele organisasies wat hulle werklik vir ware vryheid van die Afrikaner binne sy eie vaderland beywer. Maar ook hulle moet telkens waak teen verraad van geplante regerinsgagente. Ons moet vandag toekyk hoe Afrikaner organisasies van meet af deur regeringsagente (mense wat soos ons lyk en praat) beset word. Hierdie “vloek der aarden” dien selfs op die besture van sodanige organisasies, por hulle aan tot onwettige optrede, net om later hulle mede-Afrikaners uit te lewer en self skotvry te kom. In die bekende Boeremag-saak is dit dan ook bekend hoe verraad gepleeg is - wat onder meer gelei het tot die gevangesetting van baie van die lede van die Boeremag. Waar die optrede van verraaiers tydens die Anglo-Boereoorlog as skandelik beskou word en met hulle afgereken is indien hulle gevang is, loop die hedendaagse verraaiers met glimlagte op hulle gesigte rond en word hulle boonop goed beloon vir hulle verraad. Na die Anglo-Boereoorlog is verraaiers vir jare geminag en selfs uit kerke verban, maar vandag neem hulle die voorste gestoeltes in kerkrade en organisasies en niemand durf na hulle in afkeurende terme verwys nie. Hulle is die hedendaagse “vredemakers” – die hedendaagse “Meyer de Kocks”, met dié verskil dat hulle optrede vandag in Afrikanergeledere aangeprys word.
Die vraag is egter: wat doen is ons in hierdie haglike omstandighede? Daar moet miskien weer ernstig na ‘n Afrikaner-eed gekyk word. Dit kan dien as ‘n wyse van suiwering. Diegene wat weier om so ‘n eed af te lê is tog baie duidelik buite die laer. Dit is so dat hierdie gemene gespuis selfs sover sal gaan om ‘n eed af te lê, maar in geval van trouelose optrede sal sulke persone des te meer gebrandmerk kan word as verraaiers en kan daar later op gepaste wyse met hulle gehandel word. Wat wel nodig is, is ‘n suiwering en skeiding in Afrikanergeledere, want daarsonder is ons rigtingloos en uitgelewer aan die vyand.
Wanneer ‘n volk nie eers meer bereid is om sy verraaiers aan die man te bring nie, is daar geen hoop vir daardie volk nie. Ons eie afvalligheid van ons saak het ons oordeelsvermoë ernstig aangetas. Dit het dringend tyd geword vir herbesinning. Die vraag is immers: Is ons hier om “’n beter toekoms” vir ons en ons kinders te “beding”, of is ons hier om ons land weer vry te maak sodat ons dit kan regeer?