Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die Bybel leer dat die mens se kernprobleem die sonde is. Die sondeval het gelei tot menslike rebellie teen God. Daarby is Satan se lewensdoel om die mens te verlei tot sonde; hy sal dus daarop uit wees om jou in sy mag te kry deur jou ongehoorsaam aan God te maak. Maar al is jyself swak sal die almagtige God jou ook in hierdie nuwe jaar bewaar in Jesus Christus want Hy is ewig.
SWART HAAT EN BLANKE VERRAAD
Ramaphosa die swyger
Terwyl die anargie in die land toeneem, het die leier van die EFF by ’n reuse saamtrek in die FNBstadion in Soweto sy oproep vir plaasmoorde in ’n arrogante toespraak herhaal. ”Kill the Farmer, Kill the Boer” het uit duisende keel opgeklink en bevestig dat dit groot byval vind. Terwyl die Menseregte-kommissie tandeloos toegekyk het, het die staatshoof van Suid-Afrika, president Cyril Ramaphosa geswyg soos die graf. Waar hy in Amerika ’n tyd gelede ontken het dat daar iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is, was dit ook te wagte dat hy niks oor Malema se oproep sou sê nie. Die EFF word ook in die vlerke van die ANC getroetel as ’n moontlike bondgenoot om beheer in die parlement te behou. Oor die uitgesproke haatspraak van Malema is dit genoeg dat leiers swyg om eintlik aandadig te wees daaraan. Ons neem ook kennis daarvan dat Ramaphosa ’n maand gelede by die kongres van ANCYL (die ANC se jeugbeweging) ’n beroep op die ANC-jeug gedoen het om weer so radikaal en aggressief te raak soos hulle in die 1980’s was. Dit pas alles in die patroon van Ramaphosa se aggressiewe uitsprake die afgelope tyd; en verklaar ook waarom hy swyg oor die EFF se oproep dat boere op plase vermoor moet word.
Woordspel rondom die EFF se “Kill the Boer”
Dr Piet Croukamp word so graag deur die SAUK gebruik as politieke woordvoerder. Hy is andermaal op 18 Augustus nadergetrek om te verduidelik waarom hy sê dat mense Malema se woorde en aksies verkeerd verstaan. Ons wonder wat is vir hom so onduidelik aan die woorde: “Kill the Farmer, Kill the Boer”? Verstaan hy dit dan nie wat bedoel word nie?
Sy argument is dat dit deel is van ’n “groter konteks”, en dat dit nie op morele gronde bestry moet/kan word nie. Mens sou graag dat Croukamp verduidelik hoe hy dan morele gronde verstaan? Waarom is Malema se haatspraak nie vir hom ’n erge oortreding van alle moraliteit nie? Hy betoog dat mense moet verstaan dit is deel van die EFF se “populisme”; en dat die retoriek en romantisering van geweld in die wyer politieke konteks gesien moet word. Ons onthou dat Croukamp een van die Afrikaner-liberaliste was wat oor die jare plaasaanvalle wou relativeer deur dit teen die groter prentjie van misdaad en geweld in Suid-Afrika af te speel. Daarom was dit vir hom nie so ’n groot krisis soos wat dit gemaak word nie. Nou is die argument weer dat dit ”in die wyer konteks” gesien moet word. In die gesprek oor RSG maak hy die volgende stelling: ”Daar is geen data wat bevestig dat die EFF se oproep tot plaasmoorde lei nie; jy kan nie die verband bewys nie... Skei die liedjie van plaasmoorde”.
Piet Croukamp wil hê dat ons een kant die politieke retoriek mag hoor, maw die haatspraak. Ons moet dit nie nou op morele gronde probeer bestry nie. En dan heeltemal los daarvan,heeltemal eenkant, moet die plaasmoorde gesien word as ’n klein deeltjie van die algemene misdaad en “die militarisering van die nasionale politieke gesprek”. Dit het volgens hom niks met mekaar te doen nie. Hier speel hy dit weer af teen die “groter gebeure” in die land, en word die EFF se oproep om boere te vermoor tot ’n kleinigheid gereduseer. Die oproep om boere te vermoor is blykbaar vir hom nie groot genoeg nie.
Met dank aan die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis
E-adres: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
Tafelgesprek word gratis aan intekenare versprei.