Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christus verklaar self dat Satan finaal, skielik en onkeerbaar soos 'n weerligstraal uit die hemel gewerp is; dat Hy ons bewapen teen al Satan se liste; en dat Hy ons teen alle bedreiging van Satan, of dit nou van die natuur of van die geestewêreld sal kom, sal beskerm.
ENGELE MET ‘N SENDING (12)
Lees reeks by Engele met 'n sending
Sending Filippyne
Dit is ’n snaakse gevoel om op die San Francisco-lughawe te sit op pad na ’n vreemde land, terwyl ’n mens wonder wat gaan gebeur as jy daar aankom! Dit is soos ek daardie Saterdagaand gevoel het toe ek geheel en al gedwing was om na die Filippyne toe te gaan.
Die week voordat ek op die sending moes vertrek, het die engel Gabriël my kom besoek en met my oor die werk gepraat en my die versekering in my hart gegee dat wat gebeur het deur God Self beplan is. Hy het my die name van die mense gegee met wie hy besig was en wat ek sal ontmoet. Sommige van hulle was nie juis belangrik vir die sending nie, maar is vir my gegee as bevestiging dat die reis van die Here was en dat dit nie slegs ’n besoek was nie!
Die vliegtuig sou teen middernag vertrek en ek het ses en ’n half ure gehad om te wag. Omtrent 11 uur het ek ingeboek om my sitplek te kry en het in die vertreksaal gaan sit en die mense dopgehou wat daar rondgemaal het. Geestelik was ek die hele tyd ingestem om te sien wat God besig was om te doen en ek het ’n geweldige gevoel van afwagting gehad!
Daar was ’n leë sitplek langs my en ’n jong Filippyn het daar kom sit. Ons het ’n interessante gesprek gehad en toe ons aan boord stap, moes ek vind dat dieselfde man langs my ’n plek gehad het! Ek het onmiddellik die lys name wat Gabriël vir my gegee het, uitgehaal en dit nageslaan. Die naam S-A-R-I-A-N-O was heel bo aan die lys. Ek het diep asemgehaal en hierdie jong man gevra of Sa-ree-on-o die regte wyse was om sy naam uit te spreek. Ek wens u kon sy gesig sien! Hy was verskriklik ontsteld dat ek sy naam geken het! Hy het rondgekyk om te sien of daar iets aan sy persoon was waaraan hy uitgeken kon word, maar daar was niks nie! Hy het vinnig opgestaan en in ’n ander deel van die vliegtuig gaan sit. Die vliegtuig was nie vol nie. Ek het sy sitplek en myne gehad en die hele pad na Hawaii geslaap.
Voor ons vertrek na Hawaii het die lugwaardin afgekondig dat elkeen sy eie sitplek moes inneem omdat daar nuwe passasiers aan boord sou stap. Onwillig het die jong man teruggekom en langs my kom sit. Ek het gedink dat dit goed sou wees om hom te kalmeer. Ek wou beslis nie hê dat hy vir die hele tieruuurlange vlug ongemaklik moes voel nie, want dit is darem ’n lang tyd om misrabel te voel.
Ek het hom eenvoudig en eerlik vertel dat ek geweet het wat sy naam was omdat die engel Gabriël dit vir my gegee het. Toe ek dit sê, het hy weer rondgekyk, maar daar was geen leë plek meer nie en nêrens ’n plek waarheen hy kon vlug nie! Ek het hom vertel dat God hom liefhet en dat hierdie reis meer as net ’n besoek sou wees, omdat hy gekies is om die Goeie Nuus aan sy familie te gaan oordra. Ek het ook vir hom vertel dat God sy oog op hom gehad het, hom lankal ken en vir hom omgee.
Hy het gesê: “Hoe kan God my ken? Ek ken Hom nie. Ek gaan na die priester toe en die priester vertel heelwaarskynlik vir God van my, maar ek ken Hom nie regtig nie.” Ek het vir hom verduidelik dat God hom ken, dat God hierdie hele reis voorberei en beplan het en selfs vir my sy naam gegee het. Ek het ook gesê dat toe hierdie sitplekke aan die 300 mense op die vliegtuig uitgedeel is, God gesorg het dat syne reg langs myne was!
Sy oë was groot van verbasing toe ek vir hom hierdie dinge vertel en hy het gesê: “Bedoel u dat God regtig in my belangstel? By alles wat Hy moet doen? Bedoel u dat God regtig vir iemand wat Hom nie eers ken nie, omgee?” Ek het geantwoord: “Ja, Hy wil hê dat jy jou lewe aan Hom moet gee om vir Hom te sê dat jy dankbaar is teenoor Hom vir sy belangstelling in jou, so groot as wat Hy is en so onbeduidend as wat jy is.”
Net daar en dan het hierdie jong man Jesus as sy Verlosser en Here aangeneem! Hy het opgewonde gesê: “Laat ek u van my vader en van my familie vertel. Ek onthou baie keer as my vader in die nag in die lug opgekyk het, hy gesê het: ‘Ek is seker daar moet ’n God wees, êrens, as ons Hom net kan vind.’ ” Toe het hy voortgegaan: “Nou gaan ek terug om vir hom te sê dat hy reg was, daar is ’n God en dat ek Hom gevind het.”
Toe het ek oor sy familie uitgevra. Ek het gedink hy bedoel sy onmiddellike familie as hy van sy familie praat. Hy het verduidelik: “My hele familie gaan bymekaar wees omdat hulle in ’n familiegroep saamwoon. Toe ek dertien jaar gelede weg is om na die Verenigde State te gaan, was daar omtrent 400 lede in my familie. Ek weet nie hoe groot dit nou is nie, waarskynlik 700 of miskien meer as dit, maar ek gaan vir hulle almal vertel! Hulle moet weet dat God elkeen van hulle liefhet!”
Dit was regtig wonderlik vir my, veral toe hy byvoeg: “As die engele in my belangstel, dink u nie dat hulle in my familie ook geïnteresseerd sal wees nie? Sal dit reg wees as ek vir hulle vertel?” “Sekerlik, dit is wat God wil hê jy moet doen. God stel soveel in jou familie belang dat Hy my jou naam gegee het. Jy gaan terug daarheen as God se verteenwoordiger.”
Met groot emosie het hy my reguit in die oë gekyk en gesê: “Hierdie is die grootste en belangrikste taak wat ek nog ooit gehad het.” Hy het geweet dat dit ’n spesiale opdrag was omdat hy besef het dat daar geen ander metode was waarop ek sy naam kon kry nie, behalwe by God en hy het onmiddellik ’n sendeling geword!
Die reis na die Filippyne was een van die 120 gebeurtenisse wat God gesê het sou plaasvind, maar niks het gebeur voor twee maande voordat ek moes vertrek nie. Toe het ek ’n uitnodiging ontvang om na die Filippyne te gaan. Ek het onmiddellik navraag gedoen oor die koste van die reis en ek het beraam dat dit omtrent R1 500 sou kos. Hoe sou God die geld voorsien? Dit het nie lank geneem om uit te vind nie omdat, presies die volgende dag, ’n tjek ter waarde van R1 500,00 vanuit ’n onverwagte bron daar aangekom het.
Gabriël het my in die kantoor by die kerk ontmoet om vir my die instruksies vir die sending na die Filippyne te gee. Daardie dag het hy baie ernstig gelyk en het op en af geloop, byna asof hy bekommerd was. Hy het God se besorgdheid oor die feit dat mense die boodskap hoor dat hulle die wêreld moet ingaan, maar dan weer aan die slaap raak, weergegee. Hierdie reis was beslis nie net iets wat op die ingewing van die oomblik ontstaan het nie, dit was in God se plan.
Hy het gesê dat my boodskap uit die 96e Psalm en uit Psalm 97:1—2 moes wees: “Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied; sing voor die Here, o ganse aarde! Sing tot eer van die Here, loof sy Naam, verkondig sy Heil van dag tot dag. Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Want die Here is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. Want al die gode van die volke is afgode, maar die Here het die hemele gemaak.
“Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom.
“Gee aan die Here, o geslagte van die volke, gee aan die Here eer en sterkte. Gee aan die Here die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe. Aanbid die Here in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde! Sê onder die volke: Die Here is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel.
“Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel voor die aangesig van die Here; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.
“DIE HERE IS KONING; laat die aarde juig; laat die eilande bly wees! Wolke en donkerheid is rondom Hom; geregtigheid en reg is die grondslag van sy troon.”
Sondag was ’n ongewone dag. My eerste diens was by die Holiday Inn en was ’n deel van International Hotel Ministries, ’n wêreldwye organisasie. Die ouditorium was gepak en dit het gelyk na die boonste klas van die bevolking. Dit was vir my baie interessant, want ek het gedink dat die Filippyne ’n baie arm plek was, ’n plek waar ek die evangelie regtig onder die rou heidene sou bedien. Tog was hierdie my eerste kennismaking met die Filippyne en dit was in een van die mooiste en deftigste geboue wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Die mans was gekleed in pragtige pakke en dasse en die dames was pragtig getooi. Hulle het hulle swart hare hoog op hulle koppe gedra en het so gesofistikeerd gelyk dat ek gewonder het of ek net ’n paar draaie bokant een van die groot Amerikaanse stede gemaak het en weer geland het! Dit het gelyk of hulle van orals kon kom behalwe van die Filippynse eilande!
My tweede diens was die Sondagaand in die Faith Assembly in Manila. Toe ek in die kerk instap, het ek niks van die rykdom gesien wat ek die oggend in die diens waargeneem het nie, maar ek het hier mense gesien wat die Here regtig liefhet ten spyte van hulle armoede. Die gebou was in ’n gebied van geweldige misdaad en geweld. Elke venster het tralies voorgehad net soos ’n tronk. Wat ’n verskil in omgewing van die oggenddiens!
Ek het in die gastehuis van die Wycliffe-vertalers gebly. Dit is ’n groot plek soos ’n kampong en het omtrent 70 gaste op ’n keer. God het gesorg dat ek daar bly om met die mense te gesels. Hulle wy hulle lewens daaraan om die tale van stamme wat geen geskrewe taal het nie te leer, vir hulle ’n geskrewe taal te gee en dan die Bybel daarin te vertaal. God het gereël dat ek miskien die belangrikste groep in die land sou ontmoet ten einde die verafgeleë stamme te bereik. Daar was dokters, loodse, professore, onderwysers en ander leiers wat hulle kragte saamgesnoer het om die eilandbevolking te bereik.
Later het ek oor die besoeke van die engele gepraat met ’n groep sendelinge gedurende ’n aanddiens. Terwyl ek gepraat het, het ek besef dat dit iets so nuut vir hulle is dat dit miskien ’n bietjie moeilik sou wees om te aanvaar. God het dit ook geweet en Hy het presies geweet wat om daaraan te doen in die situasie! Gedurende die tyd vir gebed, het die president van die Bybelskool ’n swaar hand op sy skouer gevoel. Hy het gedink dat dit miskien iemand was wat sy hand op hom gesit het om vir hom te bid. Hy het omgekyk om te sien wie dit was, maar daar was niemand nie! Hy het vir die mense gesê: “Dit is die waarheid! Dit is die waarheid! God het dit bevestig! Al kan ek hom nie sien nie, WEET ek dat die engel se hand op my skouer is.” Hy en sy vrou het die grootste gedeelte van die nag wakker gebly om te praat oor hoe hy die goddelike hand gevoel het toe die engel sy hand op sy skouer gesit het. Ek het nie vir Gabriël daar gesien nie, maar dit was interessant om te weet dat hy in die omtrek was en sy pad na die Filippynse eilande gevind het!
Dit is daar waar ek die program vir byeenkomste vir die reis ontvang het. Ek was bekommerd toe ek daarna kyk, omdat ek gesien het dat ek sewe dae lank in net twee kerke sou optree. Ek het nie vooruit gedink wat ek sou doen nie, maar hierdie inligting het my verbaas! Ek het gewonder waarom ek die hele pad hierheen gekom het net om dit te doen! As dit al was wat ek moes doen, kon ek dit in Idaho ook doen!
Ek het met die mense by die Wycliffe-gastehuis gepraat en hulle het my vertel hoe interessant dit is om onder stamme te woon wat geen Engels geken het nie. Hulle was heeltemal onbeskaaf en baie van hulle het net deurtrekkers gedra. Hulle het nog pyle en boë saam met hulle gedra en die pyle was giftig. Ek was baie hierin geinteresseerd en het gevoel dat dit miskien die rede vir my reis kon wees. Dit het tog geblyk ’n belangrike deel te wees, maar nie op die wyse wat ek verwag het nie!
Op Maandag het ek een mediese dokter ontmoet, ’n kollege-professor en twee loodse. Hulle het net van Mindanao teruggekom waar daar ’n stam is wat net ’n jaar en ’n half vroeër ontdek is. Hulle was diep in die bosse en terwyl die groep daar was, het die professor daarin geslaag om ’n soort kommunikasiebrug tussen hulle te bou. Ek het aan hulle verduidelik dat God my na die Filippyne gestuur het en hulle het gesê: “Ons het hierheen gekom om te rus, maar ons het nie die rus nodig nie, kom ons gaan more terug! Ons wil JOU saamneem daarnatoe. God is in hierdie ding!”
Ek was regtig opgewonde totdat ek besef het dat dit onmoontlik was vir my om te gaan omdat ek op ’n ander plek moes optree. Ek het aanhou dink aan planne om my program te verander, sodat ek kon gaan. Hulle het ’n vliegtuig gehad wat my na die lughawe die naaste aan die stam sou vlieg en op die lughawe was daar ’n helikoptervlieënier wat my die binneland in kon vlieg. Hulle het aanhou sê: “Ons wil hê dat u moet gaan!” Maar ek kon nie, omdat dit nie op die reisplan voorgekom het nie!
Ek het Maandagaand gaan slaap met die gedagte: “Nou het ek die hele ding bederf. Ek het God vooruit geloop deur vir hulle te sê om vir my ’n program te organiseer. God wou eintlik hê dat ek hierheen moes kom om daardie nuwe stam te help en nou het ek die kans verspeel! Ek kan nie hieruit loskom nie, want die byeenkomste is alreeds geadverteer.”
Dit was warm en bedompig in die plek en baie moeilik om te slaap en my gewete het my so aangekla dat ek in elk geval nie kon slaap nie. Ek het die laken in ’n groot knoop opgebondel soos ek gelê en worstel het met die probleem tot omtrent twee-uur in die oggend toe ek eindelik aan die slaap geraak het.
Teen omtrent vieruur het die lig in my kamer aangegaan en ek het my oë oopgemaak. Die gastehuis was baie eenvoudig gemeubileer en daar was net twee beddens in die kamer. Ek het in die een geslaap en toe ek na die leë een kyk, het ek Gabriel daar gesien sit saam met Chrioni, die engel wat saam met hom reis. Ek was so vaak dat ek gesê het: “Hoe het julle my hier gekry?” Gewoonweg sou ek nie so met hulle praat nie, maar ek was so deurmekaar dat ek vergeet het dat wanneer God iemand in opdrag stuur om Hom te verteenwoordig, jy nie vrae stel nie.
Gabriel het gesê: “Dit was nie moeilik om jou te vind nie, omdat ons vir jou gereël het om hier te wees! Ons het ’n rede gehad. Ons wil hê dat jy met hierdie mense sal meng sodat hulle die boodskap goed sal verstaan en na hulle gebied terugneem.” Dit het my beter laat voel en toe het hy gesê: “Die rede waarom ons gekom het is omdat God die kommer in jou hart raakgesien het en dat jy dink dat jy miskien besig is om jou tyd hier met hierdie kerke te verspeel. Hy wil hê dat ons vir jou moet sê om nie bekommerd te wees oor die program nie, omdat dit so gereël en georganiseer is dat elke persoon wat jou ontmoet deur God gekies is. Hulle is persoonlik deur God gekies om te hoor wat jy te sê het.”
Dit was interessant om te besef dat, ongeag of ek in die een plek was of in die ander, wie ook al daar sal wees, sal daar wees op God se bevel, dus het ek my nie meer daaroor bekommer nie. Ek het gewonder wie dit sou wees wat God sou stuur en ek het met verwagting begin rondkyk. Ek was lus om ’n paar dinge self te probeer doen, net om te kyk of dit werk, maar ek het nie. Ek het besluit dat ek miskien uit mag wees om iets te doen terwyl ek moes wag en kyk wat God besig was om te doen!
Terwyl ek in Manila was, het ek in die Verre Ooste se Gevorderde Skool vir Teologie gepraat en besef dat dit ook op God se bevel was. Die jong mense wat hierdie Bybelskool bywoon, is van Suidoos-Asië en die impak vanuit hierdie skool dek daardie hele deel van die wêreld. God het hierdie besoeke so gereël dat sy boodskappe van die wortels van die Filippynse eilande op sou werk, deur die Wycliffe-werkers en nou het Hy gereël dat dit na verskeie dele van Asië gaan. Daar was studente van Burma wat nou vir sendelinge uit die Weste gesluit is.
Ek het na Iloilo gegaan waar my borge my in die beste hotel beskikbaar, laat tuisgaan het. Dit was ’n hele paar kilometers van die sakesentrum of van die markplein soos hulle dit noem, en ek het gewonder wat hier sou gebeur. Ek het gedink: “Wel, as wat die engele vir my gesê het die waarheid is (en wie sou nou aan engele se woorde twyfel) sal hulle sorg dat hulle mense hierheen bring. Ek weet nie wie hulle gaan bring nie, maar ek weet ten minste dat hulle weet waar ek is.”
Ek het nie baie in my kamer gebly nie. Ek het afgegaan na die ingangsportaal en daar gesit en almal en alles dopgehou, omdat ek in die regte plek wou wees op die regte tyd. Niks besonders het daardie eerste aand gebeur nie.
Die volgende oggend het ek ontbyt gaan geniet en God se pragtige plan het begin ontplooi. Twee sakemanne het aan ’n tafel gesit en hulle het gesê: “Ons het u gisteraand gesien en gewonder wat n hier doen. U lyk nie vir ons soos ’n toeris nie. Wil u nie by ons kom sit en ons vertel waarom u hier is nie?”
Ek het gaan sit en die gesprek begin deur te sê: “Menere, ek weet nie wat julle agtergrond is nie, en daarom weet ek nie of u dit gaan aanvaar nie, maar ’n engel het vir my gesê dat elke persoon met wie ek gaan praat, spesiaal deur God gekies is om te hoor wat ek te sê het. Daarom glo ek dat julle twee deur God gekies is.”
Hulle het na my gekyk asof hulle nie heeltemal geglo het wat ek gesê het nie, daarom het ek voortgegaan: “Die feit dat u gekies is, is omdat u opleiding of agtergrond, wat dit ook al is, deur God so gelei is en God wil dit nou gebruik. Hy doen niks toevallig nie en Hy het u vir iets spesiaals gekies. Ek weet nie wat dit is nie, maar wat ek weet is dat Hy u gekies het. Dit is sy doel en sy plan. Hy wil hê dat u het wat Hy vir u gegee het, omdat alles wat u het, deur God aan u gegee is, of u dit weet of nie.”
Hierdie mans het na mekaar gekyk en een van hulle het gesê: “Dit klink snaaks, maar ons glo u en terwyl ons nou gekies is, wat is die volgende stap?”
Ek het geweet wat die volgende stap was, maar ek het gedink dat ek miskien ’n bietjie met hulle sou moes redeneer, maar hulle was dadelik gereed om aan te gaan. Ek het gesê: “God wil hê dat u moet sê: ‘Goed, Here, hier is ek. Ek is bly dat U genoeg vir my omgee dat U iets met my lewe wil doen. Ek is gereed om te doen wat U wil hê ek moet doen en hier is my lewe. Ek aanvaar U.”
Hierdie manne, met geen vraagteken in hulle harte nie, het gevoel dat wat ek vir hulle vertel het, direk van God was en sonder om enigsins te twyfel, het albei hulle hande opgehef en gesê: “Here, ons wil ons hande in U s’n plaas. As ons iets het wat U vir ons gegee het wat U kan gebruik, gee ons dit vir U. Ons wil hê dat U ons moet gebruik!”
Ek het ’n paar minute lank met hulle gesels en toe het ons saam met die Here gesels. Ons het Hom aanbid en geprys vir die bonatuurlike wyse waarop Hy werk. Toe het hulle gesê: “Ons is hier op ’n spesiale sending en al ons opleiding is op die gebied van die politiek en regeringsbeheer en ons gee die res van ons lewens aan God met die doel om mense te help.”
Ek het teenoor hulle genoem dat die engel vir my gesê het dat my bediening op dié gebied van bevryding sal wees. Ek het gesê: “God glimlag neer op die Filippynse eilande en Hy bring bevryding van gees, siel en liggaam. Hy is besig om leraars op te wek wat gaan help om mense in hulle gees te bevry. Hulle is verarm; hulle is verdruk; hierdie mense was jarelank onder verdrukkers. Eers was dit die Sjinese, toe die Spanjaarde, toe die Amerikaners, toe die Japanese, toe weer die Amerikaners en nou die Filippynse regering. Hulle was die hele tyd onder die hiel van ’n verdrukker en God wil hulle bevry!” Die mans het gesê: “Ons is in daardie posisie. Ons gaan ’n paar wiele aan die rol sit om hulle te bevry.” Ek kon nie help om “Halleluja!” te sê nie. Ek het nie beplan om dit te se nie, maar al wat ek weet is dat God besorgd is oor die behoeftes van die hele wese van hierdie mense en dat Hy vir hulle glimlag.
Op Maandagoggend het ek ’n man in die portaal van die hotel ontmoet. Hy het aanhou staar na my, dus het ek gedink dat ek na hom toe sal gaan om uit te vind of hy deur God gekies was. Hy het soos ’n Amerikaner gelyk. Ek het na hom toe gestap en gesë: “U lyk vir my soos ’n Amerikaner.” Hy het gesê dat hy ’n Duitser was. Ek het vir hom gesê dat ’n groot aantal Amerikaners van Duitse afkoms is. Toe het hy vir my gevra: “Wat doen u hier?” Halleluja! God het vir my dieselfde geleentheid gegee wat ek voorheen met die twee sakemanne gehad het.
Ek het op dieselfde manier begin: “Ek weet nie of u dit sal glo nie, maar ’n engel het my ontmoet wat vir my gesê het dat al die mense met wie ek gaan praat in die Filippyne, deur God gekies is vir ’n spesiale opdrag. Ek weet nie hoe u dit gaan opneem nie, maar u is gekies om te hoor wat ek te sê het.”
Toe het ek voortgegaan en vir hom dieselfde ding gesê, dat God sy hele opleiding en agtergrond wil gebruik. Hierdie man het sy hart oopgemaak en gesê: “Ek het nooit besef dat God regtig soveel omgee vir wat ek doen nie, maar ek wil graag meer doel in my lewe hê.” Ek het vir hom gesê dat die Here sy talente wil gebruik, sy opleiding en sy bekwaamhede en dat Hy wil hê dat hy sy lewe aan Hom moet oorgee. Sonder enige vraag het hy onmiddellik die Here aangeneem! Toe het ek besef dat hy snik en saggies met die Here praat. Sy oë was oop en hy het opgekyk met albei hande in die lug en gesê: “Here, om te dink dat ek net een dag in die Filippynse eilande is en ek het alreeds ’n nuwe baas!”
Ek het hom gevra wat hom na die Filippyne gebring het. Hy is na die eiland gestuur deur die Wêreldkomitee van die Verenigde Volke om voedselbronne vir die verarmde en ondervoede mense van die land te ontwikkel. Ek het vir hom gese dat die mense wat deur God gekies word, besig is met die bevryding van hierdie arme mense. Toe het ek vir hom gesê: “U, in u posisie nou, gaan help om hulle van die bande van honger te bevry.” Hy het gesê: “Dit is die ding waarvoor ek opgelei en bekwaam is. Ek gee myself aan die Here hiervoor.” Van Iloilo af het ek per skip na die eiland Negros gegaan. My hotel was in die middel van die stad en ek het niemand, die leraar insluitend, vertel wat ek gedurende die dag gedoen het nie. Ek het na die mense gekyk en my hart het uitgegaan na hulle toe, maar ek kon nie met hulle kommunikeer nie. Al kon ’n goeie aantal van hulle gebroke Engels praat, het ek met ’n hele klomp mense probeer praat, maar ek kon nie een vind wat regtig Engels kon praat nie. Eindelik het ek ’n jongman gevind wat taamlik goed kon praat, of ten minste kon hy homself verstaanbaar maak. Hy was net een en twintig jaar oud en hy het die hele tyd terwyl ek daar was, by my gebly. Toe ek teen 05h30 in die oggend uit die hotel uitkom, het hy op die trappies gestaan en wag vir my. God het hom daar geplaas as ’n tolk om my te help om met die mense te kommunikeer omdat diegene wat ek regtig wou bereik, my glad nie kon verstaan nie!
Die eerste dag toe ons deur die strate loop, het ek ’n goedgeklede dame sien huil met ’n doek oor haar gesig. Ek het uitgevind dat sy die eienares van een van die winkels daar was. Ek kon sien hoe haar skouers skud soos sy snik.
Ek het gevra: “Waarom huil u, dame?”
Sy het nie geantwoord nie, maar het aanhou snik. Ek het weer gesê: “Ek is hier om u te help. Ek is ’n leraar en ek wil u help. God het u lief en Hy is besorgd oor u nood.” Ek het gewag dat die tolk moet oordra wat ek gesê het.
“Sê vir die man dit is nie belangrik nie.”
Die seun het getolk en ek het gesê: “Alles wat vir u belangrik is, is vir God belangrik.” Ek het die doek van haar gesig af weggeneem. Sy het ’n lang ruk gehuil en haar oë was rooi. Ek het haar hande geneem en gebid dat God sy sterk arms om haar moes sit en haar moes help met wat haar probleem ook al was. Toe sy haar kop oplig, het dit gelyk asof die wolke aan die verdwyn was en die son deurgebreek het!
“Vra vir hom of sy naam Jesus is? Ek het al baie keer voorheen gehuil, maar niemand het nog ooit omgegee soos hierdie man nie!”
Ek het al die reëls wat van ’n toeris of sendeling verwag word, oortree omdat hulle ’n mens ’n hele klomp moete en moenies voorhou en jy nie veronderstel is om met iemand anders se sake in te meng nie. Ek was nie bewus daarvan nie, maar die mense in die besige markpleine het begin om saam te drom om te sien wat aan die gang was. Kort voor lank het die storie die hele markplein vol gelê dat ek oor die vrou besorgd was!
Die volgende skending was toe ek gesien het hoe ’n dame ’n swaar sak rys dra wat gelyk het of dit omtrent veertig kilogram weeg. Sy was baie oud en haar bene baie krom. Ek het haar gevra hoe ver sy die sak moes dra. Sy het geantwoord dat dit omtrent twee kilometer ver was. Ek kon die jong man gevra het om die sak vir die ou dame te dra, maar ek het self die sak rys geneem en dit vir haar gedra. Mense het dit gesien en ’n gefluister het in daardie stad van omtrent 360 000 mense losgetrek.
Toe ek terugloop deur die markplein, het mense my begin volg.
Hulle het my voorgekeer en my gevra om asseblief met hulle te praat. By verskillende geleenthede, terwyl ek met hulle gepraat het oor God se liefde vir en oor mense, het ek gemerk dat hulle van baie siektes genees is, ook sommige van hulle wat baie skeef getrek was deur gewrigsontsteking. Ek het nie met hulle oor genesing gepraat nie, ek het nie vir hulle gebid nie, ek het hulle net van Jesus vertel en hoeveel Hy vir hulle omgegee het. Daar was ’n paar doofstommes wat genees is sonder gebed van enige aard. Hulle kon nie hoor wat ek gesê het nie, omdat hulle doof was en hulle kon niemand daarvan vertel nie omdat hulle stom was, maar die Here het hulle genees en hulle kon nou hoor en praat!
God het bewys dat daardie mense deur Hom gekies is, omdat hulle na my hotel toe begin stroom het en dit het inderdaad ’n besige plek geword. Hulle het elke dag solank as wat ek daar was gekom en ek het vir hulle gebid in die portaal van die hotel en vir hulle die boodskap van God gebring.
Toe het die nuus gekom dat ’n tifoon Bocolod om 20h00 sou tref. Die reën het reeds in strome neergekom. Ek het vir die mense gesê om in die kerk te bly omdat die konstruksie van die gebou baie sterker was as die swak huise wat ek gevoel het maklik sou omwaai. ’n Paar uur lank het ek gedink dat die tifoon reeds gekom het. Dit het geklink of spuitvliegtuie oor ons koppe gevlieg het, maar dit is veroorsaak deur die winde wat die volle krag van die tifoon voorafgaan.
Ek het vir die mense gesê om op te hou om hulle te bekommer want dit sou geen probleem vir die Here wees om die tifoon se rigting te laat verander of om dit te laat omkeer nie. Buitendien. God is nog altyd God! Hierdie mense het altyd in vrees geleef omdat omtrent twintig tifone per jaar die Filippynse eilande tref en dié een was die ergste wat hulle in baie jare gehad het. Dit is ’n “moord”-tifoon genoem en hulle was bang!
Omtrent 7h30 het ons voor die deur van die kerk bymekaar gekom, om die Here te aanbid en om te bid. Ons het die Here gevra om die tifoon in ’n ander rigting te laat draai omdat dit in daardie stadium net ’n klein entjie ver was. Prys die Here! Die Here het ingegryp en dit het oor ’n plek getrek wat nie bewoon was nie. Halleluja!
Die kern van die tifoon wat die geboue en huise heeltemal plat sou slaan, het die gebied heeltemal gemis. Dit het Manila ook gemis en oor ’n plek getrek wat nie so dig bewoon was nie, net asof daar ’n goddelike ingryping was! As dit die digbewoonde stad Manila getref het, sou daar ’n dodetal van letterlik honderde-duisende wees. Die reën en die wind het omtrent 270 000 families dakloos gelaat, maar die moordende gedeelte het hulle gemis en het oor die rysvelde getrek. Die rys was vernietig, maar die mense het gelewe! Dit is wonderlik om die Here in aksie te sien!
Op my laaste aand het ek gereed gemaak om terug te keer huis toe via Manila toe ek die boodskap kry: “Vlug gekanselleer.” Ek het gedink: “Hoelank gaan tifoon Rita aanhou? Wat nou van my bespreking van hier af tot in Manila? Sou ek nog daarvan gebruik kon maak? Wat van my bespreking uit Manila uit?”
Dit het nie lank geneem om uit te vind nie. My besprekings was nou gekanselleer en alle vlugte vol bespreek tot die Woensdag. My bespreking uit Manila het ek ook verbeur. Hoe lank sou dit nou neem om ’n ander bespreking te kry? Toe het ek gedink: “Waarom bekommer? Die Here weet! Hy is die Een wat my hierheen gebring het.”
Teen 13h00 het ek die lughawe in Manila geskakel. Die strate was vol water en die wind het 313 km per uur gewaai. Daar was nie die geringste kans vir besprekings nie. Op die vroegste na 7 tot 10 dae. Ek het gedink aan een van die manne wat God oor my pad gestuur het wat vir my sy visitekaartjie gegee het. Hy het gesê dat as ek ooit hulp nodig sou hê, ek hierdie kaart en sy naam moes gebruik. Ek het nou hulp nodig gehad, dus het ek besluit om te kyk wat sou gebeur. Toe ek sy naam noem het die wiele begin draai. Binne enkele minute het ek ’n sitplek gehad. God het geweet dat ek die hulp nodig sou hê!
Ek het teen twaalfuur in Manila aangekom. Bome en huise was plat. Die vloed was so sterk dat dit uit die lug uit gelyk het of die stad in die see was. Letterlik tienduisende mense het ’n geleentheid om te reis gesoek. Ek was die enigste persoon wat sonder ’n bespreking na die Verenigde State kon vlieg. Dank aan God wat die regeringsamptenaar gestuur het. Ek is verklaar as ’n ongelyste, spesiale passasier.
Spesiale nota: AL die name wat Gabriël vir my gegee het, is geïdentifiseer terwyl ek in die Filippyne was!