Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Deesdae grens dit aan 'n wonderwerk as 'n mens bereid is om iets van homself aan iemand anders te gee. Romeine 13 leer ons dat ons niemands iets verskuldig mag wees behalwe om mekaar lief te hê nie – dit is juis hierdie liefde wat ons mekaar verskuldig is. Maar al wat ons hoef te doen sonder om onsself in te doen, is om na mekaar te luister, tyd saam deur te bring en mekaar te respekteer.
VOLKSVERRAAIERS WAS DAAR ALTYD (1)
In die volgende 5 aflewerings wil ons u graag meer van nog 'n volksverraaier vertel sodat u beter sal begryp hoe hierdie swak karakters meegewerk het om die ANC aan bewind te bring. Was dit nie vir hulle nie sou dit baie moeilik gegaan het om ons dierbare Suid-Afrika aan die ANC te verloor. Vandag sit ons met meer as ooit sulke swak karakters in ons midde - soos u ook onlangs weer in die nuus verneem het van die verraaiersbrief wat die 44 aan die VSA gestuur het. So was Bram Fischer destyds ook 'n :
...KOMMUNIS, ATEÏS, OPPORTUNIS, BOMPLANTER EN VOLKSVERRAAIER
BRAM FISCHER
In die hele proses van die ANC se militante poging om Suid-Afrika oor te neem, was Fischer een van die min wit Suid- Afrikaners wat gedurende die onderhawige tydperk in alle opsigte 'n oortuigde en toegewyde Kommunis was – die ANC is bloot as instrument deur die Kremlin gebruik om sy einddoel hier te bereik.
Fischer was die groot dryfkrag agter die Kommuniste se plan om 'n sosialisties-geörienteerde stelsel in Suid-Afrika tot stand te bring. Die moontlikheid bestaan natuurlik dat persoonlike ambisie by Fischer 'n rol gespeel het en dat hy homself in 'n Kommunistiese staat as die groot redder en leier van die hele Suid-Afrika, met inbegrip van al die swart volkere, gesien het. In so 'n geval sou Fischer as een van die groot wêreldleiers van sy tyd beskou gewees het — 'n veel groter figuur as wat hy as eerste minister van 'n wit minderheidsregering of as die hoofregter van so 'n land sou wees. Dit is selfs moontlik dat Fischer homself gesien het as grondlegger van Kommunisme aan die suidpunt van Afrika vanwaar hierdie ideologie sy vlerke oor die hele Afrika sou kon sprei. Dit sou hom 'n nog groter statuur besorg het.
Bram Fischer se oupa was die bekende Abraham Fischer wat as eerste minister van die Vrystaat en in ander hoedanighede diep spore in die Afrikaner-geskiedenis getrap het. Bram se vader was Percy Fischer wat, net soos sy vader sowel as Bram self, 'n regsgeleerde was en sy loopbaan as regter-president van die Vrystaat afgesluit het.
Bram Fischer het dus onberispelike Afrikanerwortels gehad, en normaalweg sou hy dit dan ook ver gebring het, veral in die lig van sy buitengewone verstandelike vermoëns. Inderdaad is daar al dikwels beweer dat indien Bram die gewone pad gevolg het, hy waarskynlik iets soos hoofregter of eerste minister van Suid- Afrika sou kon word.
In sy biografie van Bram Fischer doen Clingman sy bes om Fischer se ingesteldheid as aktivis te soek in sy agtergrond: die feit dat sy oupa as een van die Boereleiers in die Vrystaat teen Brittanje in opstand gekom het en dat sy vader, Percy, as advokaat tot sy eie nadeel simpatiek was teenoor Afrikaner-rebellieleiers van 1914 en namens hulle in die howe opgetree het. Gevolglik, so redeneer Clingman blykbaar, het Fischer vanweë hierdie agtergrond gerebelleer teen die regering se beleid ten opsigte van swart mense en dus via Kommunisme 'n metode gesoek om ewewigtigheid tussen wit en swart teweeg te bring.
Indien hierdie belaglike redenering aangaande Fischer se oorsprong korrek was, sou daar veel meer Afrikaners gewees het wat Fischer se weg sou gevolg het omdat daar baie duisende Afrikaners is wie se voorvaders in dieselfde kategorie as Fischer s'n geval het. Nee, met alle agting jeens Clingman se goed nagevorste en interessante werk, die ware antwoord is geleë in die misterieuse houvas wat die Kremlin op mense soos Fischer verkry het. Hierdie houvas kom onder meer op die volgende neer: Kommunisme verdring alle vorme van geloofsoortuigings — derhalwe was alle toegewyde Kommuniste (ook Fischer) volslae ateïste. In die geval van 'n Christen, byvoorbeeld, is sy of haar anker sy of haar geloof in God. In die geval van 'n Kommunis, daarenteen, word die anker deur 'n onwrikbare geloof in en uitlewing van die Kommunistiese ideologie vervang. En net soos sekere Christene soms fanaties raak in die beoefening van hulle godsdiens, gaan sekere Kommuniste (waarvan Fischer volgens alle aanduidings een was) oorboord in hulle geloof in en uitlewing van Kommunisme. Die geskiedenis is vol voorbeelde van Kommuniste wat dieselfde mate van fanatisme ten opsigte van die ideologie wat hulle aangehang het, geopenbaar het as Fischer.
Fischer se vermeende empatie jeens swart mense is ook moeilik vereenselwigbaar met die werking van Kommunisme en duidelik 'n front vir sy verskuilde agenda. Afgesien daarvan dat dit 'n bekende feit is dat swart mense in die algemeen nog nooit van Kommunisme gehou het nie, is dit ook 'n feit dat Kommunisme, soos destyds toegepas deur die Kremlin, alle Suid-Afrikaners, swart mense inkluis, baie swaar sou getref het en dat swart mense ingevolge so 'n stelsel nooit 'n demokratiese bestel in die land sou verkry het nie. Gevolglik, op die aanname dat Fischer wel gemotiveer was deur 'n deernis vir swart mense, is dit onbegryplik waarom hy Kommunisme aan hulle wou opdwing. Indien aanvaar word dat Fischer hom aanvanklik misgis het oor die Kommunisme, moes hy as intelligente mens tog sekerlik teen die vroeë jare sestig (soos Slovo) reeds agtergekom het watter aaklighede Kommunisme vir mense wat daaraan blootgestel was, ingehou het. Ook uit hierdie oogpunt gesien, wil dit dus voorkom asof Fischer se fanatisme as Kommunis ten grondslag gelê het aan sy plan om Kommunisme in Suid-Afrika te vestig.
Bram Fischer se curriculum vitae is kortliks soos volg: hy is in 1908 in Bloemfontein gebore.
Na sy hoërskoolopleiding by Grey Kollege het hy in 1926 by die Universiteit van Kaapstad as student ingeskryf. In 1927 het hy egter na Bloemfontein teruggekeer en by die Grey Universiteitskollege ingeskryf, aangesien hy graag in aanmerking wou kom vir 'n Rhodes-beurs en hy gemeen het dat hy dit makliker in Bloemfontein sou verower gegewe die feit dat die kompetisie daar nie so straf as in Kaapstad sou wees nie. Na verwerwing van 'n B.A.-graad in 1928 het hy sy studies in die regte op deeltydse basis voortgesit en die regter-president van die Vrystaat se registrateur geword.
'n Rhodes-beurs is toe wel aan hom toegeken en na verwerwing van sy regsgraad in 1931 is hy in 1932 na die Universiteit van Oxford in Engeland. In 1933 het hy en 'n paar ander studente 'n reis deur Rusland ondemeem.
In 1937 het Fischer (as 'n heeltemal ander mens) na Suid-Afrika teruggekeer en die volgende jaar het hy by die Johannesburgse Balie aangesluit en as advokaat begin praktiseer. Hy is in 1949 verhef tot Queen's Counsel (QC). Hy is getroud met Molly Krige ('n niggie van Jan Smuts se gade) — wat ook later 'n Kommunis geword het. Twee dogters en 'n seun is uit die huwelik gebore. Die Fischers se huis in Oaklands, Johannesburg, sou later 'n gesellige bymekaarkomplek van linksgesindes word.
Fischer was aanvanklik 'n ondersteuner van die Nasionale Party. Dit blyk egter dat hy reeds tydens sy hoërskooljare, veral vanweë die invloed van sy geskiedenisonderwyser, Leo Marquard, 'n bekende in liberale kringe, sekere linkse neigings geopenbaar het.
Volgens die getuienis wat hy later tydens sy verhoor afgelê het, het sy keerpunt gekom op 'n dag toe hy tydens 'n vergadering van die Bloemfonteinse "Joint Council of Europeans and Africans" verplig was om vir die eerste maal hand te skud met 'n swart man. Dit het by hom 'n gevoel van afkeer gewek, volgens hom. Hierdie voorval het tot gevolg gehad dat Fischer diepe selfondersoek ingestel het. Sy gevolgtrekking was glo dat die fout by homself gelê het en die besef het by hom posgevat dat hy moes help om die wêreld te verander om rassegevoelens uit te skakel. Na deeglike bepeinsing het hy ook tot die slotsom gekom dat rassevooroordeel 'n totaal irrasionele verskynsel is en dat ware menslike vriendskap die kleurslagboom kon oorbrug sodra die aanvanklike vooroordeel oorkom is.
Dit blyk verder dat Fischer die Kommunistiese stelsel tydens sy toer deur Rusland bestudeer het en dat hy toe reeds besluit het om 'n Kommunis te word omdat hy die indruk gekry het dat die stelsel ideaal was om Suid-Afrika se rassevraagstuk op te los. Die aanduidings is egter dat hy te haastig was om gevolgtrekkings te maak en dat hy sekere aspekte van die stelsel verkeerd geïnterpreteer het.
Fischer is in 1962 amptelik as Kommunis gelys. Daar bestaan egter twyfel omtrent die datum waarop Fischer formeel by die Kommunistiese Party aangesluit het. Wat egter wel duidelik is, is dat hy spoedig na sy vestiging in Johannesburg in linkse kringe beland en met verloop van tyd die leidende wit Kommunis aan die Witwatersrand geword het. Hy het ook in 1952 die groot "Vienna People's Congress for Peace" bygewoon. Mettertyd het hy dan ook die voorsitter van die Sentrale Komitee van die Kommunistiese Party in Johannesburg geword en daar is min twyfel dat hy die meesterbrein agter die Kommunistiese bedrywighede in die land geword het. Hy het deurentyd twee hoede gedra: dié van die goeie advokaat met die goeie maniere en dié van die "goeie" Kommunis wat ooreenkomstig die reëls van Kommunisme nie geskroom het om ook onwettige metodes aan te wend om die doelstellings van Kommunisme te bevorder nie.
'n Sterk manifestasie van Fischer se fanatisme in en uitlewing van die Kommunisme is te vinde in sy besluit om in die Rivonia-verhoor as leier van die verdedigingspan op te tree.
Indien 'n mens jou sin vir behoorlikheid genoeg onderdruk, kan jy daarmee saamleef dat hy die genoemde twee hoede gedra het. Maar in die Rivonia-saak het hy albei hoede gelyk gedra.
Volgens die geldende etiese reëls gaan die kliënt in die eerste plek na sy prokureur en laasgenoemde gee dan opdrag aan 'n advokaat. In die betrokke geval is die proses egter omgedraai. Adv. Fischer het die inisiatief geneem om 'n prokureur (Joel Joffe) vir die saak te kry — hy het ook die advokate — Vernon Berrange ('n gelyste Kommunis), Arthur Chaskalson (wat in die nuwe bedeling president van die konstitusionele hof geword het) en George Bizos (wat later prominent was as advokaat by verrigtinge van die Waarheids-en-versoeningskommissie) — vir die saak uitgesoek.
Die rede waarom Fischer die inisiatief geneem het om die verdedigingspan saam te stel, was omdat hy, soos later sal blyk, self by die Rivonia-komplot betrokke was. Eintlik moes hy dus saam met Mandela-hulle in die beskuldigdebank gestaan het.
Aanvanklik was Fischer bra onwillig om in die saak op te tree. Clingman stel dit so:
"Bram had been involved politically with the accused, and there was the question, in legal ethics, of whether one should be engaged in the defence of people with whom one has been associated in the activities with which they are charged. Bram, the revolutionary, had an unusual vulnerability in sucli matters of loyalty to his profession as to his comrades. It fell to his junior members to convince him, and George Bizos gave the credit to Arthur Chaskalson for arguing forcefully. Those on trial had done no more for their cause and beliefs, insisted Arthur, than the Afrikaners had in the 1914 Rebellion; only an Afrikaner of Bram's standing could convince an Afrikaner judge (regter-president De Wet) of that. It was crucial for him to be in the trial, especially because of the threat of death sentences."
Fischer het toe besluit om wel deel van die span te wees.
Dit is skaars nodig om kommentaar te lewer op die voorafgaande. Die volgende behoort voldoende te wees:
* "Vulnerability" (kwesbaarheid of gevoeligheid) was hoegenaamd nie hier ter sake nie. Selfs 'n leek kan aanvoel dat 'n advokaat nie behoort op te tree in 'n saak waarin hy kop in een mus met die beskuldigdes was nie. By die Balie is dit 'n vaste reël dat 'n advokaat onder geen omstandighede so iets mag doen nie. Maar, soos reeds aangetoon, 'n toegewyde Kommunis soos Fischer het hom aan geen reëls gesteur nie.
* Die 1914-rebellie en die Rivonia-saak is sekerlik nie vergelykbaar nie. Bowendien is so 'n vergelyking nie relevant nie. Al was Fischer die heel beste toegerus en selfs al was hy die enigste beskikbare senior advokaat om die verdediging in die saak te lei, moes hy dit op beginsel- of etiese gronde nie gedoen het nie. Slegs sy "beginsels" as Kommunis het dit vir hom moontlik gemaak om namens die beskuldigdes op te tree.
Fischer se besluit om wel in die saak op te tree, raak al hoe meer onaanvaarbaar na gelang meer besonderhede in Clingman se boek verskaf word:
* Dit het later geblyk dat Fischer se betrokkenheid by die Rivonia-komplot deur swart werkers op die plaas, wat deur die staat as getuies opgeroep is, raakgesien is. Indien hulle dus gevra sou gewees het om iemand in die hof uit te wys wat hulle op die plaas gesien het, kon hulle maklik vir Fischer uitgewys het. Gevolglik het Fischer voorgegee dat hy ander verpligtinge gehad het en homself by die hof verskoon wanneer van die swart plaaswerkers getuienis afgelê het. "Without Bram, George Bizos and Arthur Chaskalson suddenly had to cover their inexperience and take on cross-examination in the biggest case of their lives," sê Clingman.
Tydens die verhoor is etlike relevante dokumente wat in Fischer se handskrif was, in die hof gehanteer. Fischer het gemaak of hy nie die handskrif herken nie.
Daar kan sonder vrees vir teenspraak gekonstateer word dat geen senior advokaat in Suid-Afrika wat by sy volle verstand was en nie deur een of ander vorm van fanatisme begeester was nie, sou opgetree het soos wat Fischer in die Rivonia-saak gedoen het nie. Slegs Fischer se intense assosiasie met die Kommunisme en die Kommunisme se vermenging met die ANC kon hom beweeg het om as advokaat in die saak op te tree.
Al hierdie gebeure dien as net nog 'n bevestiging van regter-president De Wet se bevinding dat die ANC 'n Kommunisties-gedomineerde organisasie was en van die gewese regter-president De Villiers se gevolgtrekking dat die Rivonia-komplot deur Kommuniste geïnspireer is.
Vervolg...