Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die hoof van ‘n land onreg bedryf en bose wette uitvaardig, mag die gelowige hom nie daarin volg nie. In hierdie verband spel Hand.5:29 vir gelowiges die goue reël uit waar ons lees: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
13 JAAR MET DR HF VERWOERD (4)
Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
'N ONDANKBARE TAAK (1)
"Wanneer gelykstelling kom, is dit alles verby en tel die getalle-oorwig alleen. Dan sal die groot nie-blanke getalle-oorwig oorgaan na nie-blanke oorheersing, vir sover die blanke gemeenskap nie al geleidelik geabsorbeer is in 'n gemengde bevolking nie. Hoeveel geslagte dit sal duur om daar te kom, weet ek nie."
Die Departement van Bantoesake was in die jare vyftig ongetwyfeld die ondankbaarse portefeulje in die Kabinet. Toe dr DF Malan hierdie Departement op 19 Oktober 1950 aan dr HF Verwoerd toevertrou, het hy moontlik onwetend, 'n nuwe fase in die Suid-Afrikaanse politiek ingelui, want dit wat in daardie stadium hoofsaaklik slegs teorie was, sou onder die nuwe minister 'n lewende werklikheid word. Die dae van praat was vir goed verby; voortaan sou die daad by die woord gevoeg word, want waar Verwoerd was, was daar aksie!
Toe ek in 1952 dr Verwoerd se privaatsekretaris word, was dit vir my pynlik om daagliks uit talle briewe aan hom gerig te verneem van aanvalle, nie alleen vanuit die geledere van die opposisie nie, maar dikwels ook deur ondersteuners, om nie eens te praat van die georganiseerde veldtog wat daar deur 'n groot deel van die pers, hier te lande en in die buiteland, teen hom gevoer is nie.
Aan die een kant is hy aangeval omdat hy 'n wrede, ongenadige verdrukker sou wees, terwyl hy aan die anderkant kasty is omdat hy dan te veel vir die swartman sou doen. Vir die een 'n afgryslike tiran, vir die ander 'n swartboetie by uitnemendheid!
Elke maatreël waarmee dr Verwoerd na die Parlement gegaan het, is nie alleen met die grootste agterdog bejeën nie, maar is hand en tand beveg. Dikwels het die opposisie in die Parlement, en ook in die Senaat, nagsittings afgedwing in verband met doodnormale wetgewing wat deur dr Verwoerd ingedien is – bloot omdat dit deur dr Verwoerd ingedien is. Op alle moontlike terreine en met alle moontlike wapens is hy deur die opposisie en deur die plaaslike en wêreldpers beveg totdat hierdie "genadelose wreedaard" die mees gehate persoon in Suid-Afrika was.
Een Suid-Afrikaanse blad het 'n tyd lank geweier om dr Verwoerd se naam met 'n hoofletter te skryf, terwyl 'n ander hom beskou het as "die aartsvyand van vryheid". In 'n ander koerant is te kenne gegee dat die Bybelse waarhede dr Verwoerd verveel terwyl 'n hoofartikel in nog 'n ander Engelstalige dagblad dr Verwoerd genoop het om aan die hoofredakteur die volgende te skryf:
"Ek was verstom om in u hoofartikel te lees wat nie alleen 'n persoonlike aanval op my bevat nie, maar wat ook in die mees blatante terme verklaar dat geen ordentlike mens met my kan assosieer nie. Vanselfsprekend verwag ek dat u blad nie alleen op die politieke terrein van my sal verskil nie, maar dat dit ook my beleid sowel as vir my in my hoedanigheid as minister moet aanval, selfs in die kragtigste taal.
"In daardie artikel het ek gevoel dat indien u my weer sou vra om u te spreek, ek sou weier en u nie in die verleentheid gaan stel deur sulke onwenslike geselskap op u af te dwing nie."
Daar in die jare vyftig skryf hy aan 'n vriend: "... dit is verbasend watter stampe en stote 'n mens nog kry", terwyl hy 'n maand later aan 'n ander ondersteuner skryf: "...Die aanvalle van die vyand – hoe venynig ook al – laat my koud..."
En dit was inderdaad die gees waarin dr Verwoerd sy reusetaak op 19 Oktober 1950 aangepak het. Duidelik, onmiskenbaar, was die probleem voor hom afgeteken, maar net so duidelik was die doelwit en die pad wat daarheen gelei het.
Ofskoon ek in hierdie werk nie 'n wetenskaplike ontleding van dr Verwoerd se Bantoebeleid wil probeer gee nie, is daardie beleid, oor 'n periode van dertien jaar so onlosmaakbaar in my persoonlike belewenis van hierdie groot staatsman ingeweef, dat ek dit haas onmoontlik vind om die persoon van Verwoerd los te maak van die taak wat hy verrig het.
Hoe het dr Verwoerd die Wit-Swart-vraagstuk gesien toe hy minister geword het? Hoe het hy sy party se beleid vis-a-vis die beleid van die Verenigde Party gesien?
Destyds was daar 'n skynbare botsing tussen die uitkyk van die Nasionale Party aan die een kant en die Afrikaanse kerke en die Suid-Afrikaanse Buro vir Rasse-aangeleenthede (Sabra) aan die ander kant vir sover dit kleurbeleid aanbetref. Toe 'n vooraanstaande intellektueel hieroor aan dr Verwoerd skryf, het die Minister van Bantoesake op 5 Desember 1952, pas nadat ek by hom diens aanvaar het, soos volg geantwoord:
"Ek kan... beste verduidelik deur eers die breë trekke van ons paratheidsbeleid, en die verskil daarvan met die beleid van ons opponente, te behandel in aansluiting by 'n groeiende skets.
"Gestel dat ons die laat-maar-loop-ontwikkeling van die afgelope tientalle jare op die terrein van Naturellebeleid met 'n dik regop streep aandui – A. (Hier het dr Verwoerd 'n diagram geteken met twee paralelle vertikale strepe en dit A gemerk). Dit het die vorm van tog steeds toenemende integrasie ten spyte van pogings tot halfdeurdagte en halfverwesenlike segregasie op verskillende terreine aangeneem . Laasgenoemde (segregasiestrewe) stel ek voor deur die heen-en-weer kruisende streep op die regop streep wat die eersgenoemde algemene tendens. (Hier het dr Verwoerd 'n sig-sag-streep van onder na bo tussen die twee paralelle vertikale strepe geteken).
"Die tyd het egter gekom toe gesien is dat los-en-vas-segregasieplanne die algemene tendens tot integrasie modifieer, dog nie keer nie. Dit is as gevolg van hierdie helderder siening dat die Nasionale Party 'n doelbewuste beleid aanvaar het van stelselmatig, hoewel sover nodig geleidelik (ooreenkomstig die eise van die lewenswerklikhede), die voortsnellende integrasie af te skud, en die pad te volg van skeiding, apartheid, eiesoortige ontwikkeling – die naam is bysaak tot dit misbruik word wanneer enige beleidsbenaming moedswillig gebruik word om te verwar.
"Die Verenigde Party daarenteen aanvaar prinsipieel dat integrasie – veral ekonomies en polities (wat die konserwatiewes egter in die Party hoog beperk kan bly) – die land se lot en hul beleid is.
"Dit is wat dr Malan tereg beskryf het as die skeiding van die weë. Ons het maw in die skets by punt B aangekom (die bo-punt van die een vertikale lyn), en die Nasionale Party kies die regterhandse pad – C ( waar die regterkantste vertikale lyn na regs buite uitdraai) maar die Verenigde Party kies die pad na links – D (waar die linkerkantste vertikale lyn na links buite uitdraai).
"Die pad van integrasie (D) van die Verenigde Party sluit in onder meer die volgende:
- Dat op ekonomiese gebied die industriële ontwikkeling diep binne blanke gebied (wat hulle nie blanke gebied meer wil noem nie, maar die gemeenskaplike Suid-Afrika), en wel veral in die huidige industriële streke, sal moet plaasvind en dat al die nodige swart arbeid daarheen moet emigreer, en hulle daar mét hul nageslag, as permanente inwoners moet aanvaar word, hoe groot die getalle ook al sou word.
- Dat die Naturelle-arbeid beide wat algemene skoling betref en ten opsigte van vakopleiding, al hoër opgelei moet word, sodat hulle enige soort en peil van werk sal kan verrig ook in mededinging met die blanke werker indien hulle dieselfde vaardigheid bereik, en dat alle industriële kleurslagbome moet verval.
- Dat woongebiede wel geskei moet wees, maar dat aan die Naturelle daar grondeienaarskap moet toegestaan word as bewys onder meer van hul permanente verblyfsreg, en dat hulle geleidelik selfbestuur van sulke woongebiede naby blanke stede moet verkry, totdat hulle wat plaaslike bestuur betref òf heeltemal los staan van die blanke stad, òf aandeel kry in 'n gesamentlike gemengde sambreelowerheid ter wille van raadpleging oor gemeenskaplike belange van die twee entiteite.
- Dat daar politieke integrasie moet wees, wat ten opsigte van Kleurlinge en Indiërs beteken stemreg op dieselfde kieserslyste, gebaseer wat die kleurgroepe betref (minstens vereers) op sekere beskawingstoetse en daarop dat vereers blankes in die Parlement maar nie in ander owerheidsliggame alleen verteenwoordigers mag wees nie.
- Dat daar ook politieke integrasie ten opsigte van Naturelle moet wees dog in die vorm van groeiende kommunale verteenwoordiging ook in die noordelike provinsies, vereers nog deur blankes, en onderworpe aan 'n beskawingstoets, hoewel deur verpligte nie-blanke onderwys soortgelyk aan dié van die blanke, die getal wat aan laasgenoemde kan voldoen steeds vermeerder word.
- Dat op sosiale gebied daar skeiding moet wees, veral wat ondertrouery betref, maar dat dit nie voortdurend kontak mag strem nie soos kommunikasie tydens vriendskaplike konsultasies, en deurmekaar studeer by gemengde universiteite.
"Ek sou dié soort punte kan vermenigvuldig, maar dis genoeg om die aard van die integrasiebeleid te toon waaraan sy uitwerking kan getoets word. Die afleiding lê voor die hand dat hoewel op die pad (D) daar nog geen gelykstelling is nie (en dit is waarvan die konserwatiewes in die Verenigde Party praat as hulle sê hulle is teen gelykstelling) dit wel so sal wees as Suid-Afrika eenmaal op die pad (D) deur 'n Verenigde Party-regering sou geplaas word. Dit is des te seker omdat die liberales in die Verenigde Party en Arbeidsparty, en hul ondersteunende Naturelleverteenwoordigers en Kommuniste, gelykstelling as verkondigde oogmerk stel. Wanneer gelykstelling kom, is dit alles verby en tel die getalle-oorwig alleen. Dan sal die groot nie-blanke getalle-oorwig oorgaan na nie-blanke oorheersing, vir sover die blanke gemeenskap nie al geleidelik geabsorbeer is in 'n gemengde bevolking nie. Hoeveel geslagte dit sal duur om daar te kom, weet ek nie. So moet die konsekwensies van die Verenigde Party se beleid egter gesien word, en sal die onheil die volk gouer oorval as dit die fout maak om hom op hierdie pad te begewe. "
In die volgende aflewering die teenoorgestelde van wat die Verenigde Party sou meebring, maw die stadia van die beoogde apartheidspad van dr Verwoerd.