Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Eintlik is daar net twee soorte mense: diegene wat waarde tot jou lewe toevoeg; en dan dié wat jou dit ontneem. Leer om die verskil te ken sodat jóu lewe waardevol kan wees tot eer van Christus se Naam.
13 JAAR MET DR HF VERWOERD (9)
Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
DIE STATEBONDSKONFERENSIE VAN 1961 (DEEL I)
Sedert dr Verwoerd op 2 September 1958 Eerste Minister geword het is daar voortdurend deur ondersteuners en selfs deur persone uit die geledere van die Opposisie by hom daarop aangedring dat hy, met die oog op die vyandskap wat daar uit die buiteland ervaar word, 'n besoek veral aan Europese lande moes bring "omdat niemand anders beter in staat is om Suid-Afrika se saak daar te stel nie". Konsekwent het hy egter volgehou dat sy tyd hier in sy vaderland nuttiger bestee kon word.
Toe die volk egter op 5 Oktober 1960 by wyse van 'n volkstemming besluit dat Suid-Afrika 'n republikeinse in plaas van monargistiese regeringsvorm moet kry, het hy dit belangrik genoeg geag om die Statebondskonferensie wat vir die tydperk 8 tot 17 Maart 1961 in Londen bepaal is, persoonlik by te woon. Vir Suid-Afrika was daardie Konferensie om verskeie redes van die allergrootste belang.
In die eerste plek was daar 'n oorweldigende gevoel nie aaleen by die anti-republikeine nie maar selfs by sterk voorstanders van 'n republikeinse regeringsvorm dat Suid-Afrika tot elke prys lid van die Statebond moes bly. By 'n baie groot deel van die bevolking was die verlies van lidmaatskap totaal ondenkbaar, onder meer omdat dit Suid-Afirka "sou isoleer" en omdat Suid-Afrika die voorkeurhandel wat lede van die Statebond geniet, sou moes verbeur.
Die Unie van Suid-Afrika was 'n stigterslid van die Statebond, maar toe daar besluit is om van regeringsvorm te verander, het lidmaatskap kwansuis outomaties verval. Daar sou dus aansoek gedoen moes word om lid van hierdie organisasie te bly.
Die atmosfeer hier te lande was in daardie stadium met ander woorde sodanig dat dr Verwoerd dit gerade geag het om alles in sy vermoë te doen om die status quo te probeer behou. Trouens, dit was 'n begeerte van sy hart dat Suid-Afrika se lidmaatskap gehandhaaf word. Ofskoon hy vasgeglo het dat dit inderdaad die geval gaan wees wou hy, versigtig soos hy was, geen vaste belofte aan die kieserspubliek maak nie. Wat hy wel bereid was om te belowe is dat hy geen steen onaangeroerd sou laat om sy land binne die Statebond te probeer hou nie, dog hy het dit by herhaling onomwonde gestel dat so iets nie ten koste van beginsels of met prysgawe van beleid sou gebeur nie. "Lidmaatskap of vriendskap sal nie gekoop word nie!".
Intussen het hy in sy hart geen twyfel gehad nie dat sy land se aansoek om voortgesette lidmaatskap goedgekeur sou word. Ek het trouens by meer as een geleentheid die indruk gekry dat hy dit as 'n blote formaliteit beskou het!
Vir ons was die gedagte aan 'n besoek aan Londen en aan alles wat daarmee gepaard sou gaan, 'n gedoente van 'n ander wêreld. Buite en behalwe die gewone kantoorwerk moes daar natuurlik honderd-en-een dingetjies ter voorbereiding gedoen word. So min as moontlik moes saamgaan en tog moes niks vergete bly nie!
Die afvaardiging het bestaan uit die Eerste Minister; adv Eric H Louw, Minister van Buitelandse Sake; mnr GP Jooste, Sekretaris van Buitelandse Sake; mnr Francois Bosman, Minister Louw se privaatsekretaris; maj Carl Richter; en ek.
Daarbenewens het mevrou Verwoerd, mevrou Louw, mej Boshoff, eersgenoemde se sekretaresse, en mej Bets van der Wateren, mnr Louw se persoonlike assistente, ons vergesel, terwyl mnr Piet Meiring, Direkteur van Staatsinligting, vooruit vertrek het om die weg in Londen vir ons voor te berei.
Toe ons die namiddag van 3 Maart 1961 in gietende reën op die lughawe Jan Smuts aankom, was daar reeds duisende mense om totsiens te sê en om die geselskap voorspoed en sukses toe te wens.
Toe ons swart ampsmotor voor die groot gebou stilhou, besef dr Verwoerd skielik dat hy geen jas byderhand het nie. Intussen sous dit dat dit giet!
"Eintlik ietwat onbedagsaam", mompel-sê ek net hard genoeg om Doktor se ore te bereik terwyl ek my eie jas van die voorste sitplek na die agterste aangee. Dit het hy terdeë geniet omdat hy my alewig met lang motorritte spottenderwys van onbedagsaamheid beskuldig het wanneer ek versuim het om suurklontjies of 'n suigdingetjie vooraf vir die reis te koop.
"Kyk, Barnard het 'n nuwe jas, Bets", was sy enigste halfverleë kommentaar. Hy was reg!
'n Vreemde gewaarwording het hom van meester gemaak toe ek in gietende reën onder 'n geleende sambreeltjie saam met die stafoffisier van die hoof van die Suid-Afrikaanse weermag in gelid stap van die lughawegebou af na die magtige Boeing op die nat teerblad. Ons is gevolg deur die Suid-Afrikaanse Eerste Minister (met sy privaatsekretaris se nuwe jas!), die hoof van die weermag, komdt-genl PH Grobbelaar en veggeneraal RC Hiemstra.
Toe ons by die swaaideure uitstap, het bulderende juigkrete van die skare op die balkonne ons begroet, almal mense wat gekom het om hul leier en Eerste Minister sterkte toe te wens vir die styrd wat allerweë verwag is.
By die trappies, vlak onder die neus van 'Kaapstad' (naam van die Boeing), het ons tot stilstand gekom om eers op aandag te staan – dr Verwoerd met ontblote hoof – onderwyl die Volkslied speel. Spontaan het die groot skare saam met die kranse antwoord gegee.
Nadat die laaste akkoorde van Die Stem in die klam, grou lug van die Transvaalse Hoëveld weggesterf het, het dr Verwoerd, merkbaar aangedaan die trappies bestyg om vir 'n wyle bo in die oop deur te vertoef terwyl hy sy hoed na die singende, juigende menigtes op die balkonne wuif.
Hierna het ons oor ou Pretoria en die Transvaalse Bosveld koersgekry na die vreemde vertes.
Skaars het dr Verwoerd die nat jas uitgetrek en opgehang toe hy en Minister Louw met hulle voorbereidingswerk begin. Tot laat daardie nag het hulle gesit en herkou aan die veelvuldige probleme wat daar nog voor ons aankoms in Londen opgelos moes word.
Eers laat daardie aand toe ons op die lughawe van Brazzaville neerstryk en aan die einde van die aanloopbaan deur gitswart lugwaardinne verwelkom word, het ons, die juniors, werklik besef dat die grond onder ons voete nie dié van ons vaderland is waarop ons enkele ure tevore gestaan het nie.
Nadat ons in die primitiewe ou lughawegeboutjie 'n eienaardige soort koue drank geniet het, het ons hierdie deel van Donker Afrika wat met die koms van die beskawing klaarblyklik steeds donkerder geword het, vaarwel toegeroep en weer eens koers gekry na ons volgende afsaalplek, Rome. Ofskoon dit natuurlik stikdonker was wou die jong klomp graag wakker bly sodat ons later met reg kon sê dat ons die Sahara-woestyn, Gaboen en die Kameroen 'gesien' het. Nadat ons die flou, lonkende liggies van Tripoli, Palermo en Napels baie ver benede ons uitgeken het, het ons in die vroeë oggendure in ysige koue op die lughawe van Rome neergestryk.
Deel Twee vervolg...