Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God is 'n God van orde, en Satan verlustig hom weer in chaos. Oral waar daar chaos heers, regeer Satan. Mense en volke wat God liefhet, leef ordelik, maar hulle wat Hom haat ervaar geen orde nie. Kyk maar net wat met ons eie land gebeur het nadat die Christelike grondwet afgeskaf is – nou veel meer as 60 moorde per dag!
SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (4)
Beaumont Schoeman – geskryf in 1975
Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD
Die ondersoek
Die eerste aanslag op dr. Verwoerd se lewe op 9 April 1960 in die Milnerpark-arena in Johannesburg was deur ’n man wat later as geestelik versteurd aangedui is. Die man wat dr. Verwoerd ses jaar en vyf maande later in die Volksraad vermoor het, is ook as ’n geestelik versteurde gesertifiseer.
David Beresford Pratt het kort voor sy daad op 9 April 1960 intieme verbintenisse met die verlinkse politiek in Brittanje gehad. Daar is berig dat hy enkele maande voordat hy dr. Verwoerd in Johannesburg geskiet het, geld vir die Liberale Party in Engeland ingesamel het.
Demitrios Tsafendas was ’n kommunis - van sy jeugjare af totdat hy sy afgryslike daad in Kaapstad gepleeg het. Die verhaal van sy lewe toon ’n volgehoue verbintenis met die linkses en die kommuniste. Hy was lid van die Kommunistiese Party.
Net soos David Beresford Pratt was Demitrios Tsafendas ook in Engeland waar hy steun onder die verlinkses gewerf het vir ’n opstand in Suid-Afrika en Mosambiek. Dit was kort voordat Pratt onder die ver-linkses van Engeland beweeg het.
Is dit blote toeval dat die persoon wat dr. Verwoerd in 1960 wou vermoor het, en die persoon wat hom op 6 September 1966 met ’n dolk om die lewe gebring het, albei tot die verlinkse politiek behoort het? Is dit blote toeval dat albei min of meer dieselfde tyd in Engeland was en dieselfde vyande van die Verwoerd-bewind opgesoek het?
Kan die rol van die toeval so groot wees dat twee aanslae op die lewe van dieselfde persoon binne ses jaar en vyf maande gedoen is terwyl politieke sluipmoorde iets heeltemal vreemds aan Suid- Afrika was?
Is dit blote toeval dat albei geestelik versteurdes was?
In die dae van totale verslaentheid wat op die dood van dr. Verwoerd gevolg het, is aangekondig dat ’n regterlike kommissie aangestel gaan word om die sluipmoord op die Premier te ondersoek. Die aankondiging is deur die nuwe Eerste Minister, mnr. B.J. Vorster, op 14 September 1966 in die Volksraad gedoen. Dit was die dag nadat hy as nuwe regeringshoof van Suid-Afrika aangewys
In sy aankondiging het mnr. Vorster die versekering gegee dat die volk die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid oor hierdie verfoeilike daad sou hoor nie. In die verslae gemoed van die volk van Suid-Afrika was daar in die dae onmiddellik na die sluipmoord baie vrae wat om antwoorde geroep het. Die mense van Suid-Afrika het verwag dat hierdie daad tot in die fynste besonderhede ondersoek sou word.
Mnr. Vorster se aankondiging in verband met die aanstelling van ’n regterlike kommissie was sy eerste optrede in sy hoedanigheid as nuwe Eerste Minister in die Volksraad. Dit was ’n geskrewe verklaring waarin hy die Volksraad meegedeel het dat hy deur die Staatspresident versoek is om ’n nuwe regering saam te stel en waarin hy sekere aansteliings in die kabinet bekend gemaak het.
Teen die einde van sy verklaring het hy gesê: “Ek wil net een aankondiging ook by hierdie geleentheid aan die Volksraad doen. Die skokkende gebeure wat horn verlede week hier afgespeel het, staan nog afgeteken voor elkeen van ons. Ons het baie berigte daaroor gelees die afgelope week, en ons het baie gerugte daaroor gehoor. Dit was nie vir my moontlik om alles te lees omtrent wat plaasgevind het nie. U sal dit begryp.”
Toe het mnr. Vorster voortgegaan: “Ek wil net vir agbare lede sê dat ek opdrag gegee het dat elke moontlike gerug, hoe klein of hoe groot dit ook al mag wees, met nougesetheid ondersoek moet word. Dit sal so gedoen word. Ek wil ook ’n beroep doen op agbare lede en ander instansies, indien hulle oor enige informasie beskik, hoe gering dit ook al mag wees, om dit na vore te bring. Ons sal dit baie graag ontvang.
”Maar as ek dit nou gesê het, dan voel ek, meneer, en u sal met my saamvoel, dat dit nie genoeg is nie. Daarom is daar besluit dat ’n regter aangewys sal word om alle aspekte van hierdie aangeleentheid te ondersoek.
“Geleentheid sal geskep word vir alle persone wat oor inligting beskik, om dit aan die regter mee te deel. Dit spreek vanself dat inligting waaroor die Polisie en ander staatsinstansies reeds beskik, ook aan daardie regter voorgelê sal word. ’n Aankondiging sal later gedoen word wat daarop sal neerkom dat alle persone uitgenooi sal word om voor hierdie regter te verskyn en hulle inligting aan hom te verstrek. Besonderhede sal so gou doenlik in daardie verband bekend gemaak word.
“Ek het gevoel dat daar onmiddellik mee begin moet word en daarom het ek die betrokke regter gespreek. Hy is gewillig om daardie taak te onderneem. Hy sal die ondersoek doen. Hy sal sy verslag uitbring ongeag wie daardeur geraak word of wat die gevolge daarvan ook al mag wees. Daardie regter is Sy Edele J.T. van Wyk, wat Suid-Afrika in die Wêreldhof verteenwoordig het.” (Hansard, 14 September 1966, kol. 2101.)
Die volgende keer wat die aanstelling van die regterlike kommissie in die Volksraad ter sprake gekom het, was op 21 September 1966 toe die portefeulje van die Eerste Minister bespreek is. In sy inleidende toespraak in hierdie debat het die Leier van die Opposisie enkele sake in verband met die aanwysing van die kommissie aangeroer.
“Ek wil sê, meneer,” het hy verklaar, “dat ons aan hierdie kant van die Huis voel dat daar ’n aantal sake is waaraan aandag bestee moet word in die opdrag wat opgetrek word. Die eerste is hoe die persoon Tsafendas in Suid-Afrika toegelaat is, in die lig van sy rekord en in die lig van sy verlede, blykens die berigte wat nou aan die lig kom. Die tweede is hoe hy dit reggekry het om permanente verblyf te kry, en of die lopende praktyke en prosedure toereikend is om te voorkom dat ongewenste karakters daardie reg verkry.”
“Ek dink ons wil ook weet”, het sir De Villiers Graaff voortgegaan, “of hy vir diens in hierdie Huis aanbeveel is deur die Departement van Arbeid, en ons wil weet of daar genoegsame skrutinering is deur die Departement as hy aanbevelings maak, as dit gebeur het. Ek dink ons wil ook weet of die prosedure en praktyke van die verskillende departemente wat betrokke is in gevalle van hierdie aard, voorsiening maak vir die nodige skakel om mekaar ingelig te hou betreffende mense van hierdie aard.”
Dan stel die Leier van die Opposisie die belangrike vraag: “Ek dink, meneer, dat ons natuurlik ook wil weet hoe dit gekom het dat hy as bode aangestel is in hierdie Huis, en hoe hy toegang tot die raadsaal verkry het . . .”
Vervolgens het die Leier van die Opposisie hom kortliks uitgelaat oor hoe die getuienislewering voor die kommissie na sy mening behoort te geskied.
“Dan, meneer,” het hy gesê, “is daar ’n ander vraag wat spruit uit hierdie vraagstuk van die kommissie, en dit is of die getuienis in die openbaar afgelê moet word, al dan nie. Ek wil sê ek glo dat dit ’n saak is wat by uitstek aan die diskresie van die Kommissaris oorgelaat moet word, aan die betrokke regter. Maar ek hoop stellig dat dit die algemene beginsel sal wees dat die getuienis in die openbaar afgelê word, tensy dit om redes van slaatsveiligheid in die geheim afgelê moet word, of uit hoofde van redes wat die regter nodig ag ter beskerming van die betrokke getuie.” (Hansard, 21 September 1966, kol. 2650.)
Onmiddellik na die Leier van die Opposisie het mnr. Vorster self geantwoord op die vrae wat sir De Villiers Graaff na aanleiding van die kommissie geopper het.
“Ten opsigte van die meeste van die aangeleenthede wat hy geopper het”, het die Eerste Minister in sy antwoord gesê, “is ek dit met hom roerend eens.
“Ek wil hom die versekering gee dat die terme van die opdrag wyd genoeg sal wees om alle moontlike gronde wat deur die Leier van die Opposisie genoem is, en baie meer wat ek nog kan byvoeg, te dek . . . Ek gaan van die standpunt uit in hierdie verband dat die volk van Suid-Afrika die reg het om die volle waarheid ten opsigte van elke aangeleentheid te weet, en die nodige fasiliteite sal geskep word om dit moontlik te maak.”
Met betrekking tot die kwessie van getuienislewering het mnr. Vorster gesê: „Ek kan nie met die agb. Leier van die Opposisie saamstem op hierdie moment dat ons ’n openbare verhoor in hierdie verband moet hê nie. Ek dink die saak is te ernstig. Ek dink dat elke moontlike getuie die geleentheid moet hê om onbevange sy of haar storie aan die regter te vertel, en ek dink agb. lede oorkant sal met my saamstem dat die integriteit van die regter wat belas is met hierdie kommissie, waarborg genoeg is dat die volk die waarheid, die hele waarheid en niks anders as die waarheid ten opsigte van hierdie aangeleentheid sal hoor.”
Wat hierdie aspek betref, het mnr. Vorster afgesluit deur aan te kondig dat die hele aangeleentheid in verband met die kommissie onder die Minister van Justisie, mnr. P.C. Pelser, sal ressorteer. “Ek wil onmiddellik sê,” het mnr. Vorster verklaar, “dit sal ’n kommissie wees wat sal uitgaan van die huidige Minister van Justisie, wat as buitestaander in hierdie verband ingekom het. Ek dink dit is goed en billik dat dit so sal wees.” (Hansard, 21 September 1966, kol. 2655/6.)
Dit het eintlik as ’n verrassing gekom dat mnr. Pelser die verantwoordelikheid vir die kommissie moes aanvaar. Mnr. Pelser het mnr. Vorster agt dae tevore as Minister van Justisie opgevolg en daar is algemeen verwag dat die nuwe Eerste Minister self die aangeleentheid onder sy sorg sou neem. In ’n geval van so veel belang is dit eintlik as vanselfsprekend aanvaar dat dit ’n kommissie van die Eerste Minister sou wees.
Die aanstelling van die regterlike kommissie het toe op 23 September 1966 in die Staatskoerant verskyn. Dit is vervat in Goewermentskennisgewing 1435 en die opdrag aan die kommissie lui soos volg: “Om ondersoek in te stel na en verslag uit te bring oor alle aspekte met betrekking tot die dood van wyle Sy Edele dr. Hendrik Frensch Verwoerd wat bedoelde kommissie in die openbare belang ag.”
Regter Van Wyk het sy verslag in die tweede helfte van Desember 1966 voltooi. Op 24 Januarie 1967 is dit deur die Minister van Justisie in die Volksraad ter tafel gelê en het Volksraadslede en die publiek, deur die pers, van die inhoud daarvan verneem.
Dit is nie ’n lywige verslag nie. Saam met twee bylaes beslaan dit net dertig gedrukte bladsye. Bylae A bevat die proklamasie deur die Staatspresident en die genoemde Goewermentskennisgewing. Bylae B verstrek die aard en omvang van die ondersoek.
Uit die volgende vrae blyk wat die ondersoek van die kommissie behels het:
- Wat is die geskiedenis van die persoon wat wyle dr. Verwoerd die dodelike wonde toegedien het?
- Waarom het hy dit gedoen?
- Was daar medepligtiges?
- Was daar pligsversuim aan die kant van enige persoon wat die pleeg van die daad vergemaklik het, of waarsonder die daad waarskynlik nie gepleeg sou gewees het nie?
- Op welke gronde en op welke voorwaardes is hy binnegelaat?
- Wat was aan die betrokke beamptes wat hom binnegelaat het, bekend?
- Aan wie is sodanige kennis deur hulle oorgedra?
- Was daar enige pligsversuim in hierdie verband?
- Wie het verlof tot permanente verblyfer hier toegestaan?
- Wat was aan die betrokke beamptes bekend?
- Welke ondersoek is ingestel?
- Welke ondersoek moes ingestel gewees het?
- Was daar enige pligsversuim in hierdie verband?
(a) Het enige Departement of amptenaar te enige tyd kennis opgedoen wat ’n terugtrekking van verlof tot permanente verblyf wenslik gemaak het?
- Aan wie is sodanige kennis oorgedra?
- Welke stappe is as gevolg daarvan gedoen?
- Was daar enige versuim in hierdie verband?
- Wat behoort daardie kennis te gewees het?
- Wat was die pligte van die betrokke instansies ten opsigte van sodanige kennis?
- Was daar enige pligsversuim van die kant van die Polisie of enige ander instansie?
- Wie moes die aanstelling doen?
- Welke ondersoek is gedoen voor die aanstelling?
- Welke ondersoek moes gedoen gewees het?
- Wie moes sodanige ondersoek gedoen het?
- Was daar enige pligsversuim in hierdie verband?
- Wie was verantwoordelik vir die veiligheid van die Eerste Minister in die saal van die Volksraad?
- Wie moes reelings tref dat ongeoorloofde persone nie die raadsaal van die Volksraad sal binnegaan nie?
- Welke reelings is inderdaad getref?
- Was hierdie reelings voldoende?
- Was daar enige pligsversuim in hierdie verband?
- Welke stappe het sodanige persoon inderdaad gedoen om te belet dat die betrokke persoon die raadsaal binnegaan?
- Welke stappe moes hy onder die omstandighede gedoen het?
- Was daar enige pligsversuim in hierdie verband ?
Vervolg...