Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoop is nie om te dink die wêreld is goed en reg soos hy is nie want hy is nie. Dit is dus nie om maar tevrede te wees met verkeerde dinge nie maar te glo dat verkeerde dinge nie sal herhaal nie. Hoop is om te glo dat God iets beters vir ons bedoel het, maar Hy verwag ook van ons om daaraan mee te werk – soos Hy in sy Woord stel: Bid én werk – spring in geloof aan die werk!
SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (2)
Beaumont Schoeman – geskryf in 1975
Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD
Die laaste oomblikke
Dr. Verwoerd sou op 8 September 1966, twee dae na die sluipmoord, verjaar het. Hy sou dan vyf-en-sestig jaar word, en het reeds agt jaar lank die pos van Eerste Minister beklee. Teen die einde van die week voordat hy vermoor is, het hy uit Kaapstad, waar die Parlement in sitting was, na Pretoria vertrek vir ’n ontmoeting met hoofman Leabua Jonathan van die latere Lesotho. Die ontmoeting was gereël vir Vrydagoggend, 2 September 1966. Die volgende Dinsdag het hy ’n belangrike afspraak in die Volksraad gehad. Dan sou die debat oor sy pos as Eerste Minister begin.
Skuins na eenuur die Vrydag van 2 September was sy ontmoeting met hoofman Jonathan afgeloop. Die besoeker van Basoetoland is saam met ’n paar amptenare van die Departement van Buitelandse Sake na die Unionhotel waar ’n private middagete vir hom aangebied is.
Dr. Verwoerd het nog ’n halfuur op kantoor vertoef en is toe na Libertas waar hy die middagete saam met sy vrou Betsie geniet het.
Dieselfde middag is die egpaar na Stokkiesdraai, hulle rustige plasie aan die walle van die Vaalrivier waar hy so graag wou kom aftree. Daardie naweek het Stokkiesdraai van Hendrik Verwoerd afskeid geneem, finaal en vir altyd.
Dit was ’n paar dae van gelukkige samesyn vir die Verwoerds op Stokkiesdraai. Vroeg Saterdagoggend was die baas van die plaas reeds bedrywig. Self het hy die paar koeie gemelk, na die klompie skape en varke omgesien en toe het hy en Betsie, ingehaak bymekaar, oor die plaas gestap en die geur van die eerste lentebloeisels ingedrink. Hulle was gelukkig, totaal onbewus van die verraderlike planne wat ’n man duisend myl verder in Kaapstad besig was om te smee.
In Tafelbaai het die Eleni, Griekse vragskip, daardie selfde Saterdagoggend, 3 September 1966, gereed gemaak om te vertrek. Twee dae tevore het Demitrios Tsafendas ’n pistool vir R30 van een van die bemanningslede gekoop. Die vorige veertig dae terwyl die skip in Tafelbaaihawe gelê het, was hy ’n gereelde besoeker daar. Op die Eleni is die naam Hendrik Verwoerd dikwels in gesprekke geopper.
Eers wou Tsafendas ’n mes koop van een van die bemanningslede maar toe het hy op die pistool besluit. Die Saterdagoggend terwyl dr. Verwoerd met sy vrou op Stokkiesdraai gekuier het, het Demitrios Tsafendas sy laaste besoek aan die Eleni gebring. Hy het uitgevind dat die pistool nie werk nie en het sy geld kom terugeis van die bemanningslid van wie hy dit gekoop het. Dit was inderdaad ’n gaspistool.
Dieselfde oggend, terwyl die laaste voorbereidsels getref is vir die vertrek van die Eleni, het ’n Griekse weduwee van Kaapstad, ’n vrygesel wat by haar ingewoon het en ’n dagwag van die Eleni op die kaai by die skip gestaan en praat. Die weduwee het kom afskeid neem van haar seun wat die vorige maand as bemanningslid op die skip begin werk het. Hy het van die dek van die skip met haar onder op die kaai ’n gesprek gevoer.
“Is Verwoerd dood?” het die Griekse weduwee aan die dagwag by haar op die kaai gevra.
Bo van die dek af het haar seun vir haar geskreeu en gevra of sy die nuus gehoor het dat dr. Verwoerd dood is.
Dit was drie dae voor die moord in die Volksraad . . .
Maandag, 5 September 1966, was ’n groot dag op Stokkiesdraai. Van die kinders en kleinkinders het kom kuier om vader en oupa geluk te wens met sy verjaardag wat hy oor drie dae in Kaapstad sou vier. Die middag het dr. Verwoerd begin werk aan ’n belangrike toespraak wat hy die volgende dag in die Volksraad sou lewer wanneer sy Begrotingspos bespreek sou word.
En terwyl die Verwoerd-gesin gelukkig saam verkeer het op Stokkiesdraai, het Demitrios Tsafendas daardie Maandagoggend onrustig op en af by mev. Popkiss se huis in Rustenburglaan, Rondebosch, gestap. Dit is waar hy op 31 Augustus 1966 sy intrek geneem en tot 6 September gewoon het. Hy het erg bekommerd gelyk. Aan mev. Popkiss het hy gesê dat hy iets in gedagte het.
Die vorige aand nog het hy ’n kerkdiens by die huis van ’n sekere mnr. Hall in Pinelands bygewoon. Vir almal daar teenwoordig, het hy heeltemal normaal voorgekom.
Dinsdagoggend het dr. en mev. Verwoerd vroegoggend per vliegtuig na Kaapstad vertrek. Hoe nader die private vliegtuig van die Eerste Minister na Kaapstad beweeg het, hoe nader is sy hooggeplaaste passasier na sy dood gebring. Vir Hendrik Verwoerd was daar nog net ’n paar uur oor om te lewe.
Daardie selfde oggend terwyl dr. Verwoerd se vliegtuig gereed gemaak het om te vertrek, het Demitrios Tsafendas, soos al die vorige oggende sedert 20 Julie 1966, by die Parlementsgebou ingestap. Vir al die ander werknemers van die Volksraad was dit maar net nog ’n gewone werkdag. Vir Demitrios Tsafendas was dit anders. Sy planne was agtermekaar. Wat hy moes doen, sou hy daardie middag doen.
Dit was op 18 Julie 1966 dat Tsafendas hom by die Volksraad aangemeld het waar hy aansoek om werk as ’n bode gedoen het. Slegs die hoofbode en nog twee senior bodes het hom ondervra. Twee dae later is hy in kennis gestel om hom op 1 Augustus vir diens by die Volksraad aan te meld.
Dit het hom presies twee jaar en tien dae geneem nadat hy in Transvaal teenoor sy werkgewer die dreigement geuiter het dat hy die Eerste Minister gaan vermoor, om in die Volksraad in te sluip waar hy sy verraderlike daad kon verrig.
Min of meer die tyd toe hy by die Volksraad begin werk het, het hy sy maaltye by ’n sekere mev. Scott van Chamberlainstraat 42, Woodstock, geniet. Daar het hy die bynaam “Die Vark” gekry weens sy swak tafelmaniere. Vir almal wat hom hier leer ken het, het hy heeltemal normaal voorgekom.
Aan een van die tafelloseerders het hy eendag gesê dat hy ’n betrekking in Suidwes-Afrika gekry het, maar dat hy eers ’n werk by die Parlementsgebou vir twee maande gaan aanvaar.
“Ek kan nie na Suidwes gaan nie”, het hy aan mev. Scott gesê. “Ek het ’n taak hier om te verrig voordat ek teruggaan.”
Dinsdagoggend, 6 September 1966, het Demitrios Tsafendas vroeg na die Volksraad gegaan en sy werk gedoen sodat hy later in die oggend kon uitglip om twee dolke te gaan koop.
Ongeveer nege-uur het hy by die winkel van Wm. Rawbone & Co. ingestap en van die eienaar, mnr. Klein, verneem wat die prys van ’n skedemes is wat in die toonkas uitgestal was. Hy het die mes vir R3,30 gekoop en kontant betaal. Dit is in bruinpapier toegedraai en aan hom oorhandig.
Kort daarna, omstreeks 9.05 vm., het hy by ’n tweede winkel, City Guns (Pty.) Ltd., ingestap en van mnr. Harrison, die bestuurder, die pryse van skedemesse in die vertoonvenster verneem. Twee messe is aan hom getoon. Een het hy uit die skede getrek en gevra waarom dit so stram is. Daar is aan hom verduidelik dat dit ’n veer het wat verhoed dat die lem uitglip. Tsafendas het die mes in die skede teruggeplaas en dit in sy broek gesteek sodat die bokant van die leerskede uitgesteek het. Toe het hy weer die mes uitgetrek. Hy het besluit om dit te koop en het verneem wat die prys daarvan was. Tsafendas het met ’n RI0-noot betaal en terwyl hy op die kleingeld gewag het, het hy ook verneem of ’n lisensie nodig is vir ’n sekere pistool wat in ’n advertensie in die winkel afgebeeld was.
Met die twee dolke - stiletto’s waarvan albei lemme meer as 3½ duim lank was - is Demitrios Tsafendas terug na die Volksraad. By die ingang in die Laan, ’n ingang wat altyd net deur amptenare van die Volksraad en persmanne gebruik is, het hy die Volksraadsgebou weer binnegegaan om sy werk te hervat. Niemand het hom gesien nie, maar al sou iemand ook, sou dit nie vir hom snaaks of verdag voorgekom het nie.
In die bodekantoortjie het hy die twee dolke in sy sluitkassie gebêre. Hy sou dit eers ’n paar uur later nodig kry.
Dinsdag, 6 September 1966, was ’n baie belangrike dag vir die Volksraad en die publiek daarbuite. Daardie middag sou die debat oor die Eerste Minister se Begrotingspos begin en daar is vooraf druk bespiegel oor ’n belangrike verklaring wat die Eerste Minister sou doen.
Daarom is dr. Verwoerd reguit van die vliegveld na Groote Schuur, die ampswoning van die Eerste Minister in Kaapstad. Hier het hy hom verder voorberei vir die debat van daardie middag. Dit was ook sy laaste middagmaal wat hy saam met sy vrou Betsie geniet het. Na die middagete is hy en sy vrou reguit na die Parlementsgebou. Agter die ampsmotor het ’n tweede voertuig gevolg wat bestuur was deur ’n konstabel van die Polisie en waarin dr. Verwoerd se enigste persoonlike lyfwag, lt.-kol. Ben Buytendag, ’n passasier was.
Toe dr. Verwoerd by die Parlementsgebou aankom, het die klokkies reeds begin lui om aan te dui dat die Volksraad oor ’n paar minute in sitting sou gaan.
Toesprake van dr. Verwoerd in die Volksraad het altyd groot openbare belangstelling gaande gemaak en daarom was daar op daardie middag ook baie besoekers in die Parlementsgebou aanwesig. Tsafendas het geweet dat dr. Verwoerd daardie middag sou praat. Die meeste Volksraadslede was ook teenwoordig. Na ete was daar ’n groot samedromming van mense in die wandelgang voordat die Raad in sitting gegaan en op die tydstip toe dr. Verwoerd by die Parlementsgebou aangekom het.
Toe die klokkies om 2.10 nm. op daardie noodlottige Dinsdagmiddag begin lui het, het die Hoofbode, mnr. Burger - ’n minsame man in sy vyftigerjare - die raadsaal binnegegaan om seker te maak dat daar nie ongemagtigde persone binne die Raadsaal was nie.
Daarna het hy op ’n trap in die wandelgang wat na die openbare galerye lei, gaan staan sodat hy oor die aanwesiges heen kon kyk om te verhoed dat vreemdes die Raadsaal binnegaan.
Mnr. Burger het Tsafendas nie in die wandelgang opgemerk nie en ook nie gesien dat hy die saal binnegaan nie. Al sou hy hom gesien het, sou hy hom nie gekeer het nie, omdat alle bodes geregtig is om, terwyl die klokkies nog lui en die Raad dus nog nie in sitting is nie, die saal binne te gaan as hulle boodskappe het om af te lewer.
Op die betrokke middag het mnr. Wiehahn, ’n senior bode, ook diens in die wandelgang gedoen en lede van die publiek gewys waar om te staan terwyl op die seremoniële optog van die Speaker van sy kantoor na die raadsaal gewag is. Hy het by ’n pilaar in die wandelgang gestaan met sy rug na die ingang van die saal. Ook hy het Tsafendas nie gesien nie.
’n Ander senior bode, mnr. Schuin, het om 2.10 nm. die klokkies in die raadsaal aangeskakel. Hy is daarna uit die saal om die ander bodes op hulle poste te plaas. Om 2.14 nm. het hy weer die raadsaal by die Speaker se stoel binnegegaan om sekere dienste te verrig.
Twee baie jong bodes, mnre. Sterrenberg en Heyns, het binne die raadsaal diens gedoen. Toe die klokkies begin lui het hulle weerskante van die swaaideure wat uit die wandelgang in die saal lei en waardeur dr. Verwoerd na sy sitplek sou stap, stelling ingeneem. Nie een van hulle het Tsafendas die saal sien binnegaan nie.
Kort na Demitrios Tsafendas se aanstelling by die Volksraad is hy as bode by die verteenwoordigers van die pers aangewys. Die persmanne se kantore was op die eerste vloer reg bokant die raadsaal. Tsafendas self het hier ’n klein kantoortjie gehad.
As bode by die persmanne is hy dikwels na die kantoor van die Hoofbode onder in die wandelgang gestuur om koerante te gaan haal. Hierdie kantoor is net regs van die raadsaal geleë met ’n deur wat in die wandelgang uitgaan.
Op 6 September 1966 het mnr. Miles, ’n tydelike bode, in hierdie kantoor diens gedoen. Sy pligte was onder meer om die telefoon te beantwoord, die koerante te ontvang en te oorhandig, tjeks vir Volksraadslede te laat wissel en die geld aan hulle te oorhandig.
Omstreeks twee-uur daardie middag het Demitrios Tsafendas hom in sy kantoortjie by die persmanne se kantore gereed gemaak om na onder na die wandelgang te gaan. Die dolke wat hy daardie oggend in die stad nie ver van die Parlementsgebou gekoop het nie, is uit die bruinpapier gehaal en om sy middellyf onder sy bode-
uniform in ’n lyfskede vasgemaak. Daarna het hy na die Hoofbode se kantoor gestap.
Terwyl die klokkies skril dwarsdeur die Volksraadgebou gelui het, het Tsafendas sy opwagting by mnr. Miles in die kantoor gemaak en ’n gesprek met hom aangeknoop. Mnr. Miles was onder die indruk dat Tsafendas die koerante vir die persmanne kom haal het en hy het aan hom gesê dat die koerante nog nie opgedaag het nie.
Op daardie oomblik het ’n Volksraadslid die kantoor binnegestap en mnr. Miles het hom te woord gestaan. Net daarna het die telefoon gelui. Dit was op daardie oomblik dat Tsafendas die kantoor uitgesluip het. Die oomblik waarop hy gewag en homself so deeglik voorberei het, het nou aangebreek.
By sy aankoms by die Parlementsgebou daardie Dinsdagmiddag, is dr. Verwoerd deur twee speurders ontvang en saam met kol. Buytendag na sy kantoor vergesel. Onder die skril gelui van die klokkies het dr. Verwoerd daarna direk na die raadsaal gestap, vergesel van dr. Verwoerd se private sekretaris, mnr. Willem Olivier, en kol. Buytendag. Saam het hulle deur die besige wandelgang beweeg na die ingang van die raadsaal waar hulle om 2.14 nm. aangekom het. Mnr. Koos Potgieter, die Hoofsweep, het hier by dr. Verwoerd aangesluit en hom na sy sitplek vergesel, terwyl kol. Buytendag hom na die openbare galery gehaas het om daar sy gebruiklike sitplek in die linkerkantste hoek van die voorste ry van die groot openbare galery in te neem.
Tussen die baie aanwesiges in die wandelgang het Demitrios Tsafendas gestaan en wag op sy niksvermoedende slagoffer. Na die moord het hy aan die Polisie gesê dat hy dr. Verwoerd in die wandelgang wou doodsteek, maar dat hy nie betyds die dolk uit sy skede kon trek nie.
Om 2.14 nm. het dr. Verwoerd die raadsaal ingestap gekom, glimlaggend, vars, netjies. Baie van die Volksraadslede het al gesit, maar by die gang was daar nog ’n gedrang terwyl van die ander lede ingestap gekom het net voordat die klokkies opgehou lui en die aankoms van die Speaker aangekondig is.
Demitrios Tsafendas het sy oomblik reg gekies. Met vinnige tree het hy by die hoofingang van die saal ingestap, een van die Verenigde Party se lede half uit sy pad gestamp en vinnig na die onderkant van die raadsaal in die rigting van die Speaker se stoel beweeg. Dit is hier, aan die regterkant van die Speaker, waar dr. Verwoerd reeds in sy bank plaasgeneem en nou op die koms van die Speaker gewag het.
Alles was rustig ontspanne in die minute voor die aanvang van die dag se verrigtinge.
Lede in dr. Verwoerd se onmiddellike omgewing het aan die oorkant ’n persoon in ’n donkerblou bodepak vinnig na die onder kant van die raadsaal gesien naderstap. Halfpad met die paadjie af wat die regeringsbanke van die opposisiebanke skei, het hy onder sy klere begin vroetel.
Voor Tsafendas het dr. Aubrey Radford, bekende oud-chirurg en lid van die Verenigde Party, na sy bank gestap. Tsafendas het hom half ru uit sy pad gestamp onderweg na die man wat hy in gedagte gehad het.
„Wat sukkel daardie bode dan so met sy klere?”, het mnr. Lourens Muller van Ceres teenoor sy bankmaat, mnr. Jannie Rail van Harrismith, opgemerk.
„Dit lyk my sy broek wil afval”, het mnr. Rail teruggeskerts.
’n Entjie verder aan het die man se eienaardige gedrag ook mnr. Jan Visse van Gezina opgeval. “Wat vroetel die man so onder sy klere?” het hy vraend aan dr. Willie Venter van Kimberley-Suid gesê.
“Dit lyk my hy haal iets onder sy klere uit”, het dr. Venter geantwoord terwyl hy die man in die bode-uniform dopgehou het.
Kort agter die man het dr. T.E. Donges, die Minister van Finansies, gestap. Dit het hom ook opgeval dat die man met sy klere doenig was. Hy was op die punt om aan hom te sê dat hy sy klere in orde moet bring voordat hy die raadsaal binnekom, toe die man skielik voor hom “weggeraak” het.
Aan die oorkant van die raadsaal het kapt. Jack Basson van Seepunt die Eerste Minister gesit en dophou nadat hy die raadsaal binnegekom het. “Hy het so stralend gelukkig gelyk”, het hy agterna vertel.
Buite in die wandelgang het mev. Verwoerd saam met mev. Tinie Vorster, eggenote van die Minister van Justisie, op die hysbak gestaan en wag wat hulle na die galery vir ministersvrouens en Volksraadslede se eggenotes sou neem. Net soos dr. Verwoerd was sy stralend gelukkig, onbewus van die dood wat op daardie oomblik by haar man se bank in die Volksraad aangedoen het.
Vervolg...