Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons hoor so dikwels iemand getuig van God of van sy Wonderdade. Indien so 'n getuienis meer tot eie eer van die persoon strek (wat dikwels die geval is omdat mense so graag hulle eie beuel blaas) as wat dit 'n opregte getuienis oor ons Lewende Drie-enige God is, is dit eerder 'n subtiewe wyse van laster.
PETRUS: Hoofstuk 12
Epiloog
As u die boek tot hier gelees het, het u werklik ‘n hele paar treetjies saam met Petrus op sy lewenspad gestap, want die verhaal van sy lewe wat hy hier vir ons vertel het, is outentiek en word fragmentaries in die Bybel weergegee. Daar bestaan nie buite-Bybelse bronne wat meer lig hierop kan werp nie. Die oorlewering deur die eeue heen vertel van ‘n paar dingetjies wat teen die einde van sy lewe sou plaasgevind het, wat geloofwaardig mag wees, maar beslis ook as verdigsel gereken kan word:
Petrus se aankoms in Rome het saamgeval met Paulus se loslating. Petrus het hom gaan opsoek in sy huurhuis, net voordat hy uit Rome sou vertrek. Hulle het onder andere gepraat oor die dood van Jakobus, die broer van Jesus, wat in Jerusalem die hoof van die kerk was. Hy is gevange geneem en gestenig as gevolg van die haat van die Joodse Raad en die venynige ou hoëpriester Ananias.
Petrus vertel dan vir Paulus dat een van die redes waarom hy na Rome gekom het, is om te kom afreken met die towenaar Simon Magnus, wat hom ook hier in Rome bevind. Dit is dieselfde ou wat daar in Sesarea die Heilige Gees met geld wou koop. Petrus sê hy verbeel hom nou hy is God en hy het ‘n hele gevolg. Hy het glo al van ‘n toring afgespring en deur die lug gevlieg. Toe het hy vir die mense gesê, hulle moet kom kyk, hy gaan persoonlik opvlieg na God toe. Die volgende dag het ‘n groot menigte daar by die Heilige Weg in Rome gestaan om dit te sien. Petrus was ook daar.
Toe styg Simon op en begin bokant die stad rondvlieg, maar Petrus het gebid dat die Here ‘n einde aan sy speletjies moet maak. Hy het skaars amen gesê of Simon val soos ‘n klip grond toe en breek sy been op drie plekke. Dit was die end van sy stories.
Petrus het die Woord met vrug aan die Romeine verkondig. Een van die hooggeplaaste Romeinse offisiere, ‘n prefek met die naam Agrippa, het vier byvroue aangehou. Hulle het na Petrus se preke kom luister en al vier het tot bekering gekom. Daarna wou hulle nie weer by Agrippa slaap nie. Nog meer vroue het dit met hul minnaars gedoen en Agrippa is aangeraai om met Petrus af te reken. Toe Petrus bewus word van die komplot teen hom, het hy besluit om te vlug. Hy was skaars buite die stad, toe hy vir Jesus teëkom, wat besig was om Rome binne te stap. Petrus wou weet waarheen Hy gaan en hoor toe dat die Here Rome binnekom om weer gekruisig te word. Petrus sou dan besef het dat hy al weer ‘n lafaard was wat wou vlug, in plaas van om reguit in die leeu se bek in te stap. Daarom het hy omgedraai en hom deur die soldate gevange laat neem.
‘n Ander bron van oorlewering beweer dat Petrus gevange geneem is toe keiser Nero die Christene beskuldig het dat hulle die groot brand in Rome veroorsaak het. Silas, wat saam met Paulus sy tweede sendingreis onderneem het, was by Petrus en is saam met hom gevang. Hulle is direk na Nero se paleistuin geneem waar die teregstelllings plaasvind. Silas is aan ‘n paal vasgemaak, vol teer gesmeer en brandende olie oor hom gegooi. Hy het saam met die ander menslike fakkels die terrein verlig, sodat Nero se soldate goed kon sien om hulle gruweldade uit te voer.
Vir Petrus het hulle ‘n endjie verder geneem waar kruise ingeplant gestaan het, met die liggame van martelare wat daaraan hang. Toe hulle by ‘n leë kruis kom, het Petrus versoek om onderstebo gekruisig te word. Hy het hom onwaardig geag om op dieselfde manier as sy Heer gekruisig te word. Hulle het dit gedoen.
Onderwyl die lewe stadig besig is om uit die liggaam van Petrus die Rotsman te vloei, kom staan die woorde wat sy Meester daardie môre by die Galilese See hom toegevoeg het, weer voor sy gees: “Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaak en gegaan waar jy wil, maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”
Deur die newels van die pynvlae heen, wat besig was om aan sy ledemate te skeur, het hy weer vir Jesus op die golwe aangestap gesien kom. Jesus het hom aan die hand geneem en veilig oor die waters van die kristalle see gedra. Hulle het oor die goue strand gestap na die winkende heerlikheid van die paradys en ‘n stem het saggies gefluister: “Geseënd is hulle wat van nou af in die Here sterwe. Hulle sal rus van hulle arbeid, want al hulle goeie werke volg hulle na.”