Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom gedenk ons vandag nog steeds die hemelvaart van Jesus Christus? Omdat God se liefde vir ons ewig is, en ons ewig dankbaar kan wees dat Hy sy Seun uit liefde na die aarde gestuur het om in ons plek aan 'n kruis te kom sterf sodat ons siele nie verlore gaan nie maar vir ewig by Hom kan wees wanneer ons aardse reis verby is. Daarom bring ons hierdie dag soos 'n Sondag deur en daarom word vanaand talle dienste deur die land gehou om ons dankbaarheid en eer aan Hom te betuig. Kom ons doen doen dit dan en daag in groot getalle daar op.
VOLKSVERRAAD (1)
Koos Bester
VAN KP TOT AVF
Geen enkele geskrif het dieper wonde in behoudende Afrikaner-geledere geslaan as die opsienbarende werk, VOLKSVERRAAD, van oud-Nasionale Intelligensie-agent, Piet Pretorius nie.
Dit het aanleiding gegee tot verskeie siviele gedinge. In een uitspraak ten gunste van die destydse KP-leier, dr Ferdi Hartzenberg gegee, in 'n ander teen die HNP, en in nog 'n geding teen genl Tienie Groenewald en ten gunste van die HNP en mnr Jaap Marais. Genl Groenewald het aangevoer dat mnr Marais die eintlike outeur van die boek is.
Dit is geen verrassing dat genl Groenewald met soveel wrewel teen die HNP en mnr Marais losgetrek het nie. In VOLKSVERRAAD is aangevoer dat genl Groenewald in diens van die Amerikaanse CIA sou wees; daarin is uitgewei oor genl Groenewald se broer Jan, op sy dag hoofsekretaris van die AWB en op 'n kritieke tydstip wegbreker van die AWB, se beweerde betrokkenheid by die inligtingsdienste. Die HNP het in sy lyfblad, Die Afrikaner, ook groot gewag gemaak van die bewering dat genl Groenewald die eintlike gees agter FW de Klerk se Rooi Vrydag-toespraak is, waarin die kommuniste en die ANC ontperk is.
Van Pretorius se opsienbarende bewerings was dat die KP as teenvoeter vir die HNP in die veld gestoot is en dat ook die ontvangenis van die AWB alles behalwe onbevlek is en dat die beweging in een of ander kraamsaal van die land se intelligensiedienste die lig gesien het.
Die Afrikaner van 8-14 November 1996 skryf oor wat hy bestempel as "Die volksverraad van 1993" meer oor die agtergrond by die stigting van die AVF. Dit is nadat die koerant in die vorige week se hoofberig gehandel het "oor die suspisieuse rol van Toekomsgesprek", 'n vertroulike organisasie vir behoudende Afrikaners.
Volgens die artikel was 'n bloedlose oorgawe aan die ANC en kommuniste die oorheersende strydvraag van 1992 en 1993. Moontlike Afrikaneropstand was uiteraard die grootste sorg vir die Afrikaner sy vyande, voeg die koerant by.
Die koerant gaan voort:
Die politieke partye regs van die Nasionale Party – (en) die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) en die Boerekrisisaksie (BKA) - was die instansies wat aan bande gelê moes word. Die opsies was enersyds om die organisasies te verbied, Dit sou waarskynlik tot 'n groter moontlikheid van opstand gelei het. Die uitweg was om dié organisasies van bo en van binne lam te lê deur infiltrasie en verstrikking in 'n wyer struktuur van federale aard.
Dit is in dié samehang waarin die stigting van die AVF bedink en beplan is. Daarvoor was die geheime samewerking van verskeie instansies nodig. Eerstens was daar die KP met dr Andries Treurnicht as die leier. Dit was 'n ernstige vraag of hy by so 'n sameswering sou inpas en of daar 'n geredelike skikking oor leierskap met hom bereik kon word in so 'n federale struktuur. Maar dr Treurnicht is skielik in die eerste week van April 1993 oorlede weens hartversaking. En daar is 'n knaende agterdog by meer as een dat dit nie 'n natuurlike dood was nie – 'n agterdog wat veral sterk is by dié wat byvoorbeeld in Chapman Pincher se boek, Treason is their trade, gelees het hoe Hugh Gaitskell skielik dood is aan hartversaking en sodoende die weg geopen het vir die ver-linkse Harold Wilson om eerste minister van Brittanje te word.
So is dit dan ook dat binne twee weke na die dood van dr Treurnicht die vergadering gehou is vir die stigting van die AVF. Dit was in die Transvaalse Landbou-Unie (TLU) se gebou in Silverton op 20 April. En die politieke atmosfeer het nog getril van die ANC/SAKP-rumoer oor die moord op die SAKP-leier, Chris Hani.
Op die vergadering was dit gou duidelik dat die KP agter die byeenroeping van die vergadering was, hoewel die party amptelik op die agtergrond gebly het. Die byeenkoms was klaarblyk gereël 'n geruime tyd voor die HNP op kort telefoniese kennis eers op 19 April daarheen genooi is...
Prof Adriaan Pont het mnr Jaap Marais en mnr Willie Marais namens genl Tienie Groenewald genooi. Toe hy gevra is of die KP teenwoordig sou wees, het prof Pont gesê mnre Dries Bruwer en Tom Langley (albei later prominent in genl Viljoen se Vryheidsfront) sou daar wees. Hy het gesê dat Bruwer die regte soort benadering tot die saak het en dat Langley 'n prominente rol in die KP speel..
Dr Wally Grant van Vekom was uit die staanspoor in die voorsitterstoel, en met klaarblyklike afgespreektheid het hy gereël dat genl Bischoff van die KP se mobilisasie die voorsitterskap oorneem. Dit het opeens skeptisisme gewek.
Drie polisie-offisiere is vooraf genooi om praatjies te hou oor die veiligheids- en misdaadsituasie. 'n Brig Abrie wat oor veiligheid gepraat het, het voorbrand gemaak vir deelname aan onderhandelings: "As jy eers met die ANC praat, sien jy hulle is nie duiwels nie," het hy onder andere gesê.
In die besprekings ná hul praatjies is meermale verwys na die rewolusionêre aard van die situasie, Brig Abrie het in een stadium gevra: "Wat is die alternatief?"
Wat verbasend en veelbetekenend was is dat genl Bischoff aan die begin, in die teenwoordigheid van die Polisie, elke aanwesige hom of haarself laat voorstel het sodat die betrokke offisiere 'n waarneming kon doen wat vir hulle heelwat werd kon wees, veral in die lig van brig Abrie se politieke houding wat later geblyk het, en De la Rosa se betrokkenheid en optrede by die Ventersdorp-episode waarby die AWB betrokke was en waar hy opdrag gegee het om op die mense te skiet.
Ná die vertrek van die Polisie het genl Bischoff gesê dat waar hy aan die hoof van die KP se mobilisasie is, hy van geen politieke party 'n lid is nie en dat hy sekere voorwaardes gestel het toe hy die amp aanvaar het. Hy het daarna deur 'n truprojektor die KP se mobilisasiebeginsels op 'n skerm vertoon, dit voorgelees en toe gesê almal kan daarmee saamstem. Die doel was klaarblyklik om op dié wyse almal te verbind tot onderskrywing van die KP se mobilisasie.
Genl Groenewald is as hoofspreker aan die woord gestel. In die lig van latere onthullings is dit waarskynlik dié feit wat regstreeks gedui het op 'n samewerking waarvan waarvan die vertakkings nie net tot Militêre Intelligensie geloop het nie maar waarskynlik tot die VSA. Sy latere uitlatings het veel verraai.