Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En Ek sal hulle 'n hart gee om My te ken, dat Ek die HERE is; en hulle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir hulle 'n God wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart – Jeremia 24:7
STRYD IS LEWE (4)
JA Marais
Lees volledig by Stryd is lewe
AS DIE WAGTERS SLAAP
Dit is bedroewend as die wagters slaap. Maar dit is doodsgevaarlik as die wagters die rug op die vyand gedraai het en die volk binne die mure bespied en betakel terwyl die vyand deur die hekke kruip.
Ek wens iemand wil ‘n doktorstesis skryf oor die eredoktorsgrade wat die afgelope jare deur Afrikaanse universiteite toegeken is. Sommer so uit my geheue sal ek die name van ‘n halfdosyn of wat geldpraktisyns kan noem wat oornag “Dr” voor hulle naam gekry het.
As dit nou maar ‘n onopsigtelike gebeurtenis in die gewone loop van sake was, sou dit nog nie veel aandag getrek het nie. Maar telkens wanneer een van die toekennings gemaak word, word daaraan ‘n groot rugbaarheid gegee, asof dit vir die betrokke universiteit ‘n groot eer en prestasie is om so ‘n eredoktorsgraad toe te ken. Koerante verkondig die nuus asof die hele samelewing deel in die roem van die universiteit waaraan so ‘n eer te beurt geval het.
Wat het van die trots op geleerdheid geword? Wat word van die roem van kennis en navorsing as die manne van die geldpraktyk die vereerdes van akademiese inrigtings word?
Die mens is uit sy aard nooit tevrede met wat hy het en wat hy is nie. Ek onthou dat Thornton Wilder in een van sy romans Julius Caesar ‘n denkbeeldige brief laat skryf waarin hy sê dat hy van alle dinge die graagste ‘n digter sou wou wees.
Die mens wat iets beters wil wees, moet werk om uit sy begrensing te breek – of dit nou op die kerklike, kulturele, akademiese, maatskaplike, politieke of ekonomiese gebied is, Maar nou kry ‘n mens die verskynsel dat wanneer hy op die ekonomiese gebied homself versterk het deur die versameling van geld, die neiging is om bekroning op ander terreine te verwag sonder enige verdere prestasie.
Wanneer hy by die punt aankom waar geld nie alles kan koop nie, vind hy fout met die maatskaplike orde, en word hy die beskermheer van magte wat dinge wil “verander” en “vernuwe”. Namate die samelewing hierdie geldpraktisyns in die rangordening van aansienlikheid verhef, word die klemtone van so ‘n samelewing onherkenbaar verander.
Dit is ‘n interessante vraag hoe die sosiale en akademiese verering van die geldpraktisyns bydra tot die groeiende aksentuering van die stoflike ten koste van die geestelike, en hoe ‘n samelewing se waardestelsel heeltemal onderstebo gedraai word na gelang die proses vorder.
In die Verenigde Volke (en mnr Pik Botha) se Deklarasie van Menseregte lees ek dat “vryheid van vrees en behoefte verklaar is tot die hoogste strewe van die gewone volk”. Wel, wel, as hulle die dinge omgedraai en gesê het dat geloof en moed (vryheid van vrees) en hardwerkendheid (die voorwaarde vir vryheid van behoefte) die hoogste strewe van die gewone volk is, sou ‘n mens darem ‘n entjie kon saamloop met Pik Botha en die VVO.
Soos dit in die Deklarasie gestel is, het die samelewing die plig om toe te sien dat ‘n man nie bevrees moet wees of behoefte moet hê nie. En soos dit lui, is “die hoogste strewe” net aardse gemak en gerief – nogeens die verstofliking van die hele mens.
Wanneer ‘n mens met sulke dinge te doen kry, is dit ‘n vraag of ons Afrikaanse Kerke, soos nou weer by die Gereformeerde beraad, hulle nie te veel op die defensief laat stel deurdat hulle nie die valse leer by sy wortel aanval nie.
Gestel byvoorbeeld die Regering sou besluit om die Deklarasie van Menseregte te onderskryf, soos Pik Botha gevra het, moet die Afrikaanse Kerke dan stilswyend aanvaar dat hulle geen seggenskap oor die saak het nie?
Moet die Kerk swyg oor die dolle industriële vaart waarmee Suid-Afrika vandag met behulp van vreemde kapitaal en arbeid omgewoel word – en dit terwille van ‘n “groeikoers” wat die geldpraktisyns moet bevoordeel?
Dit is laat in die dag – later as wat die Afrikanervolk se gerustheid hom toelaat om te erken. Swartes stroom in honderde duisende na die stede; hulle word al vinniger volgepomp met verwagtinge van sosiale gelykstelling; die temo van verstedeliking en tien duisende immigrante is besig om ons sosiale orde tot die grein deur te vreet, terwyl die toename in nie-Afrikaanssprekendes binne ‘n dekade die Afrikaner tot ‘n minderheidsgroep sal reduseer.
Suid-Afrika se deure word oopgegooi vir die fortuinsoeker en elke invloed van vreemde magte. Al meer word Suid-Afrika ‘n markplein van die wêreld, soos die geldpraktisyns en die VVO-ers wil hê. En wie se verantwoordelikheid is dit in die eerste instansie om daarteen te veg? Waarom lyk dit of die wagters slaap?
‘n Volk se geloof en beginsels en ideale eis dade. Wanneer die dade nie meer daar is nie, word die geloof en die ideale al kleiner en die beginsels al vaer.
Dit is waar wat Alexis de Tocqueville geskryf het: “In tye van geloof word die einddoel van die lewe anderkant die lewe gestel. Die mense van so ‘n tyd wend hulle natuurlikerwys en vrywilliglik aan om hulle blik vir baie jare vas te nael aan een of ander onbeweeglike doel waarheen hulle gedurig neig; en hulle leer graadsgewys onmerkbaar om ‘n veelheid van vervlietende begeertetjies te onderdruk omdat hulle beter in staat sal wees om daardie groot en duursame begeerte te bevredig waarmee hulle vervul is.”
‘n Entjie verder stel De Tocqueville dan die slotsom van hierdie siening: “Dit verklaar waarom godsdienstige nasies dikwels sulke duursame resultate behaal; want terwyl hulle net aan die ander wêreld gedink het, het hulle die groot geheim van sukses in hierdie een ontdek.”
Is ons universiteite, wat eredoktorsgrade weggee, vrygestel van die verpligting om so ‘n lewenshouding by ons volk te bevorder? Het die Afrikanervolk nie ‘n reg om van sy leiers, op watter terrein ook al, te verwag dat hulle so sal leef nie?
Dit is bedroewend as die wagters slaap. Maar dit is doodsgevaarlik as die wagters die rug op die vyand gedraai het en die volk binne die mure bespied en betakel, terwyl die vyand deur die hekke kruip.