Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy kan soveel vir ander beteken deur slegs 'n voorbeeld te stel, sonder groot vertoon: 'n vuurtoring het nie nodig om lawaai te maak nie, dit moet net skyn.
FEITE OOR EKSAMEN-INSTELLINGS
Leonard vd Dussen
Daar is in Suid-Afrika ‘n onversigtigheid in uitsprake oor eksameninstellings, veral ten opsigte van wat ons nog altyd as “matriek” geken het, wat sorgwekkend is. Kom ons som kortliks die feite op:
Die algemene staatsmatriek is deesdae die “Nasionale Seniorsertifikaat” (NSS) eintlik meer dikwels bekend onder die Engelse benaming “National Senior Certificate” (NSC). Dit is deesdae dieselfde vraestel vir elke vak aan die einde van Graad 12 wat dwarsdeur die land geskryf word. Die eksamens word georganiseer in provinsiale verband, waar elke provinsie as ‘n eksamenliggaam funksioneer. Die instansie wat die gehaltebeheer daaroor moet uitoefen, is “Umalusi” – ‘n staatsinstelling, deur die onderwyswetgewing daargestel en deur die staat gefinansier.
Daar is twee ander eksamenliggame wat ook deur Umalusi erken word, en tot ’n groot mate beheer word daarin dat vraestelle deur Umalusi goedgekeur en aanvaar moet word:
1. ERCO oftewel die “Eksamenraad vir Christelike Onderwys/ Examination Board for Christian Education”. Dit was eers die “BCVO Eksamenraad”, en toe die OAER oftewel “Onafhanklike Afrikaanse Eksamenraad”. Dis ‘n Artikel 21-maatskappy onder beheer van die BCVO wat ‘n matriekeksamen aanbied wat deur die BCVO opgestel en bedryf word, onder toesig van en met akkreditering van Umalusi. Die sertifikaat wat uitgereik word, is dieselfde Umalusi-sertifikaat as vir matrieks wat die NSS doen. Die BCVO reik in ERCO-formaat ‘n bykomende sertifikaat uit.
2. Die IEB oftewel “Independent Examination Board”; ook eie vraestelle en bedryf, eie uitslae, maar ook ‘n Umalusi-sertifikaat met die bykomende IEB-sertifikaat. Hulle eksamens is in Engels en Afrikaans beskikbaar.
Beide ERCO en IEB voldoen aan die riglyne van Kurrikulum 2005.
Heeltemaal losstaande van die doen en late van Suid-Afrika, is daar ‘n internasionale eksamenliggaam, naamlik Cambridge International Examinations (CIE) wat ‘n volle eie kurrikulumstelsel, eksaminerings op verskillende vlakke met volledige ondersteuning wêreldwyd aanbied. Die vraestelle word in Engels afgelê en in Brittanje gemerk vir ‘n eenvormige standaard. Dit is ‘n produk van die meer as 800-jaar oue Cambridge Universiteit en het ‘n lang akademiese rekord wat internasionale erkenning geniet.
Die CIE het ‘n amptelike ooreenkoms met die matrikulasieraad waardeur daar universiteitsvrystelling in Suid-Afrika gegee word, met amptelike sertifisering, vir minstens vier vakke op “AS”-vlak en een op “IGCSE”-vlak. Die toelatingspunttabelle van die Suid-Afrikaanse universiteite bevat dan ook die CIE-vlakke in verhouding tot die NSS en Suid-Afrikaanse leerlinge wat CIE-vakke behaal, kan regstreeks daarmee inskryf by die universiteite soos die afgelope jare al gebeur. Sonder Kurrikulum 2005 et al.
Dit is ietwat lagwekkend maar ook sorgwekkend dat daar by baie goedbedoelende mense steeds verwarring is oor die IEB en CIE: eersgenoemde is Suid-Afrikaans en maar steeds uitgelewer aan die nukke en grille van Umalusi, hoewel die IEB-aanbieding beter is as staatsonderwys, terwyl laasgenoemde internasionaal is en in geen opsig aan Umalusi onderhewig is nie, maar wel aan akademiese dienslewering en standaarde gemeet word en dus akademies onbelemmerd in ‘n ander klas is, onbelemmerd van die gelykmakingseise wat standaarde in Suid-Afrika laat daal.
Daar word hot en haar aansprake gemaak op “internasionale erkenning” van kwalifikasies. Individue moet maar sorgsaam self navraag doen oor wat ‘n Umalusi-sertifikaat buite Suid-Afrika kan regkry of nie. Gebruik die internet en doen self navraag. Daar is net te veel bemarking wat met werklikheid verwar word oor die waarde en erkenning wat verskillende kwalifikasies geniet.
Die Cambridge (CIE)-kwalifikasies word wel op baie plekke en meer lande erken, maar selfs hierdie sterk kwalifikasies moet mooi verstaan word dat daar verskillende vlakke is en dat nie elke CIE-sertifikaat vir elke doel voldoende is nie.
‘n Interessante verwikkeling is die kombinasie van Cambridge IGCSE en ERCO se aanbieding wat lei tot verwerwing van die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS): Breinlyn en Impakonderwys het onlangs ‘n opsie aangekondig vir persone wat minstens 18 jaar oud is, om ‘n sogenaamde volwasse matriekroete te volg: dit kan bereik word deur sewe IGCSE-vakke te doen, saam met die tuisonderwysinstelling se Lewensoriëntering, en dit dan as Graad 11-kwalifikasie aan te bied. Daarna word een jaar Graad 12 van die betrokke instelling gedoen en die ERCO-eksamen afgelê om ‘n NSS te verwerf wat net soos die gewone skoolroete werk. Dit is in Engels en Afrikaans beskikbaar (die Graad 12-gedeelte; IGCSE is net in Engels). Dit is ‘n verdere aanvaarding van Cambridge in Suid-Afrikaanse onderwys en ‘n skuif wat die IEB moet laat nadink oor die nut van ‘n aparte Engelstalige eksamen wat deur Suid-Afrikaanse regeringstandaarde ingeperk word.