Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie almal skuld het is nie belangrik nie – voor God is ons immers almal skuldig. En versoening tussen mense is nie afhanklik van skuldbelydenis of vergifnis nie. Ons moet in die eerste plek met Christus versoen word, dan sal die vrede met ons naaste vanself herstel.
BIDDAE, VEROOT- MOEDIGING, GELOFTEDAG (3)
SO SIEN EK DIT
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Biddae, Verootmoediging, Geloftedag
Menseregte met sondes-teen-die-mensheid het die Tien Gebooie vervang – en die Afrikanervolk het dit ten prooi geval terwille van die beveiliging van sy voorspoed. Hy het op sy louere begin rus. ...Dit het tot die heersende toestand in ons land en ons volksbestaan gelei. En dan vra ons soos die Israeliete in Jesaja en Maleagi en die ander profete se tyd: Waarom is daar soveel onrus – ons doen dan so ons bes! Die Afrikanervolk het die land wat deur God onder sy gesag geplaas is, op grond van menseregtelikheid afgestaan. Daarby het hy, op grond van die menseregtelike begrip dat alle mense eenders is, besluit dat alle tale en volke en nasies onder een kombers hulle godsdiens moet beoefen in plaas daarvan dat elkeen op sy eie voor die Troon van God moet staan – ook menseregtelikheid. Dit is alles oortreding van die Tweede indien nie van die Eerste Gebod nie. ... diegene wat die Gelofte gedenk moet hulle as getroue oorblyfsel verootmoedig omdat hulle volk sy tweedelige roeping nie vasgehou het nie. Dat die Afrikanervolk só die Eer van die Almagtige God vir mensuitgedinkte waanwysheid verruil het.
Die Groot Hervorming in die kerk van die Here Jesus Christus het op 31 Oktober 1517 te Wittenberg in Duitsland begin en sy afronding ‘n eeu later in die Sinode van Dordrecht 1618-1619 in Nederland bereik. Daarmee is Europa se weg van geestelike voorbereiding voltooi om die ware Evangelie tot aan die einde van die wêreld uit te dra.
In hierdie geestelike omgewing het die HERE God dit goedgedink om ‘n nuwe volk, die Afrikanervolk, in die lewe te roep met die nodige eienskappe om hierdie uitgestrekte ruwe en byna onherbergsame land te onderwerp en te bewerk ooreenkomstig die Skeppingsopdrag in Genesis 1-2.
Terselfdertyd moes hulle aan die heidense tale en volke en nasies alhier die Evangelie van Jesus Christus na Gereformeerde belydenis verkondig. Evangelieverkondiging sluit die Skeppingsopdrag in. Die heidense inwoners het die aarde nóg bewerk nóg onderwerp, dit alleen maar nomadies uitgebuit. Met Woord en daad moes die nuwe volk die heidene nie net tot geloof in Jesus Christus bring nie, maar ook tot gehoorsaamheid aan die Skeppingsopdrag sodat hierdie land tot eer van God kon opbloei en terselfdertyd tot die stoflike voordeel van die mense kon dien. Geestelike én stoflike verryking van die heidense inwoners was die saamgevoegde enkele roeping van die nuwe volk – die Afrikanervolk.Die jong Afrikanervolk het die tweevoudige roeping ywerig uitgevoer. Binne twee eeue het hulle die ganse Suider-Afrika tot teen die Limpopo en die Lebomboberge onderwerp en in hulle soeke na aardse vryheid en stoflike vooruitgang die Evangelie verbrei, soos die kerktorings sigbaar in nuwe dorpe en omgewings verkondig het. Ook het hulle die weg van die Evangelie na Afrika oopgemaak deur die weerstandige Matabeles by Mosega en die aanvallende Zoeloes by Bloedrivier te verslaan. In albei gevalle het die Afrikanerleiers soos Hendrik Potgieter en Andries Pretorius geen wraaktogte uitgevoer nie maar die gelowige weg gevolg deur in vrede met die betrokke volke saam te leef. So het hulle orde en vrede gebring wat vir die uitvoering van die Sendingopdrag noodsaaklik was. Om ‘n taak, ‘n roeping te kan uitvoer, moet die uitvoerder daarvan nie net sélf sterk in geloof staan nie, maar ook ‘n vesting hê waarheen hy kan terugtrek as die teenstand sterk word.
Teen teenstand in het die Afrikanervolk, gedra deur gelowige leiding, aan sy roeping getrou gebly – tot diep in die twintigste eeu, toe stoflike voorspoed verflouing van hul geestelike krag gebring het. Die Here Jesus het Self gesê niemand kan God én Mammon dien nie. Saam met voorspoed het mensgerigtheid teenoor Godsgerigtheid gekom. Menseregte met sondes-teen-die-mensheid het die Tien Gebooie vervang – en die Afrikanervolk het dit ten prooi geval terwille van die beveiliging van sy voorspoed. Hy het op sy louere begin rus. Ook teenoor die Almagtige God! Die Afrikanervolk het in sy voorspoed en vrede selfstandigheid in eie krag begin navolg – en geleidelik Die Erwe van die Vaders, die geloof in en bewussyn van afhanklikheid van die Almagtige God prysgegee.
Maar intussen gaan ons voort om al hoe meer met politieke en menseregtelike korrektheid die Ál-voorsienige God al hoe meer verby te gaan. Dit het tot die heersende toestand in ons land en ons volksbestaan gelei. En dan vra ons soos die Israeliete in Jesaja en Maleagi en die ander profete se tyd: Waarom is daar soveel onrus – ons doen dan so ons bes! Kom ons hou ‘n dag van verootmoediging. Maar lees in Jesaja 1 wat die HERE daarvan spreek! Die Heilige Gees sê iets ánders in Jesaja 63:17: HERE, waarom laat U ons wegdwaal van U weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug, terwille van U knegte, die stamme van U erfdeel! Die antwoord is eenvoudig: Ons het Hóm verlaat! Selfs die toegewydheid aan ‘n beskermende God wat in die Gelofte vergestalt word, het ons oorboordgegooi en terwille van mensgerigte en politieke korrektheid met toegewydheid aan ‘n aardse versoening vervang.
Terwyl die trekkers buite hulle wete die Evangelie se weg na Afrika oopgemaak het, het die Here HERE hulle geloof beproef sodat Hy sy mag aan die heidendom kon openbaar. Deur die beproewing het Hy hulle daartoe gebring om hulle eie hulpeloosheid te besef en hulle hulp by Hom en Hom alleen te soek. Daaruit het die Gelofte tot standgekom. Dit is merkwaardig dat die Transvaalse Potgietermense sonder huiwering die Gelofte, en so die Hand van God erken het, al was hulle nie regstreeks by Bloedrivier betrokke nie. Die Natallers het self toegesien dat die héle Afrikanervolk, ook dié in die Kaapkolonie, moes besef wat gebeur het. Daarmee is die oorwinning van Bloedrivier tot deel van die héle Afrikanervolk gemaak. Daarmee is ook die hele Afrikanervolk in die Gelofte ingebind en daaraan vasgebind.
Geloftedag is by uitstek dié dag waarop die gelowige Afrikaners, met inbegrip van anderstaliges wat hulle met die Afrikaner vereenselwig, namens die volk hulle voor God moet verootmoedig. Die Gelofte is nie maar ‘n mense-saak nie. Dit is ‘n God-saak wat gehoorsaamheid eis. Ons as nageslag van die Voortrekkers is aan daardie Gelofte gebind, nie oor die heldedade van mense nie, maar oor die Almag van God wat wonderdade laat gebeur het om Evangelieverkondiging te laat voortgaan.
Wanneer die getroues hulle op 16 Desember voor die Almagtige God van Hemel en aarde stel, mag hulle dit nie doen op grond van ‘n soort uitverkorenheid as volk nie. Nog minder mag hulle dit doen uit ‘n sogenaamde versoeningsgedagte en skaamte oor sogenaamde misdade-teen-die-mense nie. Die Afrikanervolk het die land wat deur God onder sy gesag geplaas is, op grond van menseregtelikheid afgestaan. Daarby het hy, op grond van die menseregtelike begrip dat alle mense eenders is, besluit dat alle tale en volke en nasies onder een kombers hulle godsdiens moet beoefen in plaas daarvan dat elkeen op sy eie voor die Troon van God moet staan – ook menseregtelikheid. Dit is alles oortreding van die Tweede indien nie van die Eerste Gebod nie.
Nee, diegene wat die Gelofte gedenk moet hulle as getroue oorblyfsel verootmoedig omdat hulle volk sy tweedelige roeping nie vasgehou het nie. Dat die Afrikanervolk só die Eer van die Almagtige God vir mensuitgedinkte waanwysheid verruil het – dáároor moet ons ons verootmoedig in die gees van Jesaja 63:17: HERE, waarom laat U ons wegdwaal van U weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug, terwille van U knegte, die stamme van U erfdeel!
As die Afrikanervolk in sy getroues op hierdie wyse hom voor die HERE verootmoedig en Hom met waaragtige geloof om sy terugkeer smeek, dan kan hy met vaste stem die laaste vers van sy Volkslied as gebed voor die HERE uitsing om so te getuig dat dieselfde God van die leërmagte wat Hom by Bloedrivier laat geld het, ook nou Hom voor die Godslasterende massas sal kenbaar maak as die Een wat na sý Wil regeer:
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou.
Skenk ook ons die krag, o Here, om te handhaaf en te bou,
dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly –
knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry!
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou o Heer!
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees: God regeer!