Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat julle valsheid spreek...omdat hulle my volk vertel het deur te sê: Vrede! terwyl daar geen vrede is nie; en as die volk 'n muur bou, kyk, dan bepleister hulle dit met los kalk... Ek sal die muur afbreek wat jul met los kalk gepleister het, en dit op die grond gooi sodat sy fondament blootgelê sal word; dan sal die stad val en julle sal daarin omkom; en julle sal weet dat Ek die HERE is - Eségiël 13.
BIDDAE, VEROOT- MOEDIGING, GELOFTEDAG (2)
SO SIEN EK DIT
Dr PE van der Dussen
Lees reeks by Biddae, Verootmoediging, Geloftedag
"Gedurende die jare-sewentig is daar gedurig biddae afgekondig, dikwels op versoek en selfs in opdrag van die destydse regering. Telkens wanneer iets vir hom fout geloop het is so 'n geleentheid afgekondig, as’t ware om die regering uit die moeilikheid te bid. So iets maak van die godsbegrip deus ex machina, 'n masjien wat jy aan- en afskakel."
Op 20 Junie 2013 het die Gereformeerde Kerke te Potchefstroom en omgewing wat van tyd tot tyd as klassisvergadering byeenkom, as gesamentlike afgevaardigdes (deputate) van al die Gereformeerde Kerke in Suidelike Afrika wat in 2012 vergader het, die volgende oproep uitgereik: Hiermee roep Klassis Potchefstroom kragtens Artikel 66 Kerkorde die Kerke wat in die Algemene Sinode Potchefstroom vergader op tot ‘n dag van verootmoediging en gebed in die lig van die voortgaande dade van opstand, moord, aanranding, korrupsie, bedrog en diefstal wat die openbare orde in gevaar stel. Die dag van verootmoediging is op 15 September 2013 vasgestel, bykans drie maande na die oproep.
Die oproep raak nie net die betrokke gemeentes nie, maar moet ook as hulle veronderstelde gesamentlike getuienis gesien word, aangesien hulle gesamentlik aan die betrokke Kerke die status van afgevaardigdes van al die betrokke Kerke verleen het, en 'n afvaardiging niks meer mag doen as om die wense van sy afvaardigers na te kom en namens hulle te praat nie.Daar is dikwels, eintlik altyd, vir die mens rede, gróót rede, om hulp van buite homsélf te soek. Die ongelowige soek dit in allerhande uitvlugte om van die gevolge van sy ongeloofswerk weg te vlug. Die gelowige egter vlug nie vir die rampspoedige gevolge van sy sondigheid nie. As rampe ons tref, gaan ons nie na die wysgere om ons te help nie. Nee, ons vra 'n biddag. (Versamelde Werke van J D du Toit rooi uitgawe Deel II bladsy 32). Die wysheidsoekende mens kán nie met eie onvolmaakte denke en doen van sy sondige natuur loskom nie, maar slegs deur die bloed van Christus. Daarteenoor bevind die gelowige hom deurlopend voor die eis van verootmoediging, elkeen self én sáám in gemeenteverband en geloofsverband (Apostoliese Belydenis Artikel 9 Heidelbergse Kategismus Sondag 21, Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 27-29), ja ook in volksverband.
Gemeenskaplike verootmoediging word deurlopend deur Totius na gemeente én volk teruggebring. Gelowiges is immers, al is hulle nie ván die wêreld nie, nogtans ín die wêreld. Ook bestaan die mens se lewe nie stuksgewys uit onafhanklike lewensterreine nie, maar een geheel wat deur elkeen deur sy geestelike ingesteldheid deursuur word. Dit geld vir elke samelewingsverband - gesin, gemeente, maatskaplike gemeenskapsverband, volk. Dink aan Ninevé se gesamentlike sondigheid – én bekering. Dink aan die gemeente van Laodicea. Lees in Esegiël 33 oor die onderlinge verantwoordelikheid tussen mense. En dink veral aan die onderlinge gemeenskap van die lede van die Liggaam van die Here Jesus Christus wat dwarsdeur die Ou én die Nuwe Testament beklemtoon word.
Verootmoediging
Verootmoediging behels erkenning en aanvaarding van verantwoordelikheid vir die mens se sondigheid. Gesamentlike erkenning en aanvaarding van hierdie verantwoordelikheid berus daarop dat elke deelgenoot sélf die verantwoordelikheid vir sy eie sondigheid dra, maar tóg saam met ander betrokkenes. As een ly, ly almal, as een bly is, is almal bly. En as een afvallig word, treur almal, maar as een hom bekeer, juig almal. Vir die gelowige mag 'n biddag of verootmoedigingsgeleentheid niks anders as 'n gemeentelike byeenkoms wees wat op 'n besondere saak ingestel is nie. So 'n Gebedsbyeenkoms móét soos 'n erediens ordelik en georden moet plaasvind.
Bybelse voorbeelde van besondere gebedsgeleenthede
In Eksodus 14 verhaal die Heilige Gees deur middel van Moses dat, toe die Israeliete voor die Skelfsee staan, hulle op God se bevel moes omdraai en op 'n ander plek laer opslaan. Want, het die HERE gesê, Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. Israel het wel so gedoen – maar toe hulle die Egiptiese mag sien aanruk, het hulle baie bang geword en teen Moses in opstand gekom, eintlik teen God Self op Wie se bevel Moses die uittog gelei het. So groot was die vrees vir die aanstormende Egiptenaars dat die volk na die slawerny wil terugkeer. Maar toe gebeur die verrassende: Moses bemoedig die volk in die Naam van die HERE. Maar die HERE sê vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek. Eintlik maan die Here vir Moses: Dis nie nóú die tyd vir gebed nie. Deur nie te trek nie, werk hulle die aangekondigde oordeel van die HERE oor Egipte teen. Hulle staan die openbaring van God se Almag aan die heidene teen. Geen veldheer sal tog in afwagting van die vyand se eerste skoot eers 'n bidstond of dag van verootmoediging afkondig nie…
Hieruit blyk twee vereistes vir besondere bidgeleenthede. Eerstens gaan dit om onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God in onvoorwaardelike geloof in ay almagtige Voorsienigheid. Tweedens gaan dit om die eer van die Drie-enige God wat alwetend vóóruitsien hoe Hy sy NAAM voor die heidendom en ganse wêreld wil verheerlik (Psalm 2). Daartoe bring hy volke en tale tot stand, nie terwille van hulleself nie, maar terwille daarvan dat Hy as die Grote Koning vir Hom 'n eie volk wil berei wat Hom tot in ewigheid roem en eer sal toebring (Psalm 100).
'n Skriftuurlike siening van 'n biddag
Totius stel die wese van 'n Skrifgegronde bidgeleentheid in 'N BIDDAGPREDIKASIE (Versamelde Werke Deel II rooi uitgawe bladsy 28-33) met Jesaja 63:17 as teks: HERE, waarom laat U ons wegdwaal van U weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug terwille van U knegte, die stamme van U erfdeel.
So stel hy dit: As ons staan teenoor die swyende raaisel van die sonde en die ontsaglike gevolge daarvan, dan is daar maar net een middel om die vraende hart stil te laat word, naamlik die gebed. Ons volk ken dan ook hierdie middel. As rampe ons tref, gaan ons nie na die wysgere om ons te help nie. Nee, ons vra 'n biddag. Nie na die ménse nie, maar na God. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here. Na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo dat U die Christus is, die Seun van die lewende God (Johannes 6:67-69).
Dit is reg, sê Totius, maar dan moet die biddag nie verkeerd verstaan word nie. Dit is nie 'n kragmiddel om God te dwing nie. Ons het eenkeer van 'n kansel af hoor sê dat die mens deur die gebed beskikking oor die mag van God verkry. Dis nie reg nie. Ook wanneer ons bid, bly ons skepsels, nietig en afhanklik. God hoor ons dan ook nie as gevolg van ons gebed, dit wil sê die waardigheid van ons gebed nie, maar die verhoring kom deur die gebed as middel. Ook ons gebede moet agter God aangaan!
As ons biddae dan maar nie uitgeroep word om God soos met 'n kragsvertoon te probeer dwing nie. Dit het die Baälpriesters op Karmel gedoen, maar by ons pas dit nie. As ons biddae maar nie verorden word as daar nie behoefte aan waaragtige verootmoediging bestaan nie. As ons maar net nie op ons biddae gaan dink: Nou is ons in die nood, en nou is die Here verplig om ons te help nie. Dit begin baie daarna lyk! Hierdie maklikheid en die veelvuldigheid waarop daar biddae uitgeskryf word!
Gedurende die jare-sewentig is daar gedurig biddae afgekondig, dikwels op versoek en selfs in opdrag van die destydse regering. Telkens wanneer iets vir hom fout geloop het is so 'n geleentheid afgekondig, as’t ware om die regering uit die moeilikheid te bid. So iets maak van die godsbegrip deus ex machina, 'n masjien wat jy aan- en afskakel. In Jesaja 1 spreek die HERE Hom ondubbelsinnig teen besondere aanbiddings- en vereringsvorme uit as dit nie reg gedoen word nie. Ook Maleagi spreek daarvan.
'n Predikant (Totius?) het by geleentheid verklaar dat 'n dag van verootmoediging nie 'n oproep tot verootmoediging behoort te wees nie. Eerder hoort dit aan die einde van 'n lang tyd van deurlopende verootmoediging, soos diepgaande voorbereiding vir opgaan na die Nagmaalstafel noodsaaklik is. Hierdie kerninsig kom só in Totius se preek tot uiting: Jesaja, ja, hy kan bid. Kyk maar 'n bietjie na die gees van diepe ootmoed en verslaenheid waarmee hy tot God spreek. Maar u moet ook ag gee op die inhoud van sy bede: Keer terug, Here! Dis buitengewoon, nie waar nie? Gewoonlik hoor ons op biddae net die uitroep: Keer terug, o mens! – terug, naamlik tot God. Die profeet sê egter die Here moet terugkeer. Watter diepte van gebedswysheid! So staan Jesaja 63:17 reëlreg teenoor die Godsuitspraak in Jesaja 1 waar dit juis teen die veelheid en inslag van allerlei maniere van aanbidding gaan. Elke lidmaat, diaken, ouderling en predikant kry hier sig op en insig in die betekenis van 'n besondere verootmoedigingsgeleentheid. Maar – boweal word só die eer van die HERE God voorop gestel.
Watter Skriftuurlike vereistes vir ’n biddag word uit die voorgaande geleer?
- Dit moet georden, geordend en ordelik plaasvind.
- Dit moet van onvoorwaardelike gehoorsaamheid en oorgawe aan en geloof in die Drie-enige God getuig.
- Dit sluit die onvoorwaardelike erkenning van sy Voorsienigheid in dat Hy en nét Hy weet wat kom. Hy vóórsien, en dan voorsíén Hy sy kinders met die nodige.
- Die oorsaak en tyd vir 'n biddag moet van die voorgaande getuig.
- Daar moet 'n werklike behoefte aan verootmoediging voor God bestaan.
- Die mens en sy wil mag nooit voorop staan nie, maar moet ootmoedig voor die wil van God buig.
Maar bo alles moet die Naam en die Eer van God voorop staan!
'n Eerbiedwaardige Gereformeerde ouderling het gewaarsku dat jy die HERE nie mag óór-bid en die opsigtelik en veral Skriftuurlik onmoontlike van Hom vra nie.
Daartoe roep die Heilige Gees in Jesaja 63:17 ons op om te bid:
Leer ons om ootmoedig te erken waarom U ons verlaat het, en keer U, Here HERE dan terug!