Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Telkens as ons sondig, kies ons die dood bo die lewe. Daarna is ons so lief om die sonde te ontsmet sodat dit darem nie so sleg klink nie.
HELDEDOM IN KUNS
Dr F.E.J. Malherbe
"Heldedom, waarom verlang die mensheid steeds weer na heldedom?"
In ons tyd van oorloë en gerugte van oorloë en van 'n verpolitiekte kultuur is dit makliker vir die ernstige om 'n sinikus te wees as 'n gelowige. Maar ware erns is liefde, liefde tot die verhewene. Ware erns is stryd, stryd om die volmaking van eie lewe. Erns en voleidiging soek die stilte op. Maar ware liefde soek na die daad, die daad wat tot die broeder uitgaan, maar nooit vóór die stryd in eie stilte besleg is nie. Wie aan die siel van die broeder arbei, voor hy dit aan sy eie siel doen, is 'n woordkramer en 'n huigelaar. Die enigste woord wat hier toegelaat word, is die woord waarmee met eie lewe betaal is. Dié woord alleen is dinamies. Alle ander woorde, staan buite die lewe en lewensontwikkeling. Woorde as dade, dade as woorde – wie deur lye tot heerlikheid dié woord verower het vir die mensdom as sinnebeeld van sy heldedom, is sy hoogste weldoener.
Ek sien vandag net twee woorde wat vir ons betekenis kan hê: werk en besieling.
Soos die eerste die blik rig op die diepte en sy onvolmaaktheid, rig die tweede die blik in die hoogte en sy voleindiging. Soos die eerste ons roep: Mens delf diep in eie siel, ruk daar uit alle leuen en skyn; so roep die tweede in ons: Mens streef opwaarts na wie oorwin het!
Werk en besieling!
Hier vra ek eers u aandag vir enkele voorbeelde van besieling, helde wat die woord verower het tot voorligtende daad vir alle geslagte en vir alle tye.
Heldedom, waarom verlang die mensheid steeds weer na heldedom?
Fritz Knapp, in sy mooi studie van Michel-Angelo, antwoord hierop dat niemand hierdie aandrif uit die mensheid kan ruk sonder om sy geestelike betekenis te vernietig nie. Immers word nie in hierdie heldedom en heldeverering die goddelike in die mens geopenbaar nie? Word nie juis in die betragting van ware heldedom die edelste, innerlikste neiginge van ons persoonlikheid lewendig nie? Dit verhef die mens tot 'n hoër lewenspeil, trek hom opwaarts uit die stoflike metria, berei in hom stemminge van die verhewenste aard, help hom oor leed en nood deur die openbaring dat die verhewenste menslikheid in sy eie diepte bewuste weerklank vind.
Ja, goddank vir die heroïese in die lewe! Goddank vir die heroïese ook in óns verlede, en dat ons daaraan deel mag hê – maar dan 'n worstelende, persoonlike deel, geen algemeen sentimentele nie. Ons het die storie van ons sterfte ... maar
"ek weet maar uit my eie siel,
en kan maar grawe uit my eie hart..."
Ook ten opsigte van die storie van ons verrysenis deur die heldedom van die vaders en moeders uit wie ons spruit.
By alle selfverdwasing, wie sal dit tog ontken dat die aandrif van die heroïese in eie volksgeskiedenis ook by ons nog werksaam is.
Immers waar tragies gely word, sien ons die diepste van 'n persoonlikheid hom uit in die wyse waarop die lye ondergaan word. Of die persoonlikheid sal standhou of ondergaan, word die vraag. Sal die vyandelike magte seëvier? Of sal die liggaam vernietig word, opdat die siel mag lewe?
Die doel van hierdie skrywe is egter nie die besielende heldedom op die lydensweg van Suid-Afrika nie. Ook nie die heroïsme wat deur gebrokenheid tot ons spreek in die kunswerke van Leipoldt, Celliers, Totius of Langenhoven nie. Ek wil vir hierdie keer u blik na ander hoogtes en ander dieptes rig. Miskien kan ook hierdeur 'n woordjie van besieling tot ons kom.
Naas die politieke, staatkundige, militêre of wetenskaplike heldedom, is daar ook die heldedom van die kuns. Wie sy blik oor die geskiedenis van die mensdom laat gaan, vind in laasgenoemde miskien nog die ideaalste heldedom – 'n groter heldedom as dié met die swaard verwerf. Hierdie heldedom verstoor nie maar bou alleen op. Uit niks bou hy sy eie ryk op, klee dié aan met skoonheid, roep 'n werklikheid op waaraan elkeen wat hom verstaan, deel het. Dis 'n hoër werklikheid, dis 'n verklaarde werklikheid, 'n werklikheid waarin die dinge versoen is met mekaar, die dinge wat in die daaglikse lewe ons so verbysterend voorkom. In die chaos van die verskynsele bring hy orde. Hy is skepper, en omdat hy skepper is, en wel iemand wat oor afgronde gaan, afgronde ook in eie siel, ly hy aan sy skepping, soos geen gewone mensekind ooit ly nie. Sy worsteling en sy heroïese lyding voor hy dit tot die vrede bring wat ons verhef, in die woord van Beethoven: "Van lye tot Vreugde!" – al breek die kunstenaar ook dood in die kunswerk – dit moet ons leer nader verstaan. En wat 'n verkwikking kom dan uit die werk tot ons – die kunswerk nie bloot as simbool nie, maar as vereenvoudigde sinnebeeld van sy heldedom.
Hy moet die werklikheid verower, die werklikheid leer sien in ewige lig. Maar dié lig is vir ons verduister namate die wêreld ons meer en meer in beslag geneem het. U lees in die wyse woord van Plato dat die wesenlike werklikheid nie op aarde is nie: hier sien ons alleen die skaduwees van die wesenlike werklikheid, die beginsels, die ideale, die norme daarbo. Ja,
Toe ons vlamwit van God
Gekom't, kon ons sing:
Maar deur ons harte blink
Kom die bleke daglig dring,
En is ons lied versmoor
In die gekkegelag van haat
In die markplek en op straat.
- W.E.G. Louw.
Dié lied moet ons weer leer. Na dié sang hyg ons siel, daarna dors ons hart. En nie net die hart van die kunssinnige nie, ook nie net die hart van die worstelende nie, maar elkeen, hoe ook geketen aan sy drifte na wat die ideaal weer laat lewe.
Ja, kuns in die algemeen werk bevrydend. Die hoogste kuns, seker, bring metafisiese troos, in die woorde van Nietzsche, deur sy vergeestelikte skepping, deur sy vormgewing van ideële moontlikheid. Te midde van "Lebenstrieb und Todesnacht" straal die lig van die ideaal.
Hierdie gewoonlik betekenislose woorde kan alleen slaan op die sin vir donker wêreldlot, vir die essensiële droefheid van die lewe, die wêreldnag van worstelende bestaan, die 'ungeheure', a-logiese, paradoksale van die heelal en lot, van lewe en dood.