Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die
onderwysing van jou moeder nie;
want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou
hals.
TER WILLE VAN 'N NAGESLAG...
...PRAAT AFRIKAANS!
Jeanette Koekemoer
Augustus is taalmaand vir Afrikaans want baie dinge met betrekking tot Afrikaans het in Augustusmaand gebeur. Daarom kan ons dit nie nalaat om in hierdie maand 'n pleidooi vir ons mooi taal te lewer nie.
Van die belangrike gebeure is die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners vir Afrikaans op 14 Augustus 1875, die stigting van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging op 19 Augustus 1930, asook die uitdeel van die eerste Afrikaanse Bybel op Sondag 27 Augustus 1933 toe die Bybel deur die hele land feestelik in ontvangs geneem is. ’n Sentrale fees daarvoor is in Bloemfontein gehou en die volgende feeslied is gesing:
"Engels ! Engels ! Alles Engels !
Engels wat jy sien en hoor;
in ons skole, in ons kerke,
word ons moedertaal vermoor . . ."
En dit is presies wat vandag weer besig is om te gebeur. Ons hoor elke dag hoe ons mooi taal verwring en verniel word. Elke sin is vol Engelse en verdraaide Afrikaanse woorde – deur oud en jonk, almal Afrikaners!
Die proses waarvolgens 'n groep mense hul eie taal laat vaar en 'n nuwe taal aanneem, noem ons taaloorname of taalverplasing maar in die huidige vermoording van ons taal is daarvan nie sprake nie want daar word nie 'n ander taal gepraat nie. Die gebruiker glo hy besig Afrikaans, maar dit is so deurspek van Engelse woorde dat dit geen spesifieke taal meer is nie. Dit is eerder 'n geval van sosiale assimilasie want dit steek soos masels aan; kinders kompeteer daarmee om te wys wie die "cool"-ste is. Daarby wil hulle ouers tog net nie as "outdated" bestempel word nie – en is dít nou 'n bejammerenswaardige prentjie...
'n Taal kan op twee maniere 'sterf': mense kan ophou om dit te praat, of dit kan só verander vanweë versteurings deur 'n ander taal dat dit in een of ander stadium ophou om te bestaan. Laasgenoemde is die pad waarop Afrikaners vandag stap terwyl hulle luidkeels verkondig hoe Afrikaans sal bly voortbestaan en talle Afrikaanse sangfeeste met oorgawe hou – met dieselfde geradbraakte Arfrikaans in die "songs". En sou iemand dit wou betwis dat die helfte van Afrikaans reeds verdwyn het, tel gerus die hoeveelheid Engelse woorde in elke sin van die spreker wat beweer hy praat Afrikaans!
Maar hiervoor is daar 'n spesifieke rede. Ons volksvyande sit daaragter: Hulle weet alte goed dat 'n taal deel van die identiteit van 'n volk is; neem dit weg, word die volk in afsienbare tyd vernietig. Ook die lamheid in ons volkslewe het al dikwels ons taal op meer as een manier skade aangedoen. En so is die teenoorgestelde ook waar: wanneer daar nasionalistiese herlewing was, het dit Afrikaans op meer as een manier bevoordeel, maar tans toon ons allesbehalwe 'n sterk nasionalisme of trots op wat ons eie is, daarvan getuig ons taalgebruik.
Gewoonlik gebruik ons die term imperialisme vir die drang of strewe van 'n volk om politieke, ekonomiese en soms ook kulturele beheer uit te oefen oor 'n ander volk wat daardie beheer nie wil of kan hê nie. Taalimperialisme kom voor wanneer een volk sy taal op 'n ander afdwing. Die sterkste groep kan 'n volk wees wat 'n ander volk in 'n ander staat onderwerp of in sy eie staat die toonaangewende posisie verkry het, soos die ANC in Suid-Afrika, met Engels as voertaal - juis omdat Brittanje as grootste imperialis in die geskiedenis, daarin geslaag het om sy taal dwarsoor die wêreld af te dwing.
'n Groep wat mag verwerf het, kan op allerlei maniere die tale van andere groepe benadeel. Dit gaan in die eerste plek nie om die tale self nie want een volk onderwerp 'n ander eerstens om ekonomiese en strategiese redes. Maar die taal van die sterkste groep wen veld omdat sy sprekers die onderworpe groep daarin kan regeer. Alle tale wat sterk gegroei het, het dit reggekry met behulp van die mag en gewelddadigheid van hul sprekers. Tale groei meesal omdat die sprekers hulle aan magsmisbruik skuldig maak. Ander tale kwyn omdat hul sprekers magteloos is en deur sterker volkere oorrompel en regeer word. 'n Taal kan oorleef as sy mense die seggenskap oor hul eie sake behou maar hier lê die gevaar vir Afrikaans in Suid-Afrika vandag – die Afrikaner het geen politieke, militêre, ekonomiese en kulturele mag meer nie, al word hy hieroor 'n rat voor die oë gedraai.
Suid-Afrikaanse toespraakmakers beweer soms dat geen volk as gevolg van aanvalle van buite kan sterf nie, blykbaar in navolging van 'n opvatting van Arnold Toynbee dat geweld van buite geen beskawing kan laat ondergaan nie. Maar wat geweld kan doen toon die makabere Russiese spreekwoord: "Hulle het verdwyn soos Aware." Die Aware was 'n nomadevolk van Turks-Mongoolse oorsprong wat uit die Midde-Asiatiese steppe na Europa getrek het. Weens geweld teen hulle het hul taal heeltemal uitgesterf. Nog 'n taal wat uitgewis is, is Tasmanies, die taal van die oorspronklike bevolking van Tasmanië wat deur die Engelse koloniste uitgeroei is. En in nog drie lande het inheemse tale verdwyn of was besig om uit te sterf as gevolg van onder meer die geweld teen die sprekers daarvan - Australië, Nieu-Seeland, en die VSA.
Die verdeeldheid waaronder ons volk vandag ly, is die gevolg van die imperiale aanslag teen ons met die gevolg dat ons taal besig is om te verdwyn. Ook in ons geskiedenis is talle voorbeelde van verdeeldheid onder volksgenote wat tot die verwaarlosing van Afrikaans gelei het. Een daarvan is "De goddelose inval van Duits-Zuidwest", soos genl CF Beyers dit op 29 Oktober 1914 genoem het toe die Botha-regering met die Suidwes-veldtog begin het onder invloed van Brittanje se imperialisme. Daar is voortdurend na taalongelykheid verwys. J A B Joubert, wat in genl De Wet se voorlopige gehoor getuig het, en ook as rebel saam met De Wet in die tronk aangehou is, het uit aanhouding vir sy vrou 'n brief in Engels geskryf. So sterk is daaroor gevoel dat genl De Wet vir hom gesê het: "Jy is 'n Afrikaner en jy skrywe in die taal van die helle onder wie ons ly!"
Genl De Wet was 'n sterk taalbewuste Afrikaner wat hom dikwels uitgelaat het oor die taalkwessie met die besef dat sy volk sal uitsterf indien hulle taal hul ontneem word. In sy pleidooi op 'n kongres te Brandfort op 1 en 2 Desember 1904 het hy hom beywer vir eie skole ter wille van die eie taal: "Al moet ons en ons families onsself tekort doen, sal ons dit doen tot die dag dat dit God behaag om die hart van die Regering te versag voordat ons volk uitgewis word!" Hierdie hartstogtelike pleidooi was vir fondse vir die C.N.O.-skole (Christelike Nasionale Onderwys) waar die Boerevolk hulle eie taal kon huldig. (Vandag het ons die C.V.O.-skole tot ons redding).
Die Afrikaanse taalstryd is nie net 'n aksie vir die verwesenliking van 'n taal-ideaal nie, dit is ook 'n reaksie teen heersende toestande en 'n protesbeweging teen die onderdrukking van geestes- en kultuurgoedere. En sekerlik die belangrikste: ter wille van die voortbestaan van ons volk - weet dat "die helle onder wie ons ly" nie net ons taal nie, maar ook ons lewens wil neem. As ons dít ter harte neem en besef dat ons besig is om vermoor te word ook dmv ons taal, sal ons onder die breinspoeling van ons volksvyande uitkom en weer ons mooi taal suiwer begin praat.
Laat dan hierdie kosbare erfgoed ongeskonde aan u kinders na sodat daar wél vir hulle 'n nageslag sal wees!