Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hulle wat nie met hul daaglikse brood alleen tevrede is nie maar met 'n onbeteuelde hebsug na grenslose besittings jaag, en dan nietemin God met bede aanroep vir hul daaglikse brood, doen niks anders nie as om Hom te bespot. Want om te bid vir dinge wat hulle eintlik verfoei – die eenvoudige daaglikse brood – is huigelagtig.
WAT SÊ DIE SKRIF OOR RASSEBELEID?
Jeanette Koekemoer
Die rassevraagstuk in Suid-Afrika met betrekking tot segresasie, naamlik afsonderlike ontwikkeling van die verskeidenheid volkere in die land, is vandag meer aktueel as ooit. Trouens, dit het ook ’n ernstige twispunt tussen Afrikaners binne kerkgeledere geword. Wat meer is, albei kante probeer om hulle standpunt vanuit die Bybel te regverdig. Die wyse waarop met Bybeltekste gewerk word — meesal uit verband geruk — spreek van die duistere invloede wat reeds eeue lank op Christen-Afrikaners afgedwing word.
Tydens die onthulling van die Totiusmonument in Februarie 1977 is die volgende gesê: "Totius was die verpersoonliking van sy mense deur sy geloof in God en in die roeping van die Afrikaner en hy het by elke geleentheid vir die Afrikaner in die bres getree. Daarom het in sy tyd die stem van Potchefstroom die stem van die Afrikaner geword. Daarom is dit goed dat juis in hierdie jaar fees gevier word waarin hierdie sake betwyfel word. As die Afrikaner in Suid-Afrika val, val almal met hom saam. Om bogenoemde redes kon sy stem die stem van S.A. word."
En het ons nie gesien hoe almal saam met die Afrikaner geval het nie! Wat vandag oor is van ons land op ekonomiese, kerklike en volksgebied nadat alles wat vir ons kosbaar was vernietig is deur die toepassing van rasse-integrasie, getuig van die insig van daardie spreker.
Die sienswyses in hierdie artikel sal heelwaarskynlik deur sommige as verouderd afgemaak word. Die antwoord daarop sou wees dat die Bybel dan ook verouderd is. Maar dit is onwaar want die Calvinis kan nie téén vernuwing wees nie omdat hy kragtens sy roeping altyd op die voorpunt van die tye moet wees. Die patriotters was ook progressief in hulle tyd maar hulle het geglo dat die nuwe loot uit die ou wortel moet groei.
Per slot van rekening het die Skrifgelowige net een suiwer bron waarnatoe hy kan teruggaan en dit is die Skrif self – en nie soos dit verdraai is met elke latere vertaling nie maar die oorspronklike Skrif. Prof. dr. J. D. du TOIT (TOTIUS) was 'n man wat sy lewe veil gehad het vir sy Kerk, Volk en Vaderland, en die volgende uittreksel uit sy referaat, Die Godsdienstige Grondslag van ons Rassebeleid, gelewer op die "Volkskongres oor die Rassebeleid” in 1944, bring vir ons meer duidelikheid oor hierdie saak:
Totius aan die woord:
"Gee my ’n Bybelteks,” se die teenstander van ons kleurbeleid, " ’n teks wat bewys dat segregasie in ooreenstemming is met die uitsprake van die Heilige Skrif.”
"Ek het geen teks nie,” is my antwoord.
"Dan het ek die pleit gewen,” sê die voorstander van gelykheid. "Ek het ’n teks. In Kol. 3:11 staan: Waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie; maar Christus is alles en in almal.”
Toe sê ek aan die teenstander: "'n Teks het ek nie maar ek het die Bybel, die hele Bybel. My bewysvoering sal gaan van Genesis tot Openbaring; so moet ons bewyse uit die heilige Skrif aanvoer.”
Ek begin met die eerste bladsy van die Skrif, God sal ’n kosmos skep, ’n skone eenheid. Hoe tree Hy op? As Hammabdil, d.w.s. as Skeidingmaker. Al dadelik lees ons van die eerste dag: "God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis” (Gen, 1:4). Aangaande die tweede skeppingsdag staan geskrywe: "God het gesê: Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.” (1:6). Dan volg op die derde dag die skeiding tussen droë grond en die versameling van waters, die see (1:9, 10). Op die vierde dag kom die hemelligte te voorskyn: Om te heers oor die dag en oor die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis” (1:18). Op die vyfde dag skep God die lewende wesens wat wemel in die waters volgens hulle soorte en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte (1:21). Dus weer ’n onderskeiding, en dit hou tot vandag toe stand wat die evolusie ook al redeneer ten gunste van die eenmaking. Dit is en bly soorte. 'n Kloof is daar gevestig, en vir die kloof is daar geen brug nie. Ten laaste word van die sesde dag dieselfde gemeld, nl. die skepping van die diere volgens hulle soorte (1:24). Ja, ook die mens, die hoogste van die werk van God, kom in onderskeidenheid te voorskyn: Man en vrou het Hy hulle geskape” (1:27). Dan word alles beseël met die woord: "Toe sien God al wat Hy gemaak het en — dit was baie goed” (1:31). Geen enerleiheid maar menigvuldigheid; en dit bly so ondanks alle teëstribbeling van die mens.
By die skepping van alle dinge dien die Here Hom dus aan as Hammabdil, as Skeidingmaker. Dit is ’n groot woord met groot betekenis vir ons onderwerp. Daarop kan ons veilig verder bou. Die massa-geskape dinge kom derhalwe nie deurmekaar in aansyn nie, maar elkeen word afgesonder in sy eie kraal. Dit is dan ook wat die woord segregasie volgens sy afstamming te kenne wil gee.
Wat hier allermees van belang is, is dat plante en diere in " soorte” gegroepeer word, geskei van mekaar en tog weer een onder die versamelnaam plante en diere.
Maar dan die mens — is by hom ook soorte aanwesig kragtens skeppingsordinansie? Daar staan alleen dat God die mens "man en vrou geskape het.” Vandaar dat Paulus aan die wysheidsmense in Athene kon sê: "Hy (God) het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak.” Die skeppingsdaad is die "een bloed.” Maar let daarop dat daaruit in die weg van die voorsienigheid van God "die nasies van die mensdom” voortgekom het — dus nie ’n hoop mense sonder onderskeid nie. Paulus voeg dan ook hierdie belangrike woorde aan sy uitspraak toe: "Om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy (God) vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het.” (Handl. 17:26).
"Om die aarde te bewoon” — hiermee gryp die apostel na die bevel terug: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen. 1:28), 'n bevel wat na die Sondvloed letterlik herhaal is toe God aan Noag en sy seuns gesê het: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”. (Gen. 9:1).
Wat wil dit sê? "VuI die aarde” beteken, trek, en trek beteken: nasiewording: Eers toe ons vaders die lae lande by die see in die omtrek van Kaapstad verlaat en getrek het na die hoër geleë binnelande van S.A., het ons ’n nasie geword. Wat toe begin is, het die Groot Trek voltooi.
Deur die bevel: "Vervul die aarde” het God sy goedkeuring aan nasiewording geheg. Vandaar dat Paulus kon sê dat God uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak het.
Maar nou kom die mens met sy eiewysheid. Voor die Sondvloed al het die geslag van Set met die geslag van Kain gemeng. Toe het die reuse gekom en oor die wêreld (voor die Sondvloed) het die geweld losgebreek wat die oorsaak was van die strafgerig.
Maar ná die Sondvloed het die eiewysheid en verset teen die bevel van die Here nog kwaaier te voorskyn getree. In die laagte van Sinear het die toringbouers van Babel vergader en uitgeroep: Laat ons nie verder trek nie. Laat ons bymekaar bly. Ons spreek een-en-dieselfde taal. Ons moet een nasie bly. As ons uitmekaar gaan, word ons swak. As ons saamstaan, kan ons ’n toring bou waarvan die punt die hemel raak.
Toe kom die Here weer as die Skeidingmaker en Hy sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming. (Gen. 11:6). Deur taalverwarring het die Here hulle toe oor die hele aarde verstrooi. (11:9).
Totius tot hier.
Nou iets van dr. A. Kuyper: "Toe onder die Kaapse Boere die sogenaamde 'trek’ ter sprake gekom het, het die neiging om te 'trek’ 'n hele menigte aangegryp . . . Nou van agter voel dan ook elkeen hoe in die 'trek’ van die Kaapse Boere, sonder dat iemand dit vermoed het, ’n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika en ten dele selfs die geskiedenis van die wêreld beheers. So ’n 'trek’ is juis die teendeel van wat in Sinear se vlakte geopenbaar is. Toe hulle moes trek wou hulle nie, en stel hul uit beginsel en met voorbedagte rade téénoor die beginsel van trek: 'Nie trek nie maar bymekaarbly’ as wagwoord. Daar sal toegestem word dat die Kaapse Boere die bestel van God sou weerstaan het as hulle nie uitgetrek het nie, eweso het die toenmalige geslag in die vlakte van Sinear die wil van die Here weerstaan deurdat hulle hul nie wou versprei nie.”
Hierdie sitaat is merkwaardig. Hier is iemand uit Nederland aan die woord wat sê dat in die Trek van die Kaapse Boere’n mag deur God gewek is wat die hele toekoms van Afrika beheers het. Wat is egter die feitlike toestand? Nie alleen dat liberaliste, wat stil tuis gebly het, die Afrikanervolk die les slegs in die verlede wou leer nie, maar vandag nog vir ons vertel hoedanig ons moet optree, dit terwyl ons vaders altyd besig was om die bestel van die hoë God uit te lewe!
Hierdie saak sal 'n strydpunt bly solank ons Christenvolk bly toutrek, die al meer-wordende liberales onder ons duld, nie bereid is om met die heldemoed soos ons voorvaders op te staan, ons God se bestel erken en dit ten volle uitleef nie.