Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het goeie raad oor hoogmoed en nederigheid: jy mag maar hoogmoedig wees onder jou meerdere maar jy moet nederig wees onder jou mindere; só sal jy minstens nie jou eie waardigheid of ander s'n kwes nie. Hy herinner ons ook dat nederigheid nooit kan val nie...
AFRIKANER EN SY PROPAGANDA- STRYD
Alpegro
Die Nasionale Woordeboek (De Villiers, Smuts, Eksteen en Gouws) verklaar die woord propaganda as ″werksaamheid om bepaalde denkbeelde, oortuigings te versprei″.
Dwarsdeur sy geskiedenis was die Afrikanervolk aan die ontvangkant van vyandige propaganda. Ten spyte van die gruwels en volksmoord wat deur die Britte tydens die ABO (Tweede Vryheidsoorlog) gepleeg is, het die magtige propagandamasjienerie van die Britse ryk, asook 'n vyandige Engelstalige Suid-Afrikaanse pers en ook elemente van die buitelandse pers steeds onversteurd en deurlopend voortgegaan om 'n stroom disinformasie en beswaddering teen Afrikaners die wêreld in te stuur.
Sekere van die hardnekkige propagandaleuens wat die Britte tydens die ABO verkondig het oorleef tot vandag, meer as ′n eeu later, nog. As voorbeeld kan hier verwys word na ′n leuen – ′n mite – wat die Britte gefabriseer het om hulleself van die enorme sterftesyfer in die Britse konsentrasiekampe te verontskuldig.
Die Britte – onder meer van hulle dokters – het naamlik beweer dat die swak persoonlike higiëne van die Boervroue en –kinders verantwoordelik was vir die skrikwekkende sterftesyfer. Hierdie einste leuen is onlangs weer opgediep en in ′n vakwetenskaplike artikel deur ′n geskiedenisnavorser, dr Elizabeth van Heyningen van die Universiteit van Kaapstad, opgedis.
Dit is moeilik om te glo dat van Heyningen – 'n gedoktoreerde navorser met oënskynlik 'n goeie klompie navorsingsjare agter haar naam – onbewus en ongevoelig kan wees vir die aanvegbaarheid, eensydigheid en duidelike absurditeit van die veronderstellings wat haar werk oor die sterftes in die konsentrasiekampe onderlê. Daar moet ′n goeie rede wees waarom sy haar eie akademiese integriteit asook die van die universiteitsinstelling waar sy werk so ernstig wil kompromitteer.
Wat sou dus die motief wees vir hierdie voorbeeld van duidelik ondeurdagte, papegaaiagtige napraat van die eeu-oue propagandaleuens?
Is dit maar net weer die ou bekende en primitiewe ″Boerebashing″ – afgestof, opgewarm en opgedis met 'n akademiese sousie daaroor?
Of het van Heyningen dalk haar oog op ′n veel groter beloning en glorie –soos die hoop en verwagting dat haar ″werk″ sal inpas in en opgeneem sal word in die kanon van die huidige regeerders se ″Nuwe, Herskrewe, Amptelik Gesanksioneerde Suid-Afrikaanse Geskiedenis″?
Die groot hartseer en tragiek van hierdie saak is egter nie soseer die leuens en bedenklike verdraaiing van die geskiedenis nie – dit is die feit dat die nagedagtenis van die duisende weerlose en onskuldige vroue en kinders wat in die kampe vermoor is maar net weer by herhaling op hierdie veragtelike wyse ontken, vertrap en onteer word.
Met die Britse propaganda tydens die ABO is 'n bepaalde patroon gevestig wat na die oorlog – en uiteindelik vir die grootste deel van die twintigste eeu – voortgeduur het, en wat met toenemende venyn verskerp is namate die wêreldwye propagandaveldtog teen apartheid momentum verkry het.
Terwyl hierdie artikel geensins ten doel het om apartheid goed te praat nie, moet die effek wat die anti-apartheidpropaganda op Afrikaners gehad het goed verstaan word. Dit is ongetwyfeld so dat Afrikaners se uiteindelike nederlaag in dié ongelyke woordestryd 'n baie groot rol gespeel om Afrikaners polities te demoraliseer, tot oorgawe te dwing en uiteindelik, so mak soos lammetjies, in te lei in die treurige omstandighede waarin Afrikaners as volk vandag verkeer.
Die vernietigende effek wat volgehoue vyandige propaganda het moet nie onderskat word nie. Ek haal hieroor verbatim aan uit 'n artikel met die titel ″Die kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis″:
″Die bekende wêreld van die ou bedeling verbrokkel, en sy ondersteuners voel oornag soos vreemdelinge in hulle eie land. Alles verander en alles waarin hulle geglo het verdwyn in die omwenteling. Die nuwe stelsel skiet alles van die oue in flarde in ʼn poging om homself te vestig, en die ou bedeling bestaan nie meer om homself te ′verdedig′ nie.
″Hierdie toestand kan selfs lei tot die ontbinding van ʼn geteikende volk. Hulle verloor vertroue in hulself, in die saak waarvoor hulle gestaan het, in die vorige leiers, en soms selfs in die lewe. Hulle onttrek uit die groep, ″ons″ word ″ek″, en vorige lewensideale lyk in die nuwe era belaglik. Daar is ′n gevoel van woede, ontnugtering en vertwyfeling. Hulle voel belieg en selfs verraai en onttrek uit die openbare lewe. Hulle voel dat al hul opofferings verniet was, en dat hulle deur die ou stelsel vir die gek gehou en misbruik is.
″Hulle verloor belangstelling in hulle vorige lewe, en word afsydig teenoor hulle gemeenskap, geskiedenis, helde, simbole, instellings en idees. Volgens Ellul kan mense wie se propaganda skielik afgesny word, selfs aan senuwee- en sielkundige probleme soos skuldkomplekse begin ly. Die nuwe stelsel se propaganda draai die krane oop in ′n poging om voormalige teenstanders te demobiliseer en te verlam, sy eie geldigheid te vestig en om moontlike mededingende stelsels onder verdenking te bring. Alles van die ou stelsel word as boos voorgehou, terwyl die nuwe stelsel, sy leiers, - denkbeelde en simbole met lofsange besing word.
″Niemand wil meer aan iets uit die ou bedeling raak nie, en jy plaas jouself buite die beskaafde debat as jy buite die amptelike staatsideologiese dink of praat. Dit mág nie betwyfel word nie. Baie keer loop ′n groep selfs oor na die voormalige vyand, en ander kere kom die nuwe geslag in opstand teen die vorige, omdat hulle nie kan glo dat hul ouers die bose ou bedeling gesteun het nie. Baie van wat Ellul gesê het kan op post-1994 Afrikaners toegepas word."
So het, byvoorbeeld, vele Afrikaanse skrywers, digters en kunstenaars – eens die bron en ruggraat van Afrikaneridealisme – feitlik soos een man die propagandaleuens gesluk, hulle volksgenote die rug toegekeer en voor die vyand gaan buig. Die rol wat Afrikaanse kunstenaars soos Breytenbach en Brink – asook sekere andere wat letterlik as agente in diens van die ANC hulle "kuns" beoefen het – gespeel het om in die oë van gewone Afrikaners aan die ANC 'n skyn van regverdigheid en legitimiteit te gee moet nie onderskat word nie.
In 'n onlangse opname onder koerantlesers oor die honderd gewildste gedigte in Afrikaans was daar 'n element van verbasing oor die feit dat die vroeëre Afrikaanse digters (die pre-sestigers) by die leserspubliek meer bemind en gewild is, en geredeliker gelees word, terwyl die jonger digters (sestigers en post-sestigers) oënskynlik minder aftrek kry. Dit is interessant dat geeneen van die digters die fout by hulle eie werk of dié van hulle kollegas soek nie!
Een baie belangrike faktor wat nie aangeroer word nie, is die verskil in gesindheid en benadering wat daar tussen die "ouer" digters en die "jongeres" is.
Die ouer digters was ten diepste lojaal aan en lotsgebonde met die Afrikanervolk, sy taal en sy strewe – terwyl van die nuwer digters, daarenteen, dikwels minagtend, afwysend en onsimpatiek oorkom. Dit lyk – minstens by sommiges – asof hulle simpatie meer by die Afrikaner se vyande lê.
Die geëerde en geliefde volksdigter van weleer is vervang deur 'n koue, kritiese, vyandige randfiguur .....
Die feit dat belangrike Afrikanerleiers – asook die Afrikaanse pers en kunstenaars – uiteindelik geswig het voor hierdie vyandige en leuenagtige propaganda het veroorsaak dat Afrikaners se geboorteland halsoorkop en sonder behoorlike beplanning op 'n skinkbord aan 'n swart meerderheid oorhandig is – 'n swart meerderheid wat 'n regering aan bewind gestel het wat, soos later sou blyk, in terme van sy vyandigheid, wreedheid, korrupsie, selfverryking, onbevoegdheid en gebrek aan enige beginsels deesdae enige beweerde blanke vergrype onder apartheid na kinderspeletjies laat lyk.
Ironies genoeg, en in skerp teenstelling met die waansinnige koors en ywer waarmee die meeloper-Afrikanerkunstenaars en -akademici (dws die ANC se "useful idiots") teen apartheid "geveg" het en hulle met die "struggle" vereenselwig het, is die meeste Afrikaanse struggle-aktiviste en kunstenaars deesdae oorverdowend stil oor die enorme vergrype en misdade van die huidige regime.
Dit is werklik rampspoedig dat Afrikaners tot dusver so beroerd sleg gevaar het in die propagandastryd. Hierdie propaganda-nederlaag, sou dit nie omgekeer
word nie, kan – deur die uitwerking daarvan soos Changuion in haar artikel waarsku – Afrikaners uiteindelik, van beide die land en hul volksidentiteit beroof!
Vir 'n hele paar jaar na die oorgang in 1994 het n beduidende getal Afrikaners werklik hul bes probeer om deel te wees van – d.i. om in te koop in – die Suid-Afrikaanse Reënboognasie. Tydens hierdie euforiese reënboogperiode was die idee van 'n "Afrikanervolk" vir baie Afrikaners soos die spreekwoordelike familielid in die tronk – hulle het nie eintlik daaroor gepraat nie! Die blote gedagte van 'n Afrikanervolk was gevolglik deur die pers – ook Naspers se Afrikaanse koerante – doelbewus doodgeswyg – of as daar hoegenaamd iets daaroor berig is, is dit stilweg veroordeel en verdoem as "oudmodies" en "verdelend".
Maar soos ons weet het die hele idée van 'n reënboognasie uiteindelik te pletter geloop teen die hebsug, korrupsie, rassisme, onbevoegdheid en omgekeerde diskriminasie van die Regerende Party ... en gevolglik is die idee van 'n Afrikanervolk meteens weer op vrye voet!
Alles is dus nog nie verlore nie! Dit is nou tyd vir 'n kritiese herwaardering van die geskiedkundige rol asook die toekomstige rol van Afrikaners in hierdie land.
Afrikaners moet hulle kop oplig en trots vorentoe kyk en moet die rol begin speel wat slegs hulle in hierdie land kan speel.
Dit is egter reeds oorvloedig duidelik dat hierdie sleutelrol nie gespeel kan word deur 'n onbeduidende Afrikanergeurtjie, ingeknie in 'n vaal, oninspirerende trapsel van Suid-Afrikanerskap nie – veral waar Suid-Afrikanerskap deesdae 'n onoortuigende, kunsmatige, gedwonge volkskap is waaroor die stank van ANC-korrupsie en oorheersing reeds so swaar hang!
Afrikanerskap is tans veel aantrekliker as die knegskap aan 'n korrupte en disfunksionele geheelstaat. Daar het 'n vakuum ontstaan in die plek van die reënboog wat vir Afrikaners – of dan minstens 'n deel van hulle – gevul sal word deur die idee van trotse Afrikanerskap.
Afrikaners moet as 'n trotse eie Afrikanervolk die ondankbare, vyandige en demoraliserende elemente in hierdie land – ook dié in hulle eie geledere – doodgewoon ignoreer en omseil en voortgaan om met ywer en deursettingsvermoë te doen wat hulle moet doen.
Ek glo dat die Afrikanervolk sál herleef en sál groei deur stryd, onderhandeling en vasbeslotenheid – en veral deur die ondersteuning van 'n eie, nuwe en simpatieke Afrikaanse pers en radio.
Ek is jammer om dit te moet sê maar ek twyfel sterk of die huidige Afrikaanse media – d.i. Naspers – hierdie rol sal kan vervul. Die bestaande Afrikaanse media is eenvoudig te ver verwyderd van die denke en strewe van Afrikaners.
'n Ander plan sal gemaak moet word. Afrikaners sal 'n effektiewe teëwig moet skep om demoraliserende, vyandige propaganda teen te werk. Eie radio en eie koerante of elektroniese media is al uitweg.
Afrikaners kán en móét doodeenvoudig beheer neem oor hul eie kapitaal, taal, onderwys en opleiding, geskiedenis en kultuur – oor hulle hele toekoms as volk – en moet dit beskerm teen die wat dit met geweld, oormag en leuens wil vernietig.
Soos NP Van Wyk Louw dit stel: Sal elkeen as hy magtloos naby die sterwe lê, net hierdie eensaam wete uiteindelik nog hê. Dat ons nie kon gebuig word soos hul geweld dit wou, en dat ons vry kon lewe... Net aan ons bloed getrou.