Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Lewe wat vir God en die medemens geleef word, kan nooit sinloos wees nie. Wie ‘n ander se laste ligter maak, is nooit nutteloos nie.
TWAK MET BOERE-AFRIKANERSTRYD!
ONS IS ALMAL GELOFTEKINDERS
Dr Ronnie van der Merwe
Die huidige naam-vraagstuk en stryd oor 'Boer' versus 'Afrikaner' wat sommige volksgenote aangaan om die woord 'Afrikaner' in die ban te doen sou dit glo die term 'verraad' verteenwoordig, spruit waarskynlik daaruit voort dat ons die naam “Boer” tot ‘n eretitel wil verhef. Soos met eretitels die geval is, kan ‘n groot deel van die volksgenote nie daarvoor kwalifiseer nie.
Die benaming “Boer” is grootliks internasionaal en plaaslik gevestig in die twee Vryheidsoorloë teen Brittanje. Daar is egter min twyfel daaraan dat hierdie Boere en hulle leiers, hulle self nie as Afrikaners beskou het nie (Kyk maar na Pres. Kruger en van die Boere Generaals se uitsprake).
Aan die begin van die Tweede Vryheidsoorlog was daar ongeveer 80 000 Boere opgeroep. Aan die einde van die oorlog was daar ongeveer 22 000 bittereinders wat die wapen neergelê het. Behalwe die bannelinge en die ongevalle, het by verre die grootste hoeveelheid gedros en sogenaamd neutraal geword of aktief die vyand ondersteun. Die vraag wat ek myself afvra: Was die drosters en joiners nou nie meer Boere nie. Het hulle nou skielik ‘n ander volk se drek geword en sal vandag se Boere húlle dan weer as Afrikaners wil klassifiseer?
Na die verraad by Abramskraal en by die slag van Driefontein het Boerevegters Bloemfontein se besetting deur Roberts met hulle lewens verdedig. Terselfdertyd word die groot verwelkoming vir die Engelse reeds in Bloemfontein gereël. Onder wie se leiding? - Lede van Pres. Steyn se Boere Parlement van die Rep. van Oranje-Vrystaat. Toe die Parlement die laaste keer gesit het was hulle Boere. Wat was hulle toe? Gedegradeer na Afrikaners? Nee, hulle was steeds Boere maar uitgepresipiteer as ons eie uitvaagsels.
Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog was daar 16 000 Kaaplanders (waarvan name en adresse aan ons bekend is) wat uit eie vrye oorweging vir hulle broers in die Noorde die wapen teen Engeland opgeneem het. Hulle was nie verplig daartoe nie, omdat hulle nie oproepbaar was vir die Boere Republieke nie. Hulle het geen beskerming geniet soos Republikeinse Gevangenis nie. Hulle sou by gevangeneming teregstaan as rebelle om gefusilleer te word.
My vraag: Was hierdie Kaapse Rebelle, Boere soos hulle broers in die Noorde vir wie hulle bereid was om hulle lewens teen dubbel die risiko op te offer, of was hulle Kaapse Afrikaners met ‘n eie agenda? (Terloops, bestaan daar iewers in die midde van ons Noordelike Boerebroers ‘n struktuurtjie wat dank en erkenning vir hierdie selfopgelegde offervaardigheid van die Kaapse Rebelle betoon?)
Hier in ons CVO-skooltjie leer ons, ons kinders van ons Afrikanervolk se geskiedenis; ons leer dat hulle Geloftekinders is; ons leer hulle dat hulle deel van die Boerevolk is met die Vierkleur, die Vrystaat-vlag en die Kaapse Rebelle-vlag as simbole van vryheid. Ons leer hulle om die adelspraak van ons Afrikanervolk suiwer te besig en te respekteer. Ons leer hulle om God Drie-Enig te dien en om Christus as hulle Messias te eer en lief te hê. Wie en wat is hierdie Kaapse kinders van ons in die oë van ons broers in die Noorde?
Kom ons doen afstand van ons hovaardigheid, kom ons hou op om onsself as ridders te slaan oor offers wat reeds gebring is; of oor ons selfgewaardeerde verhewe lewenshouding vergeleke met slapnek liberale volksgenote. Ons stryd lê nog voor. Ons is Afrikaners, Boere en Boere-Afrikaners – almal een vlees en bloed. Sommige afvallig, sommige met ‘n roepingsbesef. Eersgenoemde is laasgenoemde se vrag in strydende of soewereine staatkundige omstandighede.
In die vryheidstryd vorentoe sal van ons ridders van vandag kompromie-makers word en sal omstandighede moontlik van die slapnek volksgenote helde maak. Kom ons pak die stryd saam aan as dienaars van Christus gedrywe deur die Bloedrivier Gelofte met die begeerte om deur die herstel van Soewereine Volkshuishouding vir Hom getuienis te bring in Staat, Maatskappy en Huis en Haart.