Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat Jesus jou sondes aan die kruis gestraf het sodat jy vergewe kon word? Gaan lei dan met dankbaarheid 'n vrugbare lewe tot eer van sy heilige Naam.
AFRIKANER- KULTUUR AS BASIS VIR DIE STRYD
Dr Hendrik Breytenbach
" Dit is nie die floue protes van 'n Jan Smuts "... maar ek is Boerseun" of die lam verskoning van 'n De Klerk "... ek praat ook Afrikaans", wat van 'n mens 'n Afrikaner maak nie. Dit is die identifisering met, die erkenning en die hoogagting van die sentrale kultuurwaardes van die volk wat 'n mens as Afrikaner stempel. "
Op die voetstuk van die Vryheidsmonument in Vereeniging staan uitgebeitel: GEWOND MAAR ONOORWONNE.
By die onthulling van dié monument op 10 Oktober 1961 het dr Verwoerd die simboliek daarvan met fyn insig só gepeil:
"Daar is wel die besef... dat hier waar die twee republieke hulle vryheid moes wegteken, 'n monument moes verrys wat wys dat die gees van die mens uitstyg bo wat met hom in die lewe mag gebeur, 'n monument om die krag te simboliseer wat tog nog in die mens agterbly selfs in die diepste nederlaag, te midde van die grootste smart. Dit is 'n gedagte wat teenstanders mekaar kan gun en selfs in mekaar kan huldig: dat uit die verganklike die ewigdurende spruit; dat die gees groter en sterker is as die liggaam; dat wonde wat geslaan is, die lewe kan gee aan kragte wat daarin verborge gelê het. Dit is dáárdie grondgedagte wat ons vandag hier simboliseer."
Dit is ook dáárdie grondgedagte wat ons vandag as volk raak. Ons vadere kon ná 31 Mei 1902, net soos ná April 1877, nie uit die vernedering van neerlaag opstaan op die basis van materiële, finansiële, militêre, administratiewe of getalskrag nie. Uit die wonde wat geslaan is, het daar geesteskragte tot lewe gekom wat voorheen sluimerend gelê het. Die kragte het die basis gevorm waarvandaan daar met daadkrag gewerk en geworstel kon word om neerlaag in oorwinning te omskep.
Die omstandighede waarin ons ons nou bevind, is in baie opsigte vergelykbaar met dié van ons vadere. Die mag waaroor ons beskik het om ons eie volkwees te beskerm en ons eiendomlike mee te bevorder en uit te bou, is in die hande van ons vyande oorgegee. Ons is weer teruggedruk tot die posisie waar ons nie anders kan nie as om die kragte van ons gees en wil te monster as basis vir die voortsetting van die stryd. Van dié basis af, mits dit sterk en vas lê, kan ons ook hierdie vernedering omskep in oorwinning.
Ons moet egter geen illusies daaroor hê nie, dat ons vyande nie die Afrikanervolk die reg gun om hierdie basis te bou en te versterk sodat hy daarvandaan die stryd verder kan voer nie. Die aanslag op die geestesgoed, op die kultuureiendomlike van die Afrikaner, is nou reeds en sal in die toekoms toenemend die flitspunt in hulle pogings word om die Afrikaner finaal tot vernietiging te bring.
DIE RAAMWERK VAN KULTUUR
Die vraag werp homself dadelik op: waarin lê die geesteskrag wat vir die Afrikaner as basis van die stryd moet dien? Daarop lui die antwoord onvermydelik: dit is in sy kultuur geleë.
Maar wat is kultuur?
Op dié vraag is daar geen eenvoudige of maklike antwoord te gee nie maar hoofsaaklik is kultuur 'n saak van die mens. Dit is net mense wat kultuurgoedere voortbring. Diere en plante en ander organismes bring hoogstens sisteme voort uit instinktiewe gedrag, maar nie kultuur nie. Dit is immers net aan die mens dat God ook 'n kultuuropdrag gegee het.
Kultuur raak alles wat die mens doen. Dat 'n mens 'n geslagsdrang het, op fisiese wyse verwek en gebore word, eet en drink en grootword, oudword en doodgaan – dit vorm die grootste deel van menslike aktiwiteite. Maar op sigself is dit nie kultuur nie. Wanneer mense aan hierdie aktiwiteite 'n sekere gestalte gee deur dit met sanksies, met goed of kwaad, met maatstawwe van aanvaarbaar of onaanvaarbaar te verbind, word dit tot kultuurgoed gemaak.
Die kultuurskeppende handelinge van die mens is altyd aan norme verbind. Die norme stel die vereistes waaraan die handelinge moet voldoen om binne die waardes te lê wat 'n kultuurgemeenskap stel. Daarom is 'n normlose kultuur ondenkbaar, en is 'n kultuur waarin daar nie aan waardes gestalte gegee word nie, 'n waardelose lewenswyse wat bestem is om te vergaan.
Kultuur is die uitdrukking van 'n bepaalde volksidentiteit. Hoewel sekere kultuurwaardes met ander volke gedeel word in 'n bepaalde beskawingsgemeenskap, is daar ondeelbare en ongedeelde waardes wat aan elke volk sy eie unieke kultuur gee. Daarom is 'n volk, na die definisie van Mühlberg, "...die grootste aanduibare soewereine eenheid wat die betrokke mense self begrip van het en uitdrukking aan wil gee."
Hierdie eenheid waarvan mense weet en waaraan hulle uitdrukking wil gee, is juis uniek omdat hulle saamgesnoer word deur 'n eenmalige, identiteitskeppende verlede enersyds en deur die waardes wat uit die historiese gebeure as unieke waardes na vore gestoot is, andersyds.
Ons moet in dié verband onderskei tussen kernwaardes en periferiese waardes. Die Amerikaanse antropoloog, Ruth Benedict, het reeds in die dertigerjare geskryf dat die lewenspatroon van elke volk besondere sentrale dryfvere of temas het. Dit is dié dryfvere of temas wat ons bedoel met kernwaardes. Sy sê dat elke besondere kultuurfaset in 'n volkslewe harmonies rondom die sentrale temas of dryfvere saam geweef is. Die essensie van 'n volk se identiteit hang saam met die erkenning en hoogagting van hierdie sentrale waardes deur die lede van daardie volk.
Dit, terloops, is een van die gronde waarop die aanspraak van verloopte Afrikaners dat hulle Afrikaners is, as vals uitgewys word. Dit is nie die floue protes van 'n Jan Smuts "... maar ek is Boerseun" of die lam verskoning van 'n De KLerk "... ek praat ook Afrikaans", wat van 'n mens 'n Afrikaner maak nie. Dit is die identifisering met, die erkenning en die hoogagting van die sentrale kultuurwaardes van die volk wat 'n mens as Afrikaner stempel. Die ander grond vir die verwerping van hulle aanspraak om nog as Afrikaners gereken te word, lê gewoon in die feit dat 'n volk van binne uit self sy grense bepaal. Dit is die volk, diegene wat aan die sentrale waardes vasgeknoop leef, wat bepaal of hy iemand reken as behorende tot sy geledere of nie – en nie een of ander uiterlike maatstaf van periferiese aard of die aansprake van die individu nie.
DIE WYER VERBANDE VAN KULTUUR
Teen hierdie breë raamwerk van kutuur as waardevolle handelinge wat gedra word deur sentrale dryfvere of kernwaardes, kan ons die verband raaksien tussen beskawing en kultuur. Elke kultuur is 'n unieke gestalte van 'n bepaalde beskawing. Daarom is kultuur ook wyer as net die unieke en eie. Ten grondslag lê daar selfs 'n dieperliggende gemeenskaplike deler wat beskawing saambind.
Die dieper gemeenskaplike deler lê in die sentrale, skeppingsverordende en sigbare feit van herkoms en afkoms, omdat beskawing en ras onlosmaaklik aan mekaar verbind is. Die groot beskawings in die geskiedenis is een en almal rasverbonde. Selfs nie die groot Hellenistiese beskawing wat sy stukrag uit die veroweringstogte van Alexander die Grote gekry het, was 'n gemengde beskawing nie. Elke poging in die geskiedenis om 'n gemengde beskawing tot stand te bring, het uitgeloop op 'n non-beskawing.
Die waardes wat in 'n beskawing en in 'n kultuur as sentrale dryfvere optree, is nie bloot af te lees uit die eenmalige, identiteitsvormende verlede van mense nie. Dit is onteenseglik waar dat menslike rasse verskil en dat hulle op soortgelyke omstandighede en uitdagings verskillende antwoorde gee in ooreenstemming met hulle herkomsverskille. Die saak is opnuut in die kollig geplaas deur die gepubliseerde werk The Bell Curve deur Richard Hernnstein, in lewe 'n sielkundige aan die Universiteit van Harvard, en die sosioloog Charles Murray. Maar reeds in die sestigerjare het Parkinson 'n uitgebreide teorie van beskawing op grond daarvan die lig laat sien in sy werk East and West.
Sonder om verder op die saak in te gaan moet ons die feit dat die Afrikaner 'n Blanke is, aanmerk as die eerste fondamentklip in die basis van sy kultuur. Om die fondamentklip uit te ruk, is dit nodig om die Afrikaner rasmatig te laat verander. Dit kan gebeur – en daarom is dit 'n voorwaarde vir die stryd dat daar, ten spyte van die risiko om as rassiste gebrandmerk te word, voortdurend klem gelê moet word op die raseie en rassuiwerheid van die Afrikanervolk. Verbastering deur bloedvermenging en die opname van reeds verbasterdes in die volk is nie en mag nooit vir ons aanvaarbaar word nie.
Die beskawingsgemeenskap waarvan die Afrikaner deel is, is nie 'n naatlose monoliet nie. Daar is binne die beskawingsgemeenskap onderskeidings wat nog wyer loop as dié van kultuur. Ons kan dit, in sy wydste verband verstaan, etniese verskille noem. Van afkoms is die Afrikaner nie 'n Oos- of Suid-Europeër nie. Sy afkoms spoor hy hoofsaaklik terug op Wes- en Noord-Europese verbande. Dit spreek dus vanself dat die aanklank wat hy vind by die beskawingswaardes en –temas soos dit gestalte vind in die kulture van die Germaanse volkere-familie, groter is as die aantreklikheid wat die Medittereense volkere uitoefen.
Dit moet dadelik as die tweede belangrike fondamentklip aangemerk word in die basis van ons kultuur. Die Afrikaner moet daarop bedag wees dat die pogings om hom 'n Afrika-mens te maak, nie onskuldig of vir hom voordelig is nie. Dit is 'n poging om hom van sy ankerwortels los te breek en hom van sy bron van sy afkoms af te sny. Ook hierdie fondamentklip moet ons voortdurend weer beklemtoon as noodsaaklike voorwaarde vir 'n hegte basis waarop ons moet bou.
Daar word vervolg in deel twee met DIE SENTRALE WAARDES VAN DIE AFRIKANERKULTUUR.