Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie toelaat dat die handjie vol kosbare aardse ure wat God jou geleen het tussen jou vingers deurglip in 'n transaksie waar jy onsigbare dinge verruil vir sigbare dinge nie – die sigbare dinge is tydelik...
DE KLERK VERNIETIG BLANK SUID-AFRIKA
Mike du Toit
Ons wil u aandag vestig op die besondere werk van MT du Toit, DIE STREWE EN STRYD VAN ONS VOLK 1902-1994 wat vroeg in 2009 die lig gesien het. (Lees resensie by BOEKRESENSIE: DIE STREWE EN STRYD VAN ONS VOLK, 1902 - 1994 )
Hierdie werk bestaan uit 121 hoofstukke waarin erkenning gegee word aan die boeke en geskrifte van mnre JA Marais, CFJ Muller en ander skrywers van die boek VYFHONDERD JAAR SUID-AFRIKAANSE GESKIEDENIS asook BJ Liebenberg en SB Spies se boek SOUTH AFRICA IN THE 20th CENTURY.
Dit kan bestel word by Bienedell Uitgewers by 082 663 1881.
DE KLERK VERNIETIG BLANK SUID-AFRIKA
Op 2 Februarie 1990, met die opening van ons land se Parlement, het De Klerk ‘n hele paar baie belangrike aankondigings gemaak:
• dat hy die verbod op die ANC, PAC en SAKP gaan ophef;
• dat hy alle “politieke gevangenis” insluitende Nelson Mandela gaan vrylaat;
• dat hy die UDF,NECC, COSATU en nog dertig ander verbanne organisasies weer gaan wettig sodat hulle kan optree soos hulle wil;
• dat hy alle noodregulasies gaan skrap;
• dat hy alle teregstellings gaan opskort; en
• dat hy die Wet op Aparte Geriewe (1953) gaan afskaf.
Verder het hy aangedui dat hy ná die implemetering van ‘n “demokratiese grondwet” stemreg aan alle Suid-Afrikaners gee en die afskaffing van Blanke dominansie gaan nastreef. Met dié toespraak van hom het De Klerk in een oomblik ‘n streep dwarsdeur ons volks se hele geskiedenis van ongeveer 350 jaar getrek.
‘n Paar dae na hierdie toespraak het De Klerk vir Mandela uit die Victor Verster gevangenis in die Paarl vrygelaat. Sy vrylating was hoogs nuuswaardig en is deur honderde joernaliste en fotograwe bygewoon. Van die Paarl is Mandela na Kaapstad waar hy ‘n groot skare van die balkon van die stadsaal toegespreek het. By dié geleentheid het hy sy ondersteuners aangemoedig om hulle stryd teen Blanke oppergesag oor Blank Suid-Afrika voort te sit. Hy het gesê dat die militêre stryd en die sanksies-kampanje teen ons land volgehou moet word. Van Kaapstad is Mandela na Johannesburg waar ‘n skare van omtrent 100 000 hom in die Eerste Nasionale Bank Sokkerstadium verwelkom het.
Aan die einde van Februarie 1990 het Mandela na Lusaka gevlieg vir samesprekings met die ANC se National Executive Committee (NEC). In die afwesigheid van Oliver Tambo wat mediese behandeling in Europa ontvang het, is Mandela tot Vise-President van die ANC verkies. In werklikheid het dit daarop neergekom dat hy die leierskap van die ANC oorgeneem het.
In Mei 1990 het ‘n ANC-afvaardiging onder die leierskap van Mandela die Suid-AFrikaanse regering in Kaapstad ontmoet ten einde struikelblokke in die weg van “onderhandelinge” te verwyder. Dié samesprekings het tot die fomulering van die Groote Schuur-minuut gelei waarin die twee partye hulself tot “vreedsame onderhandelinge” verbind het. Hulle het ook oor die volgende vyf punte ‘n ooreenkoms bereik:
• dat ‘n werksgroep bestaande uit beide partye binne drie weke voorstelle oor die vrylating van “politieke gevangenes” moet maak;
• dat voorlopige vrywaring aan lede van die ANC, wat na ons land wil terugkeer, gegee word;
• dat die regering veiligheidswetgewing sodanig verander dat “normale politieke aktiwiteite” kan begin;
• dat die noodtoestand so gou moontlik opgehef moet word; en
• dat kommunikasieweë tussen die regering en die ANC geskep moet word ten einde geweld te voorkom.
Kort na die Groote Schuur-minuut is De Klerk na Europa om die staatshoofde aldaar aangaande sy optrede in te lig. Die leiers van verskeie van dié lande het hom ingelig dat hulle sanksies teen ons land sal ophef as hy voortgaan met sy “hervormings”. Ook Mandela is net na De Klerk op ‘n toer na Europa en die Verenigde State van Amerika. Hy het egter weer die staatshoofde versoek om sanksies eers op te hef wanneer daar met die opstel van ‘n nuwe grondwet vir ons land begin word.
In Junie 1990 het De Klerk die vyf jaar oue noodstoestand in ons land, met die uitsondering van Natal beëindig. Terselfdertyd is ‘n verdere 48 “politieke gevangenis” vrygelaat. In regeringskringe het die vraag egter ontstaan of dit wys is om voort te gaan met die vrylating van gevangenes, terwyl die ANC nog steeds besig is om die gewapende stryd voort te sit.
Vroeg in Augustus 1990 het ‘n ANC-afvaardiging onder leierskap van Mandela weer vir De Klerk en verskeie ander Ministers in Pretoria ontmoet ten einde verdere struikelblokke in die weg van die “onderhandelinge” te bespreek. Hierdie tweede rondte samesprekings tussen die ANC en die regering het tot die Pretoria-minuut gelei waartydens beide partye sekere ondernemings gegee het. Die ANC het aangekondig dat hulle die gewapende stryd onmiddellik opskort. Die regering het weer onderneem om voort te gaan met die vrylating van “politieke gevangenes”, om alle “politieke gevangenes” voor 30 April 1991 vry te laat, om die noodtoestand in Natal so gou moontlik op te hef en om alle verwysings na kommunisme in die Binnelandse Veiligheidswette te verwyder.
Met die ondertekening van die sogenaamde Pretoria-minuut is die basis gelê vir die begin van samesprekings oor ‘n nuwe grondwet vir ons land. Na ondertekening van die Pretoria-minuut het daar egter meer as ‘n jaar verloop voordat daar “samesprekings” tussen De Klerk en die ANC begin het. Daar was hoofsaaklik drie redes waarom daar nie onmiddellik met die “samesprekings” begin is nie:
• onsekerheid oor presies wat die ANC bedoel met hulle verklaring dat hulle die gewapende stryd opgeskort het;
• ‘n verskil van opinie oor die prosedure wat gevolg moet word om die nuwe grondwet op te stel; en
• beskuldigings deur beide die Suid-Afrikaanse regering en die ANC dat die ander party vir die voortslepende geweld in die Swart woonbuurtes verantwoordelik is.
Die ANC het verklaar dat die opskorting van die gewapende stryd nie beteken dat dié tipe optrede volledig opgeskort word nie. Dit het die vraag laat ontstaan wat die ANC presies opgeskort het. ‘n Werksgroep is aangestel om dié verwarring op te klaar. Die werksgroep het ‘n “ooreenkoms” bereik wat in Februarie 1991 by die DF Malan-lughawe in Kaapstad onderteken is – vandaar die naam DF Malan-Akkoord. In hierdie Akkoord is ooreengekom dat die ANC hom van die volgende sal weerhou:
• om aanvalle met behulp van wapens en plofstof op mense uit te voer;
• om mense en materiaal onwettig ons land binne te bring;
• om die skepping van ondergrondse strukture te beëindig;
• om verklarings wat geweld aanmoedig te staak;
• om dreigemente van gewapende geweld te staak; en
• om op te hou om militêre opleiding aan mense binne ons landsgrense te verskaf.
Die ANC was egter nie bereid om sy militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, te ontbind of die wapens in hulle besit in te handig nie.
Die Suid-Afrikaanse regering en die ANC het ook verskil oor die prosedure wat gevolg moet word om ‘n nuwe grondwet op te stel. Die ANC wou hê dat ‘n verkose wetgewende vergadering die nuwe grondwet moet opstel. Die Suid-Afrikaanse regering daarteenoor wou aan bewind bly totdat dié nuwe grondwet opgestel is.
Verder wou die SA-regering ook nie hê dat die nuwe grondwet deur ‘n wetgewende vergadering opgestel word nie maar deur verteenwoordigers van die bestaande politieke partye. Dié verskille is in Januarie 1991 oorkom toe die ANC voorgestel het dat ‘n Veelparty Konferensie die breë riglyne moet neerlê waarbinne die nuwe grondwet opgestel kon word.
Aangesien dié ANC-voorstel in ooreenstemming met die SA-regering se idee van ‘n Veelparty Konferensie was, is dit deur die SA-regering aanvaar.
Die laaste struikelblok in die weg van “onderhandelinge” was die voorslepende geweld in die Swart woonbuurtes. Dié geweldpleging is veroorsaak deur die magstryd tussen die IVP en die ANC. Dit het egter dikwels gebeur dat die polisie die IVP teen die ANC gesteun het.
In die begin van April 1991 het die ANC dus ‘n ope brief aan De Klerk gestuur waarin die SA-regering vir dié geweld verantwoordelik gehou is. Die ANC het gevolglik die SA-regering gedreig dat hulle alle “onderhandelinge” oor ‘n nuwe grondwet gaan opskort indien De Klerk nie voor 9 Mei 1991 aan die volgende eise voldoen nie:
• die verbanning van wapens by politieke byeenkomste;
• die afdanking van die Minister van Wet en Orde, Adriaan Vlok, en die Minister van Verdediging, generaal Magnus Malan;
• die ontbinding van alle spesiale teen-insurgensie-eenhede soos die Askari’s, Bataljon 32, die Burgerlike Samewerkingsburo, Koevoet en die Z-eenheid;
• die skorsing van alle polisie-offisiere wat in die skietvoorvalle by Sebokeng (Maart 1990) en Daveyton (Maart 1991) betrokke was;
• die uitreiking van ‘n versekering dat ons land se Veiligheidsmagte van beskaafde metodes gebruik sal maak om skares te beheer;
• die uitfasering van hostels en kampongs vir Swartes; en
• die aanstelling van ‘n onafhanklike Kommissie van Ondersoek om wangedrag in polisiegeledere te ondersoek.
Die SA-regering se antwoord op die ANC se eise was om alle partye na ‘n konferensie oor geweld en intimidasie uit te nooi. Die IVP het die uitnodiging aanvaar maar die ANC, PAC, ASAPO, COSATU en die SA-Raad van Kerke het dit verwerp. Ten spyte hiervan het hierdie konferensie wel van 24 tot 25 Mei 1991 in Pretoria plaasgevind en is deur ongeveer 200 mense bygewoon. Daar is besluit om ‘n stel gedragsreëls vir alle partye, insluitende die polisie, op te stel waarin aangedui word hoe mense teenoor mekaar moet optree. Daar is ook besluit dat dié partye wat nie by die konferensie teenwoordig was nie na ‘n volgende gesamentlike Vredeskonferensie genooi moes word en dat dr Louw Alberts moet probeer om al die verskillende partye bymekaar te bring.
Terwyl die reëlings vir ‘n volgende gesamentlike Vredeskonferensie aan die gang was, het die ANC in Durban byeengekom vir hulle nasionale konferensie. Dit was die eerste naskonale konferensie van die ANC sedert 1958 wat binne ons land se grense gehou is. Dié konferensie het van 2 tot 6 Julie 1991 geduur en is deur 2 345 afgevaardigdes en ongeveer 350 waarnemers bygewoon. Nelson Mandela is tot President van die ANC in Oliver Tambo se plek verkies en Cyril Ramaphosa van die National Union of Mineworkers (NUM) is as Sekretaris-Generaal aangestel.
Die konferensie het besluit om “onderhandelinge” met die SA-regering te ondersteun; maar daar is ook besluit om van massa-organisasie en –mobilisasie as wapen gebruik te maak. Daar is ook verder besluit dat die ANC ‘n “nasionale bevrydingsbeweging” sal bly en nie na ‘n politieke party sal omskakel nie.
Gedurende Julie 1991 het berigte in die pers begin verskyn dat die SA-regering in die geheim groot somme geld in die IVP se bankrekening inbetaal het. Die Minister van Wet en Orde, Vlok, het later erken dat R250 000 in November 1989 en in Maart 1991 vir die IVP gegee is. Daarbenewens is R1,5 miljoen deur middel van die polisie aan die IVP se vakbond, UWUSA, gegee.
Die Minister van Buitelandse Sake, Pik Botha, het volle verantwoordelikheid vir dié betalings aan die die IVP aanvaar. Hy het beweer dat dit geregverdig was aangesien die IVP dit gebruik het in die anti-sanksie kampanjes op ‘n tydstip toe ons land deur sanksie bedreig is. Die feit dat die SA-regering in die geheim geld vir die IVP gegee het, vir watter rede ook al, was ‘n duidelike aanduiding van een of ander alliansie tussen dié twee partye.
Mandela het die SA-regering se verleentheid tot sy voordeel benut en die regering gedreig dat as hulle nie hulle “dubbele agenda van kriminele operasies en vredesamesprekings” staak nie, sal die ANC alle “samesprekings” met die regering opskort.
De Klerk het gebuig soos die ANC dit wou hê en ministers Vlok en Malan in minder belangrike kabinetsposte aangestel. De Klerk het ook nuwe maatreëls aangekondig wat strenger beheer oor geheime fondse sou verseker.
De Klerk se planne om alle belangegroepe byeen te bring by ‘n Vredeskonferensie het uiteindelik gerealiseer toe politieke-, godsdienstige- en besigheidsleiers in Junie 1991 in Sandton byeengekom het. Hier is vyf komitees op die been gebring wat voorstelle moes formuleer oor hoe die geweld in die land tot ‘n einde gebring moes word. Die vyf komitees het hulle werk in Augustus voltooi en hulle voorstelle gekombineer in die Nasionale Vredes-Akkoord. Dié dokument is in September 1991 in Johannesburg deur 29 belangegroepe waaronder die regering, die ANC en die IVP, onderteken.
Die Nasionale Vredes-Akkoord was ‘n dokument wat onder andere gedragsreëls neergelê het wat alle politieke partye en die polisie moes navolg. Daar is ook voorsiening gemaak vir die totstandkoming van ‘n Nasionale Vredeskomitee, ‘n Nasionale Vredessekretariaat en ‘n permanente Kommissie van Ondersoek aangaande die Voorkoming van Openbare Geweld en Intimidasie. Dit was egter baie gou duidelik dat dié dokument nie eers die papier werd was waarop dit geskryf is nie aangesien die ANC doodeenvoudig voortgegaan het met geweldpleging en intimidasie.
Na ondertekening van die Nasionale Vredes-Akkoord het die SA-regering begin om voorbereidings te tref vir ‘n Veelparty Konferensie wat riglyne moes neerlê oor hoe die nuwe grondwet opgestel moes word.
Teen die einde van November 1991 het 20 politieke groeperings (regerings en politieke partye) in Johannesburg byeengekom om te begin met die nodige reëlings vir die voorgestelde Veelparty Konferensie.
Daar is besluit dat die Veelparty Konferensie Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika KODESA sal heet, en dat die regering of party deur 12 afgevaardigdes verteenwoordig sal word. Ten laaste is die leier van die DP, Zach de Beer, aangestel as die voorsitter van ‘n reëlingskomitee wat die finale voorbereidings vir KODESA 1 moes tref.