Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om iemand te troos is een van die belangrikste maniere van omgee. Die Christen hoef nooit sonder troos te lewe nie want God is altyd daar vir ons. Selfs te midde van ons grootste krisisse vertroos Hy ons deur sy Gees en deur die beloftes in sy Woord. Daarom is mense wat self swaargekry het, soveel beter toegerus om ander mense raak te sien wat troos nodig het. En as daar niemand is om jou te troos nie, onthou daar is heeltyd Iemand wat presies weet hoe om dit te doen.
DIE NUWE JERUSALEM
Ds. A.E van den Berg
“Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam” (Openb.3:12).
Inleiding
Die bewoording Nuwe Jerusalem word tweemaal in die Bybel vir die simboliese stad van die gelowiges in die hiernamaals gebruik en die inwoners daarvan die bruid van Christus genoem. Hierdie stad is ná die oordeelsdag die ewige tuiste van alle gelowiges en nie die hemel nie. Die Paradys is die wagkamer na die Nuwe Jerusalem waar gelowiges hul ná hul dood bevind.
Niemand gaan hemel toe nie. Dis die uitsluitlike woonplek van God en sy engele. Jesus sê self dat daar geen mens in die hemel is nie:
“En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Joh.3:13).
As daar van Henog en Elia geskryf word dat hulle in die hemel opgeneem is, word die Paradys, die wagkamer na die Nuwe Jerusalem, genoem. Jesus sê vir die misdadiger aan die kruis op Golgota:
” ... Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Luk.23:43).
In die Paradys ervaar gelowiges alreeds ongekende vreugde omdat hulle weet dat die Nuwe Jerusalem ná die oordeelsdag as hul ewige tuiste op hul wag. Met ongelowiges is dit baie anders gesteld; hulle gaan ná die dood na die doderyk. Dis die wagkamer na die hel, waar hulle in afwagting van hul ewige straf tot die oordeelsdag sal bly. In hierdie wagkamer is daar geen vreugde of iets om na uit te sien nie; presies die teenoorgestelde van die Paradys.
Die Bybel skets die doderyk as ʼn plek van ʼn geween en ʼn gekners van tande wat die ergste berou beskryf. Wie daarin verkeer, weet dat hul lot verseël en dit te laat vir bekering is. Die verhaal van die ryk jong man in Luk.16 skets dit:
“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem” (Luk 16:23).
Hierdie jong man was selfs oor sy ongelowige broers bekommerd:
“En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie” (Luk.16:27,28).
Die Bybel beskryf die uiteinde van die ongelowiges:
“... en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:13,14).
1. Die Nuwe Jerusalem
Die Bybel beskryf die Nuwe Jerusalem as ʼn stad wat uit die hemel neerdaal en derhalwe van God kom. Sodra dit gebeur, verlaat die gelowiges die wagkamer van die paradys vir hul ewige woning. Die stad het volgens Openb.12 fondamente waarop die name van die 12 apostels geskryf staan. Dit is omdat gelowiges hul geloof op dit wat die apostels in opdrag van Jesus geleer het, bou:
“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is” (Efes.2:20).
Die ou Jerusalem wat ʼn voorafskaduwing van die nuwe een was, was die aardse setel van God vanwaar koning Dawid en sy nakomelinge oor die uitverkore volk regeer het:
“So het Salomo dan op die troon van die Here gaan sit as koning in die plek van sy vader Dawid, en hy was voorspoedig; en die hele Israel was hom gehoorsaam” (1 Kron.29:23).
God het Jerusalem liefgehad:
“Sy grondvesting is op heilige berge. Die Here het die poorte van Sion lief bo al die wonings van Jakob. Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God! “ (Ps.87:1-3) .
2. Ou Testamentiese verwagtinge
Gelowiges het al in die tyd van die OT van die komende ewige stad geweet. Twee van die profete het selfs toekomsgesigte daarvan ontvang (Eseg.40-48; Jesaja 66). Esegiël wat tydens die ballingskap opgetree het, het in die gesig wat hy van ʼn nuwe Jerusalem weet Juda se hoop op verlossing laat opvlam.
Jesaja se profesie is baie na aan dié van Esegiël. In Jes.65:17-25 word van ʼn nuwe stad as ʼn huis van vrede asook die vervulling van God se beloftes vir die gelowiges gewag gemaak:
“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE” (Jes.65:17,25).
3. Openbaring 21
Openb.21 gee vir lesers ʼn kort beskrywing van die Nuwe Jerusalem om diegene wat ernstige geloofsvervolging ervaar het, op te beur:
“ En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin” (:24).
Die stad lyk vir Johannes soos ʼn vleklose diamant wat die heerlikheid van God uitstraal. Dis ook net vir gelowiges toeganklik:
“En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam” (Openb.21:27) .
Wie nie gered is nie, bevind hul vir ewig buite God se genade:
“Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” (Openb.22:15).
Onbekeerdes kry nie ʼn tweede kans om die stad te betree soos wat sekere sektes beweer nie. Die Nuwe Jerusalem is slegs vir diegene wie se name in die boek van die lewe geskryf is opsy gesit.
“Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openb.5:9).
Openb. 21 sê genoeg om te weet dat dit ʼn stad is waarna alle gelowiges uitsien omdat God vir ewig daarin sal wees. Selfs Abraham het daarna uitgesien:
“Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr.11:10).
Die indrukwekkende mure wat Johannes van die ewige stad in sy gesig sien, dui op die heerlikheid van Jesus se teenwoordigheid daarin. Dis van die mooiste boumateriale en salig op die oë. Wat ʼn kontras is dit nie met hulle wie se name nie in die boek van die lewe staan nie en vir ewig in duisternis gaan deurbring!
4. God se belofte
Die Nuwe Jerusalem is die vervulling van God se ewige belofte aan gelowiges:
“Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet.3:12,13).
Wanneer God se hoogste goedheid in die Nuwe Jerusalem verwerklik, is die ou aarde en sy dinge iets van die verlede:
“...sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Pet.1:4).
“En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Openb.21:7)
Petrus skryf:
“...julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Pet 3:11,12).
Die hartklop van Openb. 21 en 22 is ongetwyfeld die nuwe volmaakte en glorieryke teenwoordigheid van God in die Nuwe Jerusalem. Die ou wêreld is vir altyd verby. God het ʼn nuwe wêreld geskep en sy stempel daarop geplaas.
“En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam” (:22).
Dit sluit by Joh.8:12 aan:
“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê”.
Slot
Ná die oordeelsdag word die deur van die wagkamer (Paradys) oopgemaak en gaan die gelowiges na die Nuwe Jerusalem met groot blydskap binne. Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nou een. God en die gelowiges is nie meer geskei nie en sy woonplek by die gelowiges self:
“Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openb.21:3).