Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die kern van Christelike liefde is nie ons onwilligheid om lief te hê nie, maar die vaste wete dat God óns liefhet.
BLY GETROU
Ds Andrè van den Berg
“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het”- 2 Tim.3:14
By geleentheid loop ʼn hond met ʼn been in sy bek oor ʼn bruggie. Toe hy die weerkaatsing van sy gelaat in die water sien, lyk die been in die water baie groter as die een in sy bek. Hy los dit toe om die ander een te probeer kry. So gaan dit ook met mense wat iets het en dit vir iets anders wat eintlik nie bestaan nie, verloor.
Baie mense wat in Gereformeerde kerkverbande grootgeword het, belydenis van geloof afgelê en God beloof het om aan die leer van hul kerk getrou te wees, het al openlik vir God gelieg toe hulle die gesonde leer vir iets wat op die oog af beter gelyk het, laat vaar het. Ek praat van dwaalleer.
Dwaalleer is so oud soos die Christelike kerk self. Die toename daarvan is egter een van die voorspelde tekens van die eindtyd. Paulus noem dit die afval. Hierdie afval is die laaste fase net voordat die Antichris bekend gemaak word omdat hy die kerk gaan beheer: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die seun van die seun van die sonde geopenbaar word...” (2 Tess.4:3). Dwaalleer is ʼn kragtige instrument in sy hand!
Let op die duidelike patroon – eers kom die afval, daarna die heerskappy van die Antichris. Hierdie afval raak nie net individue nie, maar ook kerke. Let op die ontwrigte kerklike terrein plaaslik en internasionaal. Mense verlaat toenemend die ou geseënde paaie vir die nuwe paaie van misleiding.
Talle hoofstroomkerke het alreeds die ou paaie en gesonde leer verlaat en hul voete op die afdraande pad van wêreld-gelykvormigheid geplaas. Daarom hoor ons gereeld van kerke wat in die dryfsand van hul eie toedoen weggesink; ʼn afvalligheid wat na die einde toe nog orkaansterkte gaan bereik.
Paulus moedig die gelowiges in Thessalonika aan om dwaalleraars teen te staan. Hulle gaan van krag tot krag en mislei baie mense. Gelowiges mag dit nie sito-sito aanvaar nie. Gelowiges moet hul geen inkomkans gee of by hul slim praatjies betrokke raak nie. Wie geen liefde vir die waarheid het nie, misbruik baie maklik die mag wat aan hom toevertrou is!
Vir gelowiges gaan dit oor kennis van die waarheid en hierdie kennis word slegs d.m.v. ʼn deeglike studie van die Woord van God gevind. Christus waarsku die skrifgeleerdes dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Hulle het gemeen dat hulle ʼn goeie kennis van die waarheid het, maar dit was nie so nie.
Kennis van die waarheid van die Skrif word die leer van Christus genoem. Daarsonder sal niemand hemeltoe gaan nie. “Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh:9).
Omdat dwaalleer aan die waarheid mank gaan, is dit ʼn siek leer. Paulus eis van gelowiges om aan die gesonde leer getrou te bly en dwaalleer te vermy: “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie.... nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hul verstand en van die waarheid beroof is... Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:3-5).
Paulus vra hulle om al die woorde wat hy gespreek het, as die waarheid te aanvaar en daaraan vas te hou: “Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het...” (2 Tim.1:13). Die vroeë Christelike kerk was besmet met ongesonde woorde van dwaalleraars.
In die Bergrede eis Jesus van gelowiges om sout van die aarde en lig van die wêreld te wees. Dis slegs moontlik deur die waarheid te verkondig en het ʼn heilsame effek: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor" (1Tim.4:16).
Hier is ʼn groot waarheid ter sprake: Woorde wek, maar voorbeeld trek. As iemand jou hoor die waarheid praat, is jy ʼn getuie vir God: “As jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy ʼn goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy ʼn navolger geword het” (1 Tim.4:6).
Die Woord van God sê ook vir diegene wat ʼn kerkamp beklee, dat hulle ʼn deeglike kennis van die waarheid moet hê: “...een wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Tit.1:9).
Dis ʼn wonderlike voorreg om in ʼn huis groot te word waar ouers ʼn liefde vir die waarheid het en dit deeglik by hul kinders inskerp. Die Psalmdigter skryf: “O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders” (Ps.71:17). Salomo skryf: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr.22:6).
Maar hoe hartseer moet dit nie vir ouers wees om ʼn kind groot in die waarheid op te voed en ʼn liefde vir die kerk te kweek en dan te moet sien hoe hy/sy dwaalleer ten prooi val nie! Daarom praat Paulus baie ernstig met die jong Timoteus wat dwaalleer moes trotseer: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het”.
Waarom swig so baie mense voor dwaalleer? Benewens ʼn gebrek aan deeglike Skrifkennis, raak sommige mense letterlik verveeld met die “eentonigheid” van die waarheid soos wat getroue kerke dit nog verkondig. Hulle soek na iets nuuts; meer opwindend. Hulle smag na ʼn variasie op die tema. En daardeur gee hulle Satan die vatkans waarop hy wag. Hy saai, net soos met Eva in die tuin van Eden, twyfel in hul hart – is die waarheid werklik die waarheid?
Mense hou van verandering en iets nuuts, ook heidene: “En nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê of te hoor nie” (Hand.17:21).
Dwaalleer beroof mense van waarheidskennis. Dit maak hulle los van die gemeenskap van die gelowiges asook van al die geseënde kerktradisies. So ʼn persoon bevind hom buite die raamwerk van die kerk en lees die Bybel nie meer binne die raamwerk van die waarheid soos wat die kerk verkondig nie. Hy het net ore vir dwaalleraars se praatjies. Daar is niks so verraderlik soos welsprekende leuenaars nie!
Wie sy ore aan dwaalleraars uitleen, wil spoedig nie meer die waarheid hoor nie; slegs wat hy wil hoor. Hy kry dan ook wat hy soek, maar dis nie die dinge wat sy siel nodig het nie! Hy soek na ʼn lekker kerk en nie na die waarheid nie. Dit laat hom na aan die kerk, maar ver van God af beweeg. Sy siel raak siek!
“Want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede” (2 Tim.4:3).
Ons staan op die vooraand van die wederkoms van Christus; kerklike verval is in volle swang. Die openbaarmaking van die Antichris is op hande. Wat staan ons te doen? “Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas.... Betoon jou in alles ʼn voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer...” (Tit.2:1,7). Geen dwaalleraar kan sê: “So spreek die Here” nie. Dis ons taak as gelowiges!
Mense is nog steeds baie godsdienstig, selfs meer as ooit, maar hulle ken Jesus nie. Kerklike tierlantyntjies wel! Die ware beeld van Jesus Christus word deur ʼn spieël vervang soos die hond met die been in die water.
Ons het ʼn gewigte taak: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim.4:2). Gelukkig is die leuen ’n ligte ruiter. Die waarheid gooi hom maklik af. Die beste manier om te wys dat ʼn stok krom is, is om ʼn reguit een langs dit neer te sit.
In die ou tyd het ʼn koning of goewerneur ʼn openbare aankondiger (herout) gehad wat alles wat die koning aan die volk bekend wou maak, met ʼn harde stem uitgeroep het. Dis ons taak om die waarheid uit te roep. Maar daarvoor sal ons die Bybel baie ernstiger moet bestudeer. En moenie sê dat jy nie tyd het nie! Luister wat sê Jesus van iemand wat sy plig ontduik het: “En werp die nuttelose kneg uit in die buitenste duisternis..,..” (Mt.25:30).
Ons het geen groter verantwoordelikheid as teenoor die waarheid nie. Die waarheid is ʼn verblindende lig. Die leuen daarenteen is pikdonker. Dit kan onderskei word. Om jou in die Here te verbly, beteken om jou in die waarheid te verbly. ʼn Gelowige wat die waarheid nie meer beskerm nie, het geen bestaansreg nie. As daar ooit ’n tyd was om die waarheid te spreek, is dit nou. God is oral waar die waarheid seëvier. Mag die prys vir die stryd om die waarheid nooit te hoog wees nie!
Amen!