Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As Christen is daar vir jou 'n baie duidelike opdrag in die Woord:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom; want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van Godsaligheid het maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. " – II Tim 3.
GOD GEBRUIK GEWONE MENSE! (3)
Terry Virgo
Lees reeks by God gebruik gewone mense!
“Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe" — Spreuke 4:18
As 'n mens die Here Jesus die eerste keer ontmoet, is jy soos iemand wat na 'n lang nag van algehele duisternis in die lig kom. Waar jy vroeër weinig of niks van die Here af geweet het nie, ken jy Hom skielik persoonlik.
Maar die spreukedigter sê vir ons dat hierdie eerste kennismaking soos "die lig van die môreglans" is — dit is bloot die eerste lig wat oor jou lewe val. En net soos die eerste strale van die son vervang word deur die vol lig van die dag, wil die Here ook hê dat dit so moet wees in die lewe van sy kinders. Ons moenie by die dagbreek vassteek nie, maar tot groter heerlikheid in God vorder.
Soos Dawid, sal ons ook leer dat dit nie altyd so maklik is nie. Die pad na die hemel is nie altyd gelyk en glad nie en daar is baie berge en heuwels en ongelyke dele wat aandag entyd verg.'n Mens sou byna kon sê dat Dawid met groot "fanfare" op die toneel verskyn. Eers maak hy die reus dood en verseker so die oorwinning vir sy volk, dan gaan hy sommer dadelik saam met Saul se leërs uit en behaal die een skouspelagtige sukses na die ander. Dis nie lank nie of hy is 'n volksheld. 'n Mens wonder byna of daar nog enige hoogtepunte kan oorbly na alles wat hy reeds bereik het. En tog sien ons hoe hy die een hoogtepunt na die ander behaal. Ons weet ook dat die Here groot planne met sy lewe gehad het — maar aan die ander kant weet ons dat Dawid ook deur diep valleie sou moes gaan om anderkant uit te kom.
Hy sou deur 'n vallei van beproewing moes gaan waardeur min mense seker ongeskonde sou gekom het, en tog was dit juis daar wat hy ten beste vir die groot taak wat op hom gewag het, voorberei sou word.
Teenstand
Dawid het seker baie bevoorreg gevoel toe hy in Saul se leër opgeneem is. Hy sou voortaan nie meer die jongste in die huis wees wat net die skape kon oppas nie — nee, hy was 'n volwaardige soldaat, sterk genoeg om te veg vir die koning vir wie hy soveel bewondering het. Daar was by hom geen sweem van negatiwiteit teenoor die koning nie. Hy het hom bewonder en was bereid om hom met sy Iewe te verdedig. Ja, Dawid was in alle opsigte 'n toegewyde en lojale onderdaan van koning Saul.
Tog sien ons dat die ongeluk homkort voor lank tref, en dat dit uit 'n baie onverwagse oord kom, naamlik van die koning self! As soldaat het hy natuurlik verwag om teenstand van vyandelike leër s te kry en was hy ook voorbereid daarop. Maar die koning se jaloesie was seker vir die jong Dawid 'n groot skok.
Saul is vir my een van die mees tragiese figure in die hele Bybel. Hy was beslis nie hooghartig of arrogrant toe Samuel hom die eerste keer ontmoet het nie. Inteendeel — hy was nederig, toegewyd en 'n soldaat. In daardie stadium het hy ook baie duidelik onder die leiding en salwing van die Heilige Gees gestaan. Saul was dus 'n uiters geskikte kandidaat vir die koningskap. En tog weet ons dat hy klaaglik misluk het. Hy het dit natuurlik geweet en daarom het hy geen geheim gemaak van sy jaloesie op die dapper jong Dawid nie.
Ons lees ook van 'n ander leier in die Ou Testament wat geweet het dat God iemand anders gekies het om hom op te volg. Eli was egter verstandig genoeg om te verstaan dat hy misluk het en het die jong Samuel op sy taak as dienaar van God voorberei en nie in sy pad probeer staan nie. Dit was presies die teenoorgestelde van wat Saul gedoen het! Hy was so bitter en jaloers op Dawid, dat hy glad nie vrede kon maak met die jong man se sukses nie.
Ons moet hieruit leer om nie kwaad te wees as iemand anders deur die Here aangewys word om as leier in sy koninkryk op te tree nie. Aanvaar liewer dat daardie persoon deur God self gesalf is en respekteer hom daarvoor. Moet ook nie toelaat dat negatiewe emosies en jaloesie jou laat swig voor die versoeking om oor so iemand te loop en skinder nie. Onthou, hy of sy is deur God self in daardie posisie aangestel.
'n Mens wat deur God in 'n bepaalde posisie aangestel is, sal altyd teenstand ervaar. Net soos Jesus bittere teenstand van die geestelike en volksleiers van daardie tyd ervaar het, het Christene deur die eeue heen agtergekom dat dit nie maklik is om deur God in 'n leiersposisie geplaas te word nie. Ons hoef maar net die verhale van mense soos Whitefield en Wesley, Spurgeon en William Booth, stigter van die Heilsleer, te lees om te besef dat die pad na die hemel nie met rose besaai is nie. Booth is in sy leeftyd selfs as die Antichris bestempel! En wat dit nog meer onbegryplik maak, is die feit dat al hierdie mense maar net besig was om die Woord van God te verkondig - en in die lig van sy Gees te lewe.
Dit is ongelukkig so dat mense wat die seën van God in hulle lewens ervaar, dikwels deur ander verwerp en verguis word. Dawid het beslis nie moeilikheid gesoek nie. Sy gesindheid teenoor die koning het glad nie verander nie — en tog moes hy vir sy lewe vlug. Moet dus nie verbaas wees as jy ook teenstand kry nie. Moenie daarna gaan soek nie, maar moet ook nie toelaat dat dit jou intimideer nie. Hou net aan om in die lig van die Gees te lewe en sy leiding te volg. Leer ook soveel as wat jy.kan uit die dinge wat met jou gebeur en onthou dat jou hele lewe in God se hande is en dat Hy alles wat met jou gebeur, ten goede sal laat meewerk. Ja, onthou: "die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem" (Heb. 12:6).
Dis goed vir 'n plant om gesnoei te word
Die Groot Tuinier weet presies hoe elke plant gesnoei moet word. Hy weet ook dat dit vir sy plante goed is om van tyd tot tyd gesnoei te word en dat hulle dan soveel meer vrugte kan dra. Hy het dag en nag sy oog oor Dawid gehou. Hy het besef dat hy nog maar 'n jong man was en dat hy nog baie moes leer. 'n Mens weet ook natuurlik nie hoe hy dit sou hanteer het as dit van die begin af net goed en voorspoedig met hom sou gegaan het nie. Sou al die roem en bewondering vir hom goed gewees het?
Só sien ons dus dat Dawid se lewe skielik verander. Byna oornag word hy 'n vlugteling en uitgeworpene in plaas van 'n nasionale held. Dit is so erg dat hy letterlik in grotte moet wegkruip om aan die lewe te bly — maar aan die einde van die verskriklike tyd is hy nie net ‘n sterker mens nie, maar ook die aanvoerder van 'n sterk en baie lojale leër. In daardie "snoeityd" het die Here hom ook uit die openbare lewe onttrek om hom te beskerm en te slyp.
Ek het 'n rukkie gelede 'n TV-onderhoud met 'n bekende ster gesien. Hy is al in die veertig, maar probeer nog steeds uitvind wat die sin in die lewe nou eintlik is. Toe hulle die onderhoud met hom gevoer het, was hy juis weer in 'n hewige stryd teen drankverslawing gewikkel en het hy vertel dat sy probleem begin het omdat hy nie daarin kon slaag om sy skielik roem te verwerk nie. Die gevolg was dat hy, in sy eie woorde, "nog steeds soos 'n tiener lewe."
Dit blyk duidelik uit die kerkgeskiedenis dat jong mense selde deur die Here in leiersposisies aangestel word. Ons moet onthou dat die Here sy kinders so liefhet dat Hy hulle nie aan verantwoordelikhede sal blootstel voordat hulle geestelik daarvoor toegerus en opgewasse is nie.
Die snoeiproses is soms seer
Daar kom 'n tyd in die lewe van elke Christen dat jy gesnoei moet word. Dit is onvermydelik. Ons lees in Johannes 15 dat die Here nie net die takke wat vrugte dra snoei nie, maar ook die wat nie vrugte dra nie. Die takke wat vrugte dra, word gesnoei, die ander word afgesny. Dit voel soms asof die Here dinge wat vir 'n mens baie kosbaar is, wegsny — mense wat vir jou belangrik is, of 'n werk wat 'n groot rol in jou lewe gespeel het. Ja, soms is die snoeiproses so pynlik dat dit voel of jou hart wil breek.
Daar was ook 'n tyd in my lewe toe ek eensaam en "afgesny” was omdat die Here besig was om snoeiwerk in my lewe te doen. Ek was in Londen, en ek en 'n vriend was besig om in een van die groot en bekende parke te stap. Die roosbome was nie net kaal en sonder blare nie, maar ook baie klein, weinig meer as stammetjies het oorgebly nadat die tuinier met sy snoeiskêr ingelê het. "Kyk hoe het hy die rose versnipper," het ek teenoor my vriend opgemerk.
"Nee, as jy mooi rose wil hê, moet jy hulle so deeglik snoei”, het hy geantwoord en toe vir my verduidelik waarom dit nodig is om so byna genadeloos te snoei. Ek onthou nog die vreemde ervaring in my binneste terwyl hy vertel het, want ek het besef dat dit ook in my lewe die geval was. Het jy dit ook al ervaar? Weet jy wat wat dit is om soos 'n droë, lewelose stukkie stam te voel? Onthou dan net dat die Here weet wat Hy doen. Wees net geduldig en sê vir Hom dat jy bereid is om dit wat Hy jou gee, uit sy Vaderhand te ontvang.
Dawid was die een dag nog in die voorste linie — net om binne dae'n vlugteling in 'n grot te wees. Die een dag was hy nog saam met die dapperstes van die volk, en die volgende tussen ander uitgeworpenes en eensames soos hy.
Die Here snoei sy bome op baie verskillende maniere. Jy het dalk kort gelede na 'n nuwe dorp of stad verhuis en voel eensaam en afgesny. Skielik is jy nie meer 'n bekende in jou kerk nie en weet niemand eers van jou nie. Of miskien is jy onlangs getroud, en vind jy nou tot jou ontsteltenis uit wat dit beteken om nie meer so onafhanklik en vry te wees en te kom en gaan soos jy wil nie. Nou moet jy skielik bou aan hierdie nuwe verhouding waarin jy jou bevind en is daar 'n ander persoon wie se behoeftes jy ook in ag moet neem. Of het julle nou onlangs julle eerste baba ryker geword? By al die vreugde impliseer dit natuurlik ook 'n groot klomp nuwe verantwoordelikhede. Of het jy onverwags te staan gekom voor die realiteit van siekte in 'n familie wat tot nou toe nog altyd wonderlik gesond was? Hoe dit ook al sy, as die Here besig is om jou te snoei, sal jy dit weet. Dit is nie net pynlik nie, maar laat 'n mens ook enersyds gebonde en andersyds afgesny voel.
Dis hoe Dawid gevoel het. Is dit dalk hoe jy op die oomblik voel? Beny jy die ander mense wat vir jou so vry en ongebonde lyk? Onthou dan net dat die Here goed weet waarmee Hy in jou lewe besig is. Vertrou op Hom, want daar is 'n rede waarom Hy dit doen.
Gehoorsaamheid
As die Here ons van dinge weerhou of ons verhinder om sekere dinge te doen, moet ons weet dat daar 'n goeie rede voor is. Ek wil dit graag aan die hand van 'n voorbeeld verduidelik. Stel jou 'n pragtige koets voor wat deur ses perde getrek word. Die koets hou stil en die koetsier klim af want daar is iets onder een van die wiele. Die perde is 'n lus vir die oog. As een van hulle nou op loop sou sit en die ander sou volg, sou die koetsier natuurlik onder die wiele beland, maar hy is nie bang daarvoor nie, want hy weet dat hulle doodstil sal staan.
Dan kom daar twee jong vulletjies van voor af aangegalop. Dis wilde vulletjies en dit lyk kompleet of hulle die ses perde voor die koets uitdaag om los te breek en saam met hulle oor die oop veld te te galop. Die ses perde bly egter doodstil staan en verroer nie 'n spier nie, kompleet asof hulle die vulletjies ignoreer.
Die koetsier vang uiteindelik albei vulletjies met 'n tou wat hy in die koets het, en maak hulle daaraan vas. Hy neem hulle daaraan vas. Hy neem hulle na ‘n kampie waar hy hulle inbreek en leer. Dit is 'n lang en frustrerende proses en die vulletjies raak meer as een dag bitterlik gefrustreerd om so ingehok te moet wees. Die een raak later so ongelukkig met sy omstandighede dat hy oor die draad spring en koers kies, die veld in.
Die ander een bly agter en raak geleidelik aan die dissipline gewoond. Die leerproses is nie maklik nie, maar hy begin verstaan waarom dit noodsaaklik is. Dan is sy opleiding uiteindelik verby. Word hy weer vrygelaat? Nee. Inteendeel — hy is nou ‘n vir alle praktiese doeleindes, nog meer ingehok as tevore. Hy kan nie eers meer vryelik in die kampie rondgalop nie, maar mag nou net maak soos sy meester vir hom sê.
Die twee vulletjies sien mekaar weer op 'n dag. Die een wat losgebreek het, staan en wei in die veld. Hy hoor iets en kyk op. Dit is die koning se koets wat verbyry — en heel voor is sy maat van lank gelede. Hy is nie meer 'n wilde vul nie, maar 'n pragtige sterk perd.
Albei was vroeër vry. Hulle kon maak soos hulle wil en niemand het enige beheer oor hulle gehad nie. Toe breek die dag aan waarop hulle moes kies. Die een was bereid om deur die koetsier gevang te word. Toe moes hulle kies. Die een was bereid om hom aan die gesag te onderwerp, maar die ander een het in opstand gekom. As ons die beginsel op onsself toepas, kon ons sê dat dit makliker is om jou eie baas te wees, want dan hoef jy nie teen enige gesag in opstand te kom nie — net soos die twee vulletjies nie nodig gehad het om teen enigiets in opstand te kom terwyl hulle nog vry was nie. Maar voordat jy jou nie aan gesag onderwerp nie kan jy ook nie in die Koning se huishouding opgeneem word nie.
As 'n mens gered word, voel jy vry, nie waar nie? Dít is immers ‘n bevryding om van die sonde losgemaak te word. Die Here verhoor jou gebede op wonderbaarlike maniere en red jou uit situasies waarin jy dikwels as gevolg van jou eie onkunde of swakheid beland. Maar dan breek die volgende fase in jou geestelike lewe aan, en of jy moet kies of jy jou aan God se dissipline gaan onderwerp of nie. Gaan jy losbreek uit die beperkinge wat Hy vir jou stel, of gaan jy gehoorsaam wees en leer wat Hy jou wil leer?
Die wilde perd wat as vulletjie weggebreek het, was wel vry maar hy kon nêrens heengaan nie. Hy kon maar net in sirkels rondhardloop en na sy maat roep. Die koning se perd, daarenteen, het gewet wat sy rol in die koning se huishouding was. Hy was diep bewus van sy woordelikheid teenoor sy meester. As 'n mens die twee vergelyk, is dit duidelik dat die een onvolwasse en swak gebly het, terwyl die ander 'n pragtige, volwasse en nuttige dier geword het.
Elke Christen beland een of ander tyd in daardie "kampie" en kom by tye voor die versoeking om oor die drade te spring en koers te kies, die vreemde in. Maar die Here gebruik elkeen wat bereid is om deur Hom gedissiplineer te word. Dit is die mense wat nie opstandig raak nie, maar gehoorsaam bly omdat hulle weet en aanvaar dat daar 'n doel met elke opdrag is wat die Here God hulle gee.
Christene is nie vry nie. Ons is slawe van die Here Jesus en Hy wil hê dat ons op sy opleidingsprogram moet reageer. Is jy bereid om sy dissipline te aanvaar? Is jy bereid om binne die grensdrade van die kampie te bly? Of wil jy net jou eie kop volg? Het jy dalk al begin verstaan wat die doel met God se snoeiproses is?
Al dra jy vir Hom vrugte, moet jy nogtans nie verbaas wees as jy skielik sy snoeiskêr in jou lewe voel nie. Hy moet jou snoei — nie omdat Hy jou nie meer liefhet nie, maar juis omdat Hy wil hê dat jy nog meer vrugte vir Hom moet dra.
Wag op die Here ... vervolg