Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Onthou tog maar, dit is ewe verkeerd om almal te vertrou as om almal te wantrou...
DR JAN HENDRIK BRAND
ONS EIE HELDE (4)
Dr JP Botha
Lees reeks by Ons eie helde
President dr Jan Hendrik Brand vertel sy verhaal:
Toe die Vrystaatse volksraad in 1864 die presidentskap van die republiek vir my aanbied en ek dit aanvaar, het ek nie mooi besef watter moeilike probleme daar in Bloemfontein vir my gewag het om op te los nie. Ek was op daardie tydstip parlementslid vir Clanwilliam in die Kaap.
Ek is in Kaapstad gebore en het dikwels gehoor mense sê dat ek op skool 'n regte onnut was wat die onderwysers opdraand gegee het. Toe ek sestien jaar oud was het die Suid-Afrikaanse Kollege ook nie met my raad geweet nie, maar my vader het my toe na die Instituut van dr Changuion in Strandstraat geneem.
Hier was ek baie gelukkig en het só hard gewerk dat ek binne twee jaar in staat was om die toelatingseksamen tot die Leidse Universiteit af te lê. My studentejare oorsee was baie aangenaam en ek het daarin geslaag om in 1845 die doktorsgraad in die regte te behaal. Aangespoor deur hierdie sukses, is ek na Engeland waar ek na verdere studie in 1848 in die advokaatseksamen geslaag het. Daarna het ek na Kaapstad teruggekeer en my as advokaat daar gevestig. In 1858 het die Suid-Afrikaanse Kollege my as professor in die regte benoem, maar voor die einde van daardie jaar is ek tot parlementslid vir Clanwilliam gekies en onderwyl ek nog in 1864 in hierdie hoedanigheid gedien het, het die Vrystaters my die amp van president aangebied.
Hierdie veelgeteisterde landstreek het in 1854 met die Bloemfonteinse Konvensie sy onafhanklikheid verkry omdat die Engelse letterlik nie meer raad geweet het met al die moeilikhede wat hulle in hierdie Oranjerivier-Soewereiniteit op die lyf geloop het nie. Hulle het mos in 1848 die hele Vrystaat geannekseer om sogenaamd beheer te kan uitoefen oor die verskillende groepe aldaar. In die noorde was Hendrik Potgieter se Winburgers, in die suide die pro-Engelse Michiel Oberholzer-groep, in die weste het die Griekwas probeer koning kraai en in die ooste het die Basoeto-opperhoof, Mosjes, die wêreld vir die Britse resident Warden moeilik gemaak.
So 'n kookpot het die Boere in 1854 met die Bloemfonteinse Konvensie geërf toe die Vrystaatse gebied vanaf die Oranje tot aan die Vaal sy onafhanklikheid ontvang het. Maar sy oosgrens is nie vasgestel nie en dit het uit die staanspoor die jarelange groot struweling tussen die republiek en die Basoeto's veroorsaak.
Die Boere-afvaardiging in Bloemfontein tydens die opstel van die konvensie, was onder voorsitterskap van Josias Hoffman. Hulle het ook die republiek se eerste grondwet opgestel en die volksraad het Hoffman daarna as die eerste president van die OVS gekies. Hy was op 'n tydstip vantevore transportryer in Natal, die Vrystaat en Basoetoland en hy het vir Mosjes goed geken en het selfs vir hom in die berge 'n "paleis" gebou, waaroor Mosjes so bly was dat hy vir Hoffman 'n pragtige plaas aan die Caledon gegee het en vir hom ook 'n huis op die berg laat oprig het waarin hy kon tuisgaan wanneer hy die Basoetokoning in sy vesting, Thaba Bosigo besoek.
Mosjes was baie in sy skik toe sy vriend president van die Boere word. Hoffman het hom in Augustus 1854 in Thaba Bosigo besoek en is met vreugdeskote verwelkom.. Toe Hoffman na beraadslagings weer wou ry, kom sê 'n boodskapper dat Mosjes asseblief 'n geskenk van buskruit vra, want hy het daardie môre al sy kruit met die verwelkomingseremonie weggeskiet!
Hoffman het toegestem en Mosjes het later 'n vaatjie kruit in Bloemfontein laat haal. Toe die volksraad hiervan verneem, was daar groot ontevredenheid en dit het tot Hoffman se bedanking in Februarie 1855 gelei.
Daarna het die volksraad vir Jacobus Boshof in 1855 tot president gekies. Gedurende die vier jaar wat hy bevoorreg was om ons jong republiek te lei, het hy die Vrystaat se staatsdiens en landsadministrasie op 'n baie gesonde grondslag geplaas en broodnodige wetgewing laat aanneem, sodat die klein republiek toe alreeds op pad was om 'n modelstaat te word, want die bekwame Boshof het reeds oor ondervinding van hierdie aangeleenthede beskik as vroeëre lid van die Wetgewende Raad van Natal.
Maar op die vae oosgrens van ons jong republiek het Mosjes sy tande begin wys. Hy het sy rowerbendes die Boeregebied laat binnestroom en Boshof verplig om 'n kommando teen hom uit te stuur. Toe hulle Mosjes se laaste vesting moes aanval en verower, die byna oninneembare "Donkerberg", Thaba Bosigo, het die burgers gemeen dat die Basoeto's genoeg straf weg het en die vyandelikhede gestaak. Mosjes het nog onaangetas in sy nes bly sit. Boshof het in 1859 bedank as president en na sy plaas in Natal teruggekeer.
Goewerneur George Grey van die Kaap het as bemiddelaar 'n grenslyn tussen die Vrystaat en Basoetoland vasgestel, waardeur die Boere ongeveer 30 plase verloor het. Daar het dus op hierdie tydstip ongunstige toestande in die Vrystaat geheers, want 'n swaar droogte het die land geteister en geld was baie skaars.
Daarby het president Marthinus Wessel Pretorius van Transvaal kort-kort in die OVS se sake ingemeng met die eis dat die twee republieke moet saamsmelt, 'n gebeurtenis wat die twee konvensies van Bloemfontein en Sandrivier ongeldig sou maak en albei die republieke hul onafhanklikheid sou laat verloor. Maar toe Boshof as president bedank, laat Pretorius hom die volgende jaar die presidentskap van die Vrystaat welgeval. Hy was nou president van albei republieke, maar die Transvalers was nie daarmee gediend nie, want soos ek reeds gesê het, kon dit die bepalings van die Sandrivierse Konvensie tot niet maak en daarom het hulle hom gedwing om te bedank. Gedurende die drie jaar (1860-1863) wat hy president van die Vrystaat was, kon hy ook nie sy volle aandag aan die Vrystaat se belange bestee nie, want aanhoudende moeilikhede in Transvaal het hom gedwing om lang tye uit die Vrystaat weg te wees en daarom het hy in 1863 sy bedanking as president van die Vrystaat ingedien. Die volgende jaar het hy hom weer as president van Transvaal laat kies.
Die Vrystaat was nou herderloos en die oë van die volksraad het na my kant toe gedraai waar ek besig was om my ampspligte as parlementslid in die Kaapse wêreld te behartig en my die presidentskap van hul republiek aangebied. Ek het dit aanvaar en was bevoorreg om vanaf 1864 tot 1888 my liewe ou Afrikaanse volkie noord van die Oranjerivier in hierdie verhewe amp te dien.
Die verantwoordelikheid het nou op my skouers gerus om onder andere met die onoorwonne, geslepe Mosjes af te reken. Die Basoeto's se stelery moes stopgesit word. Hulle het al omtrent 30 kilometer rond en bont aan ons kant van die grenslyn gewoon wat deur majoor Warden in 1849 vasgestel is. Hulle het dan nou kastig nie meer geweet waar die lyn geloop het nie!
Ek het aan Mosjes geskrywe dat sy onderdane ons Vrystaatse gebied moet verlaat. Hy antwoord toe dat ons die Kaapse goewerneur moet vra om weer Warden se grenslyn vir ons te kom aanwys, met die plan in sy kop om dan aanspraak te maak op die grond waar sy mense toe al jarelank oortree, hutte gebou en saailande aangelê het..
Goewerneur Wodehouse het in 1864 die betwiste grenslyn besoek en uitspraak ten gunste van die Vrystaat gegee en weer die ou lyn van 1849 geproklameer, wat beteken het dat die Basoeto's 'n gebied wat 60 plase van 3000 morg elk beslaan het, moes prysgee. Dit was vir Mosjes en sy volk 'n bitter pil om te sluk en toe ek hulle aansê om hierdie gronde te ontruim, het hulle dit verontagsaam. Ek verneem toe daarna dat Mosjes 'n groot volksvergadering laat hou het waar sy indoenas hom tot oorlog teen ons wou aanvuur, maar die geslepe Mosjes het gesê dit sou lyk asof hulle die goewerneur se beslissing in twyfel trek en daarom moet 'n ander oplossing gevind word.
Hierdie oplossing het bestaan uit diefstal op groot skaal. Die Basoeto's het só astrant geword dat hulle van ons mense op die plase selfs gearresteer en aangehou het. Ek het weer aan Mosjes geskryf en gesê dat ons hom die les gaan leer hoe om verdrae te respekteer.
In daardie stadium was die Basoeto's 'n gedugte vyand om aan te pak. Hulle het met vuurwapens geveg en het selfs drie ingevoerde kanonne gehad en self buskruit vervaardig. Hulle het in hul byna onneembare bergvestings verskans gelê. Daar was duisende beeste op die berg en hul koring is in spelonke weggebêre, sodat daar genoeg voedsel was om 'n beleg suksesvol te trotseer.
Ek het aan die spits van ons kommando teen hulle uitgetrek en spoedig al wat Basoeto was wat voor ons uitgevlug het, in die beskutting van Thaba Bosigo ingedryf en ons klaargemaak om die plek te beleër. ‘n Storm-aanval het misluk weens die ondeur-dringbaarheid van die vesting en die dapper Louw Wepener, wat 'n deel van die aanval geloods het, het teen die hoogtes van Donkerberg gesneuwel.
Ons het die beleg opgegee en toe ons op ons terugtog 'n Basoeto-mag onder aanvoering van een van Mosjes se seuns op die vlug dryf, het Mosjes skielik ook naarstiglik na vrede verlang. Dit was egter net om tyd te wen en kans te kry om die graansorghum wat in hierdie tyd ryp was, te gaan afoes en wegbêre voordat hy weer met sy streke sou begin.
Ons het hom egter gedwing om 'n groot stuk van Basoetoland aan die Vrystaat af te staan, wat noordwes van die Caledonrivier lê en wat vandag nog "die verowerde gebied" genoem word.
Toe Mosjes klaar sy oes laat insamel het, het al sy kruipende onderdanigheid skielik verdamp en is ons opnuut weer blootgestel aan 'n vlaag diefstalle en moorde oor die grenslyn. Ek het besluit om hom nou vir altyd die les van sy lewe te leer en het met 'n sterk kommando na Basoeloland opgeruk. Ons het die een na die ander vyandelike vesting ingeneem, totdat nog net Thaba Bosigo oorgebly het.
Mosjes het goed geweet dat ons vasberade was om hom hierdie keer daar uit sy nes te gaan uithaal en daarom het hy weke vantevore reeds 'n dringende oproep om hulp aan die Kaapse goewerneur gerig. Hy het letterlik moord en brand geskree: "Brand wil my vermoor! O, kom help ons tog en red ons tuine en ons lewens! Môre sal dit te laat wees. Dis nie ons skuld dat daar oorlog uitgebreek het nie. Die president het my ingehardloop. Hy het 'n stuk van my mantel afgeskeur. Nou wil hy hê ek moet die ongedierte wat daarop is in toom hou. Ek stuur saam met die boodskapper ook 'n jakkalskaros vir koningin Victoria. Sê vir haar ek is die karos en die ongedierte is my volk. Sê sy moet haar vlerke oopmaak sodat ek en my volk daaronder kan inkruip. Ek beskou my reeds as haar kind". Met die stuk van sy mantel wat ek dan nou sou afgeskeur het, het hy die stuk grond bedoel wat hy aan ons moes afgee.
Goewerneur Wodehouse het Mosjes baie jammer gekry en hom dadelik te hulp gesnel en voordat ons hom die pak wat hy verdien het kon gee, het Wodehouse Basoetoland in Maart 1868 vir Engeland geannekseer en dit in 1871 finaal by die Kaapkolonie ingelyf, nadat die grenslyn weer opnuut vasgestel is. Ons het die gebied wat ons met ons laaste veldtog teen Mosjes verower het, behou en dit later in 685 plase opgemeet. Dit is die pragtige deel al langs die Caledonrivier, wat later sou ontwikkel in die graanskuur van die Vrystaat. Maar die groot res van Basoetoland was vir die Vrystaat vir altyd verlore.
Dit was my eerste ervaring van die metode wat die groot Britse ryk deurgaans in Suid-Afrika toegepas het om sy uitbreidingsdrang en grondhonger te bevredig, te bewerkstellig en te regverdig, deur voor te gee dat hy vir die inboorlinge, wat tog so onregmatig deur die Boere behandel word, in die bres moet tree en in die proses van die sogenaamde beskerming van hul belange, sluk hy dan sommer die lekker happie grondgebied ook in.
Ons probleme met die Basoeto's was na hierdie verwikkelinge in 'n groot mate opgelos, veral na die dood van Mosjes op Thaba Bosigo kort daana. Maar intussen het daar in 1867 nog 'n probleem van groot omvang vir die Vrystaat aangebreek toe daar in die westelike deel van die republiek diamante ontdek is.
'n Sekere Van Niekerk, wat by ene Jacobs gaan kuier het op sy plaas langs die Oranjerivier in die omgewing van Hopetown, het gesien dat een van die klippies waarmee die kinders gespeel het, nie 'n gewone een was nie. Dit was toe 'n diamant. Later het Van Niekerk by 'n toordokter nog 'n groot diamant van 83 karaat vir beeste geruil. Dit is "Die Ster van Suid-Afrika".
Dit het geblyk dat die gebied tussen die Vaal- en die Hartsrivier, wat Transvaalse grond was, ryk was aan spoeldiamante. Maar die rykste vondse is in die weste van ons Oranje-Vrystaat ontdek, naby die samevloeiing van die Oranje- en die Vaalrivier.
Toe dit rugbaar word, het die fortuinsoekers natuurlik soos aasvoëls daarheen geswerm. Die Transvaalse regering het reëlings getref om wet en orde op die delwerye wat ontstaan het, te handhaaf en ek het dit namens ons Vrystaatse republiek ook gedoen.
Dit was nie hoe lank nie of daar was 'n hele swetterjoel aanspraakmakers op besitreg van die ryk diamantgronde. Afgesien van ons twee republieke, wie se grond dit onteenseglik was volgens die bepalings van die konvensies waarvolgens die Britte ons onafhanklikheid erken het, was daar veral ook Griekwa-groepe, onder aanvoering van Andries Waterboer, Niklaas Waterboer, Adam Kok, Kerneels Kok ensovoorts. Die meerderheid van hul onderdane het gladnie meer in die Vrystaat gewoon nie, maar vér wes daarvandaan by Griekwastad en omgewing. Ene David Arnot, 'n Colesbergse prokureur, het met duistere bymotiewe al die Transvaalse en Vrystaatse diamantgronde vir sy kliënt, Niklaas Waterboer opgeëis en in die beroeringe wat ontstaan het, het die Kaapse goewerneur, Barkly, besluit om namens die Engelse in te gryp.
Hy het beswaar gemaak dat ons en Transvaal beheer uitoefen oor ons regmatige eiendom en daar wet en orde handhaaf. Ek het spesiaal Kaap toe gegaan om met hom die saak te bespreek, maar hy het geweier om my te woord te staan.
Intussen het president MW Pretorius in goedertrou toegestem dat Transvaal se aanspraak op die diamantvelde in sy eie gebied aan die beslissing van 'n arbitrasiehof onderwerp sou word. Dit het in 1871 in Bloemhof gebeur, waar goewerneur Keate van Natal uitspraak gegee het in die guns van Waterboer. Daar is gesê dat president Pretorius Transvaal se saak by hierdie geleentheid baie onbeholpe voorgedra het en daarom dit verloor het, maar ek is oortuig daarvan dat die beslissing van hierdie hof reeds vooraf 'n uitgemaakte saak was.
Daarna wou Barkly hê dat ek die Vrystaat se eise ook aan die beslissing van 'n arbitrasiehof moet onderwerp. Ek wou nie daarvan hoor nie. Ek wou die gebied oos van die Oranje- en die Vaalrivier se samevloeiing nie eers oor praat nie, maar ek was gewillig om ons regte oor die Campbellgronde, wat wes daarvan gelê het deur 'n onpartydige arbitrasie te laat beslis en ek het die koning van Holland of die president van die VSA of die keiser van Duitsland as arbiters voorgestel. Dit het Barkly natuurlik botweg geweier.
Ek het ons burgermag wat die gesag op die delwerye moes handhaaf, versterk, maar toe stuur Barkly ook 'n sterk troepemag na Hopetown. Die toestand het nou baie plofbaar geword.
Intussen het Barkly uit Engeland toestemming gekry om die diamantvelde te annekseer, wat hy toe gedoen het ten spyte van die teenkanting van die Kaapse parlement. Dit het natuurlik ook hewige protes van ons Vrystaatse volksraad uitgelok en die burgers wou net na die wapens gryp. Die Engelse het besef dat ons nie so maklik die onreg wat ons aangedoen word sou sluk nie en het toe in 1876 'n hof ingestel wat alles weer moes ondersoek en wat toe Waterboer se aanspraak op die betwiste gebied as heeltemal vals bevind het.
Met hierdie gegewens is ek na Engeland om weer die Vrystaat se regte op die diamantvelde te gaan opeis. Daar het lord Carnarvon aan my gesê dat dit noodsaaklik was dat die sterkste moondheid in Suid-Afrika in besit van die diamantvelde moes wees! Hiermee en met 'n sommetjie van £90 000 as vergoeding vir die onreg wat hom aangedoen word, moes die Vrystaat maar tevrede wees. Die ryk diamantgebied wat deur die sterkste moondheid in Suid-Afrika van ons geroof is, is later as Griekwaland-Wes by die Kaapkolonie ingelyf.
Hierna was ons nog nie ontslae van die Engelse grypsug nie. Die Britse minister van kolonies, lord Carnarvon, se groot ideaal was om die vier Suid-Afrikaanse state in 'n federasie te verenig, waar Engeland natuurlik weer sou koning kraai. Daarom het hy vir Shepstone in 1877 Transvaal toe gestuur om dié republiek te gaan annekseer, want hy het gedink dat die Transvalers nie sou omgee nie en as hulle eers vir Transvaal in die hande het, sal dit maklik wees om die Vrystaat ook te oorrompel. Maar Carnarvon se planne het skeef geloop toe die Transvalers hulleself in die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-81 vry geveg het. Ek en die volksraad van die Vrystaat sou buitendien ook nie ons onafhanklikheid prysgegee het om deel te word van 'n Britse federasie van Suid-Afrikaanse state nie.
Gedurende my laaste jare as president van ons geliefde ou Vrystaat het ek darem redelik ongestoord geleentheid gehad om ons jong republiek se staatkundige grondslae op 'n sterk en gesonde voet te plaas. Die staat se geldsake, die onderwys en die regspleging het aandag nodig gehad. Ek het 'n hooggeregshof gestig en advokaat FW Reitz tot hoofregter benoem met nog twee ander regters om hom by te staan. Ek het die onderwys ook op 'n gesonde grondslag gestel deur onder andere vir dr Brebner as superintendent van onderwys aan te stel.
Dit was gelukkige en vrugbare jare in diens van ons Afrikanervolk, wat hier op die Vrystaatse vlaktes besig was om ons eie nasionale identiteit te ontwikkel. Wanneer moeilikhede opgeduik het wat oorkom moes word en probleme opgelos moes word, het ek die volksraad en die volk maar altyd, met oë na bo gerig, bemoedig met die woorde: "Alles sal regkom....as elkeen sy plig doen."
Ek was dankbaar dat my volk my diens as hulle president op prys gestel het en dat daar later selfs gesê is dat ek die Vrystaat in 'n modelstaat ontwikkel het en dat daar op my monument wat daar aan die bo-end van Maitlandstraat in Bloemfontein opgerig is, die woorde uitgebeitel staan: "Vader des Volks."
Ek is in staat gestel om vader van my volk te kon wees omdat die almagtige God my daartoe geroep het en toegerus het om hulle deur krisistye heen te lei en te bemoedig. My taak was in 1888 afgehandel toe ek te sterwe gekom het en daardie ridder sonder vrees of blaam, advokaat FW Reitz, gekies is om as my opvolger, die vyfde president van ons geliefde Republiek van die Oranje-Vrystaat te word.