Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges bevind hul dikwels in die put van die dood. So ook gelowiges soos koning Dawid in Ps.40. Gelukkig kyk gelowiges met ander oë na die put en weet dat hulle nie vir altyd daarin sal wees nie en dat God ook hul hulpgeroep sal hoor en die verlangde verlossing voorsien.
VOORTREKKER – PIONIERS (24)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Versoeningspogings (4)
Nadat kieslyste ingesamel is het die volksraad in Januarie 1851 te Elandsrivier vergader en omdat die raad huiwerig was om self ‘n beslissing te vel, het hy dit gelaat in die hande van die krygsraad, bestaande uit die twee landdroste, die kommandante en veldkornette wat wyslik besluit het om maar liewer vier kommandant-generaals aan te stel, naamlik WF Joubert vir Lydenburg, AH Potgieter vir Soutpansberg, AWJ Pretorius vir Magaliesberg en ‘n gedeelte van Marico, en JA Enslin vir die ander deel van Marico, doch wel te verstaan alle onder het gezag en instrukties van den Eedele Volksraad.
Die raad was eers huiwerig om die aanbeveling ten opsigte van Potgieter goed te keur omdat hy nie teenwoordig was nie maar het dit tog aanvaar onder voorwaarde dat Potgieter by die volgende raadsitting teenwoordig moes wees om zich onder den staat in te willigen en zyn post te moge aanneemen.
Met die aanstelling van kommandant-generaals is nog ‘n stappie gevorder in die rigting van sentralisasie van die republiek. Veral het dit Andries Pretorius in staat gestel om sy staatkundige oogmerke te verwesenlik.
Sir Harry Smith en majoor Warden het baie lus gehad om die hele Afrikaanse grondgebied tot aan die ewenaar te annekseer, maar Londen wou nie soveel onkoste aangaan nie en het begeer dat die inboorlingstamme liewer self teen die republikeine in opstand moes kom. Die Britse regering het egter geen beswaar gehad om voorlopig tot aan 25 grade suiderbreedte te annekseer nie, indien ‘n doeltreffende militêre mag ingestel kon word.
Pretorius het gedurig op hoogte gebly met gebeurtenisse suid van die Vaalrivier. Hy het besef dat Transvaal in sy verhouding met die Engelse ‘n krisis tegemoet gaan. Die hoofbrekens wat Mosjes, Panda en die Soewereiniteitse republikeine aan die Engelse regering besorg het, het Pretorius laat besef dat daar nuwe geleentheid was om tot voordeel van Transvaal in hierdie sake in te gryp.
Gevolglik het die volksraad hom al in Mei 1850 gewaarsku om geen bemoeyingen van oorlog. . . over de gezegden Vaalrivier te bewerken of behulpzaam te zyn en Potgieter het vanaf Soutpansberg aan Pretorius geskrywe dat hy verneem het dat daar planne onder die voorste Emigranten bestaan om ‘n nuwe oorlog teen Engeland te begin. Hy het hom gewaarsku om hom op die hoede te stel teen listige raadslagen en vuige vleiery en was van mening dat die dag van onze algemeene verlossing nog nie aangebreek het nie.
Nadat verdere berigte in hierdie verband Potgieter weer bereik het, het hy weer aan Pretorius en die inwoners van Magaliesberg geskrywe en gewaarsku om nie die Engelse binne hul eie lemietsbepalingen te gaan aanval nie. Gerugte dat so iets sou gebeur het hom tot dusver van vereniging met die ander weerhou, maar hy nooi Pretorius uit om oor albei aangeleenthede te kom gesels.
Die verskil in staatkundige opvattinge tussen die twee Voortrekkerleiers het algehele versoening nog steeds in die wiele gery. Pretorius het nie geleentheid gehad om na Soutpansberg te gaan nie, maar het nou al sy aandag aan die onafhanklikheidskwessie gewy. Die instruksies vir die kommandant-generaals deur die volksraad uitgereik, het hom egter gekortwiek, ten opsigte van die bepaling van die 26e graad as grenslyn. Hy wou van die volksraad weet waar hierdie lyn geleë is, maar die volksraad het ook nie geweet nie en hom aangeraai om maar sy instruksies uit te voer hoe onduidelik dit ook al was en te sorg dat daar veral geen bemoeiing met sake suid van die Vaalrivier plaasind nie.
Die volksraad het die gedagte gehuldig dat die Engelse hulle met rus sou laat indien hulle rustig ten noorde van die genoemde graadlyn woon, maar Pretorius en sy ondersteuners het weer eens protes aangeteken en geëis dat die Vaalrivier as grenslyn welk ons vyand selfs gemaakt heeft erken moes word.
Pretorius was nou al baie kriewelrig omdat die Lydenburgse afdeling van die volksraad hulle so afsydig aangaande die onafhanklikheids-kwessie gedra terwyl den vrug nu voor ons ryp is en hulle verwyt dat hulle aan die slaap is. Laasgenoemdes, onder aanvoering van Bührmann en WH Jacobs, het glad nie geglo dat daar enige gevaar van die Engelse te vrees was nie maar dat Pretorius dit wel deur sy handelswyse kon veroorsaak.
Op ‘n kommissieraadsvergadering wat op 30 Mei 1851 te Magaliesberg (Rustenburg) gehou is, het die agt lede nou sake in hul eie hande geneem en die 26e graadlyn met die Vaalrivier as grenslyn vervang.