Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nêrens word ons verbied om te lag of versadig te wees of nuwe besittings by die ou besittings van ons voorvaders te voeg of om wyn te drink nie. Dit is weliswaar so; maar waar daar 'n oorvloed is waarin jy jou aan plesier oorgee en waarin jy kan verswelg, waarin jy jou verstand en hart met die genietinge van hierdie wêreld beskonke kan maak en altyd na nuwes kan hyg – sulke dinge is ver van die regmatige gebruik van die gawes van God.
POLITIEK HET NOG NOOIT VERANDER...
DR DF MALAN EN DIE DUITSE DOKUMENTE
Jeanette Koekemoer
Toe die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van die val van Berlyn geëindig het, is daar beslag gelê op belangrike dokumente rakende die geskiedkundige verloop van sake in ons eie land. Die dokumente wat bekend gestaan het as "Die Duitse Dokumente" is eers aan generaal Smuts oorhandig wat op daardie tydstip Eerste Minister was, en daarna is dit aan dr DF Malan gegee wat dit aan die staatsargief in Pretoria oorhandig het. Soos die algemene reël was, is dit eers na 'n sekere aantal jare vir die publiek toeganklik gestel.
Van die inhoud wat dr Malan met groot diskresie sonder name bekend gemaak het nog voordat dit vir die publiek bekombaar gemaak is, was dat 'n "vooraanstaande" Ossewa-Brandwag-lid in Kaapstad gereeld tydens die oorlog langs gewone O.B.-kanale inligting oor die aanwesigheid en bewegings van skepe in Tafelbaai-omgewing, oor die grens na Lourenco Marques gestuur het. Daarvandaan is dit per radio na die Duitse Konsulgeneraal in Berlyn gestuur van waar die Duitse duikbote om ons kuslyn hulle opdragte ontvang het. Só is talle vyandelike skepe gekelder.
In O.B.-kringe het dit egter nie altyd broederlik gegaan nie. Teen die Nasionale Party en sy leiers het hul wel 'n verenigde front getoon, en het hul Zeesten, die Duitse radio, versoek om sekere O.B.-leiers met propaganda aktief te steun teen die erkende NP-leiers. Bandeloosheid binne die O.B.-kringe het egter so toegeneem dat een vooraanstaande O.B.-leier, vresende vir sy eie lewe, die volledige geskiedenis binne die O.B. neergepen en in 'n muur van 'n vriend se huis laat inmessel het waar dit later deur daardie vriend uitgehaal is. 'n Organisasie soos die O.B. wat op militêre lees geskoei was en boonop onder beheer gestaan het van een persoon wat aan niemand verantwoording hoef te gedoen het nie, was 'n gevaarlike struktuur maar het sy plek gehad.
Die ondergrondse kommunikasie tussen Suid-Afrika en Duitsland is getrou in Berlyn aangeteken en bewaar as "Die Duitse Dokumente." Geen boodskap daarheen of terug is uitgelaat nie, dit is blykbaar buitengewoon volledig aangeteken.
Getrou aan sy aard het Harry Lawrence as Minister van Binnelandse Sake onder generaal Smuts, tydens bespreking van die Duitse dokumente, probeer om dr Malan in die Volksraad verdag te probeer maak as sou hy self glo agteraf met die vyand onderhandel het. Dr Malan is van sedisie beskuldig by wyse van 'n kwansuise onderhoud wat hy met 'n "gesant" van die Duitse Regering, ene mev Denk, gehad het. Dit was 'n ernstige aantyging wat nie daargelaat kon word nie en dr Malan het onmiddellik 'n Gekose Komitee geëis om die saak te ondersoek, wat so toegestaan is. Die verslag wat as 'n parlementêre dokument beskikbaar was het genoeg gestel om Harry sy kop in skaamte te laat sak vir die motief wat hy gehad het.
Wat in werklikheid gebeur het is deur dr Malan self só ter skrif gestel: "Mev Denk was 'n dame uit Suid-Wes Afrika, vrou van Hans Denk, 'n Duitssprekende, op die gebied van landboukundige organisasie vooraanstaande en as gevolg van 'n vlugtige besoek op sy reis na Europa ook bekend aan my. Na sy terugkoms ontvang ek toe 'n brief van haar vraende om 'n onderhoud, wat sy as belangrik beskou het, maar tegelyk meldend dat sy haar slegs met Duits kon help. Ek het dit toegestaan, maar omdat ek op my eie Duitse bene maar slegs enigsins wankelmoedig kon staan, het ek my kollega as parlentslid, dr Bremer, vooraf gevra vir sy teenwoordigheid en hulp by die onderhoud. Dit blyk toe dat sy die draagster was van 'n boodskap van die Duitse Regering deur bemiddeling van haar man. Die inhoud daarvan was maar skraal. 'n Algemene betuiging van goedgesindheid jeens die Afrikanervolk en sy ideale, 'n versekering dat Duitsland, as hy die oorlog mag wen, geen beswaar sal hê teen die inlywing van die protektorate by die Unie nie! Dit was vrywel al. Ek het geen onderhandelings met haar gevoer nie of deur haar met Von Ribbentrop, die Duitse Kanselier van wie sy beweer het om 'n afgesant te wees nie. Die verste wat ek gegaan het, was om beleefdheidshalwe haar te bedank vir haar belangrike informasie en daaroor het ek nog nooit enige skaamtegevoel of behoefte gehad om apologie te maak nie. Geen ander reaksie van politieke of staatkundige aard, of andersins, was daar van my kant nie."
So was daar in die bestaan van die Afrikanervolk deurentyd pogings om die atmosfeer vir hereniging te vertroebel. In wese het politiek nog nooit verander nie... Verdagmakery in al wat 'n Afrikanerorganisasie is ter wille van eie gewin is vandag nog meer as tevore aan die orde van die dag en sal dit waarlik 'n Godswonderwerk verg om die toestand te verander sodat ons weer eendragtig kan saamwerk en as volk oorleef - anders is uitsterf ons voorland.