Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet oppas om die betrokkenheid van die duiwel as verskoning vir ons sonde te gebruik. Al is dit hy wat ons verlei, is dit nog altyd ons skuld dat ons aan sy verleiding toegee.
DERDEPOORT (5)
Dr JP Botha
Lees reeks by Derdepoort
Die wêreld se reaksie
"... Hierdie bewerings is egter van allewaarheid ontbloot. Die blaam vir die ongelukkige voorval te Derdepoort rus op die skouers van die Engelse en in besonder op dié van Nicholson en Holdsworth. Ten spyte van waarskuwings uit eie geledere, het hulle met voorbedagte rade die Bagatla-impi in ‘n krygsoperasie teen die Boere aangevoer..."
Skok en afkeur
Suid-Afrika is deur hierdie treurige voorval wat te Derdepoort plaasgevind het, diep geskok. Waarnemende kommandant Kirsten wat saam met die oorlewendes die gruweldade in al hul afgryslikheid aanskou het, het die ooggetuies se gevoel beskryf met die volgende woorde:
“Zulk een daad is de barbaarste die nog ooit door een zoogenaamd beschaafde Regering is begaan.” Die Republikeinse bevolking het gevoel dat “zulk een lage en gemene daad strijdt tegen alle gebruiken van beschaafd oorlog voeren en bewijst tot welke middelen onzen vijanden zich verlagen om ons uit te roeien.”Diepe afkeur van die nuwe middele wat deur die vyand in werking gestel is in sy pogings om die twee Republieke te onderwerp, is van verskillende kante af uitgespreek. Die Republikeinse pers het gepraat van “de gruwel-daden verricht door swartes onder leiding, en op bevel en zelfs onder dwang van Engelsche officieren die daartoe geïnstrueerd waren door Buller, Milner en Chamberlain, namens het Britsche volk, onder invloed van Engeland’s geliefde Nero, Cecil Rhodes en tot ere en tot meerdere glorie van het meest Christelijke en allerbeschaafste Europese Rijk.”
Die Italiaanse en Nederlandse Konsuls te Pretoria het aan hul Ministers van Buitelandse Sake in Rome en Den Haag verslag gedoen van die gebeure en daarop aangedring dat hulle by Engeland teen hierdie handelwyse protesteer.
Die Engelse probeer hulself verontskuldig
Nadat die openbare mening die Engelse laat besef het wat alles deur hulle ontketen is, het hulle die saak probeer afmaak met die verskoning dat Linchwe se Bagatlas strenge opdrag gehad het om nie die rivier oor te steek nie, maar dat hulle ongelukkig volkome buite beheer geraak het en dat die hulp wat hulle aan die Engelse soldate moes verskaf, in elk geval beperk moes bly tot die rol van gidse, ossedrywers en perdeoppassers. Waarom hulle vir hierdie doel 500 Bagatlas nodig gehad het, is geen verklaring voor gegee nie. Die Times History of the War in South Africa probeer om die Engelse van alle blaam vir die voorval te onthef en beweer dat Holdsworth se troepe vooraf geen kontak hoegenaamd met die Bagatlas gehad het nie. Volgens die skrywer van dié werk was die Swartes reeds lank tevore in groot getalle langs die rivier besig om hul grenslyn teen die Boere te bewaak en het hulle op eie houtjie tot die geveg toegetree toe Holdworth sy aanval begin het, met die gevolg dat daar per ongeluk twee vroue doodgeskiet is. Dit sou dan aanleiding gegee het tot die ontstaan van al die bohaai aan Boerekant.
Hierdie bewerings is egter van allewaarheid ontbloot. Die blaam vir die ongelukkige voorval te Derdepoort rus op die skouers van die Engelse en in besonder op dié van Nicholson en Holdsworth. Ten spyte van waarskuwings uit eie geledere, het hulle met voorbedagte rade die Bagatla-impi in ‘n krygsoperasie teen die Boere aangevoer, hulle beveel om deur die Marico-rivier te trek en vanaf die rantjie op Transvaalse bodem, wat hulle volgens opdrag moes beset, die sein vir die aanval op die Boerelaer af te wag. Liewellyn se verskoning dat hulle “got out of hand completely” en die Britte gevolglik nie vir die moorde in die dorpie en die wegvoering van die vroue en kinders verantwoordelik gehou
Die gebeurtenis het die Republikeinse Regering en krygsoffisiere tot die besef gebring dat die burgermag die Transvaalse wesgrens voortaan nie meer alleen teen die Engelse nie, maar ook teen die swart stamme in dié geweste sou moes beskerm. Op dieselfde dag waarop die aanslag teen Derdepoort plaasgevind het, het ‘n groot aantal Swartes in die ruie katnaelbos by Gaberones 113 osse van die Boere, wat onder die sorg van swart veewagters was, afgeneem. ‘n Patrollie burgers het hulle agterna gejaag en teen sononder ingehaal. Hulle het ‘n aantal van die agterste booswigte neergeskiet, maar weens die toesakkende donker, die ruie omgewing en die feit dat die getalle van die rowers só groot was dat die patrollie nie eers die beeste voor hulle kon sien nie, moes die klompie burgers uiteindelik die beeste maar prysgee en omdraai.
Valse gerugte
Ook het daar na die tragedie te Derdepoort, allerlei wilde gerugte die rondte gedoen, onder andere dat Linchwe se Bagatlas ‘n grootskaalse inval in die Republiek gedoen het, dat hulle op 28 November alreeds so ver as Mabieskraal gevorder het en dat al die Bagatlas daarvandaan tot by Saulspoort by hulle sou aansluit en dan op Rustenburg sou aanswerm. Dit het soveel paniek verwek dat baie gesinne in die distrik in laers begin saamtrek het. Verskeie gesinne het selfs met waens die dorp binnegetrek om beskerming te kom soek en die wagte om die dorp is verdubbel. Nadat vasgestel is dat daar geen waarheid in die gerugte steek nie en dat die duisende Bagatlas in die distrik Rustenburg, alhoewel in naam aan Linchwe se gesag onderworpe, hulle almal nog vreedsaam gedra het, het die paniekerigheid egter geleidelik bedaar.
Die Boere se maatreëls om verdere tragedies te voorkom
Intussen het die Regering ook maatreëls getref om die laer te Derdepoort deeglik te beveilig. Op Sondag, 26 November, is ‘n dokter, vergesel van 15 berede burgers vanaf Rustenburg na die laer gestuur en ook ‘n hoeveelheid ammunisie wat deur ‘n wag van 25 man soontoe geneem is, terwyl kommandant Swart dadelik 100 man vanaf Krokodilpoel na Gaberones oorgeplaas het, waarvan 75 direk na Derdepoort gegaan het.
President Kruger het verder ook beveel dat kommandant Lombard met 250 Waterbergers, wat bestem was om na Grootrivier te gaan, na die samevloeiing van die Krokodil- en Marico-riviere moes optrek, ten einde daarvandaan hulp aan Derdepoort te verskaf wanneer nodig. Vervolgens is alle beskikbare burgers wat in die distrik Rustenburg met verlof tuis was, opgeroep om na Derdepoort te gaan, aangesien die ontvange berigte daarop gedui het dat die Bagatlas te Sekwani nog steeds baie aggressief was en moontlik besig was om nog ‘n groot aanval te beplan. Inderdaad was hulle dan ook sedert 25 November voortdurend besig om hulle in die rante tussen Sekwani en die rivier te verskans.
By hierdie defensiewe maatreëls het die Boere dit ook nie gelaat nie maar hulle intussen ook gereed gemaak om nog vroeg in Desember die swart gevaar, wat sy kop aan die Transvaalse wesgrens so skielik op 25 November 1899 uitgesteek het, uit te wis en sodoende terselfdertyd ook die bloed van die vermoordes te Derdepoort te wreek.
Hierdie moorde wat deur die Engelse aangehits was, het daartoe gelei dat die Boere nie meer soveel op die beleg van Mafeking kon konsentreer nie, maar ‘n aansienlike deel van die burgers wat vir die beleg gebruik kon word, moes afsonder vir die beskerming van hul grense teen invalle van swart stamme wat deur Plumer en sy onderhorige offisiere tot die moorde aangehits is, met die klaarblyklike bedoeling om die druk wat die Boere op Mafeking uitgeoefen het, daardeur te probeer verlig.