Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
SOUTMAKERY OP DIE OU BOEREMANIER
Dr JP Botha
Soutmaak in die Lichtenburgse distrik
In hierdie distrik was drie panne waar sout gemaak is: die Kaalpan, die Boschpan en die Klein Soutpan. Eersgenoemde twee lê naby die dorpie Delarey. Die dorpie is aangelê op die plaas wat vroeër Soutpan genoem is.
Die soutpanne was in die eerste Republiek se dae die eiendom van die regering en is verpag vir ‘n sekere som geld. Die laaste pagter voor die Oorlog van 1899-1902 was oom Hendrik Oberholzer. Die panne kry in die reëntyd gewoonlik baie water. Dan kon nie in die water gewerk word nie. In September of Oktober is die water feitlik alles verdamp. Dan kon ‘n goeie soutoes gemaak word. Die soutpan moes eers “set”: Op die water in die pan moes ‘n dik laag room kom wat lyk soos vreeslike sout sopvet, soos die wat mens in kastrolle sien as daar sop gekook word van baie vet soutvleis.
Die gereedskap vir die soutmaak
Hulle moes streepsakke hê om die sout in te gooi, asook ‘n emmer en ‘n skuiwer. 'n Skuiwer was ‘n plankie van 12 duim lank en 5 duim hoog met ‘n gat in die middel waardeur ‘n steel van spaansriet gesteek word. Dit het gelyk soos ‘n hark sonder tande. By die pan staan 30 of 40 waens uitgespan wat almal vir die pagter wag. As hy kom word twee manne gekies om die soutbane af te baken en te nommer. As daar min mense is, is die bane tien tree breed; as daar baie is, is elkeen se baan net 5 tree wyd. Die lengte van die baan gaan in die pan in en eintlik maar net so lank as wat mens kan bykom met die skuiwer, want niemand mag in die pan instap nie. Elkeen bly voor die lyn staan, sodat die pan se blad nie stukkend getrap word nie.
Die uitkies van die soutbaan
Die twee vrywilligers wat die soutbane afbaken, mag vir betaling vir hulle werk elkeen ‘n baan uitkies, terwyl die ander vir hulle bane moes loot. Elkeen trek ‘n lootjie en dan hardloop almal net so hard as hulle kan, met die skuiwer in die hand, om sy baan in besit te neem. Om by die baan te kom, voel dit of jy deur vuur gaan. Die son op die soutgrond gee so ‘n hitte af dat dit voel of jy in ‘n grasbrand is. Baie mense het net eenkeer kom soutmaak en nooit weer nie!
Die soutmaker stoot met die skuiwer eers ‘n walletjie van ongeveer 4 duim hoog om die water op te dam. Die water is net 2 duim diep. Op die water dryf die romerigheid. Hy roer met die skuiwer die romerigheid stukkend so ver as wat hy kan bykom, so ongeveer 6 voet. So gou as wat die room stukkend geroer is, sak dit na die grond en is dadelik sout. As die eerste soutroom afgesak het, kom daar dadelik weer ander room uit die pan aangedryf en so kan ‘n mens maar aanhou om die roomlaag stukkend te roer.
Intussen krap jy soveel as moontlik sout bymekaar met die skuiwer, tot naby die modderwalletjie. So bly jy die hele dag besig om room stukkend te roer en sout aan te krap Teen die aand het elke soutmaker ongeveer 15 tot 20 sakke sout.
Die betaling aan die pagter
Die “raapgeld” was ‘n daalder vir elke sak gemaakte sout. Wie nie geld het nie, gee die helfte van sy gemaakte sout aan die pagter.
Die sout was dadelik gereed vir gebruik. As jy versigtig gewerk het, is die sout mooi helder wit, maar as jy te diep krap, kom daar grond in die sout.
Baie mense het nie net kom soutmaak vir eie gebruik nie, maar het met vragte sout in Rustenburg en Marico gaan smous. Die sout is verruil vir boerkoring, teen ‘n “sak om sak”.
Tydverdryf by die soutpan
Tydens ledige ure by die pan is baie kaskenades uitgehaal. Vir die jongmense was dit piekniek, reisiesja, stoktrek, toutrek, hoogspring, verspring en ander grappige dinge. Saans het hulle kwaaijongstreke uitgehaal. Hulle het die waens se wiele uitgehaal, die wiele omgeruil en die eienaars laat sukkel om dit weer op te spoor. Hulle het selfs karre omgekeer en waens weggetrek, maar daar was selde rusie en ongenoeë.
As daar nie gewerk kon word nie, het hulle plesier gemaak.