Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om iemand te troos is een van die belangrikste maniere van omgee. Die Christen hoef nooit sonder troos te lewe nie want God is altyd daar vir ons. Selfs te midde van ons grootste krisisse vertroos Hy ons deur sy Gees en deur die beloftes in sy Woord. Daarom is mense wat self swaargekry het, soveel beter toegerus om ander mense raak te sien wat troos nodig het. En as daar niemand is om jou te troos nie, onthou daar is heeltyd Iemand wat presies weet hoe om dit te doen.
OP DIE STINKGRAS- BULTJIE
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
"Ta-waaak! Ta-waaak!" klink sy harde geroep oor die vlakte deur die môrestilte. Die enkele groot brosdorings steek nog swart en donker af teen die stadig verhelderende grasveld. "Ta-waaak! Krak, krak!" Die ou korhaan is besig om die slapende graslewe uit die môreskemer se rustige sluimering te wek. Hoog bo-op 'n rooi miershoop troon hy met uitgestrekte nek en stuur sy welbekende geroep oor die graspolle heen. Kort-kort roer die swart, plat koppie heen en weer soos hy luister hoe die vlakte- en boskinders een vir een vir 'n nuwe dag ontwaak. Bosduiwe begin oral 'n lokkende geroep aanhef. 'n Paar tinktinkies en wipstertjies vind ook skielik uit dat hulle vanmôre te laat is om die rooidag te sien breek en stuur 'n skreeuende lawaai die lug in vanuit 'n nabystaande wag-'n-bietjie-bos.
'n Glinstering speel in die ou korhaan se rooi-omlynde ogies toe hy belangstellend na die toenemende rumoer luister. Die klomp vabonde, nou wil hulle lawaai maak nadat hy lankal sy eerste weknote deur die môrestilte heen gestuur het! Hy is die enigste van die vlaktebewoners wat smôrens vroeg, nog voordat die dag begin skemer, nie meer onder sy graspol sit en dut nie, maar met lewenslustige vrolikheid die rooi gloed in die ooste 'n welkom "kra-kreek!" toeroep.
Hy stoot sy grys bors vorentoe en loer belangstellend oor die dou-sware grashalms heen. Hy is nie 'n lui knaap nie, dink hy van homself. Hy is die meester hier op die stinkgrasbultjie. Saans laat as almal al rustig slaap, gee hy niks om om sommer 'n paar slae luidrugtig sy opgewektheid deur die aandstilte te laat weergalm nie. Sy hart voel vanmôre ruim soos die vroeë wind wat ritselend deur die slanke grasstingels heen roer. Sy korhaangemoed voel vredig soos die flappende skoenlappertjies wat elke môre kom om die dou van die grashalmpies hier op die bultjie te drink
In stilte bekyk die ou korhaan die verskynende rooi gloed van die son. Dan wip hy van die miershoop af en sluip met uitgestrekte hals die eerste kort graspolletjies in. Die dou-nattigheid lê blink op die takkies en blare versprei; die kort grassies glinster in die son se eerste flou strale. Die ou korhaan draf vrolik oor die vlaktetjie heen en weer; sy rooi beentjies is nat van die dou. Hy geniet 'n heerlike ontbyt vanmôre van allerhande soorte grassprinkaantjies en goggatjies wat op die grasstingels sit en soet sappies suig. Kort-kort laat hy 'n kreuntjie van tevredenheid hoor, so 'n kortaf "krak"-geluidjie.
So jag die ou heen en weer tussen die graspolle, blykbaar heeltemal tevrede met homself en met die wêreld om hom heen, totdat die son naderhand teen die bloute uitgeklim het en nou warm neerskyn op die stinkgrasbultjie. Hy bestyg met welgevulde krop weer die miershooptroon en tuur oor die vlaktetjie. Die sysies skreeu eentonig voort. Hul harde krasgeluidjies sing fyn deur jou ore. Die korhaan laat so af en toe sy bewerige kraakstem hoog oor die eentonigheid heen klink.
Daar is iets wat sy gemoed al 'n hele paar dae lank kwel, 'n gevoel van eensaamheid wat stadigaan sterker word... Hy voel lomerig-lui daar op die miershoop. Die son skyn so bitter warm dat hy jou sommer maklik aan die slaap kan brand hier op die oop vlakte. Maar tog werk die ou korhaan se gedagtes nog stadig voort en al hoe sterker dring die besef tot hom deur dat hy in die afgelope tyd baie eensaam is. Juis vandag kriewel die gevoel kort-kort deur hom en dit is asof hy so af en toe aandagtig luister nadat hy 'n lang, klaende noot die ruimte ingestuur het.
Hier anderkant die bultjie waar die turfvlakte kort-kort met struikagtige wag-'n-bietjie afwissel, boer mos nog volop korhane. Die ou alleenheerser op die stinkgrasbultjie het baie dae al die moontlikheid oorweeg om maar daarheen te vlieg en sy koninkrykie vir volop geselskap te verruil. Maar hier was nog altyd kossies in oorvloed. Die ander korhane hou meer van die turflaagte omdat dit minder bebos is en daar ook minder vyande aangetref word. Maar hierdie eenling is 'n dapper ou kêrel en hy het snags nog altyd die sluipende aanvalle van jakkalse, wildekatte en muishonde afgeslaan deur betyds die stil naglug in te fladder. Bedags is hy taamlik veilig en kan hy maar houtgerus sit en droom, want die vaal stokstertmeerkat is maar altyd hier rond en laat gereeld 'n fyn, waarskuwende gepiep hoor as daar gevaar dreig.
Vanmiddag verlang hy darem knaend baie na geselskap soos hy hier op die miershoop sit en droom. Teen sonder, weet hy, sal die oulike korhaankoor weer hier oor die bultjie aangewaai kom en hom lok om te gaan baljaar. Dan sal hy dadelik antwoord en soontoe vlieg. Hy soek mos lankal 'n vroutjie. Hy sal haar hier na die stinkgrasbultjie toe bring, hier waar baie sprinkaantjies en goggatjies rondwip. Net hier iewers in een van die groot polle moet hulle die nes kom bou.
Die ou korhaan droom rustig op die miershoop, verdiep in eie gedagtes. Sy swart koppie is oulik onder 'n vlerk ingesteek. 'n Paar tree agter die miershoop steek skielik 'n spits neusie deur die graspolle. Dit is die swartbont wildekat wat vandag 'n desperate poging wil aanwend. Hy het lanklaas geëet; hy is honger. Tot dusver het sy aanvalle op die enigste spekvet korhaan van die bultjie nie geslaag nie omdat die voël gewoonlik so nugter wakker en waaksaam is dat hy maar elke slag gefop tussen die polle moet lê en grom. Maar nou ...! Sy ogies glinser listig en sy yslike stertkwas piets-piets liggies heen en weer. Vandag is die dag! Stadig en versigtig gly hy oor die grond. Tien tree voor hom troon die grys bondeltjie nog roerloos op die miershoop. Die kat se oë bly strak op sy doel gevestig. Net twee tree nog, dan kan hy 'n sprong waag ... twee tree nog ...
"Piep! piep! pieieuuuu ...!" dis die meerkat se stemmetjie. Skreeuend vlieg die korhaan die lug in en sweef met sy tergende "krak-krak" oor die bultjie.
'n Entjie anderkant die miershoop sit die klein meerkat op sy agterpootjies en piep met gerekte nekkie. Die teleurgestelde wildekat voel skielik 'n boosheid in hom opvlam. Die klein rakker ! Meteens storm hy met lang hale grommend oor die kaalte op die outjie af. Die meerkant piep benoud en sy stertjie span om weg te kom. Die bont gevaarte kom nader, nader ... "Klaps" kap sy voorpootnaels teen die grond dat die stof so trek. Gefop! Hy loer in die nou gaatjie af. Aanloklik walm die vars meerkatgeur in sy neus op. Die wildekat voel nou sleg omgekrap. Brommend draf hy terug na die hoë gras om hom maar weer te gaan verskuil totdat die skemer vanaand swart oor die bultjie aangevee sal kom. Hy vertrou op die donker. Dis sy vriend. In die dag wemel dit mos van piepende meerkatte en waaksame korhane. Maar in die pikswart donkerte van die nag sal hy hulle wys! Die nag is goed vir hom; die nag is sy vriend...
En dan sak die son al hoe laer totdat hy naderhand agter die bultjie sy goudkop wegtrek. Voorbodes van die nag fluister aan die klein meerkatjie wat daar tussen die enkele groot graspolle loop en rondloer, dat hy maar in sy gaatjie moet gaan inkruip. Ou Grootoog, die horinguil, kry mos soms vroeg-vroeg saans die ellendige gier om hom op die vlerk te waag, nog voordat al die dagbewonertjies hulle in hul tuistes teruggetrek het. Een aand teen sononder, toe die meerkatjie op weg was na sy gat, was hy amper na die maan toe die ou gedrog blasend op hom neergeswiep het. Het hy nie so gou onder 'n groot, vaal graspol ingewip nie, was dit dié aand klaar met hom.
Maar toe die duister swart oor die brosdorings op die bultjie sprei, is die meerkatjie lankal in droomland onder in sy ruim holtetjie.
Waar sou die korhaan dan wees? Die wildekat jag vannag kruis en dwars tussen die donker bome. Die flou lig van die sekelmaantjie wat aan die oosterkim lê en droom, hinder hom effens. Hy is nie so onsigbaar as wat hy graag wil wees nie. Selfs nagvoëltjies het hom netnou reeds gewaar en lawaaierig die lug ingeskiet toe hy versigtig deur die digte graspolle heen gly. Kort-kort kom hy op 'n kaaltetjie uit en dan loer die ronde, listige oë dubbel so skerp. Hy soek net die ou korhaan vanaand, net die ou korthaan ...
Maar ons ou makker skree vannag plesierig 'n paar kilometer verder, waar die wit waaigras met die swart turfvlaktetjie in die flou maanlig saamsmelt. Vannag is hier volop maats vir hom; hy's mos groot en mooi sterk van die stinkgrasbultjie se sprinkaantjies. Die korhaankoor klink uitgelate deur die stil aandlug ...
Die wildekat soek vergeefs. Die korhaan se lokroep is stil vanaand hier op die bult. Die sekelmaantjie het hoër geklim en sit nou dowwerig en wag dat die rooidag moet breek sodat hy in die bloute kan verdwyn. Die wildekat voel 'n knaende honger aan sy maag vreet en gee eindelik die korhaanjag prys. Dis nog sterk donker. Ná 'n rukkie bemagtig hy 'n slapende kiewietjie op die oop vlakte. Die ander voëltjies vlieg vervaard op en verdwyn skreeuend oor die bult. Die wildekat draf tevrede met die dowwe voetpaadjie langs terug na die die ruie stinkgras. Dan word dit al effens lig tussen die bome. Netnou breek die dag.
"Ta-waaak, ta-waaak, krak, krak, krak!" Dit is weer die ou korhaan se opgewekte geroep wat oor die bult weergalm. Dof dring dit tot die wildekat se slinkse brein deur. Hy rol behaaglik om onder sy haak-en-steekbos en nies slaperig. Wag maar, vannag is nog 'n nag ...! Hoor net hoe uitgelate tart die voël hom. Die klank dring gedemp deur die bome, maar in die dag waag die wildekat dit nie weer nie, dit help tog niks nie. Dalk sien die lammervanger hom raak op die kaal, bedrieglike vlakte.
Maar die korhaan is nie verniet vanmôre so uitgelate nie. Hy voel sommer baie plesierig, want hy het met 'n vroutjie teruggekeer.
Stil sit sy teen 'n graspol aangedruk, terwyl hy 'n endjie daarvandaan op sy ou miershooptroon sy vreugde uitbasuin. Hy is lawaaierig en opgewek, sy, skaam en ingetoë; hy is swartbont en maklik herkenbaar, sy, vaalgrys soos die gras. Die ou spring van die miershoop af en lok haar die kort grassies in. Met 'n gedienstige "kor-kor" vang hy al die vet sprinkaantjies en laat dit voor haar val. Sy pik dit skaam op.
Die stokstertmeerkatjie maak ook al so stadigaan aanstalte om op die vlakte te gaan rondsluip. Hy kom mos eers uit as die sonnetjie alles al lekker warm gebak het. Die outjie beweeg versigtig van pol tot pol en geniet 'n heerlike ontbyt van stokdraermiere en toktokkies. Hy gewaar die twee korhane daar in die strepie kort gras en sit 'n rukkie penregop en toekyk op sy agterpootjies. Hy wonder waar die tweede voël nou skielik vandaan kom. Maar dit hinder hom nie lank nie. Doelbewus draf hy onder 'n plaat soetdoringboompies deur om aan die anderkant, waar die veld kaaltes maak, 'n bietjie rond te snuffel. Oral verrys die rooi hopies grond hier met die noubek meerkatgaatjies langsaan. Hier boer sommer 'n hele kolonie. Die stokstertmeerkatjie voel glad nie tuis onder hulle nie, want hulle is van die rooirugsoort, wat blaserig-astrant is en 'n mens net gedurig wil verjaag waar hulle jou kry. Daarom het hy maar sy tuiste bo-op die stinkgrasbultjie gaan maak en kom net af en toe hier verken, want dis tog maar van sy eie soort. Hy sorg dat hy altyd hierdie tyd van die dag kom om daar rond te snuffel, want dan is hulle mos almal altyd vas aan die slaap onder in hul gate. Soos 'n klein dief sluip hy stil tussen die grondhopies rond en snuffel hier en daar. Hy beruik die ingange, krap oral in die grond rond; maar let altyd fyn op of een van die rooirûe hom nie gewaar nie. Stadig begin hy weer die terugtog aanvaar, selfvoldaan en ewe houtgerus ...
"Swieppp!" Dit is die vlerke van 'n groot bosvalk wat rakelings oor hom heen trek . Die meerkatjie is totaal verbouereerd geskrik en pyl halsoorkop op die plaat soetdorings af. Woedend swaai die roofvoël om. Dis die eerste maal in sy lewe dat hy so sleg skat en nie met die eerste poging sy prooi bemagtig nie. Soos 'n warrelwind suis hy net betyds aan die kant van die dorings op die verskrikte hardlopertjie neer. Sy kloue kap diep in die mollige lyfie in. Angstig klink die meerkatjie se laaste piep ... Die valk skud sy vere reg en skiet met kragtige vlerkslae die bloute in. Onder aan sy kloue hang die lewelose ou meerkatjie.
Die ou korhaan het maar die heeldag hier in die nabyheid van die miershoop rondgedwaal met sy nuwe vroutjie. Hy hou baie van hierdie openinkie tussen die bome, hier waar die miershooptroon staan. Hier is mos kort gras, hoë gras, kaaltes, miershope, bome, kos en alles wat mooi is. Net hier iewers moet die nes geskrop word, hier iewers in een van die digte polle. Maar een klein dingetjie hinder hom: Vyande! Ja, waar sou die skelm wildekat weer vandag vertoef? Daar is onrus in die ervare ou korhaan se gemoed. Dis 'n nare wildekat hierdie. Hy probeer mos selfs om jou in die dag ook te vang; hy maak nie soos ander wildekatte nie.
Die korhaan se liefdesbetuigings het al verminder. Hy is nou seker dat hy die wyfietjie sal behou en sleep nie meer so gedienstig vlerk nie. Sy bly maar ewe skaam altyd naby die kant van die hoë gras, terwyl hy weer liewer die kaaltes uitsoek, veral waar daar baie miershope is om op te klouter. Vandag voel die ou se gemoed rustig en tevrede. Daar is nie die klaagtoon van die afgelope paar dae in sy geskree nie. As hy nou op 'n miershoop koim, dan skreeu hy fors en hard met 'n uitdagende trilling in sy stem. Hy voel eindelik volkome gelukkig op die bultjie. Net een ding wat hinder: Vyande!... die wildekat!
Die ou korhaan vrees met reg. Onder die digte haak-en-steekbos is daar vreeslike planne aan die broei. Vroeg vandag het die leë gevoel al op die ou bonte se maag gaan sit en dit het stadigaan vererger. 'n Kiewietjie in 'n hele lang nag is maar 'n skraal stukkie vir so 'n kwaai eter soos hy. Die son het nog 'n goeie twee uur tyd voordat hy die westerrant sal raak, maar die wildekat is nou al so knaend honger dat hy begin planne smee om vroegtydig kos te kry. Die verhekste ou korhaan! Dis sy skuld dat hy verlede nag verniet gejag het. Die kat skeur die grondjies kwaadaardig met sy klou voor hom oop. Hy is vasbeslote om die terggees voor môrevroeg te vang. Die vreeslike honger spoor hom aan. Hy sal sommer nou begin; die son sal tog netnou onder wees en dan moet hy al lankal in erns bekruip. 'n Rukkie daarna is alles verlate onder die haak-en-steek. Die wildekat is op jag ...
Al met die digste gras langs koers hy voort na die bultjie toe, versigtig onder die ruie brosdorings deur. Hy weet presies op watter kaalte die ou korhaan gewoonlik skree en rumoer. Dis daar waar hy gister die mislukte aanval gemaak het. Maar vanaand ... So versigtig en glad soos 'n gedagte gly sy slank lyf om die polle. Elke senuwee is gespan; geen ritseling of geluid ontsnap sy aandag nie. Hy stuur doelbewus deur die bome op die kaalte af. Netnou maar ... netnou maar ... Hy hoop die korhaan is daar . Dit gaan nou uiters versigtig verder. Hy is amper op die plek waar hy gister uit die pol gekruip het. 'n Sagte kreuntjie word gehoor. Die wildekat is byna senuweeagtig van opgewondenheid! Soos 'n trapsuutjies loer hy om die bos ... dan spring hy! Die ou korhaan se wyfie lê nek-af en spartel; geen geluid het haar ontsnap nie. Die wildekat grom nog boos en lek sy lippe af; maar dan pak hy sy buit in 'n paar sterk kake en verdwyn slu in die gras.
Net anderkant die strokie klein bossies wat die kaalte van 'n tweede een skei, is die ou korhaan besig om rysmiere los te skrop. Hier is darem maar baie kossies op die stinkgrasbultjie, dink die ou. Dit was baie goed dat hy hiernatoe verhuis het. Dit was net altyd 'n bietjie te eensaam hier; maar noudat hy 'n vroutjie het...!
Die laaste gedagte herinner hom weer aan sy vreugde. Met 'n genoeglike "krak!" vlieg hy op om die kort endjie van skaars 'n honderd tree deur die lug af te lê na sy miershooptroon toe. Hier iewers het sy wyfietjie mos lê en skrop. Hy stryk op die miershoop neer en kyk rond. Waar sou sy wees? Die ou korhaan word onrustig en laat 'n vraende "korr?" hoor; twee, drie maal herhaal hy sy lokkende roep. Sy is tog seker net hier iewers en sal netnou uitkom. Dalk skrop sy die nes reg hier aan die kant van die hoë gras. Hy gooi sy swart koppie in die lug en laat die harde geroep opgewek oor die vlakte klink: "Karak, karak, kraaaak, kraaaak!"
Dis tog snaaks, dink hy, wat sou dan van die meerkatjie geword het? Dis al of hy vanmôre spoorloos verdwyn het. Maar dit hinder hom nie lank nie. Selfvoldaan spring hy af om die wyfietjie te gaan soek tussen die gras. Aan die kant van die hoë polle steek die ou skielik vas; hy merk onraad. Watter krappe is dan hier op die grond? Hier lê vere ... en bloed. 'n Eienaardige reuk waai dof teen die ou korhaan aan. Stadig dring die werklikheid tot sy voëlbrein deur: Die wildekat het haar gevang; hy is weer alleen ...
Die son trek sy kop agter die bulte weg. Stadigaan begin die aandwind deur die bome heen roer en fluit saggies 'n klaaglied vir die ou korhaan. Die donker sak langsaam toe, maar die ou voël wil nog nie daar van die bultjie af weg nie. Hy draai maar doelloos al tussen die miershoop en die ongeluksplek rond. Die donserige veertjies sweef grys in die grou maanlig met die windjie weg.
"Karak, karak! Krak, krak!" Soos 'n droewige sug klink die verdriet in sy geroep. Die ou korhaan is besig om sy smart luid oor die slapende vlakte uit te klaag. Onder by die plaat brosdorings luister 'n donker gestaltetjie ademloos na die geroep en begin dan skielik vinnig koersvat na die stinkgraskol daar teen die bultjie ...
Dit is die wildekat.