Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is talle verbitterde mense wat reguit beweer dat hulle in geen vorm van liefde glo nie. Hoor wat die Woord oor liefde sê: "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." 1 Johannes 4:8
BLOUNEK KEER TERUG
Dr JP Botha
(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)
BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies
Op 'n kaalte tussen 'n lap hoë stinkgras staan Blounek, die tarentaalmannetjie ywerig en skrop. Dit is al naby sononder en daar is dus nie meer veel geleentheid oor om die krop doeltreffend gevul te kry voordat die skemer aanbreek nie. Gelukkig het hy hier op die klein kaaltetjie 'n droë boomstomp ontdek wat deur rysmiere gevreet word. Hy skrop lustig en pik hulle smaaklik op.
Die tarentaal se waaksaamheid verslap egter ook nie 'n oomblik nie. Kort-kort hou hy op en rek sy nek wantrouig onderwyl hy aandagtig na verdagte geluide luister. Hy voel nog nie heeltemal tuis in hierdie nuwe soort afgesonderde lewe, waar net hy en sy wyfie mekaar se geselskap deel nie, want hulle het maar skaars 'n maand gelede, nadat die eerste onweer die droë grasveld begin laaf het, van die swerm af weggedwaal.
Die paartyd het aangebreek en dit is Blounek se eerste ondervinding om self alleen vir sy eie veiligheid en dié van sy metgesel verantwoordelik te wees, want tot dusver kon hy nog op die waaksaamheid van die ou tarentaalmannetjies steun. Gelukkig is daar nou met die koms van die reënseisoen al weer volop sprinkaantjies en ander insekte tussen die graspolle te pikke en die kossoekery lewer geen groot probleem op nie.
Waar Blounek staan en skrop, dring nou saggies 'n fyn fluitgeluid tot hom deur, "fu-fuuuut, fu-fuuuut", kort-lank, kort-lank, die onmiskenbare roepsein van sy wyfie by die nes. Hy staak dadelik sy skroppery en antwoord trots maar gedemp, met die kenmerkende pronkroep van die tarentaalmannetjie: "Tjarr, tjat-tjat-tjat-tjarrr...", net eenmaal, asof hy besef dat 'n te groot lawaai maklik onwelkome gaste kan naderlok en laat vat dan op 'n vinnige draffie deur die kol stinkgras. Hy kom weldra aan die kant van die hoë gras op 'n groter kaalte te voorskyn en steek eers versigtig vas om die omgewing te bespied. Voor hom strek 'n plaat rosyntjiebosse uit, wat dadelik 'n verandering in die aard van die veld aandui. In die ruimtes tussen hierdie struike het die soetgras welig opgeskiet, om digte boskasies te vorm.
Blounek kon nie 'n beter oord vir die paarseisoen gekies het nie. Die ruigte onder die rosyntjiebosse bied goeie skuiling en die oop ruimtes tussenin kan maklik verken word, sodat geen vyand sommer ongesiens 'n verrassingsaanval kan loods nie.
Uit 'n opening in die digte lower onder 'n groot rosyntjiebos, kom Blounek se wyfie te voorskyn. Hy draf na haar toe en pronk 'n slaggie om haar rond, maar sy steur haar nie veel aan sy liefdesbewyse nie en draf alleen oor die kaaltes weg. Sy het hom geroep om 'n wakende ogie oor die nes te kom hou, onderwyl sy voor sononder nog eers gou haar krop moet gaan vul, want die honger knaag al sedert die namiddag met kort tussenposes, waar sy stil en geduldig op die eiers sit en broei het.
Blounek loer by die opening in en betrag die vyftien eiers berekenend. Darem goed beskut hier, waar die mooi geel-bruin gespikkelde eiers in die gras-uitgevoerde holte lê. Sy wyfie broei al 'n week lank en sover was daar nog geen teëspoed nie. Nog maar sowat drie weke, dan kan die kuikens al pik.
Teen sononder is sy al weer terug en dis duidelik dat sy genoeg voedsel raakgeloop het. Die tarentaalpaar kruip saam onder die rosyntjiebos in en die wyfie neem weer haar plek op die nes in, terwyl daar langsaan ook vir Blounek genoeg slaapruimte onder die digte beskutting beskikbaar is.
Net eenmaal in die nag lig die mannetjie onrustig sy kop en kirr wantrouig, as die tergende klanke van 'n honger jakkals se gehuil in vlae op die nagluggie aangedra kom. Maar die gevaar is veraf en dit raak weer stil en niks hinder die tarentale verder in hul nagrus nie.
Nog voor sonop wei hulle al weer saam tussen die rosyntjiebosse rond, knabbel hier en daar aan sappige jong blare, vang sprinkaantjies en skrop energiek tussen die graspolle rond. Maar weldra moet die wyfie weer na die nes terug, anders word die eiers te koud.
Blounek dwaal nooit ver van die nes af weg nie. Teen die namiddag gewaar hy 'n wildekat wat behoedsaam deur die ruigte sluip, in 'n poging om iets helder oor dag op die lyf te loop, nadat hy tevergeefs gedurende die nag gejag het. Blounek weet dat die wildekat nie juis in die eiers sal belangstel nie, maar sy wyfie verkeer in gevaar. Daarom aarsel hy nie 'n oomblik nie. Hy draf skuins voor die roofdier verby. Die kat het hom gewaar en sak dadelik plat teen die grond, onder die indruk dat die tarentaal nie van hom weet nie. Daarna sluip hy weer versigtig vorentoe, kry die tarentaal af en toe in die oog, waar hy oënskynlik argeloos rondskrop, maar sorg dat hy steeds verder en verder van die nes onder die rosyntjiebos weg beweeg.
Die wildekat is geflous. Die dag het verder sonder ongevalle verloop en so ook die volgende dae daarna.
Uiteindelik wei daar saam met Blounek en sy wyfie 'n span mollige kuikens tussen die rosyntjiebosse en nou verslap sy waaksaamheid geen enkele oomblik nie. Hulle wei bedags al verder van die omgewing van die nes af weg om vars weiveld te bekom, maar keer altyd teen die namiddag weer huiswaarts om teen sononder almal saam onder die beskutting van die beproefde ou rosyntjiebos in te kruip. Die kuikens word sterk en sal binnekort in staat wees om snags saam in die hoë bome te slaap. Dit sal die bedreigings van die nag heelwat verminder, dink Blounek.
Die voëls is besig om op 'n gelykte langs 'n plaat brosdorings uintjies uit te skrop. Dit word tyd om nes toe te versit. Die kuikens wei al verder van die ou voëls af weg en die wyfie moet hulle kort-kort met 'n gebiedende kirr nader roep.
Hoog in die lug, so hoog dat alleen 'n klein, vaal stippeltjie in die bloute sigbaar is, hang 'n vaal kuikendief en speur met sy skerp oë na onder. Hy gewaar die groepie tarentale en sy kragtige vlerke kom flink in beweging.
Skielik waarsku Blounek dringend met 'n angstige "tjik-tjik"-geluid. Daar is meteens die gesuis van vlerke wat blitsvinnig die lug klief. Die wyfie fluit waarskuwend en laat nael soos 'n renperd na die beskutting van die hoë gras daar naby, terwyl Blounek met opgepofte vere en gestrekte nek 'n oorverdowende lawaai opskop. Maar die volgende oomblik was die slag alreeds gelewer. Die groot valk het soos blits, laag oor die toppe van die brosdorings heen geswiep en 'n naaste kuiken opgeraap. Die ander het eenvoudig net presies waar hulle was in die niet verdwyn.
Dit duur 'n rukkie voordat Blounek sy oorlogskreet staak en die wyfie weer uit die lang gras te voorskyn kom. Sy fluit saggies en oral op die gelykte verrys skielik weer die gestaltetjies van die ander kuikentjies. Hulle storm gretig op haar toe.
Daardie aand slaap Blounek en sy wyfie onrustiger as ooit tevore en gedurende die nag lig hy verskeie kere die kop om na moontlike gevaarseine te luister. Maar gelukkig gaan die dae verder vir die tarentaalfamilie sonder enige ongevalle verby. Na 'n maand kon die kuikens al fluks volhou om vinnig en aanhoudend te draf. Hulle kan al ver ente vlieg. Hulle slaap lankal nie meer onder die ou rosytjiesbos nie, maar wei reeds ver daarvandaan in 'n strook veld waar kolle hoë stinkgras deur lappe brosdoringbome afgewissel word.
Blounek kom 'n ander tarentaalfamilie teen. 'n Dag of wat later groei hul geledere weer aan. Die verskillende groepe sluit saam en spoedig wei daar reeds 'n groot swerm rustig tussen die brosdorings rond. Dit wemel van jong, opgeskote tarentale, die gewese kuikens van die afgelope broeiseisoen.
Die somer is stadigaan besig om te kwyn. Gelukkig is kos nog volop in die ruie doringveld. Oorvloedige reëns het gesorg dat daar geen gebrek aan grassprinkaantjies, rysmiere, grassade, sappige worteltjies en knolle soos krulblaar, uintjies, bossie- en graskalkoentjies bestaan nie. Die jong tarentale groei vinnig en die ou mannetjies steur hulle nie meer veel aan die jonges nie.
Blounek herken verskillende ou bekende makkers van verlede seisoen. Hy voel nou weer volkome tuis. Maar tog bly hy en sy wyfie naby aan mekaar en hulle skrop gewoonlik saam. Hulle steur hulle nie meer aan hul eie kroos nie, want al die jong tarentale het reeds selfstandige lede van die swerm geword.
Die swerm slaap nie graag langer as twee opeenvolgende nagte op dieselfde plek nie, om te verhoed dat ongediertes die slaapplek ontdek. Teen sononder tou die swerm lawaaierig na 'n groepie alleenstaande blinkblaarbome en vlieg luidrugtig tussen die hoogste toppe in. Dis al sterk skemer voordat die laaste "tjarrr-tjik-tjik-tjarrr..." van die mannetjies stil raak en die swerm uiteindelik tot rus kom.
Die nag sou egter nie rustig verloop nie. Vroeg in die voornag kom 'n wildekat onder die bome langs versigtig aangesluip. Hy steek vas toe hy skielik 'n verdagte donker kol bokant hom op 'n dwarstak gewaar en hy weet dat dit 'n jong tarentaal is wat dom genoeg was om nie in die hoogste toppe te gaan skuiling soek nie.
Hy sluip behoedsaam nader en klim geluidloos teen die blinkblaarstam na bo. Die volgende oomblik trek sy liggaam deur die lug. Takkies kraak en 'n harde plofgeluid versteur die stilte terwyl hy met sy buit na benede stort. Dan word die nagstilte skielik fel versteur soos die menigte tarentale halsoorkop uit hul slaapplekke opfladder en met benoude "tjik-tjik"-geluide vinnig in alle rigtings die donker inskarrel. Enkele van die jonges het bly sit en tuur nou met gestrekte nekke senuagtig die duisternis in, maar as die wildekat skielik 'n oorwinnende gegrom uitstoot, wag hulle nie meer langer nie, maar warrel haastig uit die takke uit, die onbekende nag in.
'n Rukkie na dagbreek die volgende môre, kom klein groepies tarentale oral uit die bome van die omgewing te voorskyn en soek die ander verstrooide lede van die swerm op. Eers lank daarna begin die swerm weer voltallig lyk. Skynbaar is die ergernis van die nagtelike aanval gou vergete en kom die groot ligblou swerm weer in beweging.
Die dae gaan gelukkig met min ongevalle verby, maar gaandeweg word die veldkossies skaarser, want die winter kruip al nader en die groot tarentaalgemeenskap word genoodsaak om elke dag 'n hele entjie te trek in 'n poging om die kroppe gevul te hou.
Een middag laat kom hulle al weiende onder 'n plaat haak-en-steekbosse aangekuier, toe die voorstes skielik vassteek en die nekke rek. Die hele swerm ruk tot stilstand. Dofweg deur die bome klink die geblaf van 'n hond op en die ou mannetjies "tjik-tjik" onrustig.
Na 'n rukkie wei hulle verder en kom aan die kant van die haak-en-steek op 'n draadheining af. Aan die ander kant strek 'n afgeoeste mielieland oor die kaalte uit en dit duur nie lank nie of die hele swerm wei genoeglik tussen die stronke rond. Hier is vir jou darem nou sommer baie te pikke, en sulke smaaklike kos daarby! Hulle skrop volop mieliepitte en selfs heel mieliekoppe onder die blare oop en die kroppe word vinnig vol. Blounek en die ander groot mannetjies het die afgelope paar dae die honger so sterk voel knaag dat hulle waaksaamheid met hierdie ryk vonds sommer heeltemal verslap. Daar gebeur egter niks nie en teen sononder beweeg die swerm na 'n aantal wilde seringbome aan die kant van die land. Hulle skop 'n groot lawaai op, onderwyl hulle selfvoldaan in die bome opvlieg om 'n kommerlose nag deur te bring.
Omtrent 'n kilometer daarvandaan het die boer van die plaas die rumoer gehoor en hy wis dat die tarentaalswerm die mielieland ontdek het en die volgende paar dae nie sommer verder sal trek nie. Vroeg die volgende môre stap hy en sy seuntjie met 'n haelgeweer deur die bome in die rigting van die lande daar teen die bult. Hulle nader die land deur die ruie plaat haak-en-steek en kruip naderhand stadig op hande en voete die laaste paar tree deur die hoë gras, voordat hulle die massiewe bank ligblou gespikkelde tarentaalrûe tussen die stronke gewaar.
Dit is maar pas sonop, dog die swerm wei al weer houtgerus en behaaglik aan die kant van die land, binne goeie trefafstand. Blounek en 'n paar ander mannetjies voel meteens onraad aan en lig tegelyk hulle koppe op. Maar dan dreun die haelgeweer se oorverdowende slag skeurend deur die môrestilte en die benoude ge-"tjik-tjik" van die angstige voëls word oombliklik verswelg deur die gesuis van die menigte tarentaalvlerke, soos die swerm verbouereerd in al vier windstreke oor die mielieland wegskiet. Tussen die stronke spartel twee van die voëls tevergeefs om weer op die been te kom en 'n derde hardloop 'n slag al in die rondte en probeer kort-kort opvlieg, maar val terug, want een van sy vlerke hang slap.
Die seun hardloop so wat hy kan oor die kaalte van die land op die gekweste tarentaal af. Dié probeer nog eenmaal om op te vlieg, maar dan lê die gekweste voël die rieme neer tussen die stronke deur, met sy af-vlerk flappende langs sy sy. Sy agtervolger haal uit so al wat hy kan, maar die jong tarentaalmannetjie behou sy voorsprong tot aan die kant van die land en glip ongedeerd onder die beskutting van 'n digte lap katnael in. Die seun stap teleurgestel terug, maar hy voel tog trots op sy vader se kordaatstuk om twee tarentale met een skoot neer te skiet.
Daardie dag het die swerm dit nie weer gewaag om naby die mielieland te kom nie. Dit het 'n lang ruk geduur voordat al die voëls mekaar weer raakgeloop het, maar eindelik het die swerm weer naasteby voltallig aan die voet van 'n koppie onder 'n paar uitdoppertjiebome rondgekuier en toe die son ondergaan, maar sommer daar in die hoogste bome oornag.
Die volgende môre was die herinnering aan die vorige dag se verskrikking nog te vars in al die tarentaalgeheues en nie een van die ou mannetjies het 'n poging aangewend om die swerm weer in die rigting van die mielieland te lei nie.
Die vorige middag het die seun van die plaas 'n sifdraad-vanghok na die mielieland geneem. Die volgende môre het hy vol verwagting die vangplek besoek, maar teleurgesteld weer omgedraai.
Laat daardie middag het Blounek en sy maters al weer in so 'n mate van die skrik herstel dat die honger die oorhand gekry het. 'n Rukkie voor sononder nader die swerm weer stil-stil die mielieland, bespied die omgewing goed en wei dan versigtig al dieper die land in.
Op die voorpunt gewaar Blounek en 'n paar van die ander tarentale die eienaardige sifdraadhok tussen die stronke en betrag die vreemde verskynsel met argwaan. Die ding bly egter leweloos. Hulle draf om hom rond en sien die mieliepitte binne-in lê. Blounek ontdek eerste die ingang en glip na binne. Drie van die jong mannetjies volg hom. Hulle pik lustig aan die heerlike mielies, onderwyl nog meer tarentale 'n poging aanwend om die pad na binne te vind. Om een of ander rede wil een van die jong voëls aan die binnekant net eers weer 'n slaggie uitkom en probeer om deur dieselfde ingang deur te glip. Die sifdraad druk terug en die opening sluit. Hy begin op en af langs die hok se kante na uitkomkans soek. Blounek en die ander twee staak hulle pikkery en begin self senuweeagtig al teen die die draad langs beur. Die tarentale aan die buitekant raak onrustig oor hulle maats se verleentheid en wei haastig verder. Net Blounek se wyfie staan 'n endjie daarvandaan verwonder en toekyk en kan nie begryp wat dit is wat haar getroue ou makker daar in die snaakse ding gevange hou nie.
Blounek self kan dit ook nie verstaan nie. Hy het sy snawel en die horing op sy kop al seer gestamp teen die dun sifdraad, maar dit wil glad nie meegee nie. Dis baie sterker as enige grasstingel en hy vermoed vaagweg dat die affêre ook met die eienaardige tweebeengestaltes in verband staan. Hy blik verlangend deur die versperring na sy wyfie en sien hoe sy meteeens omspring, 'n endjie hardloop, dan vinnig opvlieg en met groot vaart oor die bome verdwyn. Van die ander tarentale is daar geen spoor meer te sien nie en die son gaan al onder.
Dan gewaar Blounek die oorsaak waarom sy wyfie so haastig gevlug het. Die seun kom haastig tussen die stronke deur gedraf. Saam met die drie jong tarentale wend Blounek nou 'n wanhopige poging aan om deur die draadversperring te breek, maar alles tevergeefs. Met 'n juigkreet op sy lippe buk die seun langs die hok, steek sy hand deur die vangopening tussen die spartelende voëls in en trek een van die jonges uit. Sy nek word haastig omgedraai en ook die tweede een s'n, wat aan die pootjies uitgesleep word. Die seun sukkel 'n paar oomblikke opgewonde om die derde jong mannetjie in die hande te kry, vang hom eindelik aan 'n vlerk en trek hom gretig deur die opening. Die angstige voël spartel geweldig en voordat die seun hom aan die pote kon beetkry ruk hy meteens los met verlies van byna al sy stertvere en fladder dreunend oor die mieliestronke heen weg. Hoe heerlik lok die amper verlore vryheid tog nie daar ver oor die hoë boomtoppe heen nie!
Die seun los 'n paar luidrugtige verwensings en vestig dan sy aandag op die laaste tarentaal in die hok. Dit is darem 'n pragtige groot mannetjie! Hy kry skielik 'n ingewing, snuffel in sy sakke en bring 'n stukkie tou te voorskyn. Hy slaag daarin om die beangste voël deur die opening te trek en sy pote stewig vas te bind. Dit raak al skemer toe hy met sy ryk buit in die rigting van die plaashuis aanstap.
Die volgende oggend ontdek die angsbevange tarentaalmannetjie dat hy in 'n ander groot sifdraadhok op die plaaswerf gevange gehou word. Die seun kom van die woonhuis af aangestap en gooi 'n klompie mieliepitte in die hok. Blounek raak verbouereerd en maal al in die rondte teen die draadkant aan. Hy wend vrugtelose pogings aan om te probeer ontsnap en toe die skemer uiteindelik aanbreek stap die ontstelde ou tarentaalmannetjie nog een stryk deur al in die rondte teen die sifdraad langs.
Na 'n paar dae word hy rustiger en pik al af en toe aan die mieliepitte in sy hok. Hy raak al gewoond aan die bewegings van die mense op die werf, maar fladder nog beangs teen die draad wanneer die groot hond verbystap.
Hy voel soms 'n drang om te skrop alhoewel dit nie juis nodig is nie, want hy kry genoeg kos. Die grond is buitendien so hard en droog dat 'n skroppery niks help nie.
Snags sit hy soos 'n armsalige hoender op sy slaapstokkie en kwyn en dink vaagweg aan die swerm en wonder waar sy wyfie haar bevind.
Gelukkig gaan die winter verby en die koue verdwyn. Die kwesplekke aan sy kop wat deur die sifdraad veroorsaak is, het lankal genees. Al kry hy genoeg kos, staan hy maar elke dag verwese daar in sy hok, in troostelose tarentaal-eensaamheid, met gestrekte nek al starend oor die plaaswerf heen.
Op 'n goeie nag begin die weerlig aanhoudend aan die westekant te flikker. Die wind steek op en die dreunings word al harder totdat die eerste druppels van die voorjaar in die stof begin te plof. Weldra ruis die stortreën neer, sodat die waterstroompies helder in die blitse van die weerlig blink. Met sy kop onder die vlerk sit die tarentaalmannetjie ongestoord en slaap onderwyl die druppels oor sy vere rol.
Toe dit lig word ontdek hy dat die vuil modderwater 'n gapping onder die draad van sy hok uitgespoel het sodat hy sy kop daar heeltemal kan deur steek. Hy begin naarstiglik te skrop dat die grond in alle rigtings spat en die opening word stadig maar seker groter want die grond is lekker nat. En dan breek die groot oomblik aan, die oomblik waarop hy amper nie meer kon hoop nie. Hy duik onder die draad in, spartel 'n oomblik woes en glip deur. Eers skyn dit of die ou tarentaalmannetjie nog glad nie besef dat hy werklik vry is nie. Hy staan 'n oomblik stil en hoor hoe die woonhuis se agerdeur oopgaan. Dan klink daar oor die stil werf skielik die bekende "tjik-tjik" van 'n tarentaalmannetjie wat geskrik het.
Die seun wat by die agterdeur uitgestap kom, is net betyds om te sien hoe die voël vinnig oor die kaalte spore maak voordat hy in volle vaart opwaaier en swenkend oor die huis se nok verdwyn.
Blounek het die hele dag lank tevergeefs na sy eie tarentaalswerm gesoek, maar toe die son ondergaan, hoor hy die lawaai van tarentaalmannetjies wat gereedmaak om in die slaapbome in te vlieg. Hy draf daarheen en tref net enkele voëls van sy eie swerm aan, wat nog nie afgedwaal het om te paar nie. Sy wyfie is ook nie daar nie.
Vroeg die volgende oggend verlaat Blounek weer die klein swermpie en sny hot en haar oor die vlakte spoor. Aan die kant van 'n kol blouhaak ontdek hy bekende skropmerke. Sy uitdagende geroep weerklink oor die vlakte. Diep uit die blouhaak kom die gefluit van 'n tarentaalwyfie se antwoord en onmiddellik daarna verneem Blounek ook 'n tarentaalmannetjie se stem.
Hy draf tussen die blouhaak op 'n kaalte uit en tot sy vreugde gewaar hy sy eie wyfie, waar sy aan die kant van die hoë gras staan en skrop. Sy kyk verras op onderwyl hy nader draf, maar die vreugdevolle herontmoeting duur nie lank nie want 'n ander tarentaalmannetjie kom met opgehewe vere aangedraf en gaan Blounek onmiddellik te lyf. Toe is die geveg verbete aan die gang. Die stryd word blitsvinnig met hul snawels gevoer, want ander weermiddels besit hulle nie. Uiteindelik kry Blounek sy teenstander aan sy kaal nek beet, byt vas en rem woes agteruit.
Die pyn verdryf skielik alle veglustigheid en die verloorder ruk wanhopig los en blaas vinnig die aftog, met Blounek 'n paar tree agterna.
Dan skenk hy weer aandag aan sy teruggevonde wyfie. Hy pronk 'n slag windmakerig rond en begin dan om naarstiglik onder die blouhaakbos rysmiere oop te skrop. Sy pik dit skaam-skaam op, want Blounek haar eie mannetjie, het uiteindelik weer teruggekeer.