Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Onverantwoordelike leier staan nie net onverskillig teenoor sy eie lewe nie, maar benadeel ook dié van sy volksgenote. Daarom word hy baie maklik deur die stormwind van sy eie onverskilligheid weggewaai. Pligsbesef is soos ‘n boom wat goeie vrugte dra.
SPOOKSTORIES: CJ LANGENHOVEN (5)
Reeks by Versamelde Werke van Langenhoven
DIE SKADUWEE (SLOT)
"Ja, ek ken Oom Andries Drieske. En my naam is Susanna. Wanneer iemand ons eendag formeel aan mekaar voorstel — sê nou maar ons sou mekaar onder sulke omstandighede raakloop — kan hy jou my ván meedeel, en dan sal jy so goed wees soos om die Susanna maar weer te vergeet. Hier in die onbeskaafde en onbederfde oerwoud waar ons mekaar aangetref het soos oorblyfsels uit die voorwêreld, lyk seremonies bietjie onvanpas, nie waar nie?" -
"Vergeet my ván, juffrou — nee, Susanna. En vergewe my die onbedagsaamheid dat ek hom gemeld het."
"Ja, Paul, dit sal ons albei se plig wees om die hele episode te vergeet. Maar terwyl hy nou nog voortduur — vertel my van jou geheim wat jy aan die wêreld wil bekendmaak en hier in die donker dieptes van die eensame bos in 'n vreemde taal uitgee."
Paul lag. "Ja, Susanna. Maar ek sal eers nog sinsnede in die vreemde taal aanhaal. (Die boodskap kom oorspronklik van 'n naamgenoot van my wat ook nie 'n van had nie.) Ek sal voorsê en dan sê jy dit agterna —
Ean tais gloossais toon anthropoon laloo kai toon angeloon, agapeen de mee echoo, gegona chalkos eechoon ee kymbalon alalazon.
"Nee, Paul, ek sal dit nie regkry nie. Is die woorde onvertaalbaar sodat jy die hele wêreld eers daardie taal sal moet leer om die boodskap te kan ontvang?"
"Nee, Susanna, hulle is klaar vertaal, oor en-oor, terwyl jy dan, net soos Eva, dwing om jou nuuskierigheid te versadig: 'Al ware het dat ik de talen der menschen en der engelen sprak, en de liefde niet had, zoo ware ik een klinkend metaal, of luidende schel geworden'."
Susanna steek 'n glimlag weg en antwoord ernstig. "Ek dink, Paul, jy het die liefde wat daar bedoel word, by jou talekennis. Maar arme ek, ek het die Grieks vir ‘ swarttaal aangehoor."
Paul bedwing die antwoord wat voor die hand lê en haal sy Griekse testament uit sy sak en wys dit vir haar. "Boeke is hier skaars," sêhy. "Maar daar is altyd een wat nie verveel nie. Ek maak daar 'n gebruik van om my Grieks vir myself hardop te lees dat dit nie vir my 'n dooie skryftaal moet bly nie. Maar my genant van wie ek aangehaal het, sou hom seker siek gelag het oor my uitspraak."
"Jy leer dan vir predikant?"
"Ja, ek is in die Kweekskool op Stellenbosch."
En daarvandaan het hulle voortgesels; en voor hy dit wis het hy, wat anders vir al die mense so terughoudend was, sy hart vir haar geopen en haar van sy jong dae vertel en van sy leerjare, en van sy sug en smarte om klaar te kom vir die groot werk waartoe hy sy roeping gevoel het van kleinsaf. En ongemerk het die voormiddagure verbygesnel, soos dit sulke tye gebeur.
Etenstyd het hy saam met haar na haar huis teruggegaan en met die oom en tante Skalk kennis gemaak, en hulle het hom daar gehou om te eet. Karel was weg na die Kaap om produkte te verkoop wat met die trein opgestuur was.
Daar was nog amper 'n week se vakansie vir Paul en Susanna. Daar was een van die seldsame groot reëns gewees, en dit was nou die volmaakte lentedaevan September; en dag vir dag van die môre tot die aand was Paul en Susanna bymekaar, dan uit in die Karooveld waar klipkoppie en gruisvlakte oordek word met 'n skitterende tapyt van veelkleurige vygies, gousblomme, dan weer rivier op en rivier af in die koelte van die groot borme. Die laaste dag, die dag van afskeid, het hulle op dieselfde grasplekkie gesit op die wal van die seekoegat waar hulle mekaar die eerste dag ontmoet het.
"Kan ek vir jou skrywe, Susanna?"
"Ja, Paul; dit sal baie lief wees van jou. Ek is maar eensaam — ek meen, daar is min afleiding hier op die plaas."
"En jy sal terugskrywe, Susanna?"
"As dit jou nie sal verveel nie, Paul. Daar gebeur so min hier om oor te skryf."
Daar sou genoeg gewees het om oor te skryf, baie genoeg en diep genoeg, maar dit sou sy in haar binneste hart moet verberg. Want Paul het nie die woordjie gesê wat haar die reg sou gee nie. Sy wis dit was daar, as hy dit maar wou sê. Die vrou weet altyd. Waarom tog swyg hy?
Had sy maar geweet wat die swye hom gekos het aan selfbeheersing. Paul, hoog tot ooruiterste toe in sy beginsels, het nie beskou dat hy reg had om haar na 'n week se kennismaking te vra nie. Sy wis mos van hom niks, het hy in sy eenvoudigheid gereken. En as sy sou nee sê — die man weet nie soos die vrou weet nie, omdat hy van homself oordeel, hy wat nie weet van wegsteek nie buiten met woorde — as sy sou nee sê dan sou hy met een enkele dwase misstap die vriendskap vernietig het wat vir hom soeter geword het as alles anders op aarde.
En so is hulle uitmekaar, met niks tussen hulle nie en alles tussen hulle.
Toe Paul reeds terug was op Stellenbosch, en Susanna se skool was weer aan die gang, het Karel tuisgekom van sy reis Boland-toe. En by die mense gehoor, veral by sy moeder wat hy verder tot in besonderhede uitgevra het, van die jonge student wat daar gekuier het en hoe hy sy kuiertyd daar deurgebring het. Hy en Susanna het nie oor Paul gesels nie buiten terloops as die ou mense van Paul iets sê. Trouens, innigheid van gedagte-wisseling was daar nooit tussen Karel en Susanna nie. Daar was geen meegevoel of geesverwantskap nie. Al wat tussen hulle was, was dat Karel vir Susanna wou hê met al die onbeteuelde onweerstaanbaarheid van sy sterk natuur.
Paul het nie lank gewag om te skryf nie. Karel was skaars 'n week tuis toe kry hy — in die plaassal wat deur die verbygaande poskar gereeld aan 'n paal aan die groot pad opgehang is, en Karel was die man wat altyd hulle pos daar gaan haal het — kry hy ‘n brief aan Susanna geadresseer, 'n dik brief, Stellenbosch se posmerk.
Toe by by die huis kom, staan Susanna digby die groot hek aan die pad voor die deur, haar oë gloeiend van blye vooruitsig.
"Nog nooit het sy so gewag om my te verwelkom nie," dog Karel, en die bitterheid van gal deurtrek sy siel.
"Nie 'n brief vir my nie, Karel?"
"Nee, Sannie, daar is nie 'n brief vir jou nie.' Hy is bly dat hy die brief in sy binnesak gesteek het, besonders van die ander posgoed wat daar was.
Susanna draai om in die huis in terwyl Karel aanry na die stal toe. Toe sy in haar kamer kom vee sy haar trane weg. "Ag, ek is verspot. Paul was bang om ongepoets te lyk met oorhaastigheid. Maar dit sal 'n lange week wees om te wag vir die volgende pos."
Die aand, toe die res van die huis al donker was brand daar nog 'n kers in Karel se kamer. Hy sit die lang brief en deurlees. Eintlik was daar hoegenaamd niks in wat, sover as die uiterlike sin van die woorde betref, nie aan die hele wêreld kon voorgelees geword het nie. Maar daar was verwysings na dinge waaroor Paul en Susanna gesels het, plekkies wat hulle besoek het in die veld of by die rivier, weergalms van herinnering. Agter en onder die onskuldigbeleefde woorde was daar 'n diepte. En bo alles was daar een oorweldigende indruk wat Karel ontvang het, en die was dodelik tot dodelike onvergeeflikheid toe: "Daar is plekke waar ek nooit naby kom nie waar hierdie man tuis is wat so skryf. Daar is hy my meerdere, en daar is hy Sannie se maat." Die volgende dag, ver op die lande alleen, het Karel die brief verbrand en die laaste assie onder die sand toegeskop.
Met voete van lood het die week omgegaan. Nog drie dae, nog twee dae, nog net een dag maar elke uur is soos 'n jaar. Weer het Susanna by die groot hek gestaan en wag — hierdie slag was sy seker! —en weer het sy op dieselfde vraag dieselfde antwoord gekry: "Nee, Sannie, daar is nie 'n brief vir jou nie." Eintlik was daar 'n tweede brief in Karel se binnesak.
Nog drie weke agtermekaar het daar elke slag 'n brief gekom, en daarna het Paul 'n maand gewag en
weer tweemaal geskryf. Elke slag as Karel met die pos by die huis kom, sien hy hoe Susanna die trane uit haar oë terugdwing maar haar bewende lippe nie kan beheers nie. En sy gevoel daaroor was nie jammerte nie maar bitterheid.
"Soos Susanna vir my gesê het, die eerste dag,” dog Paul daar op Stellenbosch, "dit was maar ‘n episode vir albei van ons om te vergeet. Maar as sy ook vergeet het, ek sal nie vergeet nie."
"Dit was 'n vermaaklike vakansie-ondervinding Paul," dog Susanna daar in die Karoo. "Wie weet hoeveel meer van dieselfde het hy elders gehad. Maar ek het geen reg om hom van ontrou te beskuldig nie. Daar was niks tussen ons nie. Van my kant alles, van sy kant niks."
Dit het 'n ses maande of so geduur, toe is Karl weer Kaaptoe op een van sy gewone reise oor boerdery-sake. Solank as hy weg was, het Susanna een meedeling ontvang met Stellenbosch se posmerk. Sy vlieg na haar kamer toe om dit oop te maak. Dit was 'n troukaartjie; die gewone vorm van aankondiging dat Proponent Paul Drieske, M.A., B.D., seun van so en so van Witpoort, Colesberg, op die en die datum in die huwelik sou tree met Jongejuffrou Aletta van der Merwe, dogter van so en so, op dieselfde plaas en distrik. Die adres buite op het nie na Paul se handskrif gelyk soos Susanna dit voor in sy Griekse testament gesien het nie, maar as mens bale kaartjies het om te pos, kry jy dikwels 'n vriend om jou te help.
Dit was 'n gewone ding vir Susanna om op haar wandelings oor die plaas by Paul se oom en tante waar hy daardie tyd kom kuier het, aan te gaan.
Hierdie slag het sy spesiaal gegaan. Voordat sy nodig had om met 'n omweg op die gesels oor Paul se aanstaande huwelik te kom — en dit sou nie maklik gewees het om haar belangstelling bloot vriendskappelik te laat skyn nie - praat die ou-mense self. Hulle het ook 'n kaartjie gekry. Hulle weet van Aletta en haar mense. Sy en Paul het saam groot geword.
Karel was voor hy Kaap-toe is by hulle gewees en had die gesels in Paul se koers gestuur en uitgevind omtrent sy persoonlike omstandighede soveel as hy kon. Dit was nie Karel se gebruik om halwe werk te doen nie.
En dis maklik genoeg om by 'n groot drukkery waar vandag se joppie môre vergeet is, vals troukaartjies te bestel en te ontvang en te betaal daarvoor.
Die namiddag van Karel en Susanna se bruilof het sy onder die gaste uit verdwyn. Omdat daar so 'n magdom van mense was, is daar 'n soort piekniek-bruilof gehou onder die buitenste bome by die rivier. Sy kon ongemerk wegraak want die een groep het gedink sy is ergens by 'n ander. Vir oulaas het sy op haar ou grasplekkie gaan sit op 'n opgevoude deken wat sy saamgebring het terwille van haar bruidstawwerd.
Soos daardie ander dag, wat nou lyk na 'n dag uit 'n ander lewe, pluk sy 'n takkie en gooi dit in die gat water. "Dryf maar heen, takkie, so het ek gedryf. Maar jy is minder ongelukkig want by jou is dit maar die liggaam wat weggevoer word. Kon dit tog maar my liggaam gewees het en nie my siel nie wat so afdryf! Ag, Paul, Paul, Paul, waarom het jy my ooit ontmoet? Had jy nie gekom en my moed met my hart gebreek nie, ek sou my teen Karel kon verset het. Nou was ek teen reus 'n verlamde en verkruppelde. Wat was daar om verder saak te maak linkerkant-toe of regterkant toe? Al die paaie het maar vir my in die donker in geloop."
Soos op daardie dag van haar eerste intree in die nou-verlore paradys, hoor sy blare ruis en 'n twygie knak. Paul staan voor haar. ' Sy staan op.
"Geluk, Mevrou Skalk. Ek moes oor 'n sakie van my vader by my oom aankom op my reis huistoe en ek het opgeloop hierheen om ook aan die bruilofvrolikheid deel te neem. Maar toe ek naderkom en die gelukkige skare sien .... nou ja; daar is ander gaste oorgenoeg. En nou kan ek jou tog darem hier gelukwens."
"En ek moes jou ook gelukgewens het, Dominee Drieske. Jy was so vriendelik om my darem te onthou om my 'n troukaartjie te stuur. Maar waarom sou ek skryf? Jy het vergeet om te skrywe."
"Troukaartjie? Troukaartjie, sê jy, Susanna?” Paul word bleek. Hy byt sy tande vas opmekaar en klem sy vuiste tot die vingernaels byna blou uitpers. "Troukaartjie? En ek nie geskryf nie?”
"Nee, Paul; nooit het ek 'n enkele briefie van jou ontvang nie, buiten net die troukaartjie." Sy haal dit uit haar bors en wys dit vir hom. Altyd nog het sy dit by haar gedra — die enigste kleinood vir aandenking wat sy van Paul had.
Vereers maak Paul nie aanmerking oor die kaartjie nie. "Hoe word jou pos hier besorg, Susanna?"
"Dis altyd Karel wat dit uit die sak gaan haal aan die pospad."
"En waarvandaan is die troukaartjie gepos?"
"Van Stellenbosch af. Karel was net op een van sy besigheids-besoeke in die Boland." Sy swaai om óm te val sodat Paul haar moes vang. "O Paul; Karel het my met bedrog gekry!"
Paul se woorde bars in 'n stortvloed oor mekaar uit. "Hy het jou met bedrog gekry, Susanna, en jy is nie syne nie. Jy is myne; voor God en mens is jy myne. Van der ewigheid is jy myne en tot in der ewigheid. Kom, Susanna; kom weg met my saam. My beroepsamp kan na die verdoemenis gaan; geen duiwel en geen engel sal ons skei nie. Ek is joue en jy is myne, en al wat daar anders is van hel of hemel in hierdie lewe of in die namaals, tel nie soos 'n stoffie in daardie weegskaal nie. Kom. Laat Karel Skalk egskeiding soek of nie, laat ons verstoot en vervloek wees, ons neem mekaar."
Met onkeerbare woede van hartstog omhels by haar en soen haar. Deur 'n paar oomblikke van ekstase gee sy haar gevange. Toe worstel sy haar los uit sy arms. "Paul . . . . Paul! Ek het jou meer lief as jy vir my want ek offer my siel op om jou onbesoedeld te hou. Mag die Here my vergewe Paul — ek aanbid jou. Maar ek wil nie 'n god van klei hê nie; en van jou kant af, jou gevoel vir my, jou liefde en jou eerbied, ook die wil ek vir my rein en volmaak bly behou. Jou roeping wag — gaan besweer die wat jou hoor, met woorde wat soos klokke klink uit jou gelouterde siel, dat hulle elk sy kruis moet dra of hulle is die Groot Gekruisigde nie werd nie. En neem jy jou kruis op, Paul. En, Paul, by al die ander, laat daar 'n ietsie wees om jou te beweeg om my ontwil. Jy het my mos lief genoeg om my te ontsien?"
Paul staan 'n rukkie stil, hoof vooroor gesak. Op die woeste storm in sy siel volg kalmte; in sy hart kom die vrede van onderwerping aan swaar lyding. Hy kyk weer op in Susanna se gesig. Sy oë is vol trane.
Hy groet haar met die hand. "Vergewe my Susanna. Dag, Susanna."
Sy hoor hom verder en verder tussen die onderbos wegraak tot daar stilte is.
"Hom vergewe? Mag die genadige Vader my, sy arme dogter, vergewe. Ek het Paul weggestuur met sy kruis; vir my is die kruis te swaar. help my; ek kan dit nie dra nie."
Die nag het hulle gesoek en gesoek; die volgeldeoggend het iemand die lyk in die bruidsgewaad sien afdryf op die Seekoegat se donker water, stadig soos die takkies gedryf het.
Karel het 'n lange uur so na die lyk gestaan en kyk, en toe weggedraai en dit aan ander mense gelaat om te doen wat daar te doen was, en huistoe gegaan. Toe hy by die groot hek kom, daar waar Susanna hom vir haar briewe ingewag het, lê daar om hom weer in te wag, in die helder namiddagson die skaduwee sonder 'n voorwerp, die skaduwee van 'n vrouegestalte wat nie daar staan nie.
En daarvandaan, waar hy staan of waar hy gaan, altyd is daar by sy skaduwee nog 'n skaduwee om syne te vergesel. Ander mense het daardie tweede skaduwee nooit gesien nie maar dit het hulle koue grille laat kry dat Karel, waar hy loop, altyd eenkant toe op die grond kyk as hy die son van agter het, en oor sy skouer as hy die son van voor het. Ses maande het hy dit uitgehou, want hy was 'n man van yster. En toe het hy begin te besef daar is maar een van twee weë vir hom — om die pad te gaan wat Susanna gegaan het en van die skaduwee te vlug na die land van skaduwees; of om weggestuur te word na 'n kranksinnige-gestig.
Nee, maar daar was 'n derde weg oop, en dié het hy geneem. Hy het Ds. Drieske gaan opsoek daar in sy nuwe gemeente, en die dominee het hom 'n week daar gehou. En vandat hy daarvandaan teruggekom het, was die buite-skaduwee weg.