Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ek gaan maar net een maal deur die lewe;
Enige goeie daad wat ek kan verrig of enige welwillendheid wat ek aan my naaste kan betoon, laat ek dit nou doen.
Laat ek dit nie uitstel nie want ek sal nie weer hierlangs verbygaan nie
SPOOKSTORIES: CJ LANGENHOVEN (2)
Reeks by Versamelde Werke van Langenhoven
DIE SPOOK VAN VERGELEË
Om van Oudtshoorn of op Prins Albert te kom, wat skuinsweg aan die noordekant van die Grootswartberge lê en aan die voet daarvan, kan jy reguit met die gruwelike steil Swartbergpas oorgaan, of jy kan sonder om swaar te klim 'n paar uur se ompad neem, die skilderagtige Meiringspoort deur. Anderkant kom jy die poort uit op Klaarstroom, en dan hou jy links al onder die berg langes oor 'n reeks heerlik-fraaie boereplase wat aan die riviertjies lê wat nes die tande van 'n kam uit een vir een van die bergklowe kom. Een van daardie klowe kom by 'n noue gangetjie uit sodat 'n mens in die riviertjie moet opry tussen honderde-voet hoë regop rotswande aan weerskante. Maar oor ‘n myl of so gaan die poort skielik oop, en binne in die hart van die gebergtes kom jy op 'n diep, byna donker vallei uit waar die son maar 'n paar uur in die dag tot onder skyn. Maar daar lê 'n boereplasie - ruimte vir meer as een is daar nie, en vir een grote ook nie — met bome en wingerd en,saailande en 'n wit boerewoning onder donker rietdak, nie groot nie. Die plasie wat daar, op die een ingang na, so ontoeganklik weggesteek lê, dra die naam van Vergeleë. Die eienaar ; is 'n hoogbejaarde grysaard, ene ou meneer Thomas Winkelraad, en hy was in sy jong dae regstreeks betrokke by die spookdrama wat daar afgespeel het. In algemene trekke is die geskiedenis wyd en syd bekend, om redes wat later sal blyk in wat hier volg. Die leser sal wel ook al daarvan gehoor het. Maar in die loop van die lange jare — tenminste sestig — is dit begryplik dat daar 'n klomp legendes by die storie aangegroei het, en op ander plekke het daar weer belangrike dinge verlore gegaan. Om dan die suiwere besonderhede van die gebeurtenis uit die eerste hand te kry, het ek enige maande gelede my reis na Prins Albert onderbreek, my motor op die onderplaas aan die hoofweg by mense gelaat en by hulle 'n perd geleen, en die nag gaan oorbly by ou Thomas op Vergeleë tussen die berge.
Natuurlik het hy my ontvang met die bekende ouderwetse boere-gasvryheid. 'n Skraal ou kêreltjie met yl baardjies, sneeuwit; 'n hoë intellektuele voorkop en daaronder 'n paar donker oë, donkerder teen die wit, wat in agt-en-taggentig jaar nog nie hulle vuur verloor het nie. Die ou man stap regop en fluks, en die handdruk wat hy jou gee is vastig. Sy verstand is helder; sy geheue beter as myne. Soos die leser sal sien, was daar geleentheid vir my om agterna te kontroleer wat hy my vertel het, uit 'n bron wat onafhanklik en onbetwisbaar is, en nie by 'n woord het ek gevind dat sy herinnering hom mislei het nie. Kort gesê, die ou boer is van die ou soort wat, helaas, besig is om tot die laaste enkele oorblyfsels toe uit te sterwe.
Ek hoef nie die ander huismense te beskryif nie.Die ou tante is vet en kalm en vriendelik-opgeruimd maar sonder baie woorde. Daar is 'n seun en sy vrou saam in die huis met 'n snel op mekaar volgende opklimmende reeks van die derde generasie.
Die aand na ete en na die huisgodsdiens het ek en vérlangss begint en verneem hoe lank die ou daar woon en wie vanmelewe die oorspronklike aanlêer van die plasie was .
"Toemaar, Kemeels," val hy my met 'n lag die rede, "jy hoef nie by my met jou planne aan te kom nie. Ek weet jy is agter die spookstorie aan en ek weet wie jy is. Hessie, daardie skoondogter het vir my en die tante jou ‘Sonde met die bure’voorgelees en dit was vir ons 'n genot op ons oudag. Maar jy kan lekker lieg. Hoor nou; die storie jy nou van my sal kry kan jy net soos hy is oorvertel sonder om uit jou verbeelding dinge by te maak.”
Hier volg dan nou ou Thomas Winkelraad se verhaal soos hy my dit die aand daar in die einste spookhuis gesit en vertel het. Ek het nie bygesit nie, en so na as ek kan onthou, het ek nie afgetrek nie. Natuurlik kan ek nie sê dis oral die ou man se juiste woorde nie; ek het dit nie in snelskril geneem nie. Ek wens ek kon dit gedoen het; sy Afrikaans is keuriger as myne. Daardie ou mense, terloops gesê, het nie verniet hulle lewe gewy aan intensiewe studie van die beste letterkundige boek in die wêreld en al die ander opsy gelaat nie.
Neef Kerneels (het ou Thomas begint), jy is seker 'n man wat van die bank gebruik maak vir jou geldelike sake, né? Nou ja, ek hoop dis in jou geval vir veilige bewaring en nie om te leen nie. In die dae wat verby is, en voor die nuwe tyd van kaal jakkalse met pronksterte, kon jy by 'n man geld leen en dit was by hom in die huis. Ekself het nog my ou groen kis wat agter onder my kooi staan, en die gebreide boksakkie lê nog daarin. Vandag, sal die tante vir jou sê, is hy leeg op 'n armoedige ou honderd pondjies of so na. Ek het nognie sover gevorder op die pad van die nuwe mode om uit te gee wat ek nie het nie; maar 'n mens kan maar nie teenswoordig help om jou geld gedurig op allerhande bogtery te verkwansel nie. (Ek het nie verniet 'n skoondogter wat my hart gesteel het nie.) Maar daar was 'n tyd toe ek nie tevrede was as ek die boksakkie met sy eie voorpote kon toeknoop nie. En geen papiertjies ook nie - harde goud.
Maar, neef, daar lê hier op die bergplaas êrgens begrawe meer goue ponde as wat ek ooit in my lewe bymekaar gesien het. As 'n mens maar wis waar. Ou Syas van der Meule, wat voor my die eienaar hier was, het die kuns verstaan om weg te steek. Ek het gesoek, my seun het gesoek, ander het voor ons gesoek (soos jy sal hoor), maar die geld bly onverstoord lê soos die baas daarvan in sy graf.
Ou Syas was skatryk - maar 'n alleruiterste ou gierigaard wat nie 'n daler kon uitgee nie of hy lê 'n week daarvan siek. En hoe ouer hoe meer agterdogtig het hy geword teen die laaste mens op aarde totdat hy sy plase oral rond verkoop het en hier in die swael-nes kom wegkruip het (netsoos ek, sal jy sê, maar toe was die onderste plase nog sonder mense) . En toe nog het hy nie sy geld hier in sy huis gehou nie maar dit êrgens begrawe. Ek wonder wat dit hom alles vandag help, waar hy ook mag wees; ek veronderstel nie dat hy geleentheid gekry het om dit saam te neem en daar anderkant in te smokkel nie.
Die ou het stok-alleen hier in die huis gewoon en daar was geen ander sterweling op die plaas nie behalwe sy ou veewagter Namakwa met sy vrou en kleingoed; en die kraal was daar op die bo-ent van die plaas waar die kloof weer toeknyp. Een oggend toe die ou jong sy meel kom haal of iets, kry hy die voordeur oopgebreek en die oubaas dat hy hier in die voorhuis doodlê, sy kopbeen op 'n vreeslike manier inmekaar geslaan met 'n stuk hout. Hier, en in die kamers en kombuis, was die vloer vol, gate gepik, en op die werf en onder die vrugtebome lê oral hope los grond soos daar gespit en gegrawe was. Dit was duidelik genoeg wat die oogmerk van, die moord was en dat die moordenaar van die geld wis maar nie van die bêreplek nie.
Die veewagter het die saak dadelik by die veldkornet gaan aangee, en die was nog dieselfde dag hier. Daar was spore genoeg en duidelik genoeg veral in die hope losgrond. Hulle kon die spoor volg van die onderplaas of die poort deur tot hier en hier rond en weer die poort uit. Maar daarvandaan verder het hulle hopeloos doodgeloop. Die moordenaar moet meer as een paar velskoene by hom gehad het. En die wat hy hier aanhad was so te se moedswillig kenbaar, groot ysterbeslane sole. Die velskoene kon natuurlik juis 'n paar nommers te groot gewees het om die speurders te mislei. In alle geval, die spoor het doodgeloop. Destyds was daar geen speurhonde in die rondte nie.
Die tweede dag kom ou Namakwa by die veldkornet aan met die trop vee en met sy potte en kooigoed en sy vrou en kleingoed. Hy wil niks van sy basie hê wat nog agter is nie, en Baas Veldkornet kan hom maar tronktoe stuur maar hy gee die vee af en hy verlaat sy diens. Daar is onraad op die bergplaas; die oorlede oubaas spook dat dit vreeslik is. Namakwa was 'n getroue ou jong gewees, jare en jare in ou Syas se diens, van die vorige plase af. Maar wat hulle ook doen of dreig of soebat, niks op aarde wou hom beweeg om terug te gaan nie. Natuurlik het hulle darem nie die arme ou skepsel gaan verkla nie.
Vereers het niemand hom aan hierdie storie groot gesteur nie; 'n mens weet mos wat die óu volk is met hulle spookgloëry. Die magistraat het, namens die meester van die hoë hof, 'n oppaster gehuur en gestuur hier na die plaas toe; en dié het vinniger uitgetrek as wat hy ingetrek het. Drie-vier konstabels het 'n nag hier in die huis kom bly, en niks gewaar nie. Maar hulle het in die kombuis met drie kerse en 'n vuur bymekaar regop gesit die heel nag deur, en die astrantste spook het mos darem ook sy voorwaardes. Daarna het ander mense gekom en kom slaap en vroeg opgestaan en getrek - en nie weer gekom nie.
Later is daar 'n eksekuteur aangestel en vendusie gehou. Ou Syas had geen kinders nie, hy was nooit getroud nie. Sy ver familie was erfgename. Op die vendusie het 'n tweede neef die plaas ingekoop. En kom intrek, en in een nag grys geword. Nee, neef Kerneels, dis geen grappie wat ek jou vertel nie. Binne drie maande was daar weer vendusie.
En daar, op die tweede vendusie, was ek die koper. Ek kry die plaas teen 'n bespottelike prys. En met die weggesteekte geld op die kooptoe —ek het gesorg dat dit by die koopkondisies uitdruklik ingesluit was. Ek is 'n ryk man soos ek hier sit, neef Kerneels, skatryk, en nie met bankkrediete of uitstaande aansprake nie maar met klinkende goue munt. Tienduisende en weer en weer tienduisende ponde. Dit lê hier êrgens op my plaas of daar bo teen die blouberg in 'n klipskeur.
Ek was nog jongkêrel maar ek het op trou gestaan. Ja, neef, ek sien jy loer onderdeur na die tante. Dieselfde een; sy wou my nie los nie en vandag ook nog nie. Maar dit moet ek darem sê, sy was 'n mooi nooi, soos jy nou-nog kan uitmaak as jy die oog het waar ek jou voor takseer.
My aangaande - soos die tante vir jou sal sê, ek was redelik wild in daardie dae. Sy had my nog nie so lank onderhande gehad nie. In alle geval, ek was nie van bedoeling om my deur 'n niksnutsige spook, en dit nog 'n ellendige ou grys gierigaard se spook, uit my wettig gekoopte eiendom te laat weghou nie. Maar ek wou nie uit die staanspoor uit geweld pleeg nie; ek was altyd 'n wetsgehoorsame man. Maar 'n aansienlike deel van my verstand het later ontwikkel.
Die spoorweg was toe aan die bou na die Diamantvelde toe, en die trein het van die Kaap of geloop tot op Nuwe Rus (wat vandag genoem word ‘Prins Albertweg’) Ek ry soheentoe en ek spring daar op die trein, en ek ry Kaaptoe om die regter se hulp te gaan inroep.
Na baie hindernis en sonde daar in die Kaap het ek eindelik sover gekom as tot by die klerk van een van die regters. Die verwys my na die griffier, en die griffier sê ek kan nie sommerso na die regter toe gaan nie; ek moet 'n prokureur huur, en dan moet dié 'n advokaat huur, en dan na lange maande en honderde ponde onkoste kan ek my klagte onder die regter se aandag gebring kry.
"Nee, magtig," sê ek, "dit doet ek nie. Watter soort gek-rowery is dit vir 'n speletjie? As my jong by my kom kla êrgens-oor, huur hy nie twee ander volk agtermekaar om die klagte aan my oor te vertel waar hy bystaan nie. Ek is self die beste man om my eie sake haarfyn uit te lê, en dis nie nodig om daaroor te lieg nie. En ek betaal belastings vir die regter se salaris, en hy is hier om my my reg te gee en ek wil hom sien."
Die griffier wou my daar van 'n konstabel laat uitsit, maar dié het ek opsy gedruk; en voor hy weer op sy voete was, was ek terug in die klerk se kamer met griffier en konstabel en vyf-ses ander klerke en goed uit naburige kamers op my hakskene.
Sonder hulle bydraag was die regter se klerk al ongeduldig, maar ek sê vir hom ek het meer rede vir ongeduld as hy. Algaande gesels ons harder en harder met mekaar, en die klomp wat agter my aan ingebeur het, begint aan my te vat en te ruk en te pluk, sodat ek hulle 'n paar stote moes gee, en netnou was daar 'n hele gewerskaf en 'n gedoente. Toe gaan die binnedeur oop en 'n waardige ou meneer steek sy kop uit om te sien wat vir 'n ongewone onstuimigheid dan daar aan die gang is. Dit was Regter Dwyer.
Die hele klomp daar om my skree gelyk om die ou te beduie dat ek 'n gevaarlike woeste duiwel is. Die ou kyk vir my in die oë en ek vir hom, en ons verstaan mekaar met die kyk.
"Ja?" se die ou, en hy lig sy hand op vir stilte.
"Regter," sê ek, "die kwaaddoeners gee vir jou pad. Sal ek na jou toe kom as dit kwaad is wat ek soek?"
Hy glimlag. "Kom hier in my kamer in," sê hy ". En julle kan maar gaan. Ek sal self weet wat om met die man te maak.”
En hy het my ingeneem en die deur toegeraaak, en ons twee was alleen. En ek het hom die hele storie van die begin of vertel soos ek dit nou hier aan jou vertel het.
"Ja?" sê die ou.
"Ja, Meneer," sê ek, "en nou is ek hier om jou beskerming in te roep. Ek het daardie plaas met die huis daarop gekoop en betaal, en dis myne; en ek is geregtig op die ongestoorde besit daarvan. Daar is soiets as reg en wet in hierdie land. Ek eis van Meneer 'n interdik teen oorlede ou Syas van der Meule se spook."
Die ou lê agteroor in sy stoel en hy lag dat die trane uit sy oë loop. Toe hy weer daaruit kon sien, merk hy dat ek my bloedig vererg het, en hy ruk hom reg.
"My liewe man," sê hy toe hy weer by woorde kom, "ek vra jou omverskoning. Maar as ek nie gelag het nie moes ek my klere geskeur het netsoos die Koning van Israel toe Naäman by hom kom met 'n brief van die Koning van Syrië om hom van sy melaatsheid te genees. Ek het die grootste simpatie met jou, maar ek moet jou afwys."
"Afwys?"
"Ja, ek moet jou afwys. Oor die inwoners van daardie wêreld waar jou grief vandaan kom, het my hof geen gesag nie. Dis buitekant my jurisdiksie."
"Meneer, as ou Syas wou inwoner bly van daardie wêreld waar jy op die oomblik niks te sê het nie, dan sou ek daar vrede mee hê. Maar hy bly nie daar waar hy nou hoort nie. Hy kom daarvandaan hierheen om oortreding te doen en moleste te maak. Dis waar,hy is nie uit sy vrye keuse hier weg nie- eerder sterk teen sy sin. Maar daar het ek niks mee te doen nie; dis nie ek wat hom hier weggehelp het nie. En hy kan nie verwag om weerskante in besit te bly nie."
"So is dit, ja, my jonge vriend. Maar hoe sal ek die spook volgens die gebruiklike vorm hier daag om rede aan te toon waarom daar nie 'n bevel teen hom sal uitgaan nie? Waar sal die balju hom in die hande kry om die dagvaarding aan hom te besorg? En as daar ook 'n order van die Hof kon gegee word, hoe sou dit uitgevoer word? My amptenaars sal in die wind skerm. En as hulle ook die verweerder kon vang en in die tronk sit, dan sou hy daar uitloop nes water deur 'n sif en terug na jou plaas toe."
En daarop het die ou kêrel verder gegaan en my 'n vaderlike les geleer om my te oortuig dat dit 'n dwase bygeloof is om aan spoke te glo. "Kyk," sê die ou, "as daar regtig spoke is, dan is daar mos glad te min. Elke dooie veronregte en vervolgde en vermoorde en wraaksugtige, en elke opgehangde booswig, sou terugkom omdat hy nou veilig buite bereik van strafreg of terugslag is om te kan maak en breek soos hy wil. As ek jy was, my jonge vriend, sou ek gaan besit neem van my plaas en my huis sonder vrees en sonder die verbeelding wat uit niks vrees skep. En jy sal vind dat die hele spookstorie die puurste bog is."
Ek sit 'n rukkie stil. "Nou ja, Meneer," sê ek, "ek het jou hulp kom soek; ek sal jou raad volg. Maar ek wens Meneer kon met my saamgaan om te gaan besit neem en 'n nag daar oor te bly. In my eie gebuurte sal ek nie maklik 'n maat kry nie."
En so is ons uitmekaar, goeie vrinde. Maar ons sou mekaar weer ontmoet in verband met die saak, hoewel geeneen van ons dit gedroom het nie.
Soos ek verwag het, kon ek geen maat kry toe ek in my tuiswêreld terug was nie. Nou ja, ek sou dan maar op myself staatmaak, want ek was nou eenmaal gedetermineerd om my huis en my plaas in besit te neem. Nee, een maat kon ek darem gekry het. Die tante het gedwing ek moes wag tot na die troue en dan sou ons saam intrek. Ek sêvir jou sy was 'n nooi duisend. En vandag nog is sy nie sommer 'n vrou nie. Maar ek het verseg om die naam te dra dat ek agter 'n vroumens se rokke weggekruip het vir ou Syas se spook en my bruid in 'n huis ingeneem het wat ek nie vooraf kon sorg dat hy pluis was nie.
Toe het ek dan te perd hierheen gekom, ek alleen, met 'n bondel waterkerse en 'n bondel kos en my geweer. Op die geweer kon ek vir alledaagse doeleindes staatmaak, maar ek had geen helder begrip hoe 'n mens 'n spook met 'n koeël kon beskadig meer as wat jy 'n rookdamp of 'n skaduwee kan stukkend skiet nie. In alle geval, 'n geweer is 'n ding wat jou vertroue gee.
Toe ek die poortjie daaronder uitkom en die plaas gaan voor my oop, was dit sterk skemer. Maar die rante van die Swartberge lê blink in die lig van byna volle maan wat hoog op was daarbuite op die vlaktes en oor 'n paar uur later hier sou opkom oor die onderste berg. In die laaste drif, daar waar jyself deurgekom het, buk die perd om water te drink en ek laat sy teuels slap hang en ek haal my pyp en twaksak uit en ek begint te stop. Die rivier was ruig begroei van papkuil en toue en toue en riete en pypstele en wilgers, bale ruier as nou, nou, want daar was maar hier en daar 'n lappie skoongemaakte saailand.
Meteens ruk die perd hom orent tot op sy agterpote en hy gee 'n snork en hy vlie byna onder my uit, want die teuels was uit my hande. Net bokant die drif maak die rivier poel, en daar val êrgens vandaan twee klippe in die water.
My perd was nou onregeerbaar; hy bewe soos 'n riet en ek was verplig en klim af en lei hom in die paadjie huistoe. Maar ek had nou my geweer van skouers af en in my hande.
Toe ek met die perd op die skoon werf uitkom daar waar die aalwee-laning nou daar staan wat jy by die slagboom deurgekom het, en die huis lê donker voor my oë, sleep daar 'n ding oor die stoep verby. Ek kon dof 'n gedaante uitmaak maar nie beken wat dit was nie. En daarvandaan, hoe ek paai en sukkel, kon ek die perd nie 'n tree verder kry nie. Hy staan op sy agterpote en kap na my. Sy twee oë is uitgepeul van angs en hy blink van die sweet onder die laaste skemerliggie en die eerste sterretjies. Ek moes hom maar teruglei tot waar ek 'n hek in die takheining verbygekom het, en daar het ek hom afgesaal en riem om die nek gedraai (ek wou nie die arme ding kniehalter nie) en hom in die kamp laat los. So gou as hy los was, neem hy die loop in die kamp af. Ek hoor hom op die onder-end deur die heining bars met 'n geweldige geskeur van takke, en daarvandaan kraak en breek dit deur die bosse tot ek sy laaste pootgeklap in die poort af hoor wegraak. Hy was 'n duiwel van 'n perd; maar ek het my ook nooit met dooie rygoed opgehou nie.
En toe word ek bang. Ek staan daar sielsalig alleen in die nag met wie weet watter aaklige gedaante wie weet hoe dig in my nabyheid. Selfs die stomme dier was darem geselskap. Ek bly doodstil staan en ek voel my hare lig my hoed van my kop af. Uit die riviertjie, so ver as hy oor die plaas loop, kom 'n klinkgeskree van duisend paddatjies — ek onthou ek had nog plek vir die gedagte "Ons gaan reën kry." Langes my ritsel iets onder die bos deur, maar ek wis dit was 'n diertjie. Êrgens uit 'n boom agter my kom skielik die doodsgeklag van 'n uil.
Maar hierdie lewendige goedjies was mos almal my vriende, hier van my wêreld! "Watse bog!" sê ek; "ek is nie minder as julle almal nie; julle maak my skaam." En toe begint ek my beheer oor myselwe terug te kry. En dan, my neef; ek het my van kleins-af gewend gemaak om as ek in die nood is altyd eerste my hulp op een plek te gaan soek al was dit met net ‘n paar woorde. En ek is nie skaam om dit te bely nie.
En toe het ek die saal en toom opgetel en aangestap na die huis toe. Ek voel al die tyd daar is by my nog 'n teenwoordigheid al laat hy hom nie op die oomblik blyk nie, en die gevoel was nie 'n aangename een nie. Maar ek stap vinnig om myselwe te laat gelde.
Ek het dan ingekom en my saal neergesit en die voordeur agter my toegemaak en twee van my kerse opgesteek. Ek gaan by die tafel sit, daar waar jy nou daar sit — die huisraad was besonders verkoop maar nognie weggeneem nie — en ek knoop my bondeltjie los. Daardie middeldeur regs van jou staan toe nog al die tyd wawyd oop, maar 'n mens kan mos nie daarvandaan in die kombuis in nie. Ek had net 'n stuk brood in my hand geneem toe hoor ek die agterdeur oopgaan: een, twee, voetstappe in die kombuis, en die agterdeur weer toegemaak. En toe stilte. Ek vlie op en staan met my geweer aangelê teen die muur, weg die deur af, daar by die muurkassie. Die ding sou mos nou daar by die deur uitkom hier in die kamer in.
En ek het gestaan en gestaan maar daar is niks. Ek hoor ook niks verder uit die kombui s nie. Naderhand word my arms so moeg dat ek die geweer laat sak tot hy op die grond staan. En toe voel ek, ek sal die spanning nie langer kan uithou nie, dit sal my mag breek; ek moet op een of ander manier 'n end aan hierdie toestand maak. Met die verset van wanhoop roep ek al my wilskrag bymekaar, en voor ek tyd kry om weer te bang te word, gryp ek een van die kerse en spring by die middeldeur in. Ek sien die vuurherd met die potte daarop, 'n rak met skottelgoed, 'n tafel en 'n bankie, die gewone kombuisgereedskap. Verder is die kombuis leeg. Daar is geen ander deur nie as die middeldeur waar ek ingekom het, en die agterdeur, en dié is nog toe. Die venster se werwel is van binne op.
Ek sit die kers op die tafel en ek maak die agter deur oop (werwel op die onderdeur; die bodeur het 'n gewone slot) . Toe ek buite kom, kyk die maan se blink gesig oor die onderste berg en sy lig lê silwerwit oor die werf. Daar is niks wat roes of beweeg nie; die wêreld slaap. Ek gaan maar weer in, en toe ek die agterdeur agter my toemaak, hoor ek gaan die voordeur oop. Ek spring terug binnetoe; toe ek by die middeldeur inkom in die voorkamer, gaan die voordeur voor my toe. Daar is weer niks te sien nie.
En toe dog ek ek gaan nou buite rondkyk. Hierdie ding gee dan al pad; hy is banger vir my as ek vir hom. Ek het eers om die huis geloop en skielik by 'n hoek omgevlie en weer agteruit, maar ek kry niks. Toe stap ek oor die werf af, en net bokant die sloot kom ek op een van die hope grond uit. Ek skop daarin en die grond was vir my snaaks los asof dit vars was. Die graaf lê langes die hoop; ek tel hom op en sien die klei wat aan die blad vaskleef is nog nat.
En toe draai ek om huistoe. Die spookgeheim was klaar opgelos. Klaarblykiik was dit die moordenaar wat al die tyd nog besig was om na die begraafde skat te soek en hierdie spookspeletjie aan die gang hou om ander mense weg te verskrik sodat hy ongestoord sou gelaat word.
Toe ek weer in die huis kom het ek die kerse doodgemaak om self onsigbaar, buitentoe te kan sien. Maar natuurlik het die spookman dit nie gewaag om toe deur die maanlig na die donker huis toe aan kom nie. Nou ja, daar sou môre tyd wees om hom te soek.
Toe het ek op my gemak my stukkie kos geët voor die venster in die maanlig; en daarna op rusbank gaan lê — hy het net daar gestaan waar myne nou staan — om maar te slaap, want ek was moeg van die lange dag se ry en die nag se gedoen. Ek lê so ewe gerus op my sy met my wang op my plathand om my pyp eers klaar te rook; en ek lê so en 'n dink: Waarom het die slegte vent nie stilgebly en gewag tot ek aan die slaap was en my maar vermoor nie? Maar natuurlik, as daar 'n tweede moord plaasgevind het, sou die mense mos sy spookspeletjie deursien het. En toe ek sover was, kon ek my pyp uitklop. Met dié uitklop val my oog op die langwerpige plaat maanlig wat deur die venster kom en op die vloer lê. Dit was nes daar 'n dowwe troewelrigheid in die lig kom, of nes 'n rookwolkie maar met 'n fatsoen. Die wolkie word al digter; aanstons lê daar 'n mens se gedaante. Maar ek kon die stoelpote dwarsdeur hom sien anderkant teen die muur. Sy klere en sy hande en voete en sy kop word meer en meer helder. Hy sukkel stadig op tot hy staan, en hy draai na my toe: Ek kyk in die gesig van 'n dooie. Maar sy een oog is oop en hy kyk in myne vas. Die ander is stukkend en die hele eenkant van sy kop pap geslaan en rooi van die bloed. Dis 'n grysaard se gesig, en met 'n sterk karakter. Wat jy ook van die ou vrek mag sê, hy was nooit 'n papbroek nie.
Ek sien toe die gestalte netso duidelik as wat ek jou nou hier voor my sien. Maar al die tyd sien ek nog dwarsdeur hom die muur en die koesyn van daardie kamerdeur aan die anderkant, soos wanneer 'n mens op die helder dag deur die ruit van 'n venster van buite of inkyk en jou beeld binne sien maar darem die ander goed in die kamer deur hom sien.
Ons kyk mekaar 'n ruk so vas in die oë. En nou was daar by my nie die minste vrees nie. Eerder was daar 'n halwe gevoel van ingenomenheid: nou het ek ook 'n spook gesien, en 'n onbetwisbare egte een. Vir die verspotte namaaksel was ek bang gewees. So is 'n mens.
Ek sien in jou oë, Neef Kerneels, jy sit en dink ek het aan die slaap geraak daar op die rusbank en van die spook gedroom. Wag, en jy sal anders dink.
Die gedaante skud sy kop en hy wenk met hand ek moet maar bly lê, ek hoef nie bang te wees nie. En toe gly hy eenkanttoe weg en hy verdwyn deur die toe voordeur.
Dit duur 'n minuut of so, toe bars daar van bome se kant of op die onderend van die werf die verskriklikste angskreet los wat ek ooit uit die keel van 'n mens gehoor het. Kort daarop hoor ek voetstappe aangehardloop kom. 'n Man val met voordeur en al die voorhuis in dat slot en werwel spat.
"Help, help," skree hy, "ou Syas is agter my.” En in dieselfde plaat maanlig waar die gedaante eerste verskyning gemaak het, slaan hy neer, flou.
Ek het hom eers sorgvuldig gebind met my tou en buikgord, en toe by die sloot gaan waterhaal hom te lawe. Die gedaante het nie weer opgedaag nie, en tot vandag toe nie. Sy werk was afgehandel.
Dit was Regter Dwyer wat 'n drie maande later op die Rondgaande Hof op Beaufort Wes vir Willem Wilpert tot die dood veroordeel het. Op sy bekentenis het die polisie sy spelonkgrot in die berg gekry wat hy vir sy slaapplek gebruik het om nie op die plaas gevang te word nie. Onder andere het hulle die oorspronklike groot velskoene met die ysterbeslag daar gekry. As neef Kerneels verder belang stel kan jy die argiewe van die Hof eendag naslaan.
* Ek het dit gedoen ook. - KERNEELS.
Na afloop van die Hofsitting het die regter my laat roep om hom te groet.
"Darem jurisdiksie gekry, nê?" sê die ou met die glimlag wat ek onthou.
"Ja, Regter — oor die een. Vir die ander is dit nie nodig nie. Jou uitspraak wat jy my daar in die Kaap gegee het, was half-reg en half-verkeerd. Maar sy uitwerking was heeltemal reg. Sal Regter nie eendag by my kom kuier op Vergeleë nie? Die spoke bly weg maar die skat is nog daar."
"My jonge vriend, onthou jy die ou fabel? Grawe die plaas om en jy sal die skat vind in die vrugbaarheid van jou oeste."
En daardie skat het ek gevind, genoeg vir my en my kinders.