Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Veral in ons liefde vir ons naaste word ons gehoorsaamheid aan God soms baie erg beproef. Wanneer dit in sulke tye so moeilik is om gehoorsaam te bly moet ons steeds onthou dat God se liefde die enigste uitkoms is en daaraan vashou deur bedaard en rustig voort te werk volgens sy Wil.
MACBETH (2) (SLOT)
Bernard Miles
Lees reeds by Shakespeare in Afrikaans
Die harde klop aan die kasteel se deur het nie juis baie mense wakker gemaak nie; ook die deurwag het saam met sy vriende feesgevier en is self nog aan die slaap. Voor die deur moes die twee manne lank staan en klop – dit is twee van Duncan se getrouste edelliede, Macduff en Lennox. Hulle wil die koning kom groet en het die hele nag deur gery om vanoggend by hom te wees.
Toe Macbeth die klop hoor word hy eens so bang en gaan gou die kasteel binne om die bloed van sy hande af te was.
Uiteindelik grendel die deurwag die deur oop sodat Macduff en Lennox kan inkom. Macbeth kom self ook deur toe. Hy het die bloed van sy hande afgewas, 'n mantel oor sy skouers gegooi en gemaak asof niks gebeur het nie. Macduff sê hy wil graag die koning besoek maar toe Macbeth aanbied om hom na Duncan se kamer te neem wys hy dit van die hand. Hy kan alleen gaan, sê Macduff; hy het nie 'n gids nodig nie.
Terwyl die edelman weg is, staan Macbeth en Lennox in die binnhof en gesels. Lennox vertel dat hy en Macduff die vorige nag vreemde geluide gehoor het, van mense wat roubeklaag en in doodsangs skreeu. Dit het gevoel asof die aarde onder hulle bewe. Macbeth stem in dat dit 'n woeste nag was maar hy maak asof hy van niks weet nie. Maar 'n mens kan jou voorstel hoe hy gevoel het toe Macduff die trappe afkom en skreeu dat die koning en sy lyfwagte in die bokamer dood lê. Hy het ook die dolke en die bloedplasse gesien.
Macduff se geskreeu het die hele kasteel wakker gemaak en die gaste – ook Banquo en Duncan se twee seuns, Malcolm en Donalbain, storm die kasteel uit, ontsteld oor die nuus en bang dat hul eie lewens in gevaar is.
Macbeth se senuwees het nou breekpunt bereik. Hy is tog die gasheer en verantwoordelik vir die veiligheid van sy gaste. Almal kyk na hom vir 'n antwoord op die vraag wat in elkeen se gedagtes is. Wie kon die verskriklike daad gepleeg het? Macbeth sou net daar ingegee het, was dit nie vir sy vrou se teenwoordigheid van gees nie. Sy maak asof sy flou word en val op die grond neer. Dit lei die aandag van Macbeth af en gee hom kans om te herstel. Met groot moeite oorwin hy sy vrees en sê vir sy vreesbevange gaste om hul wapens te gaan haal en in die kasteel bymekaar te kom sodat hulle kan besluit wat om te doen.
Maar Malcolm en Donalbain, uit vrees dat die koning se moordenaar hulle ook sal doodmaak, glip weg in die nag en ry oor die grens tot in Engeland. Daar gaan hulle uitmekaar. Malcolm ry suidwaarts en Donalbain draai regs na die weste om in Ierland veiligheid te soek. Banquo was ook baie bekommerd want hy het vermoed dat Macbeth die koning doodgemaak het. Hy het nie net vir sy eie lewe gevrees nie maar ook vir dié van sy jong seun, Fleance. Banquo besluit egter om te kyk wat gebeur en volg die ander gaste na die kasteel.
Noudat Malcolm en Donalbain gevlug het, eis Macbeth die kroon vir homself op. Hy is so brutaal dat die ander edelliede hom nie durf teëgaan nie. Hulle stem toe in dat hy as koning gekroon word en belowe om hom net so getrou te dien as wat hulle Duncan gedien het. Macbeth is nou uiteindelik koning, net soos die hekse daardie stormagtige nag in die moerasland voorspel het.
'n Mens sou dink dat Macbeth gelukkig sou voel noudat hy sy sin gekry het. Maar hy was nog nie tevrede nie. Hy onthou dat die hekse voorspel het dat Banquo die vader van baie konings sou wees; hierdie gedagte het by hom gespook en daartoe gelei dat hy sy tweede moord gepleeg het.
Macbeth nooi toe al die edelliede uit na 'n feesmaal soos die een wat hy gegee het die aand toe Duncan vermoor is. Banquo en sy seun Fleance sou ook onder die gaste wees. Om die waarheid te sê, Banquo sou die eregas wees en langs Macbeth se vrou sit om te wys hoe baie Macbeth van hom hou. Die uitnodiging aan Banquo en Fleance was eintlik 'n skelmstreek want Macbeth het twee moordenaars gehuur om hulle langs die pad voor te lê en te vermoor.
Maar die hekse het geweet wat Macbeth wou doen en sy bose planne verydel. Hulle het ook langs die pad geskuil en Fleance net betyds weggeruk toe die moordenaars uitspring en hulle aanval. Fleance het ontsnap, maar die arme Banquo is vermoor. Die hekse lei toe die bloedbevlekte spook van Banquo na die kasteel terug om saam met die ander gaste die feesmaal by te woon. En om Macbeth nog groter te laat skrik, sluip die hekse die kasteel binne en smeer van die bloed van Banquo se wonde aan die stoel waarop hy sou gesit het.
Net toe die trompette blaas en Macbeth en sy vrou opstaan om 'n heildronk op hul gaste te drink, verskyn een van die moordenaars in die skemerdonker. Hy het vir Macbeth kom vertel dat Banquo doodlê met twintig steekwonde in sy liggaam, maar dat Fleance ontsnap het. Ofskoon Banquo dus vermoor is, kan hy nog die vader van baie konings wees. En dit was Macbeth se grootste vrees.
Macbeth se vrou het gewonder met wie hy daar in die skemerdonker praat en roep hom om terug te kom tafel toe. Die wynbekers was reeds gevul en die gaste het gewag om 'n heildronk op Macbeth te drink. Macbeth stuur dus gou die moordenaar weg en sluit hom by die ander edelliede en hul vroue aan.
"Dit is jammer dat ons goeie vriend Banquo nie by ons kan wees nie", sêMacbeth. "Ons sal in sy afwesigheid aan hom dink. Kom ons drink op sy lang en gelukkige lewe!"
Net toe die gaste hul wynbekers lig, draai Macbeth om na Banquo se sitplek aan die tafel. 'n Oomblik gelede was die sitplek nog leeg maar nou sit Banquo se spook daar, doodsbleek en bloedbevlek, en hy knik sy kop asof hy wil sê, "Ja, dit is ek, jou goeie vriend Banquo. Kyk wat het jy aan my gedoen!"
Toe Macbeth die afgryslike gesig aanskou, val die wynbeker uit sy hand en spat aan skerwe op die vloer. Hy skreeu vir die spook om weg te gaan. Vir 'n oomblik verdwyn dit, en Macbeth probeer homself regruk. Toe verskyn Banquo se spook weer en Macbeth raak buite homself van vrees en gaan so te kere dat die gaste, verbaas oor wat gebeur het, gereed maak om te vertrek. Hulle het nie die spook gesien nie. Vir hulle het Banquo se plek aan die tafel leeg gebly, en hulle het gedink dat Macbeth skielik van sy verstand af geraak het.
Nadat al die gaste weg is probeer Macbeth homself regruk. Maar hy kan sy oë nie van Banquo se stoel afhou nie. Was dit regtig 'n spook wat daar gesit het, of net sy verbeelding? Om homself te oortuig dat hy nie meer bang is nie gaan Macbeth in Banquo se stoel sit en klem die armleunings styf met sy hande vas. Ja, die stoel staan stewig, die tafel staan vas en selfs die vloer onder sy voete is ferm. Sy verbeelding het hom parte gespeel!
Maar meteens voel sy vingers klam en klewerig, en toe hy hulle van die stoel af oplig is daar bloed aan sy hande. Dus het Banquo se spook werklik op die stoel gesit en die bloed kom uit die wonde aan sy liggaam! Toe Macbeth dit sien word hy met afgryse vervul, en sy vrou is vreesbevange toe hy sy bloedbevlekte hande vir haar wys. Gewoonlik sou sy hom probeer troos en ondersteun het soos sy so dikwels in die verlede gedoen het. Maar nou het sy breekpunt bereik en kan hom nie meer help nie. Sy maak dus geen beswaar toe hy vir haar vertel wat hy die volgende dag wil doen nie.
"Môre gaan ek die hekse opsoek en hulle dwing om vir my alles te vertel", sê hy. "Ek is te sondig om ooit vergewe te word maar ek sal darem weet watter gevare vir my wag." Hy gooi sommer dadelik sy mantel oor sy skouers en ry na die moerasland om die hekse te soek.
Gewone mense sal die spelonk waarin die hekse woon nooit kry nie maar hulle het Macbeth met die kronkelpaadjies al oor die moerasland gelei totdat hy meteens voor die opening staan. Hy strompel met die kliptrappies af en hoor hoe hulle sing terwyl hulle die aaklige goed wat hul daardie dag bymekaargemaak het, in die heksepot gooi.
Macbeth skraap al sy moed bymekaar en vra die hekse om vir hom hulle diepste geheime te vertel. Kan hulle vir hom vertel wat die toekoms vir hom inhou? Hoe kan hy seker wees dat die noodlot aan sy kant is en nie sy vyande help nie?
Die hekse roep toe drie geeste uit hul hekspot op wat almal vir Macbeth die raad moet gee wat hy so nodig het.
Die eerste gees is in die vorm van 'n man se kop wat in die stoom van die heksepot rondsweef. Die gees sê in 'n diep stem vir Macbeth dat Macduff sy grootste vyand is en dat hy vir hom moet ligloop. Daarop verdwyn die gees weer in die heksepot.
Die tweede gees, 'n naakte en bloedbevlekte kind, verseker Macbeth dat geen man wat uit 'n vrou gebore is, hom ooit kan skade aandoen nie. En hoe kan Macbeth die woord 'gebore' in twyfel trek? Hoe kon hy weet dat daardie eenvoudige woord die grootste skelmstreek is wat die hekse al ooit uitgehaal het?
Die derde gees is ook 'n kind wat 'n boomtak vashou asof hy daaragter skuil en vir Macbeth sê dat niemand hom ooit sal oorwin voordat Birnam-bos na Dunsinane toe kom nie. Macbeth kan nie help om te lag nie want Birnam en Dunsinane is meer as twintig myl van mekaar af en net gekke kan voorgee dat bome hulself kan ontwortel en na 'n ander plek verskuif.
Macbeth is nou so vol vertroue oor wat hy gehoor het dat hy nie skroom om vir die geeste die vraag te vra wat hom al lank pla nie. Is dit waar dat die kinders van Banquo en hulle kinders se kinders en daarna geslagte lank die konings van Skotland sal wees? Het hy die afgryslike dade net om hulle ontwil gepleeg?
Toe Macbeth dit vra klink daar vreemde, grieselige musiek en die veraf gerammel van donderweer uit die heksepot uit; daarop kom daar agt geeste in koningsgewaad stil en stadig agter uit die spelonk te voorskyn. Heel laaste is Banquo, nog doodsbleek terwyl die bloed uit sy wonde sypel, maar daar is 'n glimlag op sy gesig want hy weet hy het nie verniet gesterf nie. Sy seuns en kleinseuns sal eendag konings wees, net soos die hekse voorspel het. Toe Macbeth hierdie gesig sien, vlieg hy verskrik om en verdwyn in die nag.
Noudat Macbeth weet wat met hom gaan gebeur word hy wanhopig en besluit om sy boosheid enduit te voer. Hy gaan almal doodmaak wat in sy pad staan. Die eerste ding wat hy doen is om Banquo se twee moordernaars te stuur om ook Macduff te gaan vermoor. Maar Macduff het reeds vermoed dat Macbeth vir Duncan en Banquo doodgemaak het en dat hy volgende aan die beurt is. Toe die moordenaars by die kasteel aankom, het hy reeds na Engeland vertrek om hom by Malcolm aan te sluit. In hul woede maak die moordenaars toe sy vrou en kinders dood. Dit was die ergste daad wat Macbeth oot gepleeg het, nog erger as die moord op Duncan.
Sy skuld was nou groter as ooit tevore. Maar die dag van afrekening was naby want Malcolm het die koning van Engeland oorreed om hom te help en toe Macduff daar aankom het die koning al sy leër byeengeroep om Macbeth in Skotland aan te val en hom dood te maak.Net toe hulle wou vertrek kom die Edelman van Ross daar aan en vertel vir Macduff wat met sy vrou en kinders gebeur het. Macduff was so geskok dat hy byna flou geword het. Maar toe verander sy leed in woede. Hy het lankal besluit om van Macbeth ontslae te raak; nou is hy duisendmaal meer vasberade om hierdie bose man te vernietig.
Maar voordat dit kon gebeur moes Macbeth nog 'n krisis deurmaak. Toe sy vrou daardie noodlottige nag na Duncan se kamer terugegaan het om die dolke langs die twee lyfwagte neer te sit en die koning daar in 'n plas bloed sien lê, het hy haar laat dink aan haar vader vir wie sy so lief was, en van daardie nag af kon sy die gesig nooit weer uit haar gedagtes kry nie. Die hekse het natuurlik geweet dat hulle Macbeth se lewe soveel makliker kon verwoes as hulle sy vrou ook kon vernietig. Hulle maak toe 'n model van haar brein en verwyder die deel wat haar geheue beheer. Die model was eers koud en dood maar nadat hulle hul aaklike liedjies daaroor gesing en dit liggies oor die vuur warm gemaak het, begin haar eie geheue te lewe en onthou sy die nag van Duncan se dood in al sy afgryslikheid.
Kort daarna begin sy in haar slaap wandel terwyl sy haar hande teen mekaar vryf asof sy die bloed probeer afwas.
"Gaan weg, gaan weg, bloedvlek!" prewel sy en roep verwytend uit: "Sal my hande dan nooit skoon word nie? Maar sy het geweet dat die bloedvlek nie op haar hande was nie maar in haar siel en dat dit vir altyd daar sal bly. Sy het al swakker geword en van haar verstand af begin raak. Tot hier toe het sy Macbeth ondersteun maar nou kon sy dit nie meer doen nie; hy was nou heeltemal alleen. Maar Macbeth het nog moed gehou. Die hekse het hom verseker dat niemand hom sal oorwin voordat Birnam-bos oor die heuwels na Dunsinane aangestap kom nie en selfs al sou dit deur 'n wonderwerk gebeur, kan geen man wat uit 'n vrou gebore is hom ooit skade aandoen nie. Waarom moet hy dus bang wees? Hy sal die oorlog teen Macduff wen en daarna kan hy en sy vrou die bose dinge vergeet wat hulle gedoen het om koning en koningin te word. Daarop roep Macbeth sy leër byeen en vertrek na die kasteel in Dunsinane, die sterkste kasteel in die hele Skotland. Hier sou hy veilig wees. Niemand kan die kasteel binnekom nie, Macbeth stel dus die wagte in die hoogste torings op, trek sy harnas aan en wag dat die vyand moet aanval.
Meteens skreeu een van die wagte sy verbasing uit. Hy sien iets aankom, kompleet asof die hele bos van Birnam af na die kasteel beweeg. Sonder dat Macbeth dit geweet het, het die Engelse soldate die takke van die bome afgekap en dit voor hulle gehou terwyl hulle na Dunsinane opruk. Nou verstaan hy wat dit beteken, en hy begin wonder of die ander deel van die voorspelling, dat geen man wat uit 'n vrou gebore is hom kan doodmaak nie, dalk nie ook 'n skelmstreek is nie.
Maar Macbeth skud die vrees van hom af. Alles wat die hekse belowe het, het tot dusver waar geword. Waarom moet hy nou vertroue in hulle verloor net omdat een deel van hulle voorspelling twee betekenisse het? As hy slim genoeg was sou hy verstaan het dat die bewende bos dietakke sou wees wat die soldate voor hulle hou, en nie dat die bos werklik kan beweeg nie. Nee, die hekse het vir hom die waarheid vertel en hy was 'n gek om nie te verstaan wat hulle bedoel nie.
Meteens klink 'n kreet uit die kasteel op en die dokter maak sy verskyning om vir Macbeth te sê dat sy vrou gesterf het. Die slapelose nagte vol herinnerings van Duncan se moord was vir haar te veel en sy het die stryd gewonne gegee. Macbeth laat haar stil begrawe; daar is nie tyd om oor haar dood te treur nie. Die Engelse soldate het die takke weggegooi en hamer reeds op die deure van die kasteel. Malcolm het die moord van sy vader kom wreek en Macduff die dood van sy vrou en onskuldige kinders.
Die geveg het die hele dag geduur, maar Macbeth het moed geput uit die hekse se belofte dat geen man wat uit 'n vrou gebore is hom ooit kwaad kan aandoen nie. En toe hy Macduff in die geveg ontmoet was dit ook die hekse se beloftes wat hom uitdagend laat sê dat die gode hom so goedgesind is dat hy geen man vrees nie. Maar Macduff openbaar die strik wat die hekse so lank gelede vir Macbeth gestel en agter hul vele beloftes verberg het:
"My moeder se geboortepyne het so lank aangehou dat sy byna gesterf het", sê Macduff. "Hulle het toe 'n dokter laat kom wat my voor die tyd in die wêreld gebring het. Ek is nie werklik gebore nie".
Dit was dan die betekenis van die bloedbevlekte kind wat uit die stoom van die heksepot opgerys het. Die bloed was nie sy eie nie maar dié van sy moeder. Nou weet Macbeth alles. Die hekse het met hom die spot gedryf. Hulle beloftes aan hom was niks werd nie en hy vervloek hulle vir hulle geveinsdheid en bedrog.
Macbeth weier eers om teen Macduff te veg want hy weet Macduff sal hom doodmaak. Maar hy moet òf veg òf oorgee. En oorgee sal vir so 'n trotse man soos Macbeth erger as die dood wees. Macbeth besluit dus om te veg.
Macbeth skraap sy laaste bietjie moed bymekaar en storm soos 'n gedierte op Macduff af. As hy moet sterf, sal Macduff ook sterf. Hulle veg met 'n gekletter van swaarde. Maar Macduff is vir hom te sterk. Boonop onthou Macduff wat Macbeth sy vrou en kinders aangedoen het en dit maak hom blind van woede. Hy vel Macbeth met een hou neer, kap sy kop af en hou dit omhoog sodat almal dit kan sien.
So het die geveg dan geëindig. Macbeth se soldate het hulle wapens neergegooi, die hekke is oopgemaak en die Engelse leër met Macduff vooraan het die kasteel binnegstroom. Daarna het al die soldate terugegaan huistoe en vir 'n rukkie was daar vrede in Skotland.
Maar daar moet altyd oor die vrede gewaak word want die magte van die duisternis is gedurig aan die werk; hulle wil die vrede versteur en oorlog maak. Die hekse het die hele dag die geveg dopgehou en Macbeth tot die einde toe moed ingepraat sodat hy geglo het hy kan nie doodgemaak word nie. Maar toe alles verby is, het hulle tevoorskyn gekom en die plek gesoek waar hy aan sy einde gekom het. Daar in die lang gras waar Macduff sy kop afgekap het, het hulle sy bloed en stukkies vleis en baard gekry. Die hekse het geskreeu so bly was hulle hieroor. Hulle dadelik die aaklige oorblyfsels begin optel, teruggevlieg na hulle grot en dit in hul heksepot gegooi. Toe het hulle die vuur aangesteek en weer om die heksepot begin dans terwyl hulle hul lelike liedjie sing:
Boos is goed, en goed is boos:
Fladder deur vogdamp, vuil en voos!
EINDE