Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Albert Einstein het 'n groot wysheid kwytgeraak toe hy gesê het nie alles wat getel kan word, tel nie; en nie alles wat tel, kan getel word nie.
ADINA SE BRIEWE (14)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Die groot wonder
Twee weke later het Adina eers weer so ver gekom om aan haar vader te skrywe:
Aan my liewe Pa
Jesus leef! Hy het uit die graf opgestaan! Die grootste van alle wonders wat kan plaasvind, het gebeur. Ek kon dit eers nie glo nie en sy dissipels ook nie. Maar laat ek vir Pappa vertel wat gebeur het, dan sal u dit glo.
Op die Sondagmôre, na die sabbat van die vorige dag, het Maria Magdalena en die ander vroue wat hier by ons bly, baie vroeg opgestaan om na Jesus se graf toe te gaan. Dit was Maria Magdalena en Johanna, wat haar altyd so getrou gehelp het om vir Jesus en die dissipels te versorg, en Maria, die vrou van Kleopas, ook genoem Alfeus. Sy is die moeder van die twee dissipels Johannes en Jakobus en sy is die suster van moeder Maria. Die twee liewe susters is albei Maria. Jesus se moeder het nie saamgegaan nie, maar ek en Salóme het die vroue vergesel. Ons het speserye saamgeneem om Jesus se liggaam mee te behandel.
Dit het al begin lig word toe ons deur die bome van die mooi tuin in die rigting van die graf aangestap het. Meteens hoor ons 'n donderslag en die grond onder ons skud, soos wanneer daar 'n aardbewing plaasvind. Toe kom die vier wagte wat die graf moes oppas in doodsangs by ons verby gestorm en verdwyn in die rigting van die stad. Ons het self verskrik daar gestaan en wou omdraai, maar Maria Magdalena het gesê sy wil sien wat daar gebeur het. Sy het voor ons uit na die graf toe geloop.
Wat ons gesien het, het ons almal meteens versteend laat staan. Die groot ronde klip was voor die ingang van die graf weggerol en bo-op hom het 'n engel in blinkende gewaad gesit. Hy het na ons gekyk en gesê: "Moenie bang wees nie. Jesus is nie hier nie. Hy het opgestaan. Gaan sê vir sy dissipels hulle moet bymekaar bly, sodat Hy aan hulle kan verskyn."
Ons was nog besig om van ons verstomming te herstel, toe die engel verdwyn. Ons is haastig terug huis toe om dit aan die dissipels te gaan vertel. Maar ek het gesien Maria Magdalena kom nie saam nie. Sy het in die graf ingegaan, seker om haarself te oortuig dat dit alles die waarheid is.
Toe ons ander by die huis aankom en dit vir die dissipels vertel, wou hulle ons nie glo nie, maar Simon Petrus het vir Johannes gesê: "Kom ons gaan kyk self." Hulle het na die graf toe gehardloop. Petrus het ingegaan en die doeke sien lê. Die een wat om Jesus se kop gedraai was, het eenkant opgerol gelê.
Hulle het nie vir Maria Magdalena gesien nie, want sy was anderkant die graf in 'n ander deel van die tuin. Meteens het daar 'n Man voor haar gestaan. Sy het gedink dat dit die tuinier was. Toe sy met Hom begin praat, het Hy net gesê: "Maria!" Dit was Jesus! Sy het voor sy voete neergeval en Hom aanbid.
Jesus het vir haar gesê dat Hy uit die dood opgestaan het soos wat sy kan sien, dat sy aardse taak afgehandel is en dat Hy na sy Vader gaan opvaar. Hy het gevra dat sy dit aan sy dissipels moet gaan vertel.
Pappa, ons almal het daardie dag verder in groot opgewondenheid verkeer. Petrus en Johannes het vertel wat hulle gesien het en ons het van die engel se verskyning gepraat. Die dissipels wou nie glo dat Maria Magdalena vir Jesus gesien het nie. Ons het almal saam in die groot woonvertrek van oom Simon se huis gesit en kon oor niks anders praat nie.
Daardie môre het Jakobus se pa, Alfeus, of Kleopas, soos ons hom genoem het, saam met 'n ander dissipel hier van Jerusalem af na die dorpie Emmaus gestap, waar hulle gewoon het. Sy vrou Maria het nie saamgegaan nie, maar hier by ons gebly.
Hulle was nog nie ver buite die stad nie, toe hulle 'n vreemdeling gewaar wat met hulle begin saamstap. Kleopas en sy vriend het loop en praat van al die dinge wat hier in Jerusalem plaasgevind het. Die Man wou by hulle weet waaroor hulle so ernstig met mekaar gesprek voer en waarom hulle so droewig lyk. Kleopas het toe weer vir Hom gevra of hy dan die enigste vreemdeling in Jerusalem is, omdat Hy nie weet van al die dinge wat die afgelope dae in die stad gebeur het nie. Hulle twee het toe vir Hom vertel dat hier 'n groot profeet in die stad was, Jesus van Nasaret, wat kragtig in werk en woord voor God en die hele volk was, maar die owerpriesters en ander owerstes het Hom so gehaat dat hulle gesorg het dat Hy tot die doodstraf oorgelewer is en 'n kruisdood gesterf het.
"Ons het vuriglik gehoop en ook vas geglo dat Hy Israel van die Romeine gaan verlos, maar al ons hoop en verwagting het drie dae gelede saam met Hom gesterf. Maar nou het daar vanmôre weer dinge gebeur wat ons nog verder in die war bring. 'n Paar vroue het sy graf gaan besoek, maar dit is leeg. Hulle sê daar was 'n engel by die graf, wat vir hulle gesê het dat Hy lewe. 'n Paar van ons het toe na die graf gegaan en gesien dat dit leeg is, maar Hy self was nie daar nie. Nou weet ons ook nie meer wat om te glo nie."
Die Man het toe met hulle begin praat oor alles wat daar in die skrifte oor die Messias opgeteken staan en dat dit so bepaal is dat die Christus met sy koms na die aarde veel moes ly, voordat Hy in sy heerlikheid sou ingaan. Hulle was verbaas dat hierdie man dit alles weet.
Toe hulle naby Emmaus kom, het Hy gemaak asof Hy verder wou gaan, maar Kleopas het Hom uitgenooi om in sy huis te kom oornag, aangesien dit al laat was. Aan tafel die aand het hierdie Vreemdeling die brood geneem en toe Hy dit breek, het Kleopas hulle eers ontdek dat hulle die hele middag al die tyd saam met Jesus gestap het! Toe hulle Hom herken, het Hy meteens uit hulle gesig verdwyn.
In hulle groot verbasing en blydskap het hulle alles net so aan tafel gelos en die byna 20 kilometer na Jerusalem terug gehardloop. Hulle het laat die aand uitasem by ons aangekom en die trap opgestorm na die bokamer, waar ons en die dissipels nie kon ophou praat oor die wonderlike dinge wat gebeur het nie.
Toe Kleopas hulle vir ons klaar vertel het van hulle wonderlike ontmoeting met Jesus, het ons almal saam gejuig in die wete dat daar nou geen twyfel meer bestaan dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het nie.
Pappa, die volgende oomblik het Jesus daar in die bovertrek voor ons verskyn! Ons was nog besig om oor Hom te praat, toe staan Hy daar by ons! Ons almal was half verskrik en het na Hom gestaar. Toe sê Hy: "Vrede vir julle! Moet tog nie so bang wees nie. Dit is nie 'n spook wat julle sien nie. 'n Spook het nie vlees en bene soos Ek nie. Kom vat aan My en voel self."
Die dissipels het huiwerig nadergekom en dit gedoen. Die voortvarende Petrus was natuurlik weer die eerste een wat aan Hom geraak het. Daarna het ons almal saam spontaan 'n loflied aangehef tot eer van die almagtige God en Hom gedank dat Hy sy Seun uit die dood vir ons opgewek het, om verder met sy seënende teenwoordigheid by ons te wees.
Daarna het Jesus lank met ons gepraat totdat ons verstaan het waarom Hy so onder die priesterhoofde en volksleiers moes ly. God het Hom na die aarde gestuur om sy koninkryk in die harte van mense te kom vestig. Hy moes aan 'n kruis sterf om vir die sondeskuld van die ganse mensdom te betaal, want God laat nie die sonde ongestraf bly nie. Hy het nie gekom as 'n politieke koning om Israel se vyand, die Romeine, te verdryf nie, maar om die veel groter mag van die duisternis wat die aarde beheers, te verbreek en te oorwin. Dit het Hy met sy kruisdood en sy opstanding gedoen. Hy gaan nog 'n klein rukkie by ons bly en dan gaan Hy terug na sy Vader en ons Vader, om vir sy oorwinning oor die bose verheerlik te word. Aan Hom is alle mag in die hemel en op die aarde gegee. Niemand kan na die Vader gaan sonder Hom nie, want Hy is ons Middelaar. Elkeen van ons wat Hom aanneem as Verlosser uit die mag van die sonde, ontvang vergifnis vir al sy ongeregtigheid. Daarom is sy gebod dat ons mekaar moet liefhê en so die wet van God vervul.
Pappa, toe ek daar so na Hom staan en kyk, waar Hy in die flou lamplig voor ons almal staan, terwyl 'n stralekrans van lig om Hom skyn, het ek met 'n groot jubeling in my hart finaal geweet dat dit werklik God is wat hier voor ons staan. Toe het ek voor Hom op my knieë geval en geprewel: "My Here en my God." Hy het sy hand seënend oor my uitgestrek en gesê: "Hou goeie moed, Adina. Jy moet nog vir My in Alexandrië gaan getuig."
Het Pappa dit gehoor? Is dit nie wonderlik nie! Maar ek moet nog vir u vertel wat 'n week later plaasgevind het. Jesus het weer aan die dissipels verskyn. Hulle was die aand almal teenwoordig in die bovertrek, ook Tomas, wat die vorige keer nie hier was nie. Die ander dissipels het vir hom vertel van Jesus se vorige besoek, maar hy het dit nie geglo nie. Hy het gesê: "As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger daarin steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie."
Die dissipels was bang dat die priesterhoofde hulle ook sal vervolg, omdat hulle volgelinge van Jesus is. Toe het ons maar alle deure wat na die bovertrek lei, gesluit, in geval hulle dalk uitgesnuffel word. Maar skielik het Jesus weer tussen hulle gestaan. Hy het vir Tomas nadergeroep en vir hom gesê om aan Hom te kom voel en om nie so ongelowig te wees nie. Toe het Tomas ook geglo.
Jesus het weer vir die dissipels gesê dat Hy van hulle af weggaan, maar nog 'n rukkie by hulle sal wees.
Die volgende dag het die sewe dissipels wat van die noordelike streke van Galilea afkomstig was, in die pad geval na hulle vorige tuistes. Hulle was vissers en wou graag weer hierdie bedryf van hulle gaan voortsit. Dit was Simon Petrus, Tomas, Natánael van Kana, Johannes, Jakobus en nog twee ander.
Hulle het onder leiding van Simon Petrus een aand by die Galilese See in 'n skuit geklim om te gaan visvang, maar het die hele nag lank niks gevang nie. Toe hulle die môre vroeg na die strand toe roei, sien hulle Iemand op die strand staan. Hy het vir hulle iets te ete gevra, maar hulle het niks gehad nie. Hy het hulle beveel om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi. Petrus hulle het dit gedoen en meteens honderd drie en vyftig groot visse gevang. Toe het hulle besef dat dit Jesus was wat daar op die strand staan. Hy het hulle geroep om te kom eet. Daar was 'n vuurtjie op die strand met vis daarop en brood.
Daardie môre het Jesus vir Petrus driemaal gevra of hy Hom liefhet en hom opdrag gegee om sy skape op te pas; dit is almal wat in Jesus sal glo. Hy het vir die paar dissipels gesê om weer na die ander in Jerusalem terug te gaan, want die tyd kom nader dat Hy na sy Vader moet gaan. Hulle moet almal saam bymekaar wees wanneer dit gaan plaasvind. Ons wonder almal hoe dit gaan gebeur.
Liewe Pappa, ek vra dat u asseblief my vorige briewe en hierdie een weer moet lees en oordink. Ek het in almal vir u net die suiwer waarheid oor Jesus geskrywe. Hy is waarlik die Messias, die Seun van die allerhoogste God, wat sy lewe kom aflê het aan die vloekhout, om ons van die verdoemenis te red, want ons is nie in staat om dit self te doen nie. Wil u nie ook maar hierdie wonderlike Seun van God as u persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar nie? Hy is ons deurgang na die almagtige God, wat al ons sonde in Hom vergewe.
Ek sien so uit na 'n brief van u om te hoor hoe dit met u en almal in Alexandrië gaan. Ek beplan om met u toestemming eersdaags huis toe te kom, wanneer die wonderlike gebeurtenisse wat ons die afgelope tyd beleef, klaar afgespeel het.
Van u verlangende dogter Adina.