Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons herdenk die Slag van Bloedrivier as 'n groot daad van God in ons geskiedenis, 'n daad wat ons nie mag vergeet nie en aan óns opkomende geslagte moet oordra. Daarby gedenk ons dit as 'n groot daad in die geskiedenis van die Kerk van die HERE in ons land en oor die hele wêreld.
ADINA SE BRIEWE (2)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
Adina in Jerusalem
Nie lank na Adina se aankoms in Jerusalem nie, het sy aan haar vader, rabbi Efraim van Alexandrië oor haar wedervarings by haar nuwe tuiste geskryf en vertel watter indruk die heilige stad op haar gemoed gemaak het:
Liewe Vader,
Ek kan amper nie meer wag dat die volgende kameel-karavaan hierdie week na Alexandrië moet vertrek nie, want ek brand om u te vertel wat ek alles beleef het vandat ek 'n maand gelede hier in Jerusalem aangekom het. Die karavane se halte is buite die stad by die Gihonfontein, naby die Waterpoort.
Die lang reis was maar baie vermoeiend. Die ou groot diere stap tog so stamperig oor die grond. My lyf was voos gekneus en die warm son het ons daelank geteister. Dit was op sy ergste toe ons die kant van die Sinaïwoestyn bereik het. Ons paar passasiers se verligting was groot toe ons uiteindelik die glinsterende koepels van die sinagoges in die deinserige vertes voor ons gewaar.
Oom Simon en tant Hanna en my liewe niggie Salóme, het my by die karavaanhalte kom haal. Hulle het deur die Waterpoort gekom met 'n groot en gerieflike rytuig wat deur twee mooi perde getrek is.
U het my nooit vertel dat oom Simon 'n baie vermoënde man is nie. Hulle het 'n mooi, groot huis in die stad, naby die Skaappoort. Hulle het my so vriendelik ontvang en verwelkom dat ek dadelik tuis gevoel het. My niggie, Salóme, is net so oud soos ek. Ek het sommer dadelik van hierdie liewe meisie gehou, en sy ook van my, sodat daar reeds 'n hegte vriendskap tussen ons ontwikkel het.
Ná my eerste week se verblyf by ons vriendelike familie, het Salóme aangebied om my die besienswaardighede van die heilige stad te gaan wys. Ek weet u het jarelank hier in Jerusalem gewoon en ken die stad seker nog baie beter as ek, maar sedert u na Alexandrië verhuis het, het hier baie veranderinge plaasgevind. Daarom vertel ek maar vir u so een en ander van wat ek gesien het en wat 'n groot indruk op my gemaak het.
Ek en Salóme het heel eerste die Olyfberg gaan besoek. Dit is eintlik 'n sabbatsreis ver uit die stad en ek wou dit graag sien. Dit is 'n belewenis om op die berg te staan en op die twee dele van Jerusalem af te kyk. Aan die voet van die berg lê die pragtige tuine van Getsémané. Op ons terugtog van die berg af, het ons deur die tuin gestap. Toe kom ons by 'n lae heuweltjie verby, waar daar 'n snaakse rots bo die ander uitstaan. Dit het my laat gril, want dit het duidelik die vorm van 'n menslike kopbeen. Salóme sê hierdie heuwel word Golgota genoem en is die plek waar die Romeinse owerheid sy ter dood veroordeelde misdadigers aan kruise spyker om te sterf.
Ek hou nie van hierdie plek nie. Ons het maar vinnig verder gestap totdat ons aan die westekant van die stad deur 'n groot poort 'n kolossale ringmuur binnegegaan het. Dit is geleë op die plato van die tempelberg, waar al die voorhowe op reusagtige terrasse gebou is. Die een lê hoër as die ander en die tempelgebou self steek in stralende prag bo almal uit. Dit is 'n wonderlike gesig om te aanskou!
Was hierdie pragtige tempel al voltooi of nog in aanbou toe u Jerusalem destyds verlaat het? Oom Simon sê, alhoewel niemand hier 'n goeie woord het vir koning Herodus die Grote wat hierdie tempel herbou het nie, moet ons tog maar teen wil en dank erken dat dit mooier is as die tempel van Salomo.
Ons het deur die westelike poort tot in die buitenste voorhof gekom. Salóme het gesê dis die voorhof van die heidene. Dit is 'n groot plein wat alkante deur pilaargange omring word. Vanaf hierdie plein kan 'n mens deur 'n ander poort die Romeinse vesting, Antonia, bereik. Daar is nege poorte wat tot die eintlike tempel toegang verleen. Ons het deur die Skone Poort in die voorhof van die vroue ingegaan. Ons moes daar omdraai omdat ons as vroue nie die reg gehad het om in die voorhof van die Israeliete in te gaan nie. Hier mag nie-Jode ook nie inkom nie. Daar is ook 'n voorhof vir die priesters en agter hom is die Heilige, wat deur 'n swaar voorhangsel van die Allerheiligste geskei word.
Hier vanaf die tempelberg het 'n mens 'n baie mooi uitsig oor die bo-stad, wat die suid-westelike deel van Jerusalem uitmaak. 'n Mens kan daarvandaan die indrukwekkende paleis van Herodus sien en 'n klein endjie verderaan ook die swierige huis van die hoëpriester Kajafas. Reg voor die paleis van Herodus kon ons die praetorium sien waar goewerneur Pilatus gewoonlik regspraak hou en ook die groot plein, of Gabbata, waar hy die volk toespreek. Die raadsaal van die Sanhedrin is ook langs hierdie groot plein in die bo-stad geleë.
Die ryk mense, soos oom Simon, woon almal in die bo-stad. Salóme het my ook deur 'n deeltjie van die onder-stad geneem. Die huisies lyk maar armoedig. Salóme sê hier woon baie armes wat baie dae nie weet wat hulle die volgende dag gaan eet nie.
Onderwyl ons so in die nou straatjies tussen die mense gestap het, het hulle almal net Aramees gepraat. Dit lyk vir my ons volk ken nie meer Hebreeus nie. Ek weet dat een van die redes waarom u my na Jerusalem laat kom het, is om my kennis van ons taal, Hebreeus, op te knap, sodat ek die geskrifte van die profete beter kan ontsyfer wanneer ek weer by u in Alexandrië kom woon. Ek skryf maar vir u hierdie brief in Grieks, die taal wat ons almal in Alexandrië so goed ken. Ek het die Afgelope week hier meer Aramees geleer as Hebreeus. Dit is 'n mooi taal wat 'n mens maklik aanleer, want dit is verwant aan Hebreeus.
Met ons rondkuiery in die bo-stad op die groot markplein en in die tempel se voorhof van die heidene, het ons heelwat Hebreeus gehoor, veral by die deftige skrifgeleerdes en Fariseërs en Sadduseërs wat daar oral rondgestap het. Maar Pappa, ons het iets daar in die tempel gesien waarvan ek niks hou nie. Toe ons nog so in die groot voorhof tussen die mense rondstap en alles bewonder, hoor ons 'n geweldige harde stem deur die saal weerklink. Ons het saam met 'n klompie mense in die rigting beweeg waarvandaan dit gekom het. Langs die pilaargang het 'n Fariseër op 'n verhogie gestaan, sodat ons hom mooi kon sien. Hy was besig om te bid en hy het dit net so luidkeels gedoen as waartoe hy in staat is. Hy het vir Jehova vertel hoe 'n goeie man hy is en dat hy nie so vol sonde is soos die armsalige mense wat hier rondom hom staan nie. Nadat hy amen gesê het, wou 'n paar van die mense met hom praat, maar hy het gemaak asof hy hulle nie raaksien nie. Hy het met sy neus in die lug en met sy oë na bo, met 'n paar papirusrolle onder die arm, daar weggestap asof ons nie bestaan nie.
Oom Simon sê dit gebeur amper elke dag in die tempel en dit bring wantroue en verwydering tussen die volk en die leiers wat vir hulle die pad na die Here moet aanwys. Hy sê elkeen kan met 'n stok voel dat sulke luidrugtige gebede in die openbaar net bedoel is om vir die mense te wys hoe wonderlik hulle in hul eie oë is. Hy noem al die Fariseërs van die Sanhedrin 'n eiegeregtige, hardvogtige en hoogmoedige klomp, wat nooit enige meegevoel of genade aan hul volksgenote betoon nie. Oom Simon sê hy het eenmaal toe hy in die tempel gaan offer het, gesien hoe een van die Fariseërs daar by die poort 'n hulpelose blindgebore bedelaar te lyf gaan, omdat dié vir hom 'n aalmoes gevra het.
Pappa, so het ek nie ons Fariseërs in Alexandrië leer ken nie. U is self een en u het my altyd op die hart gedruk dat die Here van ons verwag om reg en geregtigheid te handhaaf en al die bepalings van sy wet streng na te kom. Skrywe asseblief vir my wat u van hierdie voorval dink.
Gedurende die afgelope maand het ek reeds al baie van die stad en omgewing gesien. Oom Simon het vir my en Salóme en tant Hanna een môre met sy perdewa na sy plaas geneem. Ons het die heeldag daar vertoef, onderwyl oom Simon saam met sy voorman die verskillende afdelings van sy groot boerdery nagegaan en sake met sy werkers bespreek het.
Om daar te kom, ry 'n mens oor die pragtige dorpie Betanië en dan nog ongeveer vier kilometer ooswaarts. Dit is 'n groot plaas wat besproei word uit 'n hele paar standhoudende fonteine en 'n paar vlak waterputte.
Pappa was seker al op oom Simon se plaas toe u en Mamma in Jerusalem gewoon het. Vir my was dit 'n wonderlike belewenis om saam met Salóme tussen die pragtige olyfbome, wat teen die helling van 'n heuwel geplant is, rond te kuier. Langs die olyfboord strek sy goedversorgte wingerd verderaf na 'n laagte toe. In die vallei word groente gekweek soos lensies, erte, bone, komkommers, knoffel en uie. Oorkant die vallei is 'n vrugteboord wat hoofsaaklik vye en granate lewer.
Oom Simon gebruik ook 'n stuk grond aan die onderkant van sy boorde om koring en gars te saai. Ek en Salóme het by sy groot dorsvloer langs gestap en ook 'n draai gemaak by die parskuipe en olyfpers, voordat ons die diere in die netjiese stalle gaan bekyk het. Oom Simon hou nie osse aan vir ploeg- en karweiwerk nie, maar gebruik 'n klompie esels daarvoor. Die voertuie waarmee hy self rondry, word deur spogperde getrek.
Hierdie mooi plaas word bewerk en versorg deur 'n paar slawe en 'n aantal gehuurde arbeiders. Oom Simon het vir almal huisvesting voorsien. Sy voorman, Jason, is self 'n kundige boer en baie pliggetrou. Oom Simon besoek maar sy plaas so eenmaal per week. Hy laat gereeld voorrade stad toe bring vir huishoudelike gebruik en bied sy produkte te koop aan op die groot markplein van die stad.
Pappa, ek het die uitstappie na die plaas baie geniet. Nou weet ek hoe baie van ons mense hier in die heilige land leef. Oom Simon hulle is egter van die min bevoorregtes wat so ryk bedeel is met aardse goedere. Salóme sê haar pa is nie 'n suinige man nie. Hy gee gereeld een-tiende van sy inkomste vir die werk van die Here. Sy glo dat Jehova hom daaroor seën met so baie aardse besittings.
Skrywe asseblief vir my of dit daar in Alexandrië nog goed met u gaan.
Van u dogter Adina.