Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (3)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
SKRIF OF ERVARING?
"Jy toets nie die Skrif aan jou ervarings nie, jy toets jou ervarings aan die Skrif. En dis die groot verskil tussen charismate en Gereformeerdes. Ons sê soos die groot Hervormers van ouds Soli Scriptura – slegs die Bybel!"
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” ( 1 Pet.1:19).
Sou Petrus, indien hy uit die dood moes opstaan, onder charismate tuis voel? Hy het tog in tale gepraat, siekes genees, geprofeteer en wonderlike ervarings gehad waarvan die verheerliking van Christus op die berg seker die wonderlikste was. In 1 Pet.1:16 getuig hy juis daarvan: “...ons was aanskouers van sy majesteit”.
As Petrus ‘n charismaat was, sou hy net oor sy ervarings gepreek het. Hy doen dit egter nie omdat die Bybel vir hom ‘n baie meer betroubare toetssteen vir sy geloof was. Petrus sou vandag eerder onder Gereformeerdes tuis gevoel het. Hy doen die regte ding en ag die Bybel belangriker as geestelike ervarings en wondertekens!
In die teksvers sê hy dat die profetiese woord baie vas is. Ervarings en belewenisse het geen vastigheid nie. Desondanks bou miljoene dwaalgeeste hul geloofslewe daarop. Die Bybel is die enigste vaste fondament vir die geloofslewe. Jy toets nie die Skrif aan jou ervarings nie, jy toets jou ervarings aan die Skrif. En dis die groot verskil tussen charismate en Gereformeerdes. Ons sê soos die groot Hervormers van ouds Soli Scriptura – slegs die Bybel!
Baie mense het al die charismatiese beweging uit frustrasie verlaat. Om darem vir die res van jou lewe gedurig na nuwe ervarings te soek is genoeg om ‘n mens gefrustreerd te maak! Die geloofslewe is vir charismate ‘n eindelose pelgrimstog van die een ervaring na die ander. En as die een ervaring nie beter as die ander is nie, wonder hulle wat met hul geestelike lewe skort?
Sommige charismate maak selfs daarop aanspraak dat hulle Jesus al persoonlik gesien het. Jy moet net genoeg geloof hê! Jare gelede het ‘n Amerikaner vertel dat Jesus elke oggend vir hom in die badkamer kom kuier het terwyl hy geskeer het. Dan het hulle so deur die skeer heen lekker gesels. Dis loutere onsin! ‘n Mens wat die Here sien, sal verskrik en nie familiêr met Hom raak nie, laat staan nog aangaan met skeer! Toe Jesaja God sien, het hy bevrees uitroep: “...Wee my, ek is verlore!...” (Jes.6:5). By geleentheid sê ‘n bedroefde Petrus vir Jesus: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” (Luk.5:8).
Dit bring my by die heel skadelikste dwaling van die ganse charismatiese beweging:
DIE ONTKENNING VAN DIE GENOEGSAAMHEID VAN DIE BYBEL.
In kort kom dit daarop neer dat die Bybel nie genoeg vir ons sieleheil bied nie. Daar moet telkens nuwe openbarings bygevoeg word. Dit bots lynreg met ‘n duidelike en laaste waarskuwing in die Bybel: ”Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Openb.22:18).
In Joh.14 sê Jesus vir die dissipels dat Hy hulle gaan verlaat. Hulle moet egter nie ontsteld wees nie. In Hom sien hulle die Vader. Hy sal hulle nooit wees agterlaat nie, maar voorsien. Filippus was egter nie tevrede nie. Jesus se woorde was nie genoeg nie. Hy het na ‘n teken, ‘n wonderwerk, ja, iets meer dramaties gesoek. Daarom sê hy vir Jesus: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg” (:8) Dit het Jesus bedroef. Was Hy dan nie meer as genoeg nie? Het Filippus dan nie Jesus se werke gesien en sy woorde gehoor nie? Waarom wil hy nog meer hê? Dit was ‘n belediging vir die Seun van God; ‘n belediging wat vandag nog deur almal wat meer as die Skrif wil hê, herhaal word. Dis ‘n growwe belediging aan God wat Hom genoegsaam aan die mens in die Skrif openbaar. Charismate doen presies dieselfde!
Gelowiges durf nie na ervaring bo die waarheid en genoegsaamheid van die Skrif smag nie. Alle ervaring is aan die Skrif onderworpe. Dit wat daarmee ooreenstem, word aanvaar. Dit wat nie daarmee ooreenstem nie, word verwerp. Die Skrif is en bly genoegsaam!
By geleentheid was twee manne na die kruisiging oppad na hul huis in Emmaus. Hulle was verward oor wat in Jerusalem gebeur het toe Jesus by hulle aangesluit het. “En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Luk.24:27). Later sê hulle vir mekaar: “Was ons hart nie brandend in ons toe Hy.....vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” (:32).
Hulle het ‘n wonderlike ervaring gehad; hulle harte het gebrand omdat Jesus vir hulle die Skrif uitgelê het. Let op wat hulle harte brandend gemaak het - nie die ervaring om saam met Jesus te loop nie, maar sy gesagvolle Skrifuitleg. “En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag gehad het....” (Mt.7:28,29). Gelowiges soek slegs na die rykdom van die Woord van God. Dis meer as genoeg!
Petrus het nie toegelaat dat sy ervarings, hoe wonderlik dit ook al was, sy geloofslewe vir hom voorskryf nie. So ook nie Paulus nie. En wat ‘n wonderlike ervaring het hy nie met sy bekering naby Damaskus gehad nie! ‘n Verblindende lig het hom omstraal en ‘n stem uit die hemel met hom gepraat waarna hy van ‘n vervolger na ‘n volgeling van Jesus verander het.
Paulus kon maklik sy ervaring die hart van sy prediking gemaak het. Nogtans doen hy dit nie. Hy gaan reg te werk en gebruik die Woord van God! “En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte” (Hand.17:2). Selfs nadat God hom later die hemel laat sien het (2 Kor.12:1-4), het hy nie oor die dinge wat hy daar gesien het, gepraat nie, maar oor die Skrif. Ervaring verleen nie groter geloofwaardigheid aan die Evangelie as die verkondiging van die Woord nie. Daarom steek charismatiese predikers met hul oordrewe klem op tekens en wonders sommer baie lelik by gesonde, Bybel-gefundeerde prediking af!
Paulus het tot aan die einde van sy lewe uit die Skrif bly preek. “....en baie het na hom in sy verblyfplek gekom. En in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus” (Hand.28:23).
Ongelukkig volg charismate nie Paulus se voorbeeld nie, maar bewandel eerder ‘n pad wat gereeld deur liberaliste, humaniste en heidene bewandel word. Dit veroorsaak onderlinge spanning. Enersyds wil charismate aan die Bybel vashou. Andersyds is ervaring hul gesagsbron. Dis ‘n teologies onhoudbare situasie! Die Bybel het meer as genoeg gesag. Dit het nie mense se ervaring nodig om dit ‘n hupstoot te gee nie. Die Skrif is van meet af aan deur die Heilige Gees besiel.
Baie charismate is werklik ernstig met hul godsdiens. Hulle laat my egter aan die Jode dink waarvan Paulus in Rom.10:2 skryf: “Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis” Charismate het ‘n ywer sonder kennis. Dis die gevolg van ‘n geesdrif sonder ‘n Bybelse fondament. Keen but clueless, in Engels. Charismate benader die geloofslewe sonder hul verstand omdat hulle glo dat geestelike ervarings waardevoller as verstandelike instemming is. Dis allermins wat die Bybel sê!
Die ganse openbaring is juis op kennis en verstand gegrond. Ons kan God net bewonder indien ons dit met die verstand doen. ‘n Godsdiens wat kennis verag, is onheilsaam. Pas dus op vir die ervaringsteologie. Gevoelsgodsdienste lê bitter na aan die afgodsdienste. Baie van die charismatiese gebruike herinner ‘n mens sterk aan heidense rituele – verrukkings, brabbeltaal en beswymings.
Wat is die oorsprong van hierdie vreemde aanbiddingsvorm? Die Kanaänitiese Baäl-aanbidding. Gevoelsgodsdienste is niks anders as ‘n herlewing van ‘n soort van Baäl-aanbidding nie! Wees dus versigtig vir ervaring; Satan gebruik dit om mense se oog van die profetiese woord wat baie vas staan weg te neem. Duisende mense word jaarliks slagoffers van die ervaringsgees en stroom na die lekker kerke wat al hoe groter word. Die ware kerk, daarenteen, word al hoe kleiner.
Die Bybel waarsku gelowiges dat daar baie Sataniese wonders en tekens net voor Jesus se wederkoms gaan plaasvind om mense wat nie aan die waarheid vashou nie, te mislei. Mense gaan van die Bybel losgemaak word. Dit gebeur alreeds!
Die stryd teen die gesag van die Skrif woed tans op twee fronte. Eerstens is daar ontspoorde teoloë wat openlik sê dat daar foute in die Bybel is (Nuwe Hervormers). Tweedens is daar ‘n groep wat die Bybelse gesag subtiel opsyskuif deur die genoegsaamheid daarvan te betwyfel (Charismatiese beweging). Dis een en dieselfde stryd net uit verskillende oorde!
Hoe lyk gesonde godsdiens? Dit staan op die waarheid. Nie drome, ervarings, gesigte of watter bonatuurlike dinge ook al nie; slegs die waarheid. In Joh.17:17 bid Jesus: “Heilig hulle in u Waarheid, u Woord is die waarheid” Wat die Christendom vandag nodig het, is nie ‘n klomp wolhaar-leerstellinge nie, maar ‘n herwaardering van die waarheid van die Skrif.
Mense moet tot stilstand kom en hulself die vraag afvra: “Is dit wat my kerk en my leraar vir my leer 100% in ooreenstemming met God se Woord?” Een van die Hervorming se leuses is Soli Scriptura – alleenlik die Bybel. As ons dit nie toepas nie, verloor ons die stryd om die Bybel en gaan ons geestelike mure kort voor lank soos diè van Jerigo ineenstort.
Laat ons eerder soos die gelowiges van Berea (Hand.17) baie versigtig met die geloofslewe omgaan en alles aan die toets van die Skrif onderwerp. Dit gaan enersyds groot inspanning verg, maar andersyds groot vreugde en seën bring!