Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Versoekings is baie verskillend. Die verdorwe gedagtes wat ons aanhits om die wet te oortree is versoekings. Hierdie gedagtes word óf deur ons eie begeertes aangevuur, óf deur die duiwel wakker geroep. Ook die dinge wat eintlik self nie sleg is nie, word versoekings deur die lis van die duiwel. Dit gebeur wanneer dinge oënskynlik onskuldig só aan ons opgedis word dat dit ons van God wegtrek.
DIE CHARISMATIESE GEVAAR (2)
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Die Charismatiese Gevaar
IS ERVARING ‘N GELDIGE TOETS VIR DIE WAARHEID?
“Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim.4:1,2).
‘n Ding wat verkeerd begin, kan nooit reg eindig nie. Die charismatiese beweging het verkeerd begin waarna dit met hulle soos die spreekwoordelike klip deur ‘n tregter gaan! Die Bybel sê vir ons hoe om reg te begin – ons moet alles wat ons doen aan die waarheid van die Skrif toets. “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps.119:105).
Charismate doen dit nie, maar meet die waarheid aan geestelike ervarings. Gevolglik kom die Bybel tweede. Gereformeerdes verskil hier skerp van charismate en glo dat die Bybel die enigste grondslag vir die geloof is. Jeremia waarsku baie duidelik: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer.17:9).
Ek is geensins ten gunste van ‘n koue, oninteressante, dooie godsdiens nie. Ware geloof het wel emosie. Dink maar aan Dawid se sterk gevoelens van berou oor sonde in Ps.32 of gelowiges se uitbundige blydskap oor vergifnis., so ook gelowiges se dankbaarheid oor die waarheid van die Skrif. Emosies en gevoelens mag egter nooit die grondslag van ons geloof wees nie, anders ontspoor ons en sal daar uiteindelik geen keer aan dwaallering wees nie.
Uit charismatiese leesstof en dienste is dit duidelik dat hul geloof uit gesigte, drome, privaat boodskappe van God en ander onkontroleerbare, subjektiewe dinge bestaan. Die Bybel word dikwels skaamteloos verwring om hul dwalings te pas.
Charismatiese predikers sien hulself as profete van God en verkondig selfs nuwe leerstellings wat geen Bybelse grond het nie en bloot op die ervaring gegrond is. Die Amerikaanse sendeling-dokter, dr. Percy Collett, is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Hy het in 1982 beweer dat hy vyf dae in die hemel was en Jesus oor die bouwerk van die wonings waarvan Joh.14 praat, toesig sien hou het. Hy het daarna lesings oor die hemel gehou en duisende mense mislei! Hoe verskil sy ervarings nie met diè van Paulus wat ook in die hemel was, maar nie toegelaat is om iets daaroor te sê nie! “dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie” (2 Kor.12:4).
Charismatiese kerke is sterk op getuienislewering ingestel. Dit neem dikwels die grootste deel van die byeenkoms in beslag. Weereens ervaring! Wat doen pastore indien sulke getuienislewering leuenagtig en/of absurd is? Stop hulle dit? Nee. Hulle glo dat die een ervaring die ander bekragtig. Getuienislewering word sito-sito vir die waarheid aanvaar sonder om dit aan die Skrif te toets. In hierdie opsig verskil die charismatiese beweging nie veel van die Roomse Kerk wat ook gesag aan buite Bybelse getuienis (tradisie genoem) verleen nie!
Wat doen charismate in werklikheid met die Skrif? Een van twee dinge - hulle verdraai dit om hul ervarings te ondersteun of minag dit skaamteloos. Hulle glo buitendien dat God aan hulle pastore vars openbaring gee. Gevolglik kan die Bybel maar net sowel rak toe gaan! Daarom openbaar die meeste charismatiese kerke ‘n baie ernstige gebrek aan geestelike diepte.
Die doop met die Heilige Gees is ‘n kardinale leer in die charismatiese beweging. Ongelukkig verstaan hulle dit weens ‘n gebrek aan Skrifkennis glad nie! Hulle sien dit as ‘n verruklike geestelike ervaring wat na die bekering met die spreek in tale gepaard gaan. Wie dit nie ervaar nie, word as geestelik onvolwasse geag.
Vir charismate bestaan geloof uit die een geestelike ervaring na die ander. Mense wedywer selfs met mekaar oor wie met die mees aangrypende, verbysterende verhaal voor die dag kan kom! Ongelooflike dinge word vertel sonder om die waarheid daarvan vas te stel. En dit terwyl die Skrif gelowiges oproep om alles te beproef sodat alles God welgeval. “En beproef wat die Here welbehaaglik is” (Efes.5:10). “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thes.5:21).
In 1977 het ‘n advertensie “Foto van God” in ‘n Amerikaanse charismatiese koerant verskyn. Dudley Danielson, ‘n fotograaf, skryf daarin dat hy een oggend vroeg wakker geword het met ‘n opdrag van God om die sonsopkoms te fotografeer. Op die betrokke negatief was ‘n vae vorm van ‘n figuur met uitgestrekte arms te sien. Hy het geglo dat dit God self was en geld met afdrukke daarvan gemaak. Ervaring is weer eens bo die Bybel gestel! “Niemand het ooit God gesien nie...” (Joh.1:18). “Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Ex.33:20).
Die charismatiese beweging wemel van verhale wat van lagwekkend tot lasterlik strek. Desondanks word dit alles so ernstig opgeneem, dat duisende charismate na soortgelyke ervarings verlang. Hierdie verbysterende, roekelose omgang met die saak van die Here stem Bybelse gelowiges tot groot droefheid!
In plaas daarvan om ‘n deeglike en verantwoordelike studie van die Skrif te maak, deel charismate eerder die een opwindende ervaring na die ander met mekaar; hoe belaglik dit ook al mag klink. Dit het ‘n lelike ding in Protestantisme laat ontstaan nl. ‘n mistisisme eie aan Oosterse afgodery. Al verskil is dat dit ‘n Christelike tint het.
Mistisisme soek na geestelike werklikhede buite die objektiewe, waarneembare en bewysbare veld van die lewe. Daar word na die waarheid by wyse van gevoelens, aanvoelings en innerlike waarnemings gesoek. Mistisisme stel net in die innerlike belang; dit wat onsigbaar, subjektief en onkontroleerbaar is. Spontane ervarings weeg dus baie swaarder as verstandelike begrip. Daarom vorm mistisisme die hart van die heidendom. Hindoeïsme is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.
Mistisisme is ‘n kragtige werktuig en lering van die Satan wat ongelukkig ook die hart van die charismatiese beweging kenmerk. Hulle persoonlike ervaring ondermyn Skrifgesag. Gereformeerdes sê dat daar net een manier is om die waarheid te leer ken, en dis deur die geskiedkundige, objektiewe benadering van die Skrif want dit beklemtoon God se handeling met mense. Daarom is die Bybel die enigste kenbron van die waarheid.
Charismate glo dit net deels en beklemtoon eerder die persoonlike, subjektiewe benadering - mense se ervarings met God. Let op die groot klemverskuiwing: Dis nie God se handelinge met mense wat die swaarste weeg nie, maar eerder mense se ervarings met Hom. Dit as sulks maak dwaalleer onvermydelik!
Die waarheid is net op een manier te verkry; op ‘n geskiedkundige, objektiewe wyse.
Daarvolgens begin jy met die Bybel en onderwerp jou ervarings daaraan. Strook dit nie met die Bybel nie, slaan jy nie verder ag daarop nie.
Die subjektiewe ervaringsmetode van die charismate is ook eie aan Roomse teologie. Ervarings, intuïsie en die misterieuse was van meet af aan sprekend van die Roomse Kerk met haar Babiloniese herkoms en duiwelse rituele.
Die subjektiewe ervaringsmetode is ook, interessant genoeg, die hart van liberalisme. Daarom is charismate uit huis uit liberaal. Let maar gerus op die bedenklike rol wat charismatiese kerke gespeel het om die eens geseënde, behoudende politieke stelsel met sy Christelike grondwet in Suid-Afrika te vernietig!
Laat ons maar baie versigtig met geestelike ervarings en belewenisse wees en nie te veel aandag daaraan skenk nie. Die Satan is listig en loop soos ‘n brullende leeu rond. Laat ons hom geen vatkans gee nie!