Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer iemand deur die kragtige werk van God uit die ou lewe na die nuwe oorgebring word, verander alles. Die versoening en redding wat Jesus gebring het, beteken dat die mense wat deur God nuut gemaak is, nou reeds deel in die orde van die nuwe wêreld wat finaal sal kom met die wederkoms van Christus. Die oue is dus verby, en die nuwe het reeds gekom. Dit is die boodskap van versoening wat die wêreld moet ingaan.
D A N I Ë L (6)
Die Profeet van die Here wat die heidense konings onderrig het
Dr JP Botha
Lees reeks by D A N I Ë L
IN DIE LEEUHOK
Die magtige wêreldryk van die Galdeërs in die noord-ooste van oud-Israel, wat verantwoordelik was vir die laaste wegvoering van ons volk, waaronder ook ekself en my jong vriende, het aan die einde van sy wêreldmag gekom toe die Meders Babel verower het en koning Darius ons as gevangenes van die Galdeërs geërf het.
Die 62-jarige koning Darius het geweet van my en my vriende se goeie diens aan die land en die kroon. Hy het 120 amptenare oor sy koninkryk aangestel en drie hoofde as toesighouers oor die belange van die koning. Ek was een van die drie. Toe het die Here my weer genadiglik in staat gestel om my werk met soveel onderskeiding te verrig dat koning Darius my oor sy hele ryk wou aanstel.
Die amptenare en hoofde het toe uit jaloesie begin fout soek om iets te vind wat hulle teen my werk kon inbring. Maar hulle kon niks kry waarin ek nalatig was nie. Toe besluit hulle om my weens my godsdiens aan te kla.
Met valse vroomheid kom ‘n groep van die amptenare en hoofde toe na die koning en kla my op die volgende omslagtige wyse aan:
“Koning Darius, mag u nog lank lewe! Al die hoofde in die ryk, die hoofgoewerneurs, die hoofamptenare, die raadgewers en die goewerneurs beveel by u aan dat die koning ‘n dekreet uitvaardig en bekragtig dat enigeen wat gedurende die volgende dertig dae enige god of mens behalwe die koning vereer, in ‘n hok met leeus gegooi sal word. U Majesteit moet die wet opstel en dit onderteken, sodat dit kan staan as wet van Mede en Perse wat nie verander kan word nie.”
Koning Darius het die wet uitgevaardig en onderteken. Toe ek dit hoor, het ek na my huis gegaan. Ek het verstaan dat koning Darius vir die versoeking om as ‘n god vereer te word, geswig het en nie aan my gedink het nie.
By my huis het ek ‘n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Ek was gewoond om driemaal op ‘n dag voor die venster op my knieë te gaan en tot die Here te bid en Hom te loof met my hele hart.
Onderwyl ek toe so besig was om met my God te verkeer en Hom te loof vir al sy goedheid wat Hy voortdurend aan my bewys, het ‘n groep van my vyande my deur die oop venster afgeloer en afgeluister en hulle na die koning gehaas en triomfantlik vir hom gevra: “Het u nie die wet onderteken dat enige persoon wat gedurende die volgende 30 dae tot enige god of mens bid, behalwe tot u, vir die leeus gegooi sal word nie?”
“Ja, ek het. ‘n Wet van Mede en Perse kan nooit verander word nie.”
“Daniël, een van die Judese ballinge, steur hom nie aan die wet nie. Hy bid driemaal elke dag.”
Toe die koning uiteindelik besef dat die klomp valsaards daarin geslaag het om hom met die uitvaardiging van die wet my doodvonnis te laat onderteken, het hy baie kwaad geword en een na die ander plan bedink om my te red. Maar die onherroepbare wet van die Mede en die Perse het verlammend voor hom gestaan.
Hulle het dit bemerk en toe weer ewe vroom vir hom kom sê: “O koning, u weet tog dat ‘n wet wat ‘n koning onderteken het volgens die reël van Mede en Perse, vasstaan. Dit kan nie verander word nie.”
Daarop het koning Darius beveel dat ek in die leeuhok gegooi moes word. Hy het vir my gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien, jou bevry.”
Hulle het ‘n groot klip voor die ingang van die grot gerol en met die koning se seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël, sodat niemand daarmee kon peuter en my straks daar uithaal nie.
Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie en daar is ook nie soos gewoonlik, vir hom musiek gemaak nie.
Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan. Hy het angstig na my geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God, wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?”
Ek het opgespring en uitgeroep: “Mag die koning lank lewe! My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerd teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.”
Die koning se blydskap het geen perke geken nie. Hy het my dadelik uit die hok laat haal. Daar was geen skrapie aan my nie, want ek het op my God vertrou.
Die koning het beveel dat daardie mans wat my wou veronreg, saam met hulle vroue en kinders in die leeuhok gegooi moes word. Hulle het skaars grond gevat in die hok, of die leeus het hulle verskeur.
Koning Darius het toe in ‘n brief aan al die volke, tale en nasies op die hele aarde geskryf:
“Hartlike groete vir julle almal! Ek vaardig ‘n bevel uit dat daar in alle gebiede van my ryk, agting en respek moet wees vir die God van Daniël. Hy is die God wat lewe en vir altyd bestaan. Sy koninkryk ken geen einde nie en sy regering het geen grense nie. Hy bevry en Hy red. Hy rig tekens op en doen wonders, bo in die hemel en onder op die aarde. Hy het Daniël gered uit die mag van die leeus.”
Toe ek dit lees, het ek gedink: “Ja, en Hy het ook vir liewe koning Darius gered uit die kloue van die onderwêreld waarheen hy vroeër op pad was.
Na hierdie voorvalle het die liewe Heer my nog jare lank voorspoedig laat leef en gebruik gedurende die mooi regering van die Meder, koning Darius en van die wonderlike Persiese koning, Kores, wat ons Israeliete toestemming gegee het om weer na ons heilige land terug te keer.
Daniël se visioene... vervolg