Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Alle geloftes wat onregmatig en onbehoorlik afgelê is, behoort net soos dit voor God geen waarde het nie, so ook onder ons ongeldig te wees. Aangesien sulke geloftes onnadenkend afgelê is, plaas dit nie alleen geen verpligting op mense nie maar dit moet noodwendig herroep word.
DIE BELHAR- BELYDENIS (4)
Ds. André van den Berg
Lees reeks by DIE BELHARBELYDENIS
"God het volke, nasies en tale apart geplaas. Daarom sal geen kunsmatige samevoeging slaag nie. Die huweliksformulier sê dat dit wat God saamgevoeg het, geen mens mag skei nie. Dis korrek. Wat egter ook waar is, is dat dit wat God geskei het, geen mens bymekaar mag voeg nie!"
6. TEOLOGIESE INHOUD
6.1 Vyf basiese begrippe
Die Belhar-belydenis probeer om aan vyf basiese Bybelse begrippe nuwe dog vreemde definisies te gee naamlik: geloof, eenheid, versoening, geregtigheid en gehoorsaamheid.
Al vyf begrippe word gebruik om iets van die NG Sendingkerk te sê. Desondanks word nie een daarvan behoorlik omskrywe of korrek gebruik nie. Dis duidelik dat die opstellers va die Belhar-belydenis nie werklik in die volle rykdom van dié begrippe belanggestel het nie en dit met opset verskraal het.
1. Geloof:
Alhoewel die Belhar-belydenis met ‘n stelling oor die geloof in die Drie-enige God begin, is dit baie duidelik nie die fokuspunt van die belydenis nie. Dit word maar so terloops genoem.
2. Eenheid:
Wanneer die opstellers van die Belhar-belydenis met die begrip eenheid werk, ontspoor hulle geheel en al. Dis baie duidelik dat die opstellers deur die Marxiste se gelykskakelingsideologie op sleeptou geneem is. Soos die Marxiste staan die opstellers van hierdie belydenis ook ‘n eenwêreld-gemeenskap sonder volkereverskille voor. Daarbenewens dring hulle op ‘n sigbare kerkeenheid aan, ‘n aandrang wat nie so onskuldig is as wat dit voorkom nie. Dis Marxisties!
Marxisme ontken Godgegewe eiesoortigheid. Alles moet onder een noemer gebring word. Die Marxiste het op een of ander manier skitterend daarin geslaag om die kerk met hulle bose ideologie te besiel en as kragarm vir die verwesentliking van hulle bose ideaal te gebruik.
Wat glo ons as Gereformeerdes oor die Christelike eenheid? Daar is ‘n Christelike eenheid sowel as ‘n Christelike verskeidenheid. Die twee staan nie teenoor mekaar nie, maar langs mekaar. Die een is nie belangriker as die ander nie. Die Christelike eenheid reflekteer die beeld van God. Hy is ‘n Eenheid te midde van ‘n Drie-eenheid.
Ons glo dat die kerk van Christus uit alle gelowiges bestaan en ‘n onsigbare eenheid is. Jesus het nie na die aarde gekom om ‘n universele broederskap tot stand te bring nie. Daarom hoef gelowiges nie almal onder een kerklike dak te verenig ten einde Christelike eenheid te geniet nie.
In die Twaalf Artikels bely ons dat ons aan “‘n heilige, algemene, Christelike kerk” glo. Ons sê nie ons sien ‘n heilige, algemene, kerk nie, ons sê ons glo daaraan. Gelowiges oor die wêreld heen vorm ‘n onsigbare, geestelike eenheid. Die Belhar-belydenis wil hierdie onsigbare eenheid sigbaar dwing. Dis sinneloos en ydel!
Hierdie klemverskuiwing van ‘n onsigbare kerkeenheid na ‘n sigbare een is nie net on-Bybels nie, maar ook vreemd aan die Gereformeerde leer. Luister weer na Artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis: “….Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in of gebonde aan of bepaal tot ‘n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil in een en diesefde gees…”
Die opstellers van die Belhar-belydenis doen die Christelike eenheid geweld aan wanneer hulle dit van sy vertikale na ‘n horisontale vlak verskuif. Hulle aanvaar doodeenvoudig net nie dat hierdie eenheid ‘n mistieke, onsigbare eenheid in Jesus Christus is nie.
Gevolglik moet die Belhar-belydenis alle aparte kerkformasies verwerp. Dit het net oë vir een kerkbegrip – dié van ‘n strukturele eenheid. Dis ‘n valse kerkbegrip wat in die kraam van die Antichris pas! Daarbenewens is dit ‘n herlewing van die dwaling van die oud Griekse filosoof Plato. Hy het geleer dat alle verdelings boos is. Vandag word dit Holisme genoem. Die Christendom daarenteen leer weer dat daar wel skeidingsmaatreëls is wat baie goed is.
Die neo-Marxiste haat die woord groep. Dis vir hulle identies met kiem. Hulle glo dat sonde mense in groepe verdeel het en dat groepsvorming die kerk besmet soos ‘n kiem ‘n liggaam siek maak en derhalwe uitgeroei moet word.
Wees verseker dat kerke wat vanweë taal of kultuurverskille apart vergader die Christelike eenheid nie in die wiele ry nie. Let op Jesus se eie woorde in Joh.10:16: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder”. Hoe op aarde ignoreer die Belhar-belydenis hierdie waarheid? En dit uit die mond van Christus self!
Joh.17 is een hoofstuk in die Bybel wat deur die Belhar-belydenis geheel en al uit verband aangehaal word. In hierdie hoofstuk bid Jesus beslis nie vir ‘n verenigde Christelike wêreld-familie nie. Die eenheid waarvan Hy praat, is nie ‘n absolute eenheid wat alle menslike verskille en onderskeid uit die weg wil ruim nie.
Die eerste Christelike kerk het uit ‘n wye verskeidenheid van mense bestaan, elkeen met hul afsonderlike tale, kulture en tradisies. Nooit het Christus of die apostels teen die handhawing van die eie te velde getrek nie. Die boek Handelinge meld van Jode, Samaritane, Romeine en heidene wat uit die uithoeke van die aarde in die onsigbare kerk opgeneem is. In hoofstuk 15 laat die apostels selfs onderskeid in die eerste Christelike kerk toe sonder om dit te veroordeel.
Gaan kyk maar gerus: Oral waar die kerk ‘n sigbare, identiteitslose eenheid op die mensdom probeer afdwing het, het daar ‘n gees van onversoenbaarheid ingetree. God sal nie toelaat dat mense in die drukgang van ‘n valse eenheid ingedwing word nie. Dis wat by Babel gebeur het. Aan die begin het God die mens aangesê om te vermeerder en te versprei. By Babel het Nimrod kom sê: “Ons sal nie; ons wil bymekaar wees!” Gevolglik staan alle gedwonge kerklike samesnoerings in die teken van opstand teen God – ‘n herhaling van die Babel gebeure! In Openb 13 en 17 spreek God selfs ‘n finale oordeel oor die laaste eenheidsdrywers uit!
God het volke, nasies en tale apart geplaas. Daarom sal geen kunsmatige samevoeging slaag nie. Die huweliksformulier sê dat dit wat God saamgevoeg het, geen mens mag skei nie. Dis korrek. Wat egter ook waar is, is dat dit wat God geskei het, geen mens bymekaar mag voeg nie!
Voorstanders van ‘n wêreldkerkeenheid moet dringend gewaarsku word dat hulle in die hande van die Antichris speel. Paulus waarsku in 2 Thess.2:4 dat die Antichris aan die einde van die tye “….in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is”.
In die kerk van Christus is daar geen uniforme eenheid of absolute geskeidenheid nie. Eenheid en verskeidenheid is ewe belangrik. Die een staan die ander nie teen nie. Dink weer aan Christus se woorde van Joh.10:16. Hy sê dat Hy nog ander skape het, wat nie aan daardie stal behoort nie. Desondanks sal dit een kudde en een herder wees - ‘n onsigbare eenheid te midde van ‘n sigbare verskeidenheid.
‘n Teks wat deur eenheidsdrywers misbruik word om rasse-integrasie goed te praat, is Efes.2:14 waar melding gemaak word van Christus wat die middelmuur van skeiding kom afbreek het. Mense wat hierin ‘n oproep tot ‘n identiteitslose kerkeenheid sien, ontspoor baie lelik! In hierdie gedeelte gaan dit oor die seremoniële wet soos wat dit in die tyd van Moses toegepas is.
Baie van die gelowige Jode het destyds geglo dat alvorens ‘n nie-Jood ‘n Christen kon word, hy eers die besnydenis moes ontvang, dit wil sê eers Jood-word, en daarna Christen word. Paulus stel die saak reg as hy sê dat Christus die kultureel-godsdienstige verskille soos ‘n skeidingsmuur kom afbreek het. ‘n Nie-Jood hoef nie eers Jood te word alvorens hy Christen kan word nie. Hy kan direk Christen word en in die gemeente opgeneem word. Efes.2:14 is beslis geen oproep tot ‘n sigbare kerklike eenheid nie!
3. Versoening ... vervolg