Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
In Februarie het spanning tussen Israel en Iran vergerger toe Israelse leiers Iran blameer het vir nog twee aanvalle. Op 13 Februarie is die Israeliese Ambassade gebombardeer in verskeie state. Die ontploffings was soortgelyk aan aanvalle op Iran se kernwetenskaplikes 'n paar jaar gelede waarvoor Iran vir Israel blameer het. Kortom, Israel waarvan Jerusalem die hoofstad is, is voortdurend in oorlog. Waarom? Glog tog maar vir Jesus wanneer Hy huilend die stad op 'n donkie inry en sê: "As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie." - Luk 19.
Het Suid-Afrika dalk ook die gunstige besoek van God nie opgemerk?...
DIE BELHAR- BELYDENIS (3)
Ds. André van den Berg
Lees reeks by DIE BELHARBELYDENIS
AGITATORS
IS BELHAR WERKLIK 'N GEREFORMEERDE BELYDENIS?
"Swart heerskappy laat die sogenaamde ellende van apartheid soos ‘n ligte bries teen ‘n siedende orkaan lyk!... ... ‘n Gereformeerde belydenis neem sy vertrekpunt vanaf die Skrif na ‘n bepaalde situasie. Die Belhar-belydenis keer die orde om en beweeg vanaf ‘n bepaalde situasie na die Skrif. Die opstellers wou apartheid bykom en het die Skrif bygesleep om gesag daaraan te gee."
4.1 In eie midde
Die rol wat Marxistiese agitators in die kerklike ontwrigting gespeel het, was bedenklik. Hierdie agitators het rassehaat as ‘n magtige instrument gebruik ten einde Suid-Afrika op sy knieë te dwing. Die nie-blanke kerke was uiteraard maklik om oor te haal.
Die Ligdraer, lyfblad van die NG Sendingkerk, het in sy uitgawe van 1 November 1982 erken dat agitators die apartheidsbeleid as ‘n wig tussen die Moeder-en Sendingkerk probeer inslaan het en sy spyt daaroor uitgespreek.
Wat die Sendingkerk egter nie besef het nie, was dat hierdie agitators nie soseer van buite die kerk teen die kerk geopereer het nie, op daardie stadium alreeds binne in die kerk werksaam was! Dit was van hul eie leraars en teoloë. Hulle was net baie goed gemasker!
In 1982 verklaar die NG Sendingkerk: “Die Sinode is daarvan oortuig dat elke bevolkingsgroep deur selfverwesenliking en selfontplooiing die beste bydrae kan lewer tot die liggaam van Christus op aarde” (Acta NG Sendingkerk, 292,294).
4.2 Die ommeswaai
Vier jaar later swaai dieselfde kerk 360 grade om om van die apartheidsteologie ‘n strooipop te maak wat afgeskiet moes word. Hulle het die NGKerk as die sondebok gebrandmerk en mede- verantwoordelik gehou vir wat hulle bestempel het as die grootste ellende wat Suid-Afrika nog ooit getref het naamlik apartheid.
As die NG Sendingkerk maar net in die toekoms kon sien, sou hy anders oor apartheid gepraat het. Hef-aan het voorgelê! Swart heerskappy laat die sogenaamde ellende van apartheid soos ‘n ligte bries teen ‘n siedende orkaan lyk!
Die NG Sendingkerk en die liberale politiek het skielik saamgestem dat apartheid ‘n sonde teen die mensdom was. Almal wat nie daarmee saamgestem het nie, is as ketters gebrandmerk en veroordeel. Gevolglik het die NG Sendingkerk die voortou geneem om die internasionale kerklike wêreld teen die NG Kerk te laat draai. Op daardie stadium het die NG Kerk nog apartheid onderskryf. Dit sou egter nie meer vir te lank wees nie.
Hierdie aanslag van die Sendingkerk het in ‘n tyd gekom toe Suid-Afrika ‘n internasionale aanslag soos nog nooit tevore ervaar het nie. Ons moes vir die soveelste keer ervaar dat die vyand nie iewers daar buite was nie, maar tussen ons - in ons eie volks- en kerkgeledere!
4.3 Blatante oneerlikheid
Die opstellers van die Belhar-belydenis het erken dat die opstel daarvan ‘n waagstuk was. Daar was vir hulle kwansuis geen ander alternatief nie omdat hulle bang was dat die politieke situasie van destyds die evangelieboodskap sou skaad. Min het hulle geweet hoe die evangelieboodskap deur hulle alternatief geskaad sou word! “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr.16:25).
Die opstellers van die Belhar-belydenis was blatant oneerlik toe hulle plegtig verklaar het dat hulle met die opstel van die Belhar-belydenis geen groepbelang probeer dien het, partyskappe of teologie probeer bevorder nie. ‘n Mens moet baie naief wees om dit te glo! Die Belhar-belydenis dien inderdaad ‘n groepbelang en teologie naamlik dié van die Marxiste!
5. IS DIE BELHAR-BELYDENIS WERKLIK ‘N GEREFORMEERDE BELYDENIS?
5.1 Wat is ‘n belydenis?
Is die Belhar-belydenis werklik ‘n Gereformeerde belydenis? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers vra: Wat is ‘n belydenis? Om jou geloof te bely, was nog altyd deel van kerk-wees. Dink maar aan Petrus se roerende belydenis in Matt.16 “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.
Gelowiges is geroep om rekenskap van Bybelse waarhede te gee. Gevolglik is ‘n belydenis nie maar net ‘n opinie van die waarheid nie, maar eerder ‘n bevestiging en napraat van die waarheid. Dis hier waar die Belhar-belydenis uit die spreekwoordelike bus val. Hierdie belydenis is slegs ‘n opinie van die waarheid en nie ‘n bevestiging daarvan nie! Elkeen wat met die teologie en inhoud van die Gereformeerde belydenisstukke vertroud is, sal weet dat dit eerstens goed deurdag en tweedens noukeurig geformuleer is.
‘n Gereformeerde belydenis het ‘n bepaalde karakter en kenmerke wat eie aan die Gereformeerde leer is.
5.2 Die kenmerke van ‘n Gereformeerde belydenis
1. ‘n Gereformeerde belydenis staan nie bo of naas die Woord van God nie. Dit staan altyd onder die Woord. Daarom kwalifiseer ‘n belydenis alleen as Gereformeerde belydenis indien dit 100% op die Bybel gegrond is. Dis nie maar bloot ‘n paar mooi gedagtes wat met ‘n klompie teksverse versier word nie. ‘n Gereformeerde belydenis sê in eie woorde, eie taal en eie idioom niks anders as wat die Bybel sê nie.
Die Belhar-belydenis maak kwistig gebruik van Bybelse woorde, begrippe en teksverse. Dit as sulks sê egter nie dat dit ‘n herhaling van Skrifwaarhede is nie. Die beslissende vraag is of hierdie tekse binne die regte verband aangehaal word? Dis hier waar die Belhar-belydenis die toets lelik dop! Dit gee ‘n eie (en vreemde!) betekenis aan begrippe soos eenheid, geregtigheid, vrede en versoening.
2. ‘n Gereformeerde belydenisskrif is nooit ‘n eensydige reaksie-dokument nie. Dit beklemtoon nie slegs die een kant van ‘n saak en ignoreer die ander kant nie. Die Belhar-belydenis is alles behalwe ‘n noukeurig geformuleerde dokument. Dit wemel van eensydige bekelmtonings en ongebalanseerde formulerings.
Die Belhar-belydenis is een van die vele anti-apartheidsdokumente wat destyds verskyn het; almal met ‘n neo-Marxistiese onderbou. Dit gee aan begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid presies dieselfde inhoud as al die ander rewolusionêre dokumente van sy tyd.
Ten spyte van kritiek uit eie geledere, het die opstellers van die Belhar-belydenis hardkoppig bly vasklou aan uitdrukkings soos dat God op ‘n besondere wyse die God van die verdrukte is. Dis onsin! Ps.103:13 sê vir ons duidelik oor wie God Hom ontferm: “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees”.
Oor wie ontferm Hy Hom? Oor veronregtes en verdruktes soos die Belhar-belydenis sê? Nee, Hy ontferm Hom oor sy kinders – mense wat tot bekering gekom het!
3. ‘n Gereformeerde belydenis het ‘n sekere algemene karakter. Wat beteken dit? Dat dit nie aan een enkele kerk behoort nie. ‘n Gereformeerde belydenis is geen privaatbesit nie. ‘n Kerk bely sy geloof saam met ander gelowiges of ten minste saam met ander Gereformeerdes. Daarom is dit eiesinnig van ‘n enkele kerk om op sy eie ‘n eie belydenisskrif te formuleer en dan van ander kerke te verwag om dit te onderskryf. Dis eintlik vermetel!
4. ‘n Verdere eienskap van ‘n Gereformeerde belydenis is dat dit nie tydgebonde is nie. Let gerus op die Drie Formuliere van Eenheid. Dis eeue oud en nog net so aktueel soos die dag toe dit opgestel is. ‘n Tydgebonde belydenis is een wat môre of oormôre nie meer relevant sal wees nie. Die Belhar-belydenis is so ‘n een!
Dit gebeur wanneer ‘n belydenis se rigting verkeerd is. ‘n Gereformeerde belydenis neem sy vertrekpunt vanaf die Skrif na ‘n bepaalde situasie. Die Belhar-belydenis keer die orde om en beweeg vanaf ‘n bepaalde situasie na die Skrif. Die opstellers wou apartheid bykom en het die Skrif bygesleep om gesag daaraan te gee!
Let veral op die verkeerde gebruik van teksverse – totaal buite verband! Daardeur dwing hulle die Skrif om te sê wat hulle graag wil hoor. Die Skrif staan in diens van die belydenis in plaas van die belydenis in diens van die Skrif staan soos wat dit by ‘n Gereformeerde belydenis hoort!
5. ‘n Gereformeerde belydenis bind mense saam. Hier verdien die Belhar-belydenis die minimum punte. Dis geen samebindende belydenis nie, maar eerder ‘n verdelende een. Dink maar net aan die volgende hartseer gevolge van hierdie belydenis:
- Die verbreking van bande met die NG Kerk.
- Die skeuring in die NGKerk in Afrika. Meer as 120 gemeentes van hierdie kerk, insluitende die hele Vrystaatse Sinode het nie met die Sendingkerk verenig nie. Dit het onaangename hofsake tot gevolg gehad wat miljoene rande gekos het.
(iii) Die dreigende skeuring binne die NG Kerk indien Belhar-belydenis aanvaar gaan word.
In hierdie lig gesien, dop die Belhar-belydenis die toets van ‘n samebinding van gelowiges omdat dit nie van God kom nie. Dis eerder ‘n naakte stuk neo-Marxisme wat deur volkssaboteurs voor die kerk se deur afgelaai en deur onverskillige kerklui binnegevee is.
Teologiese inhoud... vervolg