Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Skepper het uit niks alles volgens hulle soorte geskep; jy en ek is ook unieke skepsels van God – Hy het nie net een lewende selletjie geskep waaruit alles vanself ontwikkel het soos die evolusie-hipotese wil leer nie. En ons mense se roeping is om as 'bestuurders' van God se skepping op te tree maar die moderne mense het egter vernietigers geword. Kom ons begin hierdie jaar met die ideaal om weer die bewaarders en versorgers te word van God se wonderlike Skepping.
DIE BELHAR- BELYDENIS (1)
Ds. André van den Berg
Lees reeks by DIE BELHARBELYDENIS
INLEIDING:
Op 26 September 1986 is ‘n jammerlike besluite geneem toe die eertydse NG Sendingkerk die Belharbelydenis tydens ‘n Sinodesitting as volwaardige belydenisskrif aanvaar het. Allan Boesak was nie net die moderator van daardie Sinode nie, maar ook die hoofopsteller van hierdie belydenis; ‘n man wat kort daarna in die tronk beland het weens die diefstal van buitelandse skenkings vir opheffingswerk onder die sogenaamde slagoffers van apartheid.
Wat kan ‘n mens van die Belharbelydenis sê? Nogal baie! Ter aanvang wil ek sê dat dit in wese niks met die Bybel te doen het nie. Dis in werklikheid ‘n stuk anti-apartheidspropaganda wat van ‘n kerklike baadjie voorsien is. In hoofsaak veroordeel die Belharbelydenis apartheid as sonde en die kerklike regverdiging daarvan as kettery.
Boesak erken dat ‘n kerk slegs by hoë uitsondering tot die stap oorgaan om ‘n nuwe belydenis op te stel. In 1990 het die NG Sendingkerk (die destydse NG Kerk onder kleurlinge) met ‘n gedeelte van die NG Kerk in Afrika (die swart NG Kerk) verenig en die Verenigende Gereformeerde Kerk gevorm. Hierdie kerk het van die NG Kerk daarin verskil dat dit die Belharbelydenis as volwaardige belydenisskrif aanvaar en gevolglik op gelyke voet met die Drie Formuliere van Eenheid geplaas het. In plaas van drie formuliere van eenheid, het die VGK vier formuliere van eenheid gehad.
Die aanvaarding van die Belharbelydenis het die NG Kerk in ‘n moeilike situasie laat beland.
In sy slaafse navolging van die eertydse Nasionale Party het die NG Kerk sy lidmaatskap vir alle rasse oopgestel en daarna begin streef om met die VGK te verenig. Wat het dit verhoed? Die Belharbelydenis.
Die VGK het dit baie duidelik gestel dat die aanvaarding van die Belharbelydenis ‘n ononderhandelbare voorvereiste vir eenwording is. Die NG Kerk moes dus die Belharbelydenis aanvaar en een word of dit verwerp en wegbly. Dis tot op datum al wat tussen die NG Kerk en sy Babiloniese ideaal van strukturele eenheid met die VGK staan.
1. DIE BEVRYDINGSTEOLOGIE
1.1 Die aanvanklike beswaar
Wat het die NG Kerk besluit? Na bykans 20 jaar is sy reaksie nog steeds ontwykend en selfs teenstrydig. Sy aanvanklike beswaar was dat die Belharbelydenis geen verantwoordelike belydenis was nie. Dit was te veel mensgerig en te min Godgerig. Daarbenewens was dit rewolusionêr en van die Bevrydingsteologie deurspek. Die NG Kerk was reg, want dit was so! ‘n Bedenklike teologie
Om die Belharbelydenis te verstaan, moet ons iets van die sogenaamde Bevrydingsteologie weet. Let wel: ek gebruik die woord sogenaamd omdat hierdie teologie, as ‘n mens dit enigsins teologie kan noem, slegs die skyn het dat dit mense bevry. Dit bevry nie, maar bind mense eerder!
Die Bevrydingsteologie is op ‘n leuen gegrond. Die onderskrywers daarvan sê dat God vir die armes en onderdruktes kant kies en hulle op ‘n gegewe tydstip van hulle onderdrukkers sal bevry soos wat Hy Israel uit Egipte bevry het. Dit staan nêrens in die Bybel nie! Die Bevrydingsteologie is in werklikheid ‘n stuk neo-Marxisme wat onder Derdewêreldmense baie gewild is.
1.2 Die NG Kerk swig
Toe die NG Kerk onder neo-Marxistiese druk begin swig het, het dit in 1990 sy aanvanklike beswaar teen die Belharbelydenis herroep. Die Algemene Sinodale Komissie van die NG Kerk het sonder ‘n behoorlike opgaaf van redes omgeswaai en verklaar dat die Belharbelydenis nie meer in stryd met die Drie Formuliere van Eenheid was nie.
Daarna het NG leraars en teoloë begin pleit dat die kerk homself moes verloën en die gewraakte belydenis aanvaar, al het hulle nie daarmee saamgestem nie. Bid jou aan! Wat is meer beginselloos as om iets te aanvaar waarmee jy nie saamstem nie! Is strukturele kerkeenheid dan ‘n Bybelse eis? Nee, dit is nie! Dis eerder ‘n heroprigting van die toring van Babel!
Om die Belharbelydenis te kan beoordeel, moet ons eerstens deeglike kennis van sy agtergrond en tweedens van sy inhoud hê. Ons gaan dus eers kennis neem van die gebeure rondom die ontstaan van hierdie belydenis waarna ons onsself tweedens gaan vergewis van die teologiese denkklimaat waaruit dit gebore is.
Die ontstaangeskiedenis... vervolg