Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die uitdeel van geskenke tydens 25 Desember word geregverdig deur te sê dat die wyse manne mos ook geskenke gegee het. Maar, hulle het nie vir mekaar geskenke gegee nie, net vir die Here Jesus. Dalk moet ons begin dink wat ons vir Hom kan gee...
WANDEL MET GOD (5)
Ds A van den Berg
Lees reeks by Wandel met God
Glo dat God voorsien
“...want ek het geleer om vergenoegd te wees met die omstandighede waarin ek is”
(Fil.4:11).
Het u al by die see gestaan en gewonder hoe lyk dit onder die see, veral waar die see baie diep is? Dit moet groot, geheimsinnig en selfs angswekkend wees! Ons weet nie regtig hoe dit daar lyk nie. Ons staan maar net op die kant om die grootheid van God se handewerk met water te bewonder. In Ps.77:20 sê Asaf: “U weg was in die see en u paaie in groot waters...”
Net so staan ons ook op die kant van die lewe om God se onpeilbare liefde vir die mens, sy sorg en trou te bewonder. “Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo u gerigte...” (Ps.10:5). Elkeen wat met God wandel, weet dat God se weë foutloos is en dat Hy in die behoeftes van sy kinders voorsien. God is aan die werk in ons lewe, al sien ons Hom nie altyd raak nie. Luister wat sê Job aan sy vriende:
“Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk”. God is alomteenwoordig, alwetend en sorgsaam. Hy vra niemand om raad nie. Daarom roep Paulus in Rom.11:33,34 uit: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?” .Elkeen wat met God wandel, glo dat God sorgsaam is en dat Hy in sy liefde alles wat ons op aarde nodig het, voorsien. Ongelowiges glo nie aan ʼn sorgsame God en sy Voorsienigheid nie, maar eerder aan blinde toeval. Dit moes maar sò of sò gebeur het. Dis nie God nie, maar die noodlot.
In die Bybel lees ons telkens van mense wat met die vraag na die optrede van God geworstel het. Selfs geloofshelde het nie altyd verstaan waarom God op ʼn sekere wyse optree of nie wou optree nie. Habakuk was een van hulle: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! – maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite?” (Hab.1:2,3).
God geniet dit om die mens te wys dat sy optredes op die ou einde tog regverdig was, al het dit ook langer geduur. Een ding moet ons weet: God is altyd regverdig in sy liefde en straf. Waar Hy straf, het die oortreder dit verdien! Gelowiges vertrou sy optrede omdat dit altyd met sy liefde ooreenstem. “Kyk, al wil Hy my ombring – ek hoop op Hom....” (Job.13:14).
Om met God te wandel en te glo dat Hy voorsien, moet gelowiges hulle deur drie dinge nie laat afskrik nie (i) Die toestand van die wêreld (ii) Lewensomstandighede en (iii) Skielike droefheid en nood.
(i). Die toestand van die wêreld.
As ons die wêreld op sy sigwaarde neem, sal dit ons telkens ontstel. Alles word donker – onreg, verdrukking, moord, haat, wreedheid, korrupsie, vergrype ens. Dit maak mense swartgallig en laat hulle moed verloor. “dan sal hulle na bo kyk, ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe” (Jes.8:21,22).
In Joh. 14:1 is bekende woorde: “Laat julle hart nie ontsteld word nie, glo in God, glo ook in My” Ongelowiges se harte is ontsteld en hulle is bang vir die lewe! En bang mense kan nooit met God wandel nie. Al raak gelowiges ongelukkig met die toedrag van sake, weet hulle dat God alles onder beheer het. “Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders” (Ps.11:4). Hy voorsien en gee op sy tyd die uitkoms. Daarom gaan gelowiges voort met die lewe, ongeag watter lig of skadu op hul lewenspad val!
Een so ʼn besondere mens was Henog (Gen.5). Die sonde en verwording was in sy tyd so groot, dat God besluit het om die mensdom in sy geheel met water te vernietig. Henog was egter anders; hy het teen die verloop van omstandighede met God gewandel. Hoe het hy dit reggekry? Hy het in God se sorg geglo en met sy lewe aangegaan! Dis presies wat God van ons verwag – om ook in hierdie verworde land teen die verloop van omstandighede met ons lewens aan te gaan. Die Here is in die hemel; Hy weet goed wat hier op aarde aangaan. Hy het dit gemaak; Hy sal dit weer regmaak. Jy kan niks daaraan doen nie. Los dit vir Hom!
(ii). Lewensomstandighede.
Om met God te wandel, durf my geloof nooit van my lewensomstandighede afhang nie. Sal ek God prys as dit goed met my gaan en Hom verwens as dit sleg gaan? Nee, ek moet Hom onder alle omstandighede prys! Baie gelowiges het al in groot lewensnood wonderlike geestelike verdieping gevind.
God se weë is nie ons weë nie. Met sommige gelowiges gaan dit op stoflike gebied goed terwyl ander sukkel om liggaam en siel aanmekaar te hou. Sommige is blakend gesond, terwyl ander op lewe na dood is. Is dit toevallig; die noodlot? Nee, God het dit in sy Alwysheid so beskik en daarmee moet ons vrede maak (teks). Weet net een ding: Hy laat geen kind is die steek nie!
(iii) Skielike droefheid en nood.
As ek met God wandel, skaad droefheid en nood nooit my geloof nie. Job is vir ons die beste voorbeeld hiervan. Hy verloor op een dag alles – besittings, kinders, gesondheid en aansien. As ʼn mens in sulke omstandighede beland, sal baie dit moeilik vind om ooit weer met God te wandel!
Job het egter nie die geloof verloor nie omdat hy in God en sy Voorsiening geglo het. Hy het deur sy droefheid en nood steeds met God bly wandel en dis hom tot loon gereken. “En die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin; en hy het veertienduisend stuks kleinvee en sesduisend kamele en duisend paar beeste en duisend eselinne gehad. Daarby het hy sewe seuns en drie dogters gehad. En in die hele land is geen vroue gesind so mooi soos die dogters van Job nie... En Job het daarna honderd-en-veertig jaar gelewe; en hy het sy kinders en kleinkinders gesien, vier geslagte. En Job het gesterwe, oud en afgeleef” (Job.42:12-17).
Ons is God se eiendom. Hy kan met ons maak net soos wat Hy wil; Hy skuld ons niks nie! Ons sal baie dinge nie verstaan nie en as’t ware met God worstel soos wat Jakob een nag met God geworstel het. Job het ook maar met God geworstel! Onthou altyd dat God groter as ʼn mens is. In Job 34:18,19 sê Elihu, Job se vriend: “Durf iemand aan ‘n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose! Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande”
God weet wat ons nodig het. Hy voorsien ons op sy tyd en eie manier. Wie met God wandel, twyfel nooit hieraan nie. Ps.103 gebruik die beeld van ʼn vader wat vir sy kinders sorg. Ons word deur die bekering kind van God. Paulus skryf aan die gelowiges in Rome wat swaar geleef het: “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voornemens geroep is” (Rom.8:28).
In die gelese gedeelte bely Paulus dat God hom geleer het om met min tevrede te wees. En hoe is hy nie deur sy geloof in Christus vervolg nie! Voor sy bekering wou hy Damaskus triomfantlik binnery en van die plaaslike Christene gevange neem. Na sy bekering wou die mense van Damaskus hom doodmaak en moes hy in die nag teen die stadsmuur laat sak word om aan die dood te ontkom!
In een van sy briewe vertel hy van al die gevare wat hy vir sy geloof moes trotseer. Desondanks het hy aan die een groot waarheid vasgehou en dit het hom enduit met God laat wandel totdat hy in Rome onthoof is – God voorsien altyd in die behoeftes van sy kinders.
Wie met God wandel, glo dit met hul hele hart, siel en verstand en wag op God. Ons durf Hom nooit voorskryf of aanjaag nie. “maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wankel en word nie mat nie” (Jes.40:31).
“ ʼn Bedevaartslied. Van Dawid. O Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie. Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ʼn gespeende kind by sy moeder, soos ʼn gespeende kind is my siel in my. Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!” (Ps.131).