Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die groot vraag voor die wit troon sal wees: “Wat het jy met jou lewe gedoen?” Ons sal eerlik moet antwoord want ons staan voor Een wat dwarsdeur ons sien. “Here, U deurgrond en ken my” (Ps.139:1). Ons kan God nie ‘n rat voor die oë draai nie! Alles sal openbaar gemaak word.
JOSEF (4)
Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red
Dr JP Botha
Lees reeks by JOSEF
EK REGEER EGIPTE
Toe het my lewe vir goed van sleg na goed omgekeer. Farao sê: "Ek stel jou aan oor die hele Egipte." Hy het sy seëlring afgehaal en dit aan my vinger gesteek. Hy het vir my klere van fyn linne laat aantrek en die koninklike goue ketting om my nek gehang. Hy het die tweede beste wa vir my gegee. Oral waar ek gegaan het, moes hulle voor my uitroep: "Eer hom! Eer hom!" Farao het verder vir my gesê: "Ek is die koning, maar niemand sal in die ganse Egipte 'n vinger verroer of 'n voet versit sonder jou goedkeuring nie."
Farao het my ook nog 'n nuwe naam gegee: Sáfenat-Panéag. Toe ek later probeer vasstel wat hierdie nuwe naam van my nou eintlik beteken, het ek uitgekom by "Behouer van die lewe" en ook by: "God sê: Laat hy lewe." Miskien wou die farao my heeltemal ver-Egipties want hy het my ook 'n mooi jong meisie as vrou gegee. Sy was Asenat, die dogter van Poti-fera, die priester van On.
Toe ek na al hierdie dinge wat feitlik meteens met my plaasgevind het, weer tot verhaal kom, besef ek dat ek skielik nie meer ou Josef die tronkvoël was nie, maar Sáfenat-Panéag, die Eerste-Minister of onderkoning van Egipte. Ek was toe 30 jaar oud en gereed om in my nuwe amp die hele Egipte te deurreis.
Die land het in die volgende sewe jaar 'n oorvloed van rekord oeste opgelewer. Ek het gedurende hierdie geseënde sewe jaar al die oeste van Egipte in die stede opgegaar. Ons het die opbrengste van die landerye in die naaste stad van daardie omgewing in groot graanskure wat ek laat bou het, gebêre. Na die sewe jaar was die graanskure propvol. Die Here het gesorg dat daar mettertyd soveel graan soos die sand aan die see was en dat ek naderhand nie meer daarvan rekord kon hou nie.
Ek self het ook gedurende hierdie sewe jaar die persoonlike seën van die Here ervaar met die geboorte van twee seuns wat Asenat aan my geskenk het. Die oudste was Manasse, want die Here het my al my kwellings laat vergeet. Die tweede een het ek Efraim genoem, want God het my vrugbaar gemaak in die land van my swaarkry.
Nadat die heerlike sewe jaar van oorvloed verstryk het, het ons te staan gekom teen die eerste tekens van hongersnood, want oeste het oral in omliggende lande misluk, maar in Egipte was daar genoeg graan in die skure. Die mense in die land het egter begin hongerly. Hulle het hul toevlug na die farao geneem en by hom gaan pleit vir kos. Hy stuur hulle toe na my en sê hulle moet doen net wat ek vir hulle sê.
Die tyd van die sewe maer jare het aangebreek. Ek het die graanskure oopgemaak en graan aan die Egiptenare verkoop. Mense uit die omringende lande het ook by my kom graan koop toe hulle hoor dat dit in Egipte beskikbaar was, want die hongersnood het die hele wêreld getref.
MY BROERS KOM KORING KOOP
In my liewe land Kanaän, waar ek jare vantevore deur my broers met geweld weggevoer is, het my vader Jakob gehoor dat daar in Egipte graan te koop was. Die honger het ook my pa se nakomelinge ingehaal. Hy sê toe vir my broers om in Egipte vir hulle graan te gaan koop. Hy het my tien broers gestuur sonder Benjamin, omdat hy bang was Ben-jamin kom iets oor.
Ek was op 'n dag hard besig om self die graanverkope by die koninklike skuur te behartig, toe ek opkyk en my broers gewaar. Ek het voorgegee dat ek die tien manne wat met hulle gesigte na die grond toe buig, nie ken nie en kortaf gevra: "Vanwaar is julle?"
"Van die land Kanaän," antwoord hulle. "Ons het gekom om graan te koop."
Hulle het my nie herken nie. Ek het aan my drome van destyds gedink en sê toe: "Julle is spioene! Julle het net kom kyk waar ons land kwesbaar is."
"Nee, Meneer, ons is u dienaars. Ons het maar net gekom om kos te koop. Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!"
"Ja, julle is!" hou ek vol. "Julle het kom kyk of die hongersnood ons nie swak gemaak het nie, sodat julle ons kan kom aanval!"
Toe hoor ek een van hulle se pleitende woorde: "Meneer, ons was twaalf broers. Ons pa woon in die land Kanaän. Ons jongste broer is daar by hom, maar een van ons broers is nie meer by ons nie."
Hy wou nog verder praat, maar ek het hom in die rede geval: "O nee, julle is spioene. Maar ek sal julle mooi storie toets. Ek sal julle nie toelaat om Egipte weer te verlaat tensy julle jongste broer hierheen kom nie. Een van julle moet hom gaan haal. Julle ander sal ek hier in die tronk hou. Dan sal ek weet of julle die waarheid praat. Maar as julle nie 'n jonger broer het wat julle hiernatoe kan bring nie, sal ek weet julle is spioene."
Ek het hulle toe vir drie dae lank in die tronk gehou. Daarna het ek soontoe gegaan en hulle amper jammer gekry toe ek die vreeslike moedverlorenheid op hulle gesigte lees.
Op die derde dag het ek hulle weer besoek. "Ek het besluit om net een van julle hier in die tronk te hou. Die ander kan huis toe gaan met die kos vir julle gesinne. Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen sal ek julle lewe spaar."
Toe begin hulle onder mekaar praat en mekaar verwyt: "Ja, ek sê vir julle, dis oor wat ons aan Josef gedoen het." "Ja, ons het sy benoudheid en angs gesien, maar ons doof gehou daarvoor." "Ja, ek hoor nog sy ge-smeek." "Nou straf die Here ons."
Ek het met 'n knop in die keel geluister hoe hulle praat. Hulle het nie geweet ek verstaan alles nie, want ek het met hulle deur 'n tolk gepraat. Ek hoor Ruben vir hulle sê: "Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie? Maar julle wou nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het!"
Toe draai ek weg van hulle af, want ek kon my trane nie meer bedwing nie. Daarna het ek hulle vrygelaat maar Simeon voor hulle oë laat boei en weer tronk toe gestuur.
Ek het gesorg dat hulle sakke vol graan gemaak word en hulle geld weer bo in hul sakke teruggesit word. Ek het vir hulle voorrade vir die pad saamgegee. Daarop het hulle die graan op die donkies gelaai en die tog huis toe aangepak.
Hulle het daardie dag blykbaar probeer om tog so ver as moontlik van Egipte en sy nare onderkoning af weg te kom. Teen die aand het hulle vir die nag stilgehou en een van hulle het sy sak oopgemaak om kos vir die donkies uit te haal. "Haai, kom kyk hier!" skreeu hy vir sy broers. "My geld is hier bo-op in my sak!" Toe hulle dit sien, was hulle letterlik vreesbevange en só het hulle in die land Kanaän aangekom.
Hulle het vir ou vader Jakob alles vertel wat met hulle plaasgevind het. "Die man wat in beheer is oor die land, het baie kwaai met ons gepraat. Hy glo ons is spioene. Ons het vir hom gesê ons is eerlike mense. Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een broer is dood en die jongste een is by ons pa in Kanaän. Toe hy dit hoor, het hy gesê, as ons ons jongste broer vir hom kom wys, sal hy glo dat ons nie spioene is nie. Hy het vir Simeon in die tronk agtergehou, tot ons weer soontoe gaan en vir Benjamin saamneem.
Hulle het die sakke graan oopgemaak en bo-in elkeen se sak die geld wat hulle daarvoor betaal het, gekry. Hulle bekommernis daaroor was groot. Wat sou dit beteken?
Ruben het my later vertel dat toe my ou vader Jakob dit sien, het hy ook vreesbevange geword. Ek het so jammer gevoel dat my liewe ou pa ook saam met my broers gestraf is vir dinge wat hulle gedoen het. Hy het vir hulle gesê: "Hoekom het julle hierdie moeilikheid oor my gebring? Hoekom het julle die man vertel dat julle nog 'n ander broer het?"
"Die man het spesifiek uitgevra oor ons familie. Hy het gevra: 'Leef julle pa nog? Het julle nog 'n broer?' Hoe moes ons geweet het hy sou sê: 'Bring julle broer hiernatoe?' Ons het maar net sy vrae beantwoord."
My ou vader het toe uitgeroep: "Julle beroof my van my kinders! Josef is nie meer nie en Simeon is weg. En nou wil julle Benjamin ook van my wegneem. Alles is teen my!"
Ruben sê toe: "Pa kan gerus my twee seuns doodmaak as ek Benjamin nie na Pa toe terugbring nie. Laat hom in my hande. Ek sal hom aan Pa terug besorg." Maar ou vader Jakob wou nog nie kopgee nie: "Ek sal hom beslis nie met julle laat saamgaan nie, want sy broer Josef is dood en hy is al een wat oor is van sy ma se kinders. As hy op die pad iets oorkom, sal julle my in my ouderdom met smart in my graf neerlê."
Hulle kom weer koring koop ... vervolg