Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verstaan u die verskil tussen vertroue en vergifnis? Vergifnis is om die verlede los te laat. Vertroue het met die toekomstige gedrag te doen. Vergifnis moet onmiddellik plaasvind, terwyl vertroue mettertyd gebou word. Maar so is beide ewe belangrik en noodsaaklik in ons lewens.
DIE DERDE TEMPEL (5)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
DIE VERBONDSARK
1. Die allerheiligste voorwerp
Die verbondsark het bykans 500 jaar in die Tabernakel gestaan alvorens dit in die tempel geplaas is. Dit het egter na die verwoesting van die eerste tempel spoorloos verdwyn. Dit was vir Israel die allerheiligste voorwerp omdat dit God in hulle midde versinnebeeld het. Daarom het hulle dit selfs in tye van oorlog na die gevegsfront saamgeneem.
Tydens Israel se besitname van Kanaän was die verbondsark ʼn verskrikking vir die vyand. Argeoloë wat in 1930-36 opgrawings by Jerigo gedoen het, het die oorspronklike stadsmure gevind wat tydens Israel se optog met die verbondsark ineengestort het (Jos.6).
Benewens die vervaardiging van die verbondsark het God ook aan Moses duidelike voorskrifte gegee oor hoe dit hanteer moes word (Num.4:15). ʼn Oneerbiedige hantering daarvan is selfs met die dood gestraf. Toe die inwoners van Bethsemesh dit by geleentheid nie reg hanteer het nie, het meer as 50,000 van hulle gesterf (1 Sam.6:19).
Wat ná die koningskap van Salomo van die verbondsark geword het, is onseker. Dit het beslis nie in die Tweede Tempel gestaan nie. Sommige mense glo op grond van Openb.11:19 dat God dit as straf vir Israel se afvalligheid in die hemel opgeneem het: “En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien…” Die meeste glo egter dat dit nog steeds bestaan en iewers weggesteek is om ʼn groot rol in die toekoms te speel.
2. ʼn Uitsonderlike kunswerk
Die verbondsark was van akasiahout gemaak - 115cm. lank, 68 cm. breed en 68 cm. Diep. Dis aan die binnekant met bladgoud uitgevoer. Die deksel met twee engelwesens daarop was van suiwer goud. Aanvanklik was die twee kliptafels met die Tien Gebooie daarop, Aäron se staf asook ʼn houer met manna binne in diè kis. Met die inwyding van die Eerste Tempel was slegs die Tien Gebooie daarin oor (1 Kon.8:9).
Die verbondsark het vier ringe aan die kante gehad waardeur twee goudbedekte houtstawe gesteek om deur Leviete skouerhoog gedra te kon word. Dit was enig in sy soort en onvervangbaar.
“En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in diè dae, spreek die HERE, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die HERE nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie” (Jer.3:16).
3. In Jerusalem of Ethiopië?
3.1 Jerusalem
Baie geleerdes glo dat die verbondsark Jerusalem nooit verlaat het nie, maar iewers onder die Tempelberg weggesteek is om dit uit die hande van invallers te hou. Koning Salomo het glo ʼn voorgevoel gehad dat die tempel verwoes gaan word en ʼn plek van veilige bewaring daarvoor ingeruim.
Die laaste aangetekende keer dat die oorspronklike verbondsark wel in die hande van Israel was, was toe koning Salomo een van sy vroue gelas het om die gebied waar dit gestaan het te verlaat ( 2 Kron.8:11). Volgens Joodse oorlewering het koning Josia 35 jaar voor die verwoesting van die tempel ʼn profetiese gesig van diè ramp gehad en die verbondsark en ander tempelvoorwerpe onder die Tempelberg laat wegsteek.
Die befaamde Amerikaanse argeoloog dr.Vendyl Jones soek al jare lank na diè wegsteekplek. Sy navorsingswerk was die aansporing vir die baie gewilde Indiana Jones rolprentreeks. Hy het jare gelede ʼn ondergrondse tonnel ontdek wat vir 28 km. vanaf die Jaffahek in die rigting van die Dooiesee strek. Jones meen dat dit die pad is waarlangs die verbondsark na die geheime wegsteekplek geneem is.
Daar was egter nie net een verbondsark nie. Die Talmoed maak van ʼn tweede melding wat so goed nagemaak is, dat dit nie van die oorspronklike een onderskei kon word nie. Toe koning Josia in 2 Kron.35:3 vir die Leviete sê: “Sit die heilige ark in die huis wat Salomo…gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie…” was dit heelwaarskynlik die namaaksel omdat die oorspronklike toe alreeds verdwyn het. Daarom kon dit sonder vrees vir straf verskuif word. Josia sou uiteraard nie die verskil geken het nie.
Op 15 Mei 1992 het CBS TV-netwerk berig dat ʼn sekere rabbi Getz die verbondsark in ʼn kamer onder die Tempelberg gewaar het. Voordat hy verdere ondersoek kon instel, het Palestyne van bo af deurgebreek en die tonnel na diè kamer met beton verseël om verdere ondersoek te verhoed. Wat het die rabbi gesien? Die oorspronklike of die namaaksel?
3.2 Ethiopië
3.2.1 Omgeruil
Sommige geleerdes glo dat die verbondsark tot onlangs in Ethiopië was. Dit was glo een van die redes waarom Italië Ethiopië in 1935 binnegeval het. Hulle wou die verbondsark buit. The Toronto Star van 19 Julie 1981 berig dat ʼn Joodse sindikaat ʼn Franse versekeringsmaatskappy in Julie 1936 genader het om die verbondsark in Ethiopië teen moontlike oorlogskade te verseker. Hulle was bang dat die Ethiopiërs dit teen die vyand sou gebruik en die verbondsark beskadig word.
Die Ethiopiese tradisie lui dat koning Salomo tydens die koninging van Skeba se besoek (2 Kron.9) ʼn seun, Menelik, by haar verwek het. Hy was sy vader se ewebeeld. Nadat hy gespeen is, het sy hom na Salomo teruggestuur om in die paleis groot te maak en in die Judaïsme onderrig te word. Toe Menelik 19 jaar oud was, is sy moeder oorlede waarna hy met die verbondsark en ʼn aantal vrywillige Jode na Ethiopië vertrek het.
Die verbondsark is glo eeue lank ondergronds in die kerk van Maria van Sion in Aksum bewaar, ʼn Ethiopies Ortodokse Kerk met muurskilderye wat ʼn merkwaardige verhaal vertel van hoe die verbondsark daar beland het. Die verhaal kom uit die Boek van die Verheerliking van die Konings (Kebra Negast).
Omdat Jerusalem 4000 km van Ethiopië is en Menelik dit heelwaarskynlik nooit weer sou sien nie, het Salomo vir hom ‘n namaaksel van die verbondsark laat maak om saam te neem. Salomo se afvalligheid het Menelik egter baie bekommer, veral nadat hy afgode in die tempel toegelaat het net om sy volksvreemde vroue te paai. Tydens die afskeidsgeselligheid wat Salomo vir Menelik gehou het, het die bewakers van die verbondsark besope geraak waarna die prins die namaaksel met die oorspronklike een omgeruil en na Ethiopië vertrek het.
Menelik wou dit in bewaring hou totdat Israel haar van haar afgodery bekeer het en dan terugstuur. Dit het egter nooit gebeur nie. Israel het tot en met die ballingskap (722vC) hoofsaaklik goddelose konings op die troon gehad. Daarom is die verbondsark nooi teruggestuur nie.
Die nasate van Menelik het hulself die Huis van Israel genoem en staan vandag as die Falasha Jode bekend. Hierdie vorstehuis het tot in die 20 ste eeu in Ethiopië regeer. Die Ethiopiese vorstegeskiedenis maak van ʼn koninging Judith melding wat teen 950 nC in Ethiopië regeer het. Die Islamiete het die land twee eeue later verower.
Die Joodse vorstehuis het in 1558 weer aan bewind gekom, ʼn bewind wat tot en met 1974 geduur het toe die vorstehuis van keiser Haile Selassi tydens ʼn Kommunistiese staatsgreep omver gewerp is. Selassi wat homself die Leeu van Juda genoem het, is in 1975 oorlede.
3.2.2 Die Maria van Sion kerk
Die verbondsark is na bewering lank in die Maria van Sion kerk bewaar. ʼn Geheime gang het na ʼn verborge plek gelei waar priesterlike wagte van die Ethiopies-Joodse vorstehuis dit eeue lank bewaak het. Die heiligdom bestaan uit sewe ondergrondse sirkelmure. Priesters van die Ethiopies-Ortodokse kerk word slegs binne die eerste vier mure toegelaat en hoëpriesters in die vyfde en sesde. Die verbondsark was binne die sewende sirkelmuur wat slegs deur die arkbewaarder betree is.
Die arkbewaarder is op sewe jarige ouderdom uit die hoëpriesterlike familie gekies om die verbondsark lewenslank te bewaak. Hy het 225 dae per jaar gevas en sy tyd met gebed, bepeinsing en die bewaking van die verbondsark deurgebring. Hy het die plek slegs met sy dood verlaat waarna ʼn volgende seuntjie gekies is.
Israel het altyd goeie betrekkinge met wyle keiser Haile Selassi gehad en Ethiopië dikwels van tegnici voorsien. Nadat die hele Jerusalem in 1967 in Joodse besit gekom het, is Selassi gereeld oor die verbondsark gepols en versoek om dit na Jerusalem terug te stuur. Hy het egter geglo dat die tyd daarvoor nie ryp was nie en dat God hom ʼn duidelike teken sou gee.
Na die Marxistiese oorname van Ethiopië het baie van die koningshuis in die gevangenis beland. Kroonprins Zera Yacob het egter ontvlug en in Engeland asiel verkry. ʼn Agterkleinseun, prins Stephen Mengesha, het in Kanada gaan woon. Sy pa, prins Mengesha Seyoum, was ʼn goewerneur-generaal van die Noordelike provinsie waar Aksum is.
Prins Stephen het tydens in ʼn onderhoud met ʼn Amerikaanse TV span in 1990 bevestig dat die verbondsark in die Maria van Sion-kerk was en dat hy die Britse koninklike egpaar tydens ʼn staatsbesoek daarheen geneem het. Die oorspronklike kerk het egter in die 16de eeu afgebrand waarna ʼn nuwe een op dieselfde fondament gebou is. Die ondergrondse heiligdom is egter nie deur die brand beskadig nie.
Duisende Falasha Jode het na 1948 na Israel teruggekeer soos Sefanja voorspel het: “Oorkant die riviere van Kus vandaan sal my aanbidders, my verstrooide gemeente, my offerande bring” (Sef.3:10). Israel het hulle eers in 1989 kragtens die Terugkeerwet as wettige Jode aanvaar.
3.3 Die geheime sending
Gedurende die middel 1990’s het ʼn geheime Israeli sending aan die einde van die Ethiopiese burgeroorlog na Ethiopië vertrek om die verbondsark te gaan haal. Dis gedoen nadat Israeli veiligheidspolisie met die Marxistiese bevelvoerders gaan praat het. ʼn Paar welgestelde Jode het die geld wat vir die prysgawe van die verbondsark geeïs is, betaal.
Kort hierna het ʼn ongemerkte Israeli vragvliegtuig een nag met ʼn taakspan asook afstammelinge van Levi na Ethiopië vertrek om die verbondsark te gaan haal. Die Leviete moes die verbondsark volgens voorskrif dra (Num.4:15). Dis na die wagtende vliegtuig gedra nadat ʼn namaaksel daarvan in die Ethiopiese kerk agtergelaat is.
Dit maak eintlik nie saak waar die verbondsark tans is nie. Dat dit binnekort ʼn beduidende rol gaan vervul, is seker. Die onthulling daarvan sal die Jode aanspoor om die Derde Tempel te bou. Dit was immers die doel van die tabernakel sowel as die Eerste Tempel - om ʼn tuiste vir die verbondsark te wees.
Daar is net een probleem - watter verbondsark is destyds na Jerusalem gebring? Is dit werklik die oorspronklike een? Kan dit nie dalk die namaaksel nie? Daar is net een manier om dit vas te stel - iemand sal daaraan moet raak. Ussa het met sy lewe daarvoor geboet (2 Sam.6:6,7)!
Die antichris... vervolg