Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Toe Jesus een stormnag by sy dissipels in die boot geklim het, het die storm onmiddellik bedaar. Dit gebeur nie altyd met die storms van die lewe nie. Soms klim Jesus in ons lewensboot, nie om die storms te bedaar nie, maar om te sorg dat dieselfde storm ons boot vinniger by sy verlangde bestemming uitbring.
DIE DERDE TEMPEL (2)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
DIE TEMPELBERG
1. Die ligging
Die Tempelberg is ʼn heuwel in Jerusalem waarvan die hoogste punt 740 meter bo seevlak is. Omdat dit vir Jode sowel as Islamiete belangrik is, is dit een van die mees betwiste stukke grond ter wêreld. Dis na bewering reeds so vroeg as 4000 vC bewoon en is in die Ou Testament die berg Moria genoem. Die Islamiete noem dit die Edele Heiligdom.
Volgens Joodse oorlewering was dit die begin van alles op aarde. God het glo die stof waarvan Adam gemaak is, daar gekry. Dis die plek waar God sy Naam sou laat geld. Daarom het gelowiges sy Teenwoordigheid in beide die tempels wat daarop gestaan het aangevoel.
In die Bybelse tyd was die Tempelberg die hoogste punt in Jerusalem. Daarna het die ligging verander en het die stad baie groter geword. Die oudste deel wat as die Stad van Dawid bekend was, was suid van die huidige Tempelberg en heelwat laer as die huidige Jerusalem geleë.
Die Tempelberg beslaan 15 hektaar en vorm ongeveer 17% van die Ou Stad. Dit plat van noord na suid af. In 19 vC het koning Herodes die Grote die natuurlike plato op die Tempelberg vergroot deur ʼn reghoekige platvorm bo-op te skep. Dis gedoen deur vier reuse stutmure rondom te laat bou waarna die leegtes opgevul is. Daarna het Herodes die Tweede Tempel vergroot omdat dit klein vir al die pelgrims geword het.
Die bykomende grondoppervlak wat daardeur geskep is, vorm tans die oostelike deel van die Ou Stad. Herodes se reuse werk het ʼn volle 83 jaar geduur en is eers in 64 nC gestaak toe 18,000 werkers afgelê is.
2. Die vroeë geskiedenis
2.1 Die stad van Dawid
Die Kanaäniete was die eerste bewoners van Jerusalem. Hulle het teen 1850 vC ʼn stad met die naam Jebus daar gebou. In 1010 vC het Dawid die Jebusiete verslaan en Jerusalem die administratiewe hoofstad van sy ryk gemaak. Dis daarna die Stad van Dawid genoem.
Nadat Dawid die verbondsark na Jerusalem gebring het, het hy die eertydse godsdiensgesag in die stad opgeskort en dit verder self behartig. Daarna het hy ʼn aanliggende stuk berggrond van ʼn sekere Arauna gekoop met die doel om ʼn tempel daarop te bou. God het hom egter verhoed en sy seun Salomo die eer te beurt laat val. Dis teen 960 vC voltooi en die middelpunt van Israel se godsdiens geword.
2.2 Die ballingskappe
Na Salomo se dood in 931vC het ʼn burgeroorlog uitgebreek wat die ryk laat skeur het. Jerusalem was die hoofstad van die tweestammeryk (Juda) en Samaria diè van die tienstammeryk (Israel). Israel het tot 722 vC bestaan waarna dit deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is. Juda het sterk weerstand gebied en die vyande vir meer as ʼn eeu teengestaan.
In 597vC het die Babiloniërs Jerusalem verower en die 21 jarige Sedekia, ʼn afstammeling van Dawid, as koning daarvan aangestel. Hy het sy volk nie verraai nie en ʼn opstand teen die Babiloniërs geloods. Jerusalem is na ʼn beleg van 18 maande verower en verwoes.
2.3 Die Perse
Teen 560 vC het ʼn nuwe ryk onder Kores die Grote van Persië op die wêreldtoneel verskyn en die Heilige Land verower. Daarna het Kores al die Jode in sy nuwe ryksgebied, insluitende die Israelitiese ballinge in Assirië, toegelaat om na hul vaderland terug te keer. Behalwe dat Kores ʼn instrument in God se hand was, wou hy die Jode die geleentheid bied om die land te herbou sodat hy ʼn inkomste daaruit kon verkry.
Hierdie vergunning het ʼn geloofsherlewing onder die Jode gebring en hulle aangespoor om die verwoeste tempel te herbou. Dis in 516 vC voltooi waarna Juda vir nagenoeg 150 jaar gefloreer het. In hierdie tyd is Jerusalem herbou en die omliggende gebiede ontwikkel.
2.4 Die Grieke
Teen 332 vC het die Grieke as ʼn wêreldmag op die toneel verskyn. Alexander die Grote het Israel verower en die Griekse kultuur en ideale daar gevestig. Dis Hellenisme genoem. Baie van die Jode het hul geloof versaak en ver-Grieks. In 167vC het die Makkabeër-opstand gevolg waartydens ʼn sekere Mattatias en sy seuns Jerusalem van die Grieke afgeneem het. Daarna is die tempel gereinig en Chanukah, ʼn vakansiedag ter herdenking daarvan, ingestel.
2.5 Die Romeine
Die Makkabeër-koninkryk het 76 jaar bestaan.
Daarna het hulle Herodes as ‘n marionetkoning aangestel. Sy seun en naamgenoot het hom opgevolg en guns van die Jode verkry toe hy die tempel laat vergroot het. Hy het begin deur die gebied te vergroot en met vier stutmure te versterk. Die Westelike muur was die langste – 485 meter en het die Kotel (Klaagmuur) ingesluit.
In 66 nC het ene Florus, ʼn Romeinse gevolmagtigde (prokurator), met die Jode begin skoor soek. Hy het bv. silwer uit die tempel gesteel waarna ʼn groep Joodse yweraars (Selote) teen die plaaslike Romeinse gesag in opstand gekom het. Hulle het enkele van die Joodse leiers wat nie teen die Romeinse owerheid weerstand wou bied nie, vermoor. Dit het tot onderlinge onmin en bloedvergieting gelei.
Daarna het die Romeine die stad beleër en in 70 nC ingeneem. Die tempel is afgebrand en Jerusalem verwoes. Van die Selote wat na Masada gevlug het, het drie jaar later selfmoord gepleeg eerder as om aan die Romeinse magte oor te gee. Daarna was daar vir 60 jaar vrede.
In hierdie tyd het keiser Hadrianus die Jode aangespoor om die tempel te herbou. Voordat hulle egter daarmee kon begin, het hy ʼn ander tempel op die Tempelberg laat bou en dit aan die afgod Jupiter gewy. Daarna het hy Jerusalem se naam na Aelia Capotolonia verander.
Die Jode het dit as ʼn growwe belediging beskou waarna ʼn opstand o.l.v. Simeon bar Kokhba gevolg het. Die Romeine kon dit eers drie jaar later onderdruk (135 nC). Daarna is Jerusalem weer verwoes. Nagenoeg 600,000 Jode, insluitende bar Kokhba, het omgekom. Daarna het die keiser die naam van die provinsie na Sirië-Palestina verander en van Jerusalem ʼn heidenstad gemaak. Jode is toegang verbied en vervolg.
Die Jode het na Yavneh uitgewyk waar ʼn sekere Yohanan ben Zakki ʼn godsdiensopleidingskool op die been gebring het. Dit het Judaïsme as’t ware aan die lewe gehou. Omdat Jerusalem grootliks ontvolk was, het van die omringende volke hulle in die omliggende gebiede gevestig. Hierdie volke het van Abraham en Isak, maar nie van Jakob nie afgestam. Na die vestiging van Islam het hulle almal Islamiete geword.
Omdat die Islamiete van Abraham afstam, glo hulle dat hulle ʼn wettige aanspraak op hierdie grondgebied het. Daarom beskuldig hulle die Jode daarvan dat hulle hul grondgebied van hulle gesteel het en hulle reg om dit te herower.
2.6 Die Christendom
Intussen het die invloed van die Christendom in hierdie gebied sterk toegeneem. Die hoogtepunt was toe keiser Konstantyn in 330 nC besluit het om die hoofstad van die Romeinse ryk van Rome na Bisantium te verskuif en dit Konstantinopel genoem het.
In 325 nC het Helena, die moeder van Konstantyn, die tempel wat Hadrianus vir Jupiter op die Tempelberg gebou het, laat afbreek en die Kerk van die Heilige Kores en Johannes op die fondamente daarvan laat bou. Nadat dit vergroot is, is dit die Kerk van die Heilige Wysheid genoem. Toe dit later verwoes is, is die Rotskoepel (moskee) daar gebou. Helena het ook die Tempel van Venus aan die westekant van die Tempelberg laat afbreek en die Kerk van die Heilige Graf daar laat bou.
In 361-363 het keiser Julianus II die Jode toegelaat het om ʼn nuwe tempel op die Tempelberg te bou. Die geskiedskrywer Sozomen skryf in sy Historia Ecclesiastica dat toe diè keiser Palestina oppad na Persië aangedoen het, die gesig van die tempelpuin hom so ontstel het, dat hy aan Alipius van Antiochië opdrag gegee het om die tempel te herbou. Julianus II wou die plaaslike kultusse en godsdienste in sy ryk versterk.
Die hoofrabbyn Hilkia wou egter nie geld van die keiser aanvaar nie. Geen ongelowige durf volgens hom deel aan die herbou van die tempel hê nie. Die projek is egter wel voortgesit, maar is spoedig laat vaar toe vuur op bonatuurlike wyse uit die fondamente geslaan het. Toe ʼn hewige aardbewing Galilea kort daarna getref het, het mense geglo dat God die tempelbou verhoed het. Kort hierna het Julianus gesneuwel.
2.7 Die Islamiete
In 610 nC het die Sassaniede Ryk die Bissantyne uit die Midde-Ooste verdryf. Daarna het die Jode Jerusalem vir ‘n paar jaar beheer. Kort voordat die Bisantyne die grondgebied herower het, het die Perse die beheer van Jerusalem aan die plaaslike Christenbevolking oorgedra wat die onvoltooide tempelgebou tot op die grond afgebreek het. Kalief Omar het hierdie puin in 630 nC in Jerusalem aangetref toe hy die stad verower het.
In 638 nC het die Jode in Palestina die Islamiete gehelp om die Perse te verslaan omdat die Perse hul belofte om die Jode teen die Islamiete te beskerm, verbreek het. Daarna het die Islamiete die Jode toegelaat om na Jerusalem terug te keer.
Hierna het Omar ʼn moskee op die Tempelberg laat bou naby die plek waar die Al Aksa moskee ʼn paar jaar later opgerig is. In 691 nC het kalief Abd al Malik ʼn reuse moskee met ʼn koepeldak op die Tempelberg laat bou. Hierdie dak is in 1920 met bladgoud oorgetrek.
Die Islamitiese verowering van Palestina was die begin van ʼn tydperk van 1300 jaar waarin 10 verskillende ryke, regerings en vorstehuise oor Palestina regeer het. Palestina was na die Eerste Wêreldoorlog ʼn Britse mandaat.
Gevolglik is die Tempelberg die derde belangrikste heiligdom vir die Islamiete ter wêreld en volgens oorlewering die plek waarvandaan Mohammed na die hemel vertrek het. Die Rotskoepel en Al Aksa moskee is die oudste Islamitiese geboue ter wêreld.
2.8 Die Kruisvaarders
Die Islamiete het tot die einde van die 11 de eeu talle vyandige aanslae op Palestina suksesvol afgeweer. In 1095 het pous Urbanis II sy onderdane tot ʼn kruistog teen die Islamiete opgeroep ten einde Palestina vir die Christendom te herower.
Die Jode van Palestina het nie die kruisvaarders se geesdrif gedeel nie.
Toe die kruisvaarders die Islamiete verdryf en Palestina in 1099 verower het, het hulle al die Jode in ʼn sinagoge bymekaar gemaak en die plek aan die brand gesteek. Daarna is geen persoon buite die Christelike geloof in Jerusalem toegelaat nie. Saladin het eers in 1187 daarin geslaag om die kruisvaarders uit die stad te verdryf en Jerusalem vir die Islam te herwin.
In 1267 skryf ʼn Jood, Nahanidas, aan sy seun dat Jerusalem yl bewoon is. Daar was ongeveer 2000 inwoners en basies geen Jode nie. Met die aankoms van die Tartare is baie Jode vermoor waarna die ander gevlug het. Nahanidas het slegs van twee Joodse broers geweet wat ʼn klein onderneming in Jerusalem gehad het. Die Jode van die omgewing het op Sabatte in hulle huis byeenkom. Die het later ʼn vervalle huis gekoop en in ʼn sinagoge omskep.
Daarna het Jode van so ver as van Damaskus en Aleppo na Jerusalem gekom om die plek waar die tempels gestaan het te beween. Nahanidas sluit sy brief met die bede af dat diegene wat Jerusalem in so ʼn vervalle toestand aanskou, genade van God mag ontvang om die bou van die Derde Tempel op die Tempelberg te sien.
2.9 Die Ottomane
Die volgende geskiedkundige era was die verowering van Palestina deur die Ottomane (Turke) aan die begin van die 16de eeu. Jerusalem het deel van die magsgebied van die Turkse sultan geword. Turkye het op daardie tydstip geen wesenlike belang by Palestina gehad nie. Dit was slegs ʼn bron van buitelandse inkomste.
Die sultan het toegelaat dat Palestina ontwikkel word, maar terselfdertyd swaar belastings op die Jode gehef. Toe baie van hulle verhuis het, het Palestina begin kwyn. Teen die einde van die 17de eeu was daar minder as 7000 Jode in Palestina oor. Dinge het eers na die ontluiking van die Sionistebeweging in Oos-Europa begin verander toe baie Jode uit hierdie deel van die wêreld na Palestina begin terugkeer het. Die eerste Joodse nedersetting is in 1878 in Petah Tikvah opgerig.
Die Ottomane het vir bykans 400 jaar oor Palestina geheers waarna hulle by ʼn oorlog betrokke geraak het wat hulle nie kon wen nie - die Eerste Wêreldoorlog. Dit het hulle hul ryk gekos waarna Brittanje kragtens ʼn mandaat van die Volkerebond beheer oor Palestina verkry het.
Die eerste Tempel... vervolg