Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is een ding wat jy nooit moet vergeet nie: jy is uniek. Dit hang net van jouself af om iets moois en wonderliks van hierdie lewe te maak – die keuse is joune.
RUT
Die mooi liefdesverhaal wat vir ons in die Bybel opgeteken is
Lees reeks by RUT
JP Botha
In die greep van hongersnood
Elimeleg vee die lastige sweet uit sy brandende oë, onderwyl hy staan en kyk hoe ‘n slingerende ou brandmaer kalfie agter sy ma aan strompel en saam met sy ander paar veetjies deur die hek van die ou klipkraal na binne verdwyn. Toe hy nader stap om toe te sien dat die hek deeglik gesluit kom, dink hy daaraan dat dit eintlik onnodig is, want so ver hy kan onthou het daar gedurende die afgelope twee jaar hier in die velde van Betlehem geen enkele bees weggeraak nie. Diewe steel nie sulke ellendige goed wat besig is om van maerte te vrek nie.
By die hek wag sy twee opgeskote seuns vir hom. Giljon is twaalf en Maglon is veertien jaar oud. Die swaar van die bitter langdurige droogte wat besig is om die eens groene velde van Betlehem en die hele Judea in ‘n woestyn te verskroei en die hongersnood wat mens en dier nie kan ontvlug nie, het reeds al sy droewige merk op hulle jeugdige gesigte gemaak.
So kan die toestand nie aanhou nie, dink Elimeleg. Sy weiveld en sy landerye hier in die Betlehemvlakte verskroei elke dag meer en meer in die versengende hitte van die son en ‘n knaende hongersnood begin sy voelers oor die geteisterde land uit te brei.
Elimeleg en sy seuns geniet die karige ete wat sy vrou Naomi na die beste van haar vermoë vir hulle berei het. Toe sy daarna besig is om op te ruim, sê sy vir haar man: “Die bietjie gebraaide koring wat ons vanaand gehad het, het ons liewe buurvrou Maria vir ons gestuur. Sy sê haar man het verlede week gaan kossoek en tot in Moab gegaan waar hy alles volop aangetref het. Hulle het pragtige vroeë reëns vanjaar gehad. Die beeste op die hooglande is vet en oral in die heuwels vloei bergstroompies na die Arnonrivier, op pad Dooie See toe.”
“My vrou, dis wonderlike nuus! Ek dink ek val net môre al in die pad soontoe, om te gaan kyk of dit so is. Ons kan nie langer meer hier op ons grond in liewe ou Betlehem bly nie. Ek moet gaan uitkoms soek. Ek gaan môre!”
Elimeleg soek uitkoms in Moab
“Dis goed, my man, maar dink jy jy moet na die heidense Moab gaan? Is daar nie ander uitkoms nie?”
“Naomi, dis vir my duidelik dat die Here besig is om vir Israel met hierdie droogte en hongersnood te straf vir al die gruwelike sondes wat deesdae kop uitsteek.”
“Ja, dan kan Hy ook die heidene seën om sy eie volk daardeur te straf.”
Elimeleg is vroeg die volgende oggend op pad. Hy het die Jordaan aan die noordoewer van die Dooie See oorgesteek en daarvandaan suid-waarts al langs die see gehou, met die gedagte om nie Ammoniete raak te loop, wat hom kon lastig val nie. Hy het uiteindelik die monding van die Arnonrivier bereik en geweet dat hy die grens van Moab bereik het. Hy het met die loop van die rivier opgestap en na ‘n rukkie die Moabitiese dorpie Aroër langs die rivierloop bereik.
Hananja se lewe in Moab
“Ja vriend, wie is jy en waarheen is die reis?” kom ‘n stem na hom in Aramees.
Toe hy opkyk, gewaar hy ‘n man wat besig is om in die ruigte fluitjiesriet met ‘n sekel te sny. Nadat hulle mekaar gegroet het, het die bekendstelling verder gevolg.
“Ek sien jy is verbaas om nog ‘n Judeër soos jy hier te ontmoet My naam is Hananja. Ek het jare gelede as ‘n jong man vanaf Jerigo hier by die Moabiete rondgedwaal en daar in hulle hoofstad Kir-Moab, ‘n pragtige meisie ontmoet. Na ‘n ruk is ons getroud en die owerheid het aan my ‘n baie goeie stuk grond op die walle van die Arnon, nader aan die Soutsee, afgestaan. Ek het reeds mooi begin vooruitboer toe my liewe vroutjie ons eersteling verwag. Maar ag, my liewe ou vriend, die Here se wil was nie dat hulle sou bly leef nie. Albei het met die geboorte die lewe ingeskiet. Ag my vriend, en dit was so ‘n mooi, sterk seunskind!”
Hananja kyk Elimeleg aan met ‘n traan. “Maar wie is ek om te kla? Die Here wou dit so hê en so is dit!”
Dit blyk verder dat Hananja daarna sy grond verlaat het en hier in die dorpie Aroër vir hom ‘n hut kom bou het, en nou reeds jarelank al hier ‘n soort kluisenaarsbestsaan voer, omdat hy nie weer na Israel wou terugkeer nie.
Die Moabiete is goed vir hom. Hulle aanvaar hom feitlik as een van hulle omdat hy met een van hul dogters getroud was. Maar vir die Ammoniete moet mens maar versigtig wees.
Hy kyk Elimeleg dringend aan en sê: “Vriend, as jy besluit om hierheen te verhuis, kan julle my grond en my huis wat daar staan, in besit neem en aangaan.
Elimeleg sluk swaar van aandoening en dankbaarheid en sê vir Hananja dat hy dan maar weer dadelik gaan terugkeer na Betlehem, want met sy koms het hy koes-koes ‘n paar Ammonitiese bendes vermy. As hy nou ‘n uur of wat in Hananja se hut rus, kan hy na ‘n nagskof môrevroeg reeds die systroompies van die Jordaan nader, sonder om hom in vyandige Ammoniete vas te loop.
Elimeleg het laat die middag in die pad geval op sy terugkeer na Betlehem en die volgende dag naby sononder vermoeid en sleepsvoets teen die heuweltjie na sy woning in Betlehem gestrompel. Maglon en Giljon het hom gewaar en hom tegemoet gestorm en hom met honderde vrae bestook. Uit hul gebrabbel kon hy wys word dat daar dié nag weer ‘n jong tollie gevrek het.
Sy vrou, Naomi, het haar man se opgewonde verslag van sy suksesvolle reis met dankbare trane aangehoor: “Die Here is goed. Hy sal ons seën. Ons gaan daarheen. Die Naam van die Here sy geloof!”
Elimeleg verlaat Bethlehem... vervolg