Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
O wederstrewige volk van God, luister nou na my onvervalste Woord! Julle het vir julle menige drêkgode bymekaar gemaak! Ek sal al hierdie sondes van julle eis. In die gloed van my toorn sal Ek dit eis van julle wat al julle geloftes aan My vergeet het...
CHRISTENMAN, SÊ NEE! VIR PORNOGRAFIE – WANT JY KAN! (4)
Die volledige e-boek kan ook in pdf-formaat afgelaai word by Christenman, sê NEE! vir pornografie, want jy kan!
Anita Joubert
Wat moet jy aan jou probleem doen?
Die wonder van God se genade is, dat solank as wat jy lewe, dit nooit te laat is om jouself van sonde te bekeer nie. Vir die moordenaar wat aan die kruis langs Jesus se kruis gehang het, het Jesus gesê, nadat hy Hom om genade gesmeek het: “Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Luk. 23:43). Wees dus innig dankbaar dat die Here jou lewe tot vandag gespaar het en jou nog ‘n geleentheid gegee het. Jesus sê in Openbaring 3:19 en 20: “Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” Elke sondaar se bekering van sy sondige weg, is vir Jesus so kosbaar, dat Hy saam met hom wil feesvier. Die Bybel sê vir ons die engele van die hemel juig elke keer wanneer dit gebeur. Ons lees drie maal in die Ou Testament dat God geween het, en dit was elke keer oor sy volk se hoogmoed, eiesinnigheid en sonde. Vir die Here is ons sonde ‘n hartseer saak, want Hy het aan ons alles gegee wat ons nodig het om ‘n lewe te lei wat binne sy wil is. Ons het geen verskoning nie.
Dr Caroline Leaf is ‘n bekende Neuro-Metakognitiewe spesialis. Sy is ook ‘n Christen en het ‘n interessante boek geskryf, vanuit ‘n mediese perspektief, oor hoe die mens se gedagtewêreld funksioneer. Die titel van die boek is: Who switched off my brain? - Toxic thoughts, emotions and bodies. Sy sê ‘n mens het reg in die middel van sy brein ‘n klein, C-vormige struktuurtjie, min of meer so groot soos jou duim. Dit word die Corpus callosum genoem. Dit verbind die twee dele van die brein met mekaar en integreer herinneringe en plaas gedagtes in perspektief. Dit analiseer alle inligting wat deur jou vyf sintuie, jou denke binnekom. Hierdie klein struktuurtjie in jou brein is dus eintlik soos ‘n sif vir jou gedagtes. Dit gee aan jou ‘n eie vrye keuse wat niemand anders kan oorheers nie. Dit is deur hierdie Corpus callosum dat ‘n mens ‘n keuse kan maak waaroor hy wil dink of nie. Wanneer Paulus vir ons in Filippense 4:8 sê om ons gedagtes te rig op alles wat edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is, dan beteken dit dat God aan ons liggame die nodige hulpmiddel gegee het om dit te kan doen. Hy verwag nie van ons iets wat nie vir ons moontlik is nie.
Stap 1
Jou eerste stap is dus om jou sonde te erken en te bely en die Here te vra om jou te vergewe en te help om uit die mag van Satan los te kom. Die apostel Johannes, die een vir wie Jesus besonder lief was, skryf in die Johannesbrief dat Jesus getrou en regverdig is en ons sonde vergewe wanneer ons dit bely. Hy reinig ons van alle ongeregtighede (1 Joh. 1:9).
Stap 2
Jou tweede stap is om jou sonde aan iemand anders te erken. Jakobus sê in Jak. 5:16: “Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Die rede hiervoor is dat die duiwel nie meer ‘n houvas oor iets kan hê wat aan die lig gekom het nie, want ons as gelowiges, is mense van die lig. As jou vrou werklik ‘n pad met die Here stap en emosioneel sowel as geestelik volwasse is, is dit die heel beste om haar vir so ‘n belydenis te kies. Sy is die aangewese persoon om jou by te staan, aangesien sy jou lief het en jy ‘n intieme verhouding met haar het. As sy daarin kan slaag om groter as hierdie situasie te wees en ook jou genesing en redding begeer, sowel as die herstel van julle huwelik en die welstand van julle kinders, kan sy jou help. Jy moet baie goed verstaan dat dit vir haar ‘n geweldige skok gaan wees. Sy gaan sukkel om jou weer te vertrou. Julle kan dit egter saam met die Here deurwerk en dan is die kans baie goed dat julle baie nader aan mekaar gaan wees en ook aan die Here. Paulus sê in Efesiërs 5:31 en 32 dat ‘n man sy ouers sal verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hy sê daarin is ‘n diep geheimenis opgesluit wat hy van toepassing maak op Christus en die kerk. Ons huwelike moet dus ‘n beeld van Christus en sy kerk weerkaats, eers dan sal dit werklik ‘n huwelik wees. Dit wat jy gedoen het, was owerspel, en al het jou vrou nie daarvan geweet nie, kon julle huwelik nie die beeld van Christus en sy kerk in die geesteswêreld weerkaats nie, want daar was nie Goddelike eenheid tussen julle twee nie. Satan haat die Here Jesus met alles wat in hom is en probeer sy bes, nie net om ons te vernietig nie, maar ook om die beeld van Jesus skade aan te doen. Jou ware genesing lê daarin dat jou vrou jou kan vryspreek en julle saam die Here se vergifnis en heling vir julle huwelik soek. Omdat julle in die geestelike realm een is, het jou sonde haar ook beïnvloed. Julle talle rusies en onenigheid, het haar gebind en daarvan weerhou om met vrymoedigheid vir die Here te getuig.
As jy regtig nie daarvoor kans sien nie, kies dan ‘n goeie vriend wat ‘n volwasse Christen is en wie jy kan vertrou en vertel dit vir hom. Vra hom om gereeld saam met jou te bid en jou teenoor hom verantwoordbaar te hou. Hy moet jou gereeld bel en vra of jy nog op die regte pad is. Dit sal jou aanspoor om hom nie teleur te stel nie. Moenie probeer om jou verslawing ‘n geheim te hou en op jou eie te probeer oorkom nie. Jy gaan dit nie regkry nie!
Stap 3
Doen onmiddellik alles in jou vermoë om versoekings te vermy. Jy sal self weet watter omstandighede vir jou die grootste versoeking was. Jesus sê in Markus 9:47 en 48 “En as jou oog jou van My afvallig laat word, pluk hom uit! Dit is beter dat jy met een oog die koninkryk van God ingaan as dat jy twee oë het en in die hel gegooi word. Daar gaan die wurm nie dood nie en word die vuur nie geblus nie.” Uit hierdie uitspraak van Jesus is dit baie duidelik dat jy tot die uiterste optrede moet gaan om te verhoed dat jy in die hel beland. Sny die internetverbinding op jou foon af en plaas filterprogramme op jou rekenaar waarvan iemand anders die toegangskode ken en jy nie. Moenie laataand alleen sit en televisie kyk nie. Doen enigiets waaraan jy kan dink om jouself uit die versoeking te hou, al is dit ook hoe ekstreem.
Stap 4
Sorg dat jy nooit onnodig alleen en verveeld rondsit nie. Gebruik die tyd om uit jou Bybel te lees en te bid. Sorg dat jy baie tyd saam met die Here spandeer. Lees goeie Christelike boeke. Sing lofprysingsliedere of speel lofprysingsmusiek. Kry vir jou iets nuut en lekker om te doen soos ‘n nuwe stokperdjie en gaan oefen gereeld sodat jou liggaam moeg kan wees en jou gedagtes besig.
Stap 5
‘n Eenvoudige resep vir oorwinning is om God se Woord voortdurend te oordink en te bely. Druk vir jou ‘n paar Bybeltekse uit wat vir jou besondere betekenis het en plak dit op waar jy dit dikwels kan lees, veral op die plek waar jy dalk in versoeking kan val, soos by jou rekenaar. Paulus skryf dat ons ons gedagtes moet rig op alles wat waar, edel, rein, mooi en prysenswaardig is; elke deug en lofwaardige saak (Fil. 4:8).
Stap 6
Daar is sielkundiges wat aversie- en assosiasie-terapie aanbeveel. Hulle stel voor dat jy ‘n negatiewe gedagte gereed hou vir die oomblik wanneer beelde jou gedagtes begin oorspoel, soos byvoorbeeld om aan iets te dink wat ontsettend stink. Daarenteen moet jy vir jou ‘n positiewe gedagte gereed hê waaraan jy dan onmiddellik kan dink, enigiets wat vir jou besonder aangenaam en mooi is. Vir ‘n Christen is dit baie maklik, aangesien jy onmiddellik vir jouself die skuldgevoelens wat jy na die tyd gaan beleef, kan oordink. Skep ook vir jouself ‘n beeld van die ewige vuur soos die Bybel dit beskryf en dink onmiddellik daaraan, beleef in jou denke die verskrikking en hopeloosheid daarvan. Dink daaraan dat dit jou uiteinde gaan wees. Daarenteen kan jy jou gedagtes rig op die dinge wat daarbo is. Gaan lees in Openbaring hoe die nuwe hemel en die nuwe aarde lyk wat Jesus vir Johannes in sy visioen gewys het, en wat Hy vir ons, wat sy geseëndes is, gereed gemaak het. Die nuwe Jerusalem het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van kosbare edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal (vers 11).
Stap 7
Dr Phil Moore is van mening dat pornografie-verslawing en masturbasie hand-aan-hand loop. Hy het twintig jaar lank ervaring in sy werk met pornografie-verslaafdes en sê dat almal wat hy gehelp het, dit eens is dat die gebruik van pornografie tot masturbasie gelei het en dan daar gestop het, behalwe natuurlik wanneer die probleem vererger het na ‘n hoër vlak verslawing. Hy sê die probleem is met ander woorde eintlik masturbasie, en nie pornografie nie. Die probleem wat oorkom moet word, is dié van masturbasie. Dit is eintlik ‘n baie eensydige benadering, maar dit het tog waarde om daarvan te weet. Hy het baie groot sukses met sy terapie behaal, ten spyte daarvan dat die basis daarvan geensins Christelik geïnspireerd is nie. Hoeveel te meer kan ‘n persoon wat sy krag uit sy geloof put en sy hoop bou op Jesus wat hom vrygekoop het uit die mag van sonde en die dood, nie sukses behaal nie. Dr Moore se gevolgtrekking is dat dit nie die pornografie is wat die werklike kick gee nie, maar die masturbering en die orgasme. Hy sê as die verslawing aan masturbasie dan die kernoorsaak van die pornografie-verslawing is, dan moet ‘n persoon masturbasie ten alle koste voorkom. As pornografie die werklike verslawing was, sou die verslaafde aangehou het om daarna te kyk nadat hy ‘n orgasme bereik het, maar nie een van hulle het dit gedoen nie. Hy sê in ‘n verslaafde se gedagtewêreld, skep masturbasie, saam met die gebruik van pornografie, die vals illusie dat dit meer bevredigend is as werklike seksuele omgang met sy vrou. Hy leef dus in ‘n fantasiewêreld van sy eie, maar na die gebruik van pornografie en die gevolglike masturbering, is dit vir hom teleurstellend, ‘n anti-klimaks. Hy voel vuil en skuldig en daar is niks van die gelukkige, aangename gevoel van tevredenheid, geluk en eenheid soos wat ‘n mens beleef wanneer jy seksueel verkeer het met die persoon wat jy liefhet nie. Die vraag is waarom wil hy dan masturbeer? Dit is dalk ‘n baie goeie idee om Jesus se raad in Markus 9:43 te volg wanneer Hy sê: “As jou hand jou van My afvallig laat word, kap hom af! Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy altwee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.”
Stap 8
Jy is die enigste persoon wat weet wat jou daartoe beweeg het om pornografie te kyk en te masturbeer. Jy sal weet wat die omstandighede was toe jy dit die laaste keer gedoen het. Sorg dat jy soortgelyke omstandighede beter hanteer of vermy. Veronderstel dit het byvoorbeeld gebeur na ‘n rusie met jou vrou en jy het geregverdig gevoel om dit te doen. Sal jy onmiddellik ‘n diefstal gaan pleeg net omdat jy besef het dat jy nie genoeg geld het om iets te koop nie? Jy sou mos dan ook geregverdig kon voel om dit te doen. Nee, jy sou nie. Jy sou ‘n plan beraam het waarop jy jou begroting kon laat klop of meer geld verdien. Dit is mos baie meer sinvol om aan jou verhouding met jou vrou en julle kommunikasie te werk. Jy het mos met haar getrou omdat jy haar lief het. Kom ons kyk wat sê die |Bybel oor selfregverdiging en eiesinnigheid in 1 Samuel 15:23 “Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.”
Stap 9
Vra die Here om jou heel te maak van alle gevoelens van onsekerheid, minderwaardigheid en nie goed genoeg voel nie. Jy sal self weet of jy sonder ‘n pa grootgeword het; ‘n swak verhouding met hom gehad het; gevoel het dat jy nie aanvaar word nie; gesmag het na aandag, liefde en belangstelling in jou prestasies toe jy op skool was, ens. ‘n Kind het ‘n vaderfiguur se liefde, belangstelling en bewondering ontsettend nodig om met ‘n goeie selfbeeld groot te word. Miskien het kinders jou gespot of moes jy dikwels van skole verwissel en dit het jou minderwaardig en onseker laat voel. Gaan sonder eendag af saam met die Here en vra hom om jou te help. Ek het in hoofstuk drie gesê dat die soogdierbrein nie woorde of redenasies verstaan nie. Dit is die deel van die brein waar die seer van jou kinderjare vasgesteek het en nog steeds veroorsaak dat jy jou soos ‘n kind gedra. Daar is egter een taal wat die soogdierbrein wel verstaan, en dit is die taal van prentjies of verbeelding. Dit is ook waarom die beelde van jarelange pornografie-verslawing so ‘n geweldige houvas op jou kry. As jy egter in die teenwoordigheid van die Here jou verbeel dat jou verhouding met jou pa goed was, soos wat dit die volmaakte wil van God was vir jou, dan verstaan jou soogdierbrein dit en vervang dan letterlik die beelde van seer en stukkende kinderjare. Sien in jou verbeelding hoedat jou pa trots is op jou wanneer hy na byvoorbeeld jou rugbywedstryd kom kyk, ens. Sien jouself waar kinders jou aanvaar en met jou speel, wat ookal die probleem was. Dit is amper soos ‘n rekenaar waarop die ou inligting verwyder word en nuwe inligting gelaai word. Jy sal verstom wees hoeveel vrede en genesing jy daardeur kan ervaar. Onbewustelik streef elke mens na heelheid en balans binne homself. Ongelukkig versterk ons dikwels die wanbalans deur tegnieke wat ons, uit onkunde, gebruik om beter te voel oor onsself, soos byvoorbeeld alkoholmisbruik, dwelmmisbruik of seksmisbruik. Elke mens streef eintlik na selfbemagtiging. Dit beteken ‘n stil, innerlike sekerheid van wie ek is, kosbaar in die oë van God, met ‘n vaste en seker wete waarheen ek op pad is; na ‘n volmaakte ewige lewe saam met God in die hemel. Dit sluit in ‘n gesonde eiewaarde, selfliefde en selfrespek. Dit is hoe die Here dit wil hê, maar ongelukkig laat die mensdom toe dat die Satan ons geneigdheid tot sonde gebruik om ons van hierdie voorreg te beroof.
Stap 10
As jy nie jou probleem kan oorkom nie, gaan soek professionele hulp. Doen alles wat jy kan binne jou vermoë. Moet net nie moed opgee nie!
Dit is werklik net die verlossende genade van Jesus Christus wat jou kan bevry en genees. In Deuteronomium 30:19 het Moses aan die volk gesê: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”
Nadat ek ook nou in hierdie boekie aan jou die lewe en die dood voorgehou het, wil ek hierdie selfde woorde vir jou sê:
KIES DIE LEWE!
GOD HET JOU, JOU VROU EN JOU KINDERS BAIE LIEF.