Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons maak so maklik geloftes teenoor die HERE. Soms is daardie geloftes onverskillig soos Jefta in Rigters 11. Hy het groot hartseer veroorsaak omdat hy nie deeglik gedink het wat hy die HERE belowe het nie. 'n Gelofte is so 'n ernstige saak dat ons baie seker moet wees hoe God daaroor oordeel sodat ons in ons gewete verseker is dat ons niks onbesonne aanpak nie – die breek van 'n gelofte teenoor God bring ernstige gevolge.
CHRISTENMAN, SÊ NEE! VIR PORNOGRAFIE – WANT JY KAN! (3)
Die volledige e-boek kan ook in pdf-formaat afgelaai word by Christenman, sê NEE! vir pornografie, want jy kan!
Anita Joubert
Wat sê sielkundiges van jou probleem?
Dit is baie belangrik om te verstaan hoe die mens se brein werk en hoe dit ons gedrag beïnvloed. Sodoende kan ‘n mens homself en sy eie optrede beter verstaan. Diep in die geheime, onbewuste kern van die brein is die reptielbrein geleë. Dit is die oudste, mees primitiewe deel van die brein. Meganiese, onbeplande beweging word hier moontlik gemaak. Dit is koud en sonder emosie, ingestel op oorlewing en selfverdediging, soek kos en seks en reguleer funksies soos slaap en wakker word. Die area in die reptielbrein waar die seksdrang gesetel is, is twee maal so groot by dié van ‘n man as by dié van die vrou. Die soogdierbrein lê direk om die reptielbrein en is die sentrum van onbewuste emosies. Hierdie twee vorm saam die limbiese stelsel en is die emosionele sentrum van ‘n mens se brein. Die limbiese stelsel verbind ook ‘n mens se gedagtes met jou liggaam sodat die liggaam op jou gedagtes kan reageer, of dit nou positiewe of negatiewe gedagtes is. Wanneer jou gedagtes positief is, skei jou liggaam goeie hormone af wat jou rustig en gelukkig maak. Wanneer jy gedagtes van vrees, woede of bitterheid koester, skei jou liggaam spanningshormone af wat veroorsaak dat jou liggaam onmiddellik met ‘n veg-of-vlug reaksie reageer. Die limbiese stelsel beskik nie oor logika nie. Omdat dié deel van die brein onmiddellike bevrediging soek, kan dit ‘n man se hele lewe beheer wanneer hy emosioneel onvolwasse is en nooit geleer het om deur selfbeheersing, homself soos ‘n volwasse mens te gedra nie. Daar kan baie redes daarvoor wees.Trauma en die pynlike emosies wat daarmee saamgaan, steek dikwels, veral gedurende die kinderjare, in die geheue vas en speel lewenslank ‘n sterk rol in so ‘n persoon se gedrag, al kan hy lankal nie meer dié traumas herroep nie. So ‘n persoon gooi maklik tantrums soos ‘n klein kindjie wanneer hy sy humeur verloor, vloek, skel en skree, jaag soos ‘n mal mens met sy motor rond, ensovoorts. As ‘n prentjie eers in die geheue vasgevang is, is dit moeilik om hom sover te kry om daarvan te vergeet, want die limbiese stelsel verstaan nie woorde en redenasie nie.
Die buitenste laag van die brein is die korteks. Dit is die intellektuele, redenerende deel van die brein wat idees kan uitdink, kan beplan, emosies integreer, selfbeheersing kan toepas en nuwe denkwyses en beplanning kan toepas. Wanneer ‘n persoon in sy kinderjare nie emosioneel tot volwassenheid begelei is nie, het hy nooit geleer om optimaal te funksioneer en sy optrede deur sy korteks te laat beheer nie. Soms kan net ‘n klein deeltjie van ‘n mens se korteks uitskakel. Die persoon tree dan irrasioneel en kinderagtig op. Onder uiterste omstandighede kan feitlik die hele korteks se werking uitgeskakel word en kan die persoon in onbeheersde primitiewe gedrag verval. Dit is presies wat ‘n man doen wanneer hy toelaat dat sy denke deur onrealistiese seksuele fantasieë en optredes oorheers word. Dit is dus dan emosioneel onvolwasse optrede, gedryf deur die limbiese stelsel en nie die korteks nie, wat sy gedrag beheer.
‘n Man se seksuele drange en behoeftes is baie meer visueel ingestel as dié van vroue. Hy word baie makliker seksueel gestimuleer deur dit wat hy sien as ‘n vrou. Hy kan ook baie makliker daarin slaag om dít wat hy in die geheim doen, in ‘n ander kompartement van sy brein te plaas as dié een waarin sy liefde en respek vir sy vrou gesetel is. Dis vir hom relatief maklik om teenstrydighede uit mekaar te hou sodat hy nie op bewuste vlak daarmee gekonfronteer word nie. Daarom dink hy dat hy niemand skade doen nie, solank iemand net nie daarvan uitvind nie. Dit is dan ook die rede waarom mans baie makliker aan pornografie verslaaf raak as vrouens. So ‘n man se optrede maak hom natuurlik ongelooflik skelm en hy sal lieg sonder om te blik of te bloos om te verhoed dat hy uitgevang word.
‘n Mens se linkerbrein kommunikeer meer deur middel van logika, spraak, kontrole en orde. Die regterbrein se kommunikasiemiddele is oorheersend gevoel, verbeelding, stemtoon en kreatiwiteit. Vroue is oor die algemeen meer geneig om die hele brein te betrek by wat hulle doen, terwyl die man gespesialiseerde dele van die brein vir gespesialiseerde take gebruik. Daarom kan ‘n vrou gewoonlik meer as een ding op ‘n slag doen en is hulle intuïsie baie beter ontwikkel. Hierdie verskille speel ‘n baie belangrike rol in ‘n huwelik. ‘n Man sal na ‘n rusie probeer regmaak met seks, terwyl ‘n vrou nie tot seks geneë is wanneer dinge nie reg is nie. Sy wil dit eers reg praat. Wanneer hy dan toenadering soek op seksuele gebied, kan sy dit as verwerping ervaar omdat sy voel dat haar gevoelens nie in ag geneem word nie. Hy ervaar weer haar koue reaksie op sy toenadering as verwerping. Dit kan weer daartoe lei dat, wanneer hy emosioneel onvolwasse is en nog nooit geleer het om sy gedrag deur sy korteks te laat beheer soos ‘n volwasse, intelligente mens nie, hy hom tot seksuele fantasieë, pornografie of buite egtelike verhoudings kan wend.
Sommige sielkundiges beweer dat hierdie ‘n verslawing is wat erger is as om aan kokaïne verslaaf te wees. Daar is sielkundiges wat sê dat ‘n mens se liggaam verskeie erotiese hormone afskei wanneer hy pornografie kyk en dat hy dus daaraan verslaaf raak. Daar is egter ander sielkundiges wat die siening huldig dat ‘n mens se liggaam presies dieselfde hormone afskei wanneer hy normale gebalanseerde seks het, en dat hy nie daaraan verslaaf raak nie. Waarom sal hy dan verslaaf raak wanneer hy pornografie gebruik?
Sielkundiges het ook bevind dat seksuele verslawing normaalweg progressief toeneem en selde vanself verbeter. Soos wat die tyd toeneem, ontwikkel hulle behoefte aan meer gereelde en meer ekstreme blootstelling om dieselfde mate van opwinding te ervaar. Dr Phil Moore, ‘n ervare sielkundige in Amerika, sê dat daar bewyse is dat daar ‘n definitiewe verband is tussen seksuele misdade en voorafgaande pornografie-verslawings. In sy studies het hy vasgestel dat pornografie-verslawing ‘n baie ernstige en geweldig skadelike probleem is. Volgens hom kom dit in drie vlakke voor. Op vlak een is die persoon se gedrag beperk tot seksuele opwekking deur die pornografie waarna hy kyk en dit dan uitloop op masturbasie. ‘n Vlak twee verslaafde se gedrag raak baie ernstiger en mag manifesteer in meer ekstreme optredes soos seksuele molestering, talle oppervlakkige seksuele verhoudings en ontbloting. Op vlak drie word so ‘n persoon ‘n baie ernstige gevaar vir die samelewing omdat hy oorgaan tot kindermolestering en verkragting. Dr Moore sê daar is ‘n opmerklike aanduiding dat mense wat op vlak drie funksioneer, op vlak een begin het.
Roschbeth Ewald is ‘n sielkundige wat sê dat seksuele en pornografie- verslawing gewoonlik na die kinder- of tienerjare teruggevoer kan word. Meer as die helfte van verslaafdes is in hul kinderjare gemolesteer. Kinders het ook heel dikwels in ‘n disfunksionele huis onder erg vyandige of verwaarloosde omstandighede grootgeword. Sommige se omstandighede kon normaal voorgekom het, maar die kind het gesmag na liefde, aandag en aanvaarding. Geleidelik het seks ‘n plaasvervangende handeling geword waarna hy homself kon wend in tye van ongelukkigheid, angs, verveling en minderwaardigheidsgevoelens. Die kind sal dan herhaaldelik masturbeer om sodoende van sy werklikheid te ontsnap. Wanneer ‘n kind op ‘n onvanpaste wyse te vroeg aan seksuele bedrywighede blootgestel is, kan die skok van die ondervinding ook daartoe lei dat die kind konstante gedagtes oor seks en masturbasie het wat sy lewe oorheers. Masturbasie kan volgens haar, egter ook ‘n normale en natuurlike deel van ‘n kind se kinderjare wees, omdat hy nuuskierig is en nuutgevonde gevoelens van genot ontdek. ‘n Normale, goedaangepaste kind behoort daarmee op te hou wanneer hy volwassenheid bereik en in ‘n gesonde liefdesverhouding betrokke raak. In ons hedendaagse samelewing waar dit so maklik is om pornografie te bekom, gebeur dit ook egter dat tieners uit blote nuuskierigheid daarna begin kyk en dan na ‘n tyd agterkom dat hulle nie weer kan ophou nie.
Seksverslaafdes kan glad nie verstaan waarom hul gedagtes voortdurend gevul is met gedagtes oor seks, masturbasie of om seks met iemand anders as hul huweliksmaat te hê nie. Hulle het geen idee watter risiko hul loop nie. Hulle lewens voel buite beheer en hul verslawing ontneem hulle geheel en al van hul selfvertroue. Die verslaafde voel so skaam onmiddellik nadat hy in seksuele handelings betrokke was wat in stryd is met sy morele standaarde, veral nog meer wanneer hy veronderstel is om die Here Jesus te ken en elke dag tussen Christene leef, dat hy die werklikheid vir homself ontken. Dit lei daartoe dat hy ‘n dubbele lewe kan lei. Hy kan maklik ‘n gerespekteerde persoon in sy omgewing wees, maar in skokkende seksuele bedrywighede betrokke wees wat niemand van hom sou verwag nie. So ‘n persoon se optrede maak hom nie minderwaardig nie, maar sy skuldgevoelens ontneem hom van sy positiewe kwaliteite en verberg sy ware persoonlikheid. So ‘n man ontwikkel dikwels in ‘n bombastiese, ongeskikte eggenoot en is gewoonlik ‘n regte beheervraat. Sy skuldgevoelens jaag hom so dat hy buite beheer voel en deur beherende en manipulerende gedrag probeer om sy beheer terug te kry.
Die vrye toegang tot die internet het veroorsaak dat hierdie probleem geheel en al hande uitruk en ons samelewing, gesinne, huwelike en kinders se lewens vernietig word. Mense wat verslaaf is, gee nie om om hulself finansieel uit te roei en fortuine te spandeer aan internet- en telefoonrekenings nie. Dit kan tot so ‘n mate met sy werksituasie inmeng en sy produktiwiteit beïnvloed dat hy sy werk kan verloor. Die verslaafde se skuldgevoelens kan dikwels tot depressie lei wat weer aanleiding tot selfmoordgedagtes kan gee. Hy haat homself en sy verhoudings met familie en vriende is nooit baie goed nie. As hy ‘n huweliksmaat het, tree hy vyandig teeoor haar op, bloot omdat hy skuldig teenoor haar voel.
Alhoewel sielkundiges verskillende opinies oor die probleem het, is hulle almal dit eens dat dit ‘n uiters gevaarlike en vernietigende verskynsel is wat besig is om die samelewing te verwoes.