THELMA CILLIE
Die verhaal van Suid-Afrika se grootste aardbewing ooit - 1969 in die Ceresgebied.
Lees reeks by Die aarde het gebewe!
(Lees ook meer oor aardbewings by Aardbewings - teken van ons tyd)
DIE DUIF EN DIE JAPONIKABOOM
EK HET Bettie nou eendag besoek, en sy begroet my met hierdie woorde: "Ag ou maat, vandag huil ek. Ek huil lang trane, want ek voel nog jammer vir myself en op een of ander manier moet ek uiting gee aan my gevoelens. Ek wonder dikwels waar ek die moed en krag vandaan kry om aan te gaan."
Al geselsende beweeg ons na haar slaapkamervenster se kant toe, en dit is hier waar sy my die mooi verhaal van die twee duifies vertel het.
Toe ons so saam deur die venster kyk, verlustig ek my in die skoonheid van die natuur. Links van ons is “Lover's Bridge" waar verliefdes graag gaan wandel
— met die spierwit houtwerk vertoon die ou bruggie heel romanties tussen die yslike- bome wat so welig op die oewers van die rivier groei. Verder weg lê Rooikrans, wat helder en skoon bo die ander kranse uittroon en vlak voor ons staan 'n besondere hoë, droë denneboom wat met sierlike gekrulde takke die wolke probeer raak.Bettie het dikwels by die venster kom staan om die natuur te bewonder en die twee tortelduiwe dop te hou wat in die heel hoogste tak van die den gewoon het. Hoe gesellig en gelukkig het hulle nie altyd gelyk nie.
Nou ná die aardbewing, beskou sy die toneel nog gereeld, maar daar is 'n verskil. Rooikrans is geskend, en daar is net een tortelduifie oor. Hy het sy maatjie in die ramp verloor. Ten spyte van die feit dat hy nou alleen is, sien jy hom egter nog elke dag kom en gaan. Hy het nog nooit sy woning verlaat, en angstig rondgefladder op soek na 'n nuwe tuiste nie. Bettie voel dat die duifie 'n boodskap van rustigheid en vertroue aan haar oordra.
Snags as die aarde so wankel en dit begin koud word, wonder sy dikwels wat die duif gaan maak. Sal hy werklik onder alle omstandighede daar bly? En as sy in die môre opstaan en na die venster gaan, sien sy vir die soveelste keer dat haar vrese ongegrond was, want die tortel is nog daar: hy hou sy tak en hy sing sy lied.
Bettie het nou ook die krag begin terugvind om in kinderlike geloof te kan bid: “Heer skenk my die kalmte om die omstandighede te aanvaar wat ek nie kan verander nie; die moed om te verander wat ek kan, en die wysheid om te kan onderskei tussen die dinge."
DIT WAS op 'n grou en triesterige Augustusmôre toe ek weer my kinders skool toe neem dat my oë vir die soveelste keer op die Japonikaboom val. Moedig en trots het hy daar gestaan; uitgedos in sy rooibont rok, asof hy naarstiglik probeer om die onaansienlike murasie agter hom te verberg.
Nadat ek die kinders by die skool afgelaai het, het ek teruggery na die Japonikaboom op die hoek van Owen- en Phillipstraat. Ek het stilgehou, afgeklim en na die boom gestap. Ek het my hande liefderik en strelend om een van die volmaakte blomme gekelk en lank binne-in gekyk. Die blom se skoonheid het my gedagtes op die wind gestrooi — ver, ver weg, en ek het teruggedwarrel na my kinderjare ...
Dit is mos hier, net hier by hierdie einste Japonikaboom waar ons kinders smiddae as die skool uitkom, gestaan en wag het. Daar het ons ons vriende, uit die oog van die leerkragte, ontmoet. Daar het jou “kys" dan jou boeke geneem en verder gedra na die koshuis toe. Hoe salig en verskriklik belangrik en selfversekerd het ons tog nie gevoel the — ons wat wel 'n “kys" gehad het. En as die “kys" nou die dag regtig op sy stukke was, het hy ewe geestig en vrypostig, ligvoets oor die heining gespring, en 'n Japonika vir die meisie van sy drome gepluk — 'n rooibont Japonika, omraam met blink, donker, byna leeragtige blare — om die boodskap van sy hart oor te dra; want die jong minnaar was nog te onhandig en lomp om sy hartsgeheim onder woorde te bring.
Eintlik was daar nooit regtig 'n dag of 'n spesiale tyd waarop ons “gekys" geraak het nie. Ons het net “geweet' van mekaar. Gewoonlik het die betrokke seun se vriend die nuus oorgedra dat so-en-so op jou besluit het as sy “kys". So het ons dogters dit dan aanvaar — mits hy natuurlik die moeitewerd was!
Ek klim weer in my motor en ek ry na die plek waar die koshuis altyd was — daar is nou net 'n kaal stuk grond, en ek hou stil. Ek onthou weer die verlange wat ek as kind in die koshuis ervaar het: verlange na my ouers, na die plaas, na grootmens wees.
Ek onthou hoe my broer Fons altyd sy sakgeld op lekkers spandeer het en dan my sikpens (al sakgeld wat ons gekry het) kom “leen" het om sy hare to laat sny. My sikspens gee hy dan ook op eetgoed uit en dan gaan bedel hy my suster se sakgeld ook! As ons sy bedrog agterkom, skater hy dit uit van die lag, en daarvoor het ek hom gehaat. Hy sou tog nie weet hoedat ek my lus moes onderdruk by die aanblik van die lekkers in die Griek se kafeevenster, terwyl hy alles alleen opeet nie!
Ek onthou hoe die seuns saans gaan lukwarte steel het by die groot ou lukwartboom in tant Sienie se agterplaas, regoor die koshuis. Ja, ek ervaar weer die lekkerkry-gevoel wanneer 'n spesiale seun 'n kardoesie gesteelde lukwarte aan my oorhandig en “heel toevallig" my hand aanraak, of miskien 'n skugter, onbeholpe soentjie skramsweg op my wang plant, as niemand kyk nie. En waarlik ek kry weer die geurige soet somervrug se geur op my tong.
DIT IS meteens asof ek nou eers behoorlik wakker word na die aardbewing. Ek ry Owenstraat op en ek ry hom af. Ek begin van 'n kant af en tel die geboue alkant van die straat. Daar was vyf-en-dertig. Nou is daar net sewe oor en selfs hulle het baie herstel nodig voordat hulle weer gebruik kan word. Onder andere is daar die kerk, die kerksaal en die laerskool.
Daar is net vier woonhuise oor in hierdie straat — die ander is tot niet. Selfs dominee se huis op die hoek, wat hy vir sy oudag gekoop het, staan nie weer nie. Hulle woon nou ook in 'n opslaanhuis langsaan die bouval. Die “Withuis" het hy dit gedoop. 'n Nuwe pastorie sal seker eers later kom, want die huidige een is ook nou 'n bouval.
Ek voel meteens heftig opstandig: „Waarom het U dit aan ons gedoen? Leer my asseblief verstaan wat U wil met ons is. Gee my die krag om 'n nuwe mens te word net soos U ook ons dorp en omgewing nuut wil maak. Help my om U onder alle omstandighede blymoedig te dien en skenk bowenal kalmte in ons onstuimige gemoedere."
Ek sluk aan die knop wat nou in my keel sit en ek veg tevergeefs teen die opgehoopte trane. Meteens huil ek. Ek is verskriklik hartseer, en deur my trane lyk die murasies nou potsierlik en grotesk soos oopbek spoke wat my koggel.
Owenstraat is kruis en dwars aan flarde geskud. Al ons herinneringe is met een slag doodgevee — en ons dorpies het baie strate . . .
EK KLIM later tam uit my motor toe ek tuis kom, en kyk weer lank en aandagtig na die Japonikatak wat ek van die boom in Owenstraat gepluk het. “Leer my, liefdevolle Vader, om ook soos die blom te probeer om die lelike te bedek," het ek gebid.
In die fyn glasvaas op die kombuisvensterbank, kon ek teen die lig dikwels na die blom kyk, en het dit verder tot my gespreek.
Ek dink as daar 'n kruis op jou weg geplaas word wat jy moet dra maar jy soek angstig rond na 'n wegglipkans, of kies 'n makliker weg om die kruis te ontvlug — dan ween die Almagtige. Want stuur Hy nie reeds teëspoed en beproewings om te kyk wat ons daarmee gaan maak nie? Toets Hy ons dan nie só nie?
Dit is dié dinge wat beter mense van ons maak.
EINDE